Die eiebelang wat so dikwels geopenbaar word deur diegene wat net aan “ek en my gesin” dink, mishaag God. Elke gesin wat hierdie gees koester moet tot bekering gebring word deur die reine beginsels wat in die lewe van Christus geopenbaar is. Diegene wat net met hulleself opgenome is en wat nie wil help om besoekers te onthaal nie, mis baie seëninge. UG1 82.1
Sommige van ons werkers beklee posisies waar dit vir hulle nodig is om besoekers te onthaal, ‘t sy hulle eie geloofsgenote of vreemdelinge. Daar is diegene wat meen dat die konferensie dit in ag moet neem en ‘n toelae behoort te gee om sulke ekstra onkoste te dek. Dog die Here het die werk om ander te onthaal aan almal gegee. Dis nie die plan van God dat net een of twee dit vir die konferensie of die kerk sal doen nie, of dat werkers betaling moet ontvang as hulle hulle broeders onthaal nie. Dit is iets wat uit selfsug ontstaan, en die engele van God neem kennis van sulke dinge. UG1 82.2
Diegene wat rondreis van plek tot plek as evangeliste en sendelinge, behoort deur die lede van die kerk waar hulle werk, onthaal te word. Broeders en susters, ontvang sulke werkers, al is dit ook teen aansienlike persoonlike opoffering. UG1 82.3
Christus hou boek van elke uitgawe in verband met gasvryheid vir Sy ontwil. Hy voorsien alles wat nodig is vir hierdie werk. Diegene wat om Christus wil hulle broeders onthaal en hulle bes doen om die besoek geseënd te maak sowel vir die gas as vir hulleself word in die hemel aangeteken as persone wat spesiale seëninge waardig is. UG1 82.4
Christus het ons deur Sy eie lewe die les van gasvryheid geleer. Toe Hy by die meer omring was deur ‘n hongerige skare, het Hy hulle nie honger huis-toe gestuur nie. Hy het Sy dissipels beveel, “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Matt. 14: 16. En deur ‘n skeppingsdaad het Hy genoeg voedsel voorsien om hulle te versadig. En hoe eenvoudig was die voedsel nie! Daar was geen lekkernye nie. Hy wat al die skatte van die hemel tot Sy beskikking gehad het, kon ‘n heerlike maaltyd aan hulle voorgesit het. Maar Hy het net die dinge verskaf wat in hulle behoeftes sou voorsien, die gewone daelikse voedsel van vissers. UG1 82.5
As mense vandag eenvoudige gewoontes sou aankweek en in ooreenstemming met die natuurwette sou leef, sou daar oorvloedige voedsel wees vir al die behoeftes van die mensdom. Daar sal minder denkbeeldige behoeftes en meer geleentheid wees om volgens Gods weë te handel. UG1 83.1
Christus het nie gesoek om mense tot Hom te trek deur hulle verlange na lekkernye te bevredig nie. Die eenvoudige voedel wat Hy voorsien het, is ‘n bewys nie slegs van Sy krag nie, maar ook van Sy liefde en van Sy tere sorg vir hulle wat betref die gewone behoeftes van die lewe. En terwyl Hy hulle met die garsbrode gevoed het, het Hy hulle ook van die Brood van die Lewe gegee. Hy is ons voorbeeld. Ons voedsel mag skamel en selfs eenvoudig wees; ons mag in armoede verkeer; ons mag niks meer hê as die dissipels met hulle vyf brode en twee vissies nie, en nogtans, as ons in aanraking kom met die behoeftiges, beveel Christus ons, “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Ons moet gee van wat ons het; en namate ons gee, sal Christus toesien dat wat ons kortkom voorsien sal word. UG1 83.2