Go to full page →

HOOFSTUK VIER—HUISGODSDIENS UG1 29

(Deel VII, bls. 42-44.)

As daar ooit ‘n tyd was dat elke huis ‘n huis van gebed moet wees, dan is dit nou. Daar heers ontrouheid en ongeloof. Daar is baie ongeregtigheid. Daar is verdorwenheid in die siel, en in die lewe breek daar rebellie uit teen God. Die sedelike kragte is aan die sonde verslaaf en onder die dwingelandy van die Satan. Die siel is hulpeloos teen sy versoekings; en tensy ‘n magtige arm uitgestrek word om te red, sal die mens gaan waar die aartsrebel hom heenlei. UG1 29.1

En tog, in hierdie tyd van ontsettende gevaar, is daar sommige wat voorgee om Christene te wees, maar wat nie huisgodsdiens hou nie. Hulle eer God nie in die huis nie; hulle leer hulle kinders ook nie om Hom lief te hê en te vrees nie. Sommige het so ver van Hom afgedwaal dat hulle veroordeeld voel as hulle tot Hom nader. Hulle kan nie “met vrymoedigheid na die troon van genade gaan,” “en heilige hande op hef sonder toorn of twis” nie. Heb. 4: 16; 1 Tim. 2: 8. Hulle het geen lewende verbinding met God nie. Hulle het ‘n gedaante van godsaligheid, maar nie die krag daarvan nie. UG1 29.2

Die idee dat gebed nie nodig is nie, is een van Satan se suksesvolle planne om siele na die verderf te voer. Gebed is gemeenskap met God, die Bron van wysheid, van krag, vrede en geluk. Jesus het tot die Vader gebid “met sterke geroep en trane.” Paulus vermaan gelowiges om te “Bid sonder ophou,” en alles deur gebed en smeking met danksegging bekend te maak by God. “Bid vir mekaar,” sê Jakobus. “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.” Heb. 5: 7; 1 Thes. 5: 17; Filip. 4: 6; Jak. 5: 16. UG1 29.3

Deur opregte, vurige gebede, behoort ouers ‘n muur te maak rondom hulle kinders. Hulle behoort in volle geloof te bid dat God by hulle sal bly, en dat heilige engele hulle en hulle kinders sal beskerm teen Satan se wrede mag. UG1 29.4

In elke huisgesin behoort daar ‘n vasgestelde tyd te wees vir moreen aandgodsdiens. Hoe passend is dit nie vir ouers om hulle kinders rondom hulle te vergader, voor die ontbyt, en die hemelse Vader te dank vir Sy beskerming gedurende die nag, en om Hom te vra om Sy hulp en leiding en beskerming gedurende die dag nie! Hoe passend ook, as die aand daar is, vir ouers en kinders om nogeens voor God te verskyn om Hom te dank vir die seëninge van die dag wat verby is nie! UG1 30.1

Die vader, en in sy afwesigheid, die moeder, behoort die godsdiens waar te neem deur ‘n gedeelte uit die Skrif voor te lees wat interessant en maklik verstaanbaar is. Die diens behoort kort te wees. As daar ‘n lang hoofstuk gelees en ‘n lang gebed gedoen word, maak dit die diens vervelend, en as dit oor is, word daar ‘n sug van verligting gehoor. God word nie geëer as die godsdiens so droog, vervelend, vermoeiend is dat die kinders daarvoor vrees nie. UG1 30.2

Vaders en moeders, maak die huisgodsdiens so interessant moontlik. Daar is geen rede waarom dit nie die aangenaamste en genotvolste uur van die dag kan wees nie. ‘n Bietjie aandag gewy aan voorbereiding sal u in staat stel om dit interessant en leersaam te maak. Laat daar van tyd tot tyd afwisseling wees. Vrae mag gestel word oor die skrifgedeelte wat gelees is, en ‘n paar ernstige en tydige opmerkings kan gemaak word, ‘n Loflied kan ook gesing word. Die gebed behoort kort en saaklik te wees. Laat die een wat in die gebed voorgaan, in eenvoudige, ernstige woorde God prys vir Sy goedheid en Hom vra om Sy hulp. Waar omstandighede dit toelaat, moet die kinders ook deelneem in die voorlesing en gebed. UG1 30.3

Die ewigheid alleen sal die nut openbaar wat aan sulke godsdiens verbonde is. UG1 30.4

Die lewe van Abraham, die vriend van God, was ‘n gebedslewe. Waar hy ook sy tent opgeslaan het, het hy ’n altaar opgerig, waarop die moreen aandoffer geoffer is. Wanneer hy na ‘n ander plek verhuis het, het die altaar blystaan. En as die rondtrekkende Kanaaniet by daardie altaar kom, het hy geweet wie daar gewoon het. Na hy sy tent opgeslaan het, het hy ook die altaar herstel en die lewende God aanbid. UG1 30.5

So ook moet die huise van Christene ligte wees in die wêreld. Daaruit moet die moreen aandgebed opstyg soos soete wierook. En soos die moredou sal Gods goedertierenheid en seëninge op die smekelinge neerdaal. UG1 31.1

Vaders en moeders, vergader u kinders elke more en elke aand om u, en hef u hart in ootmoed op tot God om hulp. U dierbares is blootgestel aan versoeking. Die jongmense is elke dag omring deur ergernisse. Diegene wat geduldige, liefdevolle, en opgeruimde lewens wil lei, moet bid. Alleen as ons gedurig hulp van God ontvang kan ons die oorwinning oor self behaal. UG1 31.2

Wy uself en u kinders elke more aan God toe vir daardie dag. Moenie maande en jare vooruit reken nie; die toekoms behoort nie aan u nie. Slegs een korte dag word aan u geskenk. Werk gedurende die ure daarvan vir die Meester asof dit u laaste dag op aarde is. Lê al u planne voor God om uitgevoer of opgegee te word, soos Sy voorsienigheid mag aanwys. Neem Sy planne aan in stede van u eie, al sou dit ook beteken dat u ‘n geliefde onderneming moet laat vaar. Sodoende sal die lewe meer en meer gevorm word volgens die goddelike patroon; en “Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” Filip. 4: 7. UG1 31.3

* * * * *

Voordat die huis verlaat word vir die dag se werk, behoort die hele gesin bymekaar te kom, en die vader, of in sy afwesigheid die moeder, behoort ernstig tot God te bid om hulle gedurende die dag te bewaar. Kom in ootmoed, met ‘n tere hart en met ‘n besef van die versoekings en die gevare waaraan u en u kinders blootgestel is; bind hulle in geloof op die altaar, en smeek vir hulle die beskerming van God af.—Deel I, bls. 397, 398. UG1 31.4