EN Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek.” KE 289.1
Dit was onder die skaduryke bome teen die berghelling, n endjie van die See van Galilea af, dat die twaalf geroep is tot die apostelskap, en daar is die Bergpredikasie gelewer. Die veld en die berge was geliefkoosde plekke waarheen Jesus gegaan het, en n groot deel van Sy prediking het in die opelug geskied liewer as in die tempel en die sinagoges. Geen sinagoge sou groot genoeg gewees het om die skares op te neem wat Hom gevolg het nie; maar dit was nie om hierdie rede alleen dat Hy graag in die veld en onder die bome geleer het nie. Jesus was lief vir natuurtonele. Vir Hom was elke stil plekkie n heilige tempel. KE 289.2
Dit was onder die bome van Eden waar die eerste aardbewoners hulle eerste heiligdom gehad het. Daar het Christus gemeenskap gehou met die vader van die menslike geslag. Toe hulle uit die Paradys verban is, het ons eerste ouers nog in die veld, en onder die bome aanbid, en daar het Christus hulle ontmoet met die evangelie van Sy genade. KE 289.3
Dit was Christus wat met Abraham gepraat het onder die eike van Mamre; met Isak toe hy in die aand gaan bid het in die veld; met Jakob by Betel; met Moses in die berge van Midian; en met die jong seun Dawid agter sy skape. Dit was onder die leiding van Christus, vyftien eeue later, dat die Hebreeuse volk eenmaal per jaar hulle wonings verlaat het en in hutte van groen takke gewoon het, “van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers.” Lev. 23: 40. KE 290.1
In die opleiding van Sy dissipels, het Jesus verkies om Hom te onttrek uit die rumoer van die stede, en te gaan na die vreedsame velde en berge — plekke wat sou pas by die lesse van selfverloëning wat Hy hulle graag wou leer. En gedurende Sy bediening het Hy graag die mense rondom Hom laat vergader onder die bloue hemel, teen die een of ander groen berghelling, of op die strand langs die meer. Daar, omring van Sy eie skeppingswerke, kon Hy die gedagtes van Sy hoorders aftrek van die kunsmatige en vestig op die natuurlike. In die groei en ontwikkeling van die natuur is die beginsels van Sy koninkryk geopenbaar. Waar mense hulle oë ophef na die berge van God en die wonderwerke van Sy hande sien, leer hulle kosbare lesse van goddelike waarheid. Christus se leer sou vir hulle herhaal word in die dinge van die natuur. So sal dit wees met almal wat na die velde gaan met Christus in hulle hart. Hulle sal voel dat hulle omring is van 'n heilige invloed. Die dinge van die natuur neem die gelyke- nisse van die Here op en herhaal Sy raadgewings. Deur gemeenskap met God in die natuur, word die gemoed verhef en vind die hart rus. KE 290.2
Die eerste stap sou nou gedoen word in die organisering van die kerk wat ná Christus se hemelvaart sy verteenwoordiger op die aarde sou wees. Halle het geen duur tempel gehad nie, maar die Heiland het Sy dissipels gelei na die plekkie wat Hy liefgehad het, en die heilige ondervinding van daardie dag sou vir altyd verbonde bly aan die skoonheid van berg, vlakte, en see. KE 290.3
Jesus het Sy dissipels geroep sodat Hy hulle kon uitstuur as Sy getuies, om aan die wêreld te verkondig wat hulle van Hom gesien en gehoor het. Hulle is tot die belangrikste werk geroep waartoe mens ooit geroep kan word — alleen die werk van Christus self was van groter belang. Hulle moes medewerkers van God word vir die redding van die wêreld. Soos die twaalf patriarge in die Ou Testament staan as die verteenwoordigers van Israel, so sou die twaalf apostels staan as verteenwoordigers van die evangeliekerk. KE 290.4
Die Heiland het die karakter geken van die manne wat Hy gekies het; al hulle swakhede en foute was oop voor Hom; Hy het die gevare geken wat hulle sou moes trotseer, die verantwoordelikheid wat op hulle sou rus; en Sy hart het uitgegaan tot hierdie gekosenes. Alleen op 'n berg naby die see het Hy die hele nag vir hulle gebid terwyl hulle aan die voet van die berg geslaap het. Toe dit begin lig word, het Hy hulle na Hom toe geroep, want Hy het iets baie belangriks gehad om aan hulle mee te deel. KE 291.1
Vir 'n tyd reeds het hierdie dissipels aktief saam met Jesus gewerk. Johannes, Jakobus, Andreas en Petrus, met Filippus, Natanael, en Mattheus was meer intiem met Hom verbind as die ander, en hulle het meer van Sy wonderwerke gesien. Petrus, Jakobus, en Johannes het nog nader aan Hom gestaan. Hulle was feitelik gedurig by Hom, en het Sy wonderwerke gesien en Sy woorde gehoor. Maar Johannes was nog nader aan Jesus as al die ander, sodat hy bekend was as die dissipel wat Jesus liefgehad het. Die Heiland het hulle almal liefgehad, maar Johannes het die mees ontvanklike gees gehad. Hy was jonger as die ander, en met die vertroue van 'n kind het hy sy hart aan Jesus geopen. Hy het dus meer simpatie met Christus gehad, en deur hom is die Heiland se diepste geestelike leer aan Sy volk meegedeel. KE 291.2
Aan die hoof van een van die groepe waarin die dissipels verdeel word, staan die naam van Filippus. Hy was die eerste dissipel aan wie Jesus regstreeks die bevel gegee het, “Volg My. Filippus was van Betsaida, die stad van Andreas en Petrus. Hy het die prediking van Johannes die Doper gehoor, en gehoor toe hy Christus as die Lam van God aangekondig het. Filippus was 'n opregte soeker na waarheid, maar hy was stadig om te glo. Alhoewel hy by Christus aangesluit het, blyk uit wat hy aan Natanael gesê het dat hy nie ten volle oortuig was van die godheid van Jesus nie. Hoewel Christus as die Seun van God deur die stem uit die hemel aangekondig is, was Hy vir Filippus “Jesus, die seun van Josef van Nasaret.” Joh. 1:46. En weer, toe die vyfduisend gevoed is, is Filippus se ongeloof getoon. Dit was om hom te toets dat Jesus gevra het, “Waarvandaan sal ons brood koop, sodat hierdie mense kan eet?” Filippus se antwoord het ongeloof getoon: “Brood vir tweehonderd pennings sal nie genoeg wees vir hulle, sodat elkeen van hulle 'n stukkie kan kry nie.” Joh. 6: 5, 7. Jesus was teleurgestel. Alhoewel Filippus Sy werke gesien en Sy krag gevoel het, het hy nogtans nie geloof gehad nie. Toe die Grieke kom navraag doen het aangaande Jesus, het hy nie van die geleentheid gebruik gemaak om hulle aan die Heiland voor te stel nie, maar hy het met Andreas gaan praat. En weer, in die laaste ure voor die kruisiging, was die woorde van Filippus van 'n aard om geloof te ontmoedig. Toe Thomas aan Jesus gesê het, “Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?” het die Heiland geantwoord, “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. ... As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het.” Van Filippus het die woorde van ongeloof gekom: “Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Joh. 14: 5-8. So stadig om te verstaan, so swak in die geloof, was daardie dissipel wat vir drie jaar by Jesus was. KE 291.3
In teenstelling met Filippus se ongeloof was die kinderlike vertroue van Natanael. Van nature was hy 'n baie ernstige man, iemand wie se geloof die onsigbare werklikhede aangeneem het. Nogtans was Filippus 'n leerling in die skool van Christus, en die goddelike Leraar was geduldig met sy ongeloof en stompheid. Toe die Heilige Gees op die dissipels uitgestort is, het Filippus 'n leraar na die goddelike patroon geword. Hy het geweet waarvan hy gepraat het, en hy het met 'n vertroue geleer wat sy hoorders oortuig het. KE 292.1
Terwyl Jesus die dissipels voorberei het vir hulle ordening, het iemand wat Hy nie geroep het nie, hom by hulle kom indring. Dit was Judas Iskariot, 'n man wat voorgegee het dat hy 'n navolger van Christus was. Hy het nou na vore gekom en 'n plek gesoek in die binneste kring van die dissipels. Met die grootste erns en skynbare opregtheid het hy gesê, “Meester, ek sal U volg waar U ook mag gaan.” Jesus het hom nie geweier nie, maar ook nie verwelkom nie, maar het daardie treurige woorde geuiter: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy hoof kan neerlê nie.” Matt. 8: 19, 20. Judas het geglo dat Jesus die Messias was, en deur by die apostels aan te sluit, het hy gehoop om 'n hoë posisie in die nuwe koninkryk te kry. Jesus wou hom ontnugter deur hierdie verklaring van Sy armoede. KE 292.2
Die dissipels wou graag hê dat Judas een van hulle moes word. Hy het 'n goeie voorkoms gehad, 'n man van insig en bekwaamheid, en hulle het hom by Jesus aanbeveel as iemand wat van groot hulp vir Hom sal wees in Sy werk. Hulle was verbaas dat Jesus hom so koel ontvang het. KE 293.1
Die dissipels was teleurgestel dat Jesus nie probeer het om die medewerking van die leiers van Israel te verkry nie. Hulle het gevoel dat dit 'n fout was dat Hy nie Sy saak versterk het deur die steun van daardie invloedryke manne te verkry nie. As Hy Judas botweg sou geweier het, sou hulle in hulle harte getwyfel het aan die wysheid van hulle Meester. Die latere geskiedenis van Judas sou aan hulle die gevaar openbaar om toe te laat dat wêreldse beweegredes hulle beïnvloed in die keuse van geskikte manne vir die werk van God. Die medewerking van die soort manne wat die dissipels graag wou hê, sou die werk verraai in die hande van die gedugste vyande daarvan. KE 293.2
Toe Judas by die dissipels aangesluit het, was hy nie blind vir die mooi karakter van Christus nie. Hy het die invloed gevoel van die goddelike krag wat siele na die Heiland getrek het. Hy wat nie gekom het om die geknakte riet te verbreek, of die dowwe lamppit uit te blus nie, sou nie hierdie siel weier terwyl daar nog begeerte is vir die lig nie. Die Heiland het die hart van Judas gelees; Hy het geweet tot watter dieptes van sonde Judas sou daal as die genade van God hom nie verlos nie. Deur hierdie man by Hom te laat aansluit, het Hy hom geplaas waar hy dag na dag in aanraking sou kom met die uitvloeiing van Sy eie onselfsugtige liefde. As hy sy hart aan Christus sou open, sou goddelike genade die duiwel van selfsug verjaag het, en selfs Judas mag dan 'n onderdaan van die koninkryk van God word. KE 293.3
God neem mense soos hulle is, met die menslike elemente van hulle karakter, en Hy lei hulle op vir Sy diens as hulle hulleself sal onderwerp aan tug, en van Hom sal leer. Hulle word nie verkies omdat hulle volmaak is nie, maar ten spyte van hulle onvolmaakthede, sodat hulle deur die kennis en uitlewing van die waarheid deur die genade van Christus herskep kan word in Sy beeld. KE 293.4
Judas het dieselfde geleenthede gehad as die ander dissipels. Hy het na dieselfde kosbare lesse geluister. Maar die uitlewing van die waarheid wat Christus vereis het, was teenstrydig met die doel en begeertes van Judas, en hy wou nie sy eie idees prysgee ten einde wysheid van die hemel te ontvang nie. KE 293.5
Hoe sagmoedig' het die Heiland gehandel teenoor hom wat Sy verraaier sou word! In Sy leer het Jesus die beginsels van weldadigheid beklemtoon wat juis die wortel van hebsug geraak het. Hy het Judas die afgryslike karakter van hebsug voorgehou, en meer as eenmaal het daardie dissipel besef dat sy eie karakter beskryf, en sy eie sonde geopenbaar word; maar hy wou nie sy ongeregtigheid bely en versaak nie. Hy was selfvoldaan, en pleks dat hy versoeking weerstaan het, het hy aangehou met sy bedrog. Christus was vir hom die lewende voorbeeld van wat hy sou word as hy gebaat het by die goddelike middelaarskap en bediening; maar les na les het op die dowe ore van Judas geval. KE 294.1
Jesus het hom nooit hard bestraf vir sy hebsug nie, maar met goddelike lydsaamheid het Hy hierdie sondige man verdra, selfs toe Hy hom laat verstaan het dat Hy sy hart gelees het soos 'n ope boek. Hy het aan hom die hoogste dryfvere voorgehou om reg te doen, en deur sy verwerping van die lig van die Hemel sou Judas sonder verskoning wees. KE 294.2
Pleks van in die lig te wandel, het Judas verkies om sy foute te behou. Sondige begeertes, wraaksugtige drifte, duistere en kwaadaardige gedagtes is gekoester totdat die Satan volle beheer oor die man gehad het. Judas het 'n verteenwoordiger van die vyand van Christus geword. KE 294.3
Toe hy in aanraking met Jesus gekom het, het hy sommige goeie karaktereienskappe gehad wat 'n seën vir die kerk kon geword het. As hy gewillig sou gewees het om die juk van Christus op te neem, kon hy een van die vernaamste apostels geword het; maar hy het sy hart verhard toe hy op sy tekortkomings gewys is, en in hoogmoed en rebellie het hy sy eie selfsugtige ambisie gekies en homself dus ongeskik gemaak vir die werk wat God aan hom sou gegee het. KE 294.4
Al die dissipels het ernstige tekortkomings gehad toe Jesus hulle tot Sy diens geroep het. Selfs Johannes, wat die naaste gekom het aan. die nederige en sagmoedige Een, was self nie van nature sagmoedig en toegeeflik nie. Hy en sy broer is genoem “seuns van die donder.” Terwyl hulle by Jesus was, het elke belediging van Hom hulle verontwaardiging en veglustigheid uitgelok. Boosaardigheid, wraak, die gees van kritiek — dit alles was in die hart van die geliefde dissipel. Hy was trots en eersugtig om die eerste plek in die koninkryk van God in te neem. Maar dag na dag, in teenstelling met sy eie opvlieënde gees, het hy die sagmoedigheid en verdraagsaamheid van Jesus gesien, en Sy lesse van nederigheid en lydsaamheid gehoor. Hy het sy hart oopgemaak vir die goddelike invloed, en het dus nie slegs 'n hoorder nie, maar 'n dader van die Heiland se woorde geword. Hy het nou in Christus gelewe. Hy het geleer om die juk van Christus op te neem en Sy las te dra. KE 294.5
Jesus het Sy dissipels bestraf, gewaarsku en vermaan; maar Johannes en Sy broeders het Hom nie verlaat nie; hulle het by Jesus gebly ten spyte van die bestraffings. Die Heiland het Hom nie aan hulle onttrek om rede hulle swakhede en foute nie. Hulle het tot die einde in Sy beproewings gedeel, en die lesse van Sy lewe geleer. Deur Christus te aanskou, is hulle karakters verander. KE 295.1
Die apostels het baie verskil in gewoontes en geaardheid. Daar was die tollenaar Levi-Mattheus; die vurige Simon, onverbeterlike hater van die Romeinse gesag; die groothartige, voortvarende Petrus; die gemene judas; Thomas, opreg, maar bedees en vreesagtig; Filippus, stadig om te glo en geneig tot twyfel; en die eersugtige, reguit seuns van Sebedeus, met hulle broeders. Hulle is saamgebring met hulle verskillende foute, almal met aangebore en aangeleerde neigings tot die kwaad; maar in en deur Christus sou hulle almal huisgenote word van die gesin van God, lerende om een te word in die geloof, die leer, en die gees. Hulle sou hulle beproewings, griewe, en verskille van opinie hê; maar solank Christus in hulle harte woon, kon daar geen tweedrag wees nie. Sy liefde sou hulle lei om mekaar lief te hê; die lesse van die Meester sou hulle in harmonie bring met mekaar, tot eensgesindheid, sodat hulle eindelik van een hart en een oordeel sou wees. Christus is die groot middelpunt, en namate hulle nader aan die middelpunt kom, sou hulle ook nader aan mekaar kom. KE 295.2
Toe Jesus Sy onderrig van die dissipels beëindig het, het Hy die klompie om Hom vergader, en toe in hulle midde neergekniel, Sy hande op hulle hoofde geplaas, en 'n gebed gedoen waarin Hy hulle gewy het tot Sy heilige werk. So is die Here se dissipels georden tot die evangeliebediening. KE 295.3
As Sy verteenwoordigers onder die mense, kies Christus nie die engele wat nooit gesondig het nie, maar mense -— mense met dieselfde swakhede as diegene wat hulle wil red. Christus het die menslike vlees aangeneem sodat Hy die mensdom kon bereik. Die Godheid moes die menslike vlees aanneem, want beide die goddelike en die menslike was nodig om verlossing aan die wêreld te bring. Die Godheid het die mensheid nodig gehad sodat die mensheid die kanaal kon word vir gemeenskap tussen God en mens. So ook met die werktuie en boodskappers van Christus. Die mens het behoefte aan 'n krag buite en benewens homself om hom te herstel in die ewebeeld van God, en hom in staat te stel om die werk van God te doen; maar dit maak nie die menslike werktuig onnodig nie. Die mensheid neem die goddelike krag beet, Christus woon in die hart deur geloof, en deur medewerking met die goddelike ontvang die mens krag om goed te doen. KE 296.1
Hy wat die vissers van Galilea geroep het, roep vandag nog mense tot Sy diens. En Hy is net so gewillig om Sy krag deur ons te openbaar as deur die eerste dissipels. Hoe onvolmaak en sondig ons ook is, bied die Here ons 'n vennootskap met Homself aan, om leerlinge van Christus te word. Hy nooi ons uit tot goddelike onderrig, dat ons, verenig met Christus, die werke van God mag doen. KE 296.2
“Ons het hierdie skat in erde kruike, sodat die voortreflikheid van die krag mag wees van God en nie uit ons nie.” 2 Kor. 4: 7. Dit is om hierdie rede dat die verkondiging van die evangelie toevertrou is aan swakke mense liewer as aan die engele. Dit is duidelik dat die krag wat deur die swakheid van mense werk, die krag van God is; en so word ons bemoedig om te glo dat die krag wat ander kan help wat net so swak as ons is, ook ons kan help. En diegene wat “self ook met swakheid bevange is,” behoort saam te voel met die onwetendes en dwalendes. (Heb. 5: 2.) Omdat hulle self in die gevaar was, is hulle bekend met die gevare en moeilikhede van die weg, en om hierdie rede word hulle geroep om ander te red wat in dieselfde gevaar verkeer. Hulle is siele verbyster deur twyfel, belas met swakhede, swak in die geloof, nie in Staat om die Onsienlike te begryp nie; maar 'n vriend wat hulle kan sien, wat na hulle kom namens Christus, kan 'n skakel wees wat hulle swak geloof kan vaskoppel aan Christus. Ons is werkers saam met die hemelse engele om Jesus te verkondig aan die wêreld. Byna ongeduldig wag die engele op ons samewerking; want die mens is die kanaal om in aanraking te kom met mense. En wanneer ons ons aan Christus oorgee in volkome toewyding, is die engele bly dat hulle met ons stemme kan praat om Gods liefde te openbaar. KE 296.3