Go to full page →

HOOFSTUK TWINTIG—HULP VIR DIE SENDINGVELDE UG1 150

(Deel VI, bls. 445-453.)

DAAR druk ‘n las op my hart in verband met die behoeftige sendingvelde. Daar is ‘n groot werk om te doen in die sendingvelde wat naby ons is; en daar is groot behoefte aan middele vir die bevordering van die werk in die buiteland. Ons buitelandse sendingwerk gaan agteruit. Die sendelinge word nie onderhou soos God dit verlang nie. Weens gebrek aan fondse kan die werkers nie nuwe velde binnedring nie. UG1 150.1

Orals rondom ons is daar siele wat in hulle sondes sterf. Elke jaar sterf daar duisende en duisende sonder God en sonder die hoop op die ewige lewe. Die plae en oordele van God doen hulle werk, en siele gaan na die verderf omdat die lig van die waarheid nie aan hulle gebring is nie. Maar hoe min is daar wat besorgd is oor die toestand van hulle medemens! Die wêreld vergaan in sy ellende; maar dit beweeg skaars diegene wat voorgee om die heerlikste waarheid te glo wat nog ooit aan sterwelinge gegee is. UG1 150.2

God verwag van Sy volk dat hulle Hom sal help om die verloregaandes te verlig; maar hoeveel is daar nie wat tevrede is om niks te doen nie. Daar is ‘n gemis aan daardie liefde wat Christus genoop het om Sy hemelse woning te verlaat en die menslike natuur op te neem, sodat Hy deur Sy mensheid die mensheid kon bereik ten einde hulle tot God te bring. Daar is ‘n gevoelloosheid, ‘n verlamming onder die volk van God wat hulle belet om te besef wat in hierdie tyd verlang word. UG1 150.3