Go to full page →

Hoofstuk 55—Die Eerste Engel Se Boodskap EG 231

Ek het gesien dat die verkondiging van die tyd in 1843 van God was. Dit was Sy doel om die mense wakker te skud en hulle voor ‘n toets te bring waar hulle virofteen die waarheid sou moes besluit. Predikante was oortuig dat die verklaring van die profetiese tydperke reg was, en sommige het hulle hoogmoed versaak, hulle salarisse en gemeentes opgegee, en van plek tot plek gegaan om die boodskap te verkondig. Maar aangesien die boodskap van die hemel deur baie min van die predikante aangeneem is wat voorgegee het dat hulle dienaars van Christus is, moes die werk gedoen word deur vele wat nie predikante was nie. Sommige het hulle werk op die plase verlaat om die boodskap te verkondig, terwyl ander weggeroep is van hulle winkels en besighede. Selfs vakmanne het hulle werk opgegee om die onpopulêre roeping te aanvaar om die eerste engel se boodskap te verkondig. EG 231.1

Predikante het hulle sektariese beskouings en gevoelens opgegee om die boodskap van die koms van Jesus te verkondig. Waar die boodskap ook al verkondig is, het dit die mense in beroering gebring. Sondaars het tot bekering gekom, geween, en gebid om vergifnis van sondes, en diegene wat deur oneerlikheid ander tekort gedoen het, was gretig om vergoeding te doen. Ouers het baie besorg geword oor hulle kinders. Diegene wat die boodskap aangeneem het, het begin werk vir hulle onbekeerde vriende en bloedverwante, en het hulle onder die erns van die boodskap gesmeek om klaar te maak vir die koms van die Seun van die mens. Diegene wat nie die baie bewyse wat aangevoer is, wou aanneem nie, was verhard. Hierdie sielsreinigingswerk het die mense beweeg om hulle liefde af te wend van aardse dinge, en dit het groot toewyding ten gevolg gehad. EG 231.2

Duisende het die waarheid aangeneem wat deur William Miller verkondig is, en God het vir Homself dienaars opgewek in die gees en krag van Elia om die boodskap te verkondig. Net soos Johannes, die voorloper van Jesus, het diegene wat hierdie ernstige boodskap verkondig het, verplig gevoel om die byl aan die wortel van die boom te sit, en ‘n beroep op die mense te doen om vrugte voort te bring wat by die bekering pas. Die mikpunt van hulle boodskap was om die kerke wakker te skud en hulle ware karakter te openbaar. En namate die ernstige waarskuwing gegee is om te vlug vir die wraak wat sou kom, het baie wat in die kerke was die genesende boodskap aangeneem; hulle het besef hoe ver hulle afgedwaal het, en met bittere trane van berou en kwelling van die siel het hulle hulle voor God verootmoedig. En waar die Gees van God op hulle gekom het, het hulle gehelp om die boodskap te verkondig: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van Sy oordeel het gekom.” EG 231.3

Die verkondiging van ‘n bepaalde tyd het groot teenstand uitgelok sowel van predikante in die kansel as van die mees roekelose en vermetele sondaars.”Geen mens weet die juiste dag of uur nie,” is gehoor uit die mond van geveinsde predikante, en van die spotters. Hulle wou niks leer van diegene wat die jaar verkondig het wanneer, volgens hulle mening, die profetiese tydperke ten einde sou loop, en wat hulle gewys het op die tekens dat die koms van Christus, naby, voor die deur was nie. Baie herders van die kudde, wat voorgegee het dat hulle Jesus liefhet, het gesê dat hulle nie daarteen was dat die koms van Jesus verkondig word nie, maar dat hulle teen die bepaling van die tyd was. Gods alsiende oog het hulle harte gelees, Hulle wou Jesus nie naby hê nie. Hulle het geweet dat hulle onchristelike lewens nie die toets sou kon deurstaan nie, want hulle het nie gewandel in die nederige pad wat Hy aangewys het nie. Hierdie valse herders het in die weg van Gods werk gestaan. Die waarheid, met oortuigende krag verkondig, het die mense wakkergeskud, en soos die sipier het hulle begin vra, “Wat moet ek doen om gered te word?” Maar hierdie herders het tussen die waarheid en die mense getree en strelende dinge aan hulle verkondig wat hulle weggelei het van die waarheid. Hulle het saam met die Satan en sy engele geroep,“Vrede, vrede!”wanneer daar geen vrede was nie. Diegene wat gemaksugtig was en tevrede was om maar ver van God te lewe, wou nie wakkergeskud wees uit hulle vleeslike veiligheid nie. Ek het gesien dat die engele van God dit alles gesien het; die kleed van daardie onheilige herders was bevlek met die bloed van siele. EG 232.1

Predikante wat nie self hierdie reddende boodskap wou aanneem nie, het ander wat dit wel sou aangeneem het, verhinder om dit te doen. Die bloed van daardie siele kleef aan hulle. Beide predikante en gemeentelede het saamgestaan om hierdie boodskap van die hemel teen te werk, en om William Miller en diegene wat hom gehelp het in sy werk, te vervolg. Daar is valse dinge van hom gesê om sy invloed te ondermyn; en verskeiemaal, nadat hy duidelik die raad van God verkondig het, en die snydende waarhede aan die harte van sy toehoorders tuisgebring het, is daar groot woede teen hom opgewek, en sommige het hom voorgelê met die doel om hom dood te maak. Maar God het engele gestuur om hom te bewaar, en hulle het hom veilig deur die verwoede skare gelei. Sy werk was nog nieklaarnie. EG 232.2

Die opregtes het die boodskap aangeneem. Hulle het geweet dat dit van God was en dat dit op die regte tyd gegee is. Engele het met die grootste belangstelling die uitwerking van die hemelse boodskap gadegeslaan, en toe die kerke dit verwerp het, het hulle in droefheid met Jesus beraadslaag. Hy het Sy gesig weggedraai van die kerke, en Sy engele opdrag gegee om die dierbares wat die boodskap nie verwerp het nie, te bewaak, want daar sou nog meer lig op hulle skyn. EG 233.1

Ek het gesien dat as die naam-christene hulle Heiland se verskyning liefgehad het, en gevoel het dat daar niemand op aarde was soos Hy nie, sou hulle die eerste verkondiging van Sy koms met blydskap aangeneem het. Maar die feit dat die eerste verkondiging van Sy koms hulle nie behaag het nie, was afdoende bewys dat hulle Hom nie liefgehad het nie. Die Satan en sy engele het getriomfeer, en hulle het dit in die aangesig van Christus en Sy heilige engele gewerp dat Sy kastige volgelinge so min liefde vir Hom het dat hulle glad nie Sy koms begeer het nie. EG 233.2

Ek het die volk van God in blye verwagting sien verkeer, wagtende op die koms van hulle Here. Maar dit was Gods doel om hulle op die proef te stel. In die berekening van die profetiese tydperke het Hy ‘n misrekening met Sy hand bedek. Diegene wat hulle Here verwag het, het nie hierdie fout raakgesien nie, en selfs die geleerdste manne wat daardie uitleg betwis het, het dit nie gesien nie. God het dit so beskik dat ‘n groot teleurstelling Sy volk sou te beurt val. Die tyd het verbygegaan, en diegene wat in blye verwagting uitgesien het na die koms van hulle Heiland was droefgeestig en ontmoedig, terwyl diegene wat nie die verskyning van Jesus liefgehad het nie, maar die boodskap uit vrees aangeneem het, bly was dat Hy nie gekom het op die tyd toe Hy verwag is nie. Hulle belydenis het nie hulle harte verander en hulle lewens gereinig nie. Die verbygaan van die tyd sonder dat daar iets gebeur het, het goed gedien om sulke harte te openbaar. Hulle was die eerste om die spot te dryf met die treurendes en teleurgesteldes wat waarlik die koms van hulle Heiland liefgehad het. Ek het die wysheid van God gesien in die beproewing van Sy kinders met daardie deurtastende toets, om vas te stel wie sou terugdeins en uitsak in die uur van beproewing. EG 233.3

Jesus en die ganse leërskare van die hemel het diegene wat met sulke soete verlange uitgesien na Hom wat hulle siele liefgehad het, met medelyde en liefde bejeën. Engele het oor hulle gesweef om hulle te versterk in die uur van beproewing. Diegene wat die hemelse boodskap nie aangeneem het nie is in duisternis gelaat, en Gods toorn het teen hulle ontvlam omdat hulle nie die lig wou aanneem wat Hy uit die hemel gestuur het nie. Daardie getroue, teleurgestelde groep, wat nie kon verstaan waarom hulle Here nie gekom het nie, is nie in duisternis gelaat nie. Weer is hulle na hulle Bybels gelei om die profetiese tydperke te ondersoek. Die Here het Sy hand weggeneem van die syfers, en die fout is opgeklaar. Hulle het gesien dat die profetiese tydperke gereik het tot 1844, en dat dieselfde bewyse wat hulle aangevoer het dat die profetiese tydperke in 1843 geëindig het, bewys het dat hulle in 1844 sou eindig. Lig uit die Woord van God het hulle posisie verlig, en hulle het ‘n talmtyd ontdek— “As dit mag vertoef, wag dan daarop.”ln hulle liefde vir Christus se onmiddellike koms, het hulle die talming van die gesig oor die hoof gesien wat die opregte wagtendes sou openbaar. Weer is daar ‘n bepaalde tyd gestel, maar ek het gesien dat baie van hulle nie daardie verskriklike teleurstelling te bowe kon kom om dieselfde ywer en energie aan die dag te lê as wat hulle geloof in 1843 gekenmerk het nie. EG 234.1

Die Satan en sy engele het oor hulle getriomfeer, en diegene wat die boodskap nie wou aanneem nie het hulleself geluk gewens met hulle versiende oordeel en wysheid om nie bedrieg te word soos hulle dit genoem het nie. Hulle het nie besef dat hulle die raad van God teen hulleself verwerp het, en dat hulle besig was om saam met die Satan en sy engele te werk om Gods kinders, wat die hemelse boodskap uitgelewe het, te verbyster nie. EG 234.2

Diegene wat hierdie boodskap geglo het, is verdruk in die kerke. Vir ‘n tyd is diegene wat die boodskap nie wou aanneem nie uit vrees teruggehou om uiting te gee aan die gevoelens van hulle harte; maar toe die tyd verbygegaan het, is hulle ware gevoelens geopenbaar. Hulle wou die getuienis stilmaak wat die wagtendes gevoel het dat hulle moet gee( naamlik dat die profetiese tydperke gestrek het tot 1844. Met duidelikheid het die gelowiges hulle fout verduidelik, en redes gegee waarom hulle die Here in 1844 verwag het. Hulle teenstanders kon geen argumente aanvoer teen hulle sterk bewyse nie. Nogtans het die woede van die kerke teen hulle ontvlam; hulle was vasbeslote om nie na die getuienis te luister nie( om die getuienis uit die kerke te ban, sodat ander dit nie kon hoor nie. Diegene wat dit gewaag het om aan ander die lig te gee wat God aan hulle gegee het, is uit die kerke uitgesluit; maar Jesus was met hulle, en hulle was blymoedig in die lig van Sy aanskyn. Hulle was bereid om die boodskap van die tweede engel aan te neem. EG 234.3

_______________