DIT was 'n baie besige dag in die lewe van Jesus. Langs die See van Galilea het Hy Sy eerste gelykenisse geleer, en deur bekende illustrasies het Hy weer aan die mense die aard van Sy koninkryk verduidelik, en die manier waarop dit opgerig sal word. Hy het Sy eie werk vergelyk met die van 'n saaier; die ontwikkeling van Sy koninkryk met die groei van 'n mosterdsaad, en die uitwerking van suurdeeg in meel. Die groot skeiding van regverdiges en onregverdiges aan die einde het Hy toegelig in die gelykenisse van die koring en die onkruid, en die visnet. Die kosbaarheid van die waarhede wat Hy geleer het, het Hy vergelyk met die verborge skat, en die baie kosbare pêrel; en in die gelykenis van die huisheer het Hy Sy dissipels geleer hoe hulle moes werk as Sy verteenwoordigers. KE 336.1
Die hele dag het Hy geleer en siekes gesondgemaak, en toe dit aand word, het die mense om Hom saamgedring. Dag na dag het Hy vir hulle gewerk, en het skaars tyd geneem om te eet en te rus. Die kwaadwillige kritiek en wanvoorstellings waarmee die Fariseërs Hom gedurig agtervolg het, het Sy werk meer moeilik en afmattend gemaak; en nou, aan die einde van die dag was Hy so uitgeput dat Hy besluit het om Hom te onttrek na 'n eensame plek oorkant die meer. KE 336.2
Die oostelike kus van Genesaret was nie onbewoon nie, want hier. en daar was daar dorpies; maar dit was nogtans 'n dorre streek vergeleke met die westekant. Die bevolking was meer heidens as Joods, en daar was min verbinding met Galilea. Dit het aan Jesus die afsondering gegee wat Hy gesoek het, en Hy het Sy dissipels gevra om Hom daarheen te vergesel. KE 336.3
Nadat Hy die skare huis toe gestuur het, het hulle Hom in die skuit geneem “net soos Hy was” om na die anderkant oor te vaar. Maar hulle sou nie alleen vertrek nie. Daar was ander skuitjies naby die kant, en hulle was gou vol mense wat Jesus gevolg het, nog gretig om Hom te sien en te hoor. KE 337.1
Eindelik was die Heiland verlos van die gedrang van die skare, en, doodmoeg en honger, het Hy in die agterstewe van die skuit gaan lê; Hy was gou aan die slaap. Die aand was vreedsaam en aangenaam, en die meer was stil; maar skielik het die lug verdonker en 'n geweldige windstorm het oor die meer begin woed. KE 337.2
Die son was onder en die duisternis het op die onstuimige see neergesak. Die woeste bare, deur die storm aangedryf, het kwaai oor die dissipels se skuit gebreek en gedreig om dit te verswelg. Daardie geharde vissers het hulle hele lewe op die meer deurgebring, en het hulle skuitj ie al deur baie storms gestuur, maar nou was hulle krag en behendigheid tevergeefs. Hulle was hulpeloos in die greep van die storm, en hulle het begin moed verloor toe hulle sien dat hulle skuit vinnig vol water word. KE 337.3
Hard besig met pogings om hulleself te red, het hulle vergeet dat Jesus aan boord was. Toe hulle nou sien dat hulle pogings tevergeefs was en die dood hulle in die aangesig staar, het hulle skielik onthou op wie se bevel hulle begin oorvaar het. In Jesus was hulle enigste hoop. In hulle hulpeloosheid en wanhoop het hulle uitgeroep, “Meester, Meester!” maar in die duisternis kon hulle Hom nie sien nie. Hulle stemme is onhoorbaar gemaak deur die gedreun van die storm, en daar het geen antwoord gekom nie. Twyfel en vrees het hulle nou oorval. Het Jesus hulle verlaat? Was Hy wat die oorwinning behaal het oor siekte, duiwels, en selfs die dood, magteloos om hulle nou te help? Het Hy hulle in hulle gevaar vergeet? KE 337.4
Weer roep hulle, maar al antwoord was die geloei van die vreeslike wind. Hulle skuit het reeds begin sink. Nog net een oomblik en hulle sou wegsink in die bruisende waters. KE 337.5
Skielik het 'n blits die duisternis deurboor, en sien hulle Jesus aan die slaap, nie versteur deur die storm nie. Verbaas en wanhopig het hulle uitgeroep, “Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie?” Hoe kon Hy so rustig slaap terwyl hulle vir hulle lewe worstel met die dood ? KE 338.1
Hulle geroep het Jesus wakkergemaak. In die lig van die weerligstrale sien hulle die vrede van die hemel op Sy gelaat; in Sy blik lees hulle onselfsugtige, tere liefde, en hulle harte roep tot Horn, “Here, red ons, ons vergaan!” KE 338.2
Nog nooit het 'n siel tevergeefs geroep nie. Toe die dissipels hulle roeispane gryp om 'n laaste poging aan te wend, het Jesus opgestaan. Terwyl die storm nog woed, staan Hy daar tussen Sy dissipels, die branders breek oor hulle en die weerlig verlig Sy aangesig. Hy hef Sy hand op — iets wat Hy dikwels gedoen het in Sy dade van barmhartigheid, en sê aan die onstuimige see, “Swyg, wees stil!” KE 338.3
Die storm bedaar. Die bare kom tot rus. Die wolke breek en die sterre begin te skitter. Die skuit rus op 'n stille see. Toe wend Jesus Hom tot Sy dissipels en vra droewig, “Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie?” Markus 4: 40. KE 338.4
'n Stilte het onder die dissipels geheers. Selfs Petrus het nie probeer om uiting te gee aan die heilige vrees wat sy hart vervul het nie. Die ander skuitjies wat agter Jesus aangevaar het, was in dieselfde gevaar as die waarin die dissipels verkeer het. Vrees en wanhoop het die opvarendes oorval, maar die bevel van Jesus het stilte gebring. Die vreeslike storm het die skuitjies dig bymekaar gebring, en almal aan boord het die wonderwerk gesien. In die stilte wat gevolg het, het hulle hulle vrees vergeet. Die mense het onder mekaar gefluister, “Wat vir 'n mens is Hy, dat selfs die winde en die meer Hom gehoorsaam is?” KE 338.5
Toe Jesus wakkergemaak is in die storm, was daar volkome vrede in Sy hart. In Sy blik of woorde was daar geen sweem van vrees nie, want daar was geen vrees in Sy hart nie. Maar dit was nie omdat Hy almagtig was nie. Dit was nie as die “Meester van die aarde en die see en die lug” dat Hy so kalm was nie. Daardie mag het Hy afgelê, en gesê, “Ek kan uit Myself niks doen nie.” Joh. 5: 30. Hy het vertrou op die mag van Sy Vader. Dit was in geloof — geloof in Gods liefde en beskerming — waarin Jesus gerus het, en die mag van die woorde wat die storm gestil het, was die mag van God. KE 338.6
Net soos Jesus deur die geloof vertrou het op die Vader se beskerming, moet ons ook vertrou op die beskerming van ons Verlosser. As die dissipels op Hom sou vertrou het, sou hulle in vrede bewaar gewees het. Hulle vrees in die oomblik van gevaar het hulle ongeloof geopenbaar. In hulle pogings om hulleself te red, het hulle Jesus vergeet; en dit was alleen toe hulle hulle wanhopig tot Hom gewend het dat Hy hulle kon help. KE 339.1
Hoe dikwels begaan ons dieselfde fout as die dissipels! Wanneer die storms van versoeking saampak en dit blits en die branders oor ons breek, worstel ons alleen met die storm, en vergeet ons dat daar Iemand is wat ons kan verlos. Ons vertrou op ons eie krag tot ons nie meer hoop het nie en ons op die punt staan om te vergaan. Dan onthou ons Jesus, en as ons Hom aanroep om ons te red, sal ons nie tevergeefs roep nie. Alhoewel Hy met droefheid ons ongeloof en selfvertroue mag bestraf, versuim Hy nooit om ons die hulp te gee wat ons nodig het nie. Of ons op land of op die see is, as ons die Heiland in ons hart het, hoef ons nie te vrees nie. 'n Lewende geloof in die Verlosser sal die lewensee kalm maak, en Hy sal ons beskerm op die pad wat Hy die beste vir ons ag. KE 339.2
Daar is nog 'n ander geestelike les in hierdie wonderwerk toe die storm stilgemaak is. Elke mens se ervaring getuig van die waarheid van die Skrifwoord, “Die goddelose mense is soos 'n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie. . . . Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!” Jes. 57: 20, 21. Die sonde het ons vrede vernietig. Terwyl die eie-ek nie onder beheer is nie, kan ons geen rus vind nie. Geen mens kan die drifte van die hart in toom hou nie. In hierdie opsig is ons net so hulpeloos soos die dissipels was om die storm stil te maak. Maar Hy wat die bare op die meer van Galilea tot bedaring gebring het, spreek die woord van vrede vir elke siel. Hoe kwaai die storm ook is, sal diegene wat hulle tot Jesus wend met die geroep, “Here, red ons!” redding vind. Sy genade, wat die siel met God versoen, bring die menslike drifte tot bedaring, en in Sy liefde vind die hart rus. “Hy het die storm 'n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. Toe was hulle bly, omdat dit rustig geword het, en Hy het hulle gelei na die hawe van hulle begeerte.” Ps. 107: 29, 30. “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.” “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.” Rom. 5:1; Jes. 32: 17. KE 339.3
In die vroeë more het die Heiland en Sy metgeselle by die kus gekom, en die eerste sonstrale het see en land gekus soos met 'n seën van vrede. Maar nog skaars was hulle aan wal of hulle het 'n gesig gesien nog vreesliker as die storm. Uit 'n skuilplek tussen die grafte het twee besetenes op hulle afgestorm asof hulle hulle wou verskeur. Hangende aan hierdie manne was nog stukke kettings wat hulle gebreek het toe hulle uit die gevangenis ontsnap het. Hulle vlees was geskeur en bloeiende waar hulle hulleself met skerp klippe gesny het. Hulle oë het wreed gestaar deur hulle gekoekte hare, en dit het gelyk of alle menslikheid uitgewis is deur die duiwels wat in hulle was; hulle het meer soos wilde diere gelyk as mense. KE 340.1
Die dissipels en die ander het in vrees gevlug; maar toe hr-t hulle gemerk dat Jesus nie by hulle was nie, en hulle het omgedraai om te kyk waar Hy was; Hy het nog gestaan net waar hulle Hom gelaat het. Hy wat die storm gestil, en wat al tevore die Satan ontmoet en hom oorwin het, het nie vir hierdie duiwels gevlug nie. Toe die manne, met knersende tande en skuim aan die mond Hom nader, het Jesus die hand opgehef waarmee Hy die storm gestil het, en die manne kon nie verder kom nie. Hulle het rasend maar hulpeloos voor Hom gestaan. KE 340.2
Met gesag het Hy die onreine geeste gebied om uit hulle uit te gaan. Sy woorde het tot die verduisterde verstand van die ongelukkige manne deurgedring. Vaag het hulle besef dat daar Iemand naby hulle was wat hulle kon verlos van die kwellende duiwels. Hulle het aan die Heiland se voete geval om Hom te aanbid; maar toe hulle hulle lippe oopmaak om Hom om genade te smeek, het die duiwels deur hulle gepraat en heftig geskreeu, “Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.” KE 340.3
Jesus het gevra, “Wat is jou naam?” en die antwoord was, “Legio is my naam, want ons is baie.” Hulle het die geteisterde manne gebruik as mediums en Jesus gesmeek om hulle nie die land uit te stuur nie. Teen die berghelling, nie ver daarvandaan nie, het daar 'n trop varke gewei. Die duiwels het Jesus gevra om hulle toe te laat om in die varke te vaar, en Hy het dit gedoen. Dadelik het die varke op loop gesit. Hulle het van die krans af gestorm in die meer en het verdrink. KE 340.4
In die tussentyd het daar 'n wonderbaarlike verandering gekom oor die besetenes. Lig het in hulle verstand geskyn. Hulle oë het gefonkel van intelligensie. Hulle gelaat, so lank misvorm deur die beeld van die Satan, het skielik versag; hulle bebloede hande was stil, en met blye stemme het die manne God geloof vir hulle verlossing. KE 341.1
Van die krans af het die oppassers van die varke alles gesien wat gebeur het, en hulle is daar weg om dit bekend te maak aan hulle werk- gewers en aan al die mense. In vrees en verwondering het al die mense gekom om Jesus te ontmoet. Die twee besetenes was die skrik van die hele land. Niemand was veilig wat by die plek verbygegaan het waar hulle geskuil het nie; want hulle het op elke reisiger met die woede van duiwels afgestorm. Nou was hierdie manne gekleed en by hulle regte verstand; hulle het aan Sy voete gesit, na Sy woorde geluister, en die Naam van Hom geloof wat hulle verlos het. Maar die mense wat hierdie wonderbare toneel aanskou het, was nie bly nie. Hulle het meer gedink aan die verlies van die varke as aan die verlossing van hierdie twee gevangenis van die Satan. KE 341.2
Dit was 'n seën vir die eienaars van die varke dat hierdie verlies hulle getref het. Hulle was in beslag geneem deur aardse dinge, en het nie omgegee vir die groot belange van die geestelike lewe nie. Jesus wou die begogeling van selfsugtige onverskilligheid verbreek, sodat hulle Sy genade kon aanneem. Maar spyt en verontwaardiging oor hulle stoflike verlies het hulle oë verblind vir die Heiland se genade. KE 341.3
Die openbaring van bonatuurlike krag het die bygeloof van die mense opgewek asook hulle vrees. Die teenwoordigheid van hierdie Vreemdeling onder hulle mag verdere rampe bring. Hulle het gevrees vir finansiële ondergang, en hulle was vasbeslote dat hulle Hom nie daar wou hê nie. Diegene wat die meer saam met Jesus oorgesteek het, het vertel van alles wat die vorige nag gebeur het, van hulle gevaar in die storm en hoe die wind en die see stilgemaak is. Maar hulle woorde het geen uitwerking gehad nie. In vrees het die mense hulle om Jesus geskaar en Hom gesmeek om weg te gaan van hulle af, en Hy het dit gedoen deur dadelik weer oor te vaar na die anderkant toe. KE 341.4
Die mense van Gergesa het voor hulle die lewende bewys gehad van Christus se krag en genade. Hulle het die manne gesien wat verstandelik genees is, maar hulle was so bang dat hulle hulle stoflike belange in gevaar sou stel dat hulle Hom wat die vors van die duisternis voor hulle oë verslaan het, beskou het as 'n indringer, en hulle het die Gawe van die hemel laat omdraai voor hulle deure. Ons het nie die geleentheid om ons af te wend van die persoon van Christus soos daardie Gergeseners nie; maar tog is daar vele wat weier om Sy Woord te gehoorsaam omdat gehoorsaamheid die opoffering van aardse belange mag meebring. Omdat hulle bang is dat Sy teenwoordigheid geldelike verlies vir hulle mag beteken, verwerp baie Sy genade en verdryf hulle Sy Gees van hulle. KE 341.5
Maar daardie verloste besetenes het heeltemal anders gevoel. Hulle wou in die teenwoordigheid van hulle Verlosser wees. In Sy teenwoordigheid het hulle veilig gevoel teen die duiwels wat hulle lewe gekwel en hulle manlikheid verwoes het. Toe Jesus in die skuit wou klim, het hulle dig aan Sy sy gebly, aan Sy voete gekniel en Hom gesoebat om hulle naby Hom te hou waar hulle na Sy woorde kon luister. Maar Jesus het hulle beveel om huis toe te gaan en die groot dinge te vertel wat die Here vir hulle gedoen het. KE 342.1
Hier was n werk vir hulle om te doen — hulle moes na 'n heidense huis gaan en vertel van die seën wat hulle van Jesus ontvang het. Dit was swaar vir hulle om geskei te wees van die Verlosser. Hulle sou gewis met groot moeilikhede te kampe hê onder hulle heidense landgenote. En hulle lang verwydering van die samelewing het hulle skynbaar onbekwaam gemaak vir die werk wat Hy aangedui het. Maar sodra Jesus hulle gewys het op hulle plig, was hulle gereed om te gehoorsaam. Nie alleen het hulle hulle eie huisgenote en bure vertel van Jesus nie, maar hulle het die hele Dekapolis deurgegaan en orals Sy reddende krag verkondig, en vertel hoe Hy hulle bevry het van die duiwels. Deur hierdie werk te doen, kon hulle 'n groter seën ontvang as wat hulle sou gekry het as hulle slegs om hulleself te bevoordeel by Jesus gebly het. Dit is deur die goeie tyding van die verlossing te versprei dat ons naby die Heiland gebring word. KE 342.2
Die twee verloste besetenes was die eerste sendelinge wat Christus gestuur het om die evangelie te verkondig in die streek van Dekapolis. Hierdie manne was maar vir 'n paar oomblikke bevoorreg om die leer van Christus te hoor. Hulle het nie eens een preek van Sy lippe gehoor nie. Hulle kon die mense nie onderrig soos die dissipels wat daeliks met Jesus gewandel het nie. Maar hulle het persoonlik die getuienis gedra dat Jesus die Messias was. Hulle kon vertel wat hulle weet, wat hulle self gesien, gehoor, en gevoel het van die krag van Christus. Dit is wat elkeen kan doen wie se hart aangeraak is deur die genade van God. Johannes, die geliefde dissipel, het geskryf: “Wat van die begin af was, wat ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande getas het aangaande die Woord van die lewe . . . wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan julle.” 1 Joh. 1: 1-3. As getuies vir Christus moet ons vertel wat ons weet, en wat ons self gesien en gehoor en gevoel het. As ons Jesus stap vir stap volg, sal ons iets baie bepaalds hê om te sê aangaande die weg waarin Hy ons gelei het. Ons kan vertel hoe ons Sy beloftes op die proef gestel en dit waar bevind het. Ons kan getuig van wat ons ondervind het van die genade van Christus. Dit is vir hierdie getuienis waarvoor die Here ons roep, en waaraan die wêreld so 'n groot behoefte het. KE 342.3
Hoewel die mense van Gergesa Jesus nie ontvang het nie, het Hy hulle nie gelaat in die duisternis wat hulle gekies het nie. Toe hulle Hom gevra het om weg te gaan, het hulle nog nie Sy woorde gehoor nie. Hulle het nie geweet wat hulle geweier het nie. Daarom het Hy weer die lig aan hulle gestuur, en deur manne na wie hulle sou luister. KE 343.1
Deur die vernietiging van die varke was dit die doel van die Satan om die mense teen die Heiland te beïnvloed, en om die verkondiging van die evangelie in daardie deel te belet. Maar juis hierdie voorval het die hele landstreek wakkergemaak soos niks anders dit sou kon gedoen het nie, en hulle aandag op Christus gevestig. Hoewel die Heiland self weggegaan het, het die manne wat Hy genees het, agtergebly om te getuig van Sy krag. Hulle wat eers mediums was van die vors van die duisternis, het kanale vir die lig geword, boodskappers van die Seun van God. Die mense het met verbasing geluister na die wonderbaarlike nuus. In daardie hele streek het daar 'n deur vir die evangelie oopgegaan. Toe Jesus later teruggegaan het na Dekapolis, het die mense na Hom toe gestroom, en vir drie dae het nie alleen die inwoners van een dorp nie, maar duisende van die omliggende streke die bood- skap van verlossing gehoor. Selfs die mag van duiwels is onder beheer van die Heiland, uit die kwaad is die goed gebore. KE 343.2
Die ontmoeting met die besetenes van Gergesa het 'n les ingehou vir die dissipels. Dit het aangetoon tot watter dieptes van verlaging die Satan die hele mensdom wil bring, en dat Christus gekom het om hulle uit sy mag te verlos. Daardie arme wesens daar tussen die grafte, deur duiwels besete en gebonde deur onbeheersde drifte, is 'n voorstelling van wat van die mensdom sou word as hulle oorgegee is aan die mag van die Satan. Die Satan se invloed word gedurig uitgeoefen op mense om hulle verstand te beheers ten kwade en hulle aan te vuur tot misdaad en geweld. Hy verswak die liggaam, verduister die verstand, en verlaag die siel. Wanneer mense die Heiland se uitnodiging verwerp, gee hulle hulle aan die Satan oor. Talle en talle in huise, in besigheid, en selfs in die kerk, doen dit vandag. Dit is om hierdie rede dat geweld en misdaad so oor die aarde toegeneem het, en sedelike duisternis, soos 'n doodskleed oor die wonings van mense hang Deur sy listige versoekings lei die Satan tot erger en nog erger sondes, totdat daar uiteindelik absolute verdorwenheid en ondergang is. Die enigste beskerming teen sy mag is die teenwoordigheid van Jesus. Die Satan staan voor mense en engele geopenbaar as die mens se vyand en verwoester; Christus as die mens se vriend en verlosser. Sy Gees sal in die mens alles bewerk wat sy karakter en natuur sal veredel. Dit sal die mens laat ontwikkel in liggaam, siel, en gees tot heerlikheid van God. “Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” 2 Tim. 1:7. Hy het ons geroep “om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry,” naamlik die karakter van Jesus, en om “gelykvormig te wees aan die beeid van Sy Seun.” 2 Thess. 2: 14; Rom. 8: 29. KE 344.1
En siele wat verlaag is tot werktuie van die Satan, word nog verander, deur die krag van Christus, tot bodes van geregtigheid, en gestuur deur die Seun van God om te vertel “watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.” KE 344.2