Die bittere teleurstelling van Gods volk toe Jesus nie gekom het op die tyd dat hulle Hom verwag het nie, is aan my getoon. Hulle het nie geweet waarom hulle Heiland nie gekom het nie, want hulle kon geen bewys sien dat die profetiese tyd nie geëindig het nie. Die engel het gevra: “Het Gods Woord gefaal? Het God versuim om Sy beloftes na te kom? Nee; Hy het alles vervul wat Hy belowe het. Jesus het opgestaan en die deur van die heilige plek van die hemelse heiligdom gesluit, en die deur tot die allerheiligste plek oopgemaak en daarin gegaan om die heiligdom te reinig. Almal wat geduldig wag, sal die verborgenheid verstaan. Dit is die mens wat die fout begaan het; dit is nie God wat in gebreke gebly het nie. Alles het geskied wat God belowe het; maar die mens het verkeerd geglo dat die aarde die heiligdom is wat gereinig sou word aan die einde van die profetiese tydperke. Dit is die mens se verwagting, en nie die belofte van God nie, wat gefaal het.” EG 253.1
Jesus het Sy engele gestuur om die aandag van die teleurgesteldes te vestig op die allerheiligste plek waarheen Hy gegaan het om die heiligdom te reinig en spesiale versoening te doen vir Israel. Jesus het aan die engele gesê dat almal wat Hom sou vind ook die werk sou verstaan wat Hy sou doen. Ek het gesien dat Jesus, terwyl Hy in die allerheiligste plek was in die huwelik sou tree met die Nuwe Jerusalem, en dat Hy, na Sy werk in die allerheiligste plek klaar was, op die aarde sou neerdaal in koninklike krag, en dat Hy die dierbares wat so geduldig gewag het op Sy koms tot Hom sou neem. EG 253.2
Daar is aan my getoon wat werklik in die hemel plaasgevind het aan die einde van die profetiese tydperke in 1844. Toe Jesus sy bediening in die heilige plek beëindig het en die deur van daardie afdeling toegemaak het, het daar groot duisternis neergesak op diegene wat die boodskap van Sy koms gehoor en verwerp het, en hulle het Hom uit die oog verloor. Jesus het toe Sy kostelike kleed aangetrek. Onder aan die soom van Sy kleed was ‘n klok en ‘n granaat, ‘n klok en ‘n granaat. ‘n Pragtige borsplaat het van sy skouers gehang.Terwyl Hy beweeg het, het die stene soos diamante geskitter sodat die letters wat daarop gegraveer was, vergroot is-dit het soos name gelyk. Op Sy hoof was daar iets wat soos ‘n kroon gelyk het.Toe Hy ten volle gekleed was, is Hy deur engele omring, en in ‘n vlammende koets het Hy binnekant die tweede voorhangsel gegaan. EG 253.3
Ek is toe beveel om te kyk na die twee afdelings van die hemelse heiligdom. Die voorhangsel, of deur, is geopen, en ek het ingegaan. In die eerste afdeling het ek die kandelaar met die sewe lampe; die tafel met die toonbrode, die reukofferaltaar, en die vuurpan gesien. Die hele ameublement van hierdie afdeling het gelyk soos suiwer goud, en dit het die beeld weerkaats van Hom wat die plek binnegegaan het. Die gordyn wat die twee afdelings geskei het, het bestaan uit verskillende soorte materiaal en was in verskillende kleure, dit het ‘n pragtige soom gehad waarop die vorms van engele in goud uitgewerk was. Die voorhangsel is opgelig, en ek het gekyk in die tweede afdeling. Daar het ek ‘n ark gesien; dit het gelyk soos die fynste goud. Die rant bo-op die ark was ‘n baie mooi stuk wat gelyk het soos krone. In die ark was kliptafels waarop die tien gebooie gestaan het. EG 254.1
Twee pragtige gerubs, een aan elke ent van die ark, het met hulle vlerke bo-oor uitgestrek gestaan; die punte van hulle vlerke het bokant die hoof van Jesus aan mekaar geraak waar Hy voor die versoendeksel gestaan het. Hulle aangesigte was na mekaar gekeer, en hulle het afgekyk na die ark. ‘n Voorstelling van die leërskare van engele wat met belangstelling kyk na die wet van God. Tussen die gerubs was ‘n goue wierookpan, en waar die gebede van die heiliges, opgestuur in geloof, opkom voor Jesus, en Hy hulle voor die Vader gebring het, het daar ‘n wolk van wierook uit die pan opgestyg, soos rook in die allerpragtigste kleure. Bokant die plek waar Jesus gestaan het, voor die ark, was daar ‘n vreeslike helder glans waarop ek nie kon kyk nie; dit het gelyk soos die troon van God, Namate die wierook opgestyg het voor die Vader, het die heerlike glans van die troon af op Jesus geskyn, en van Hom het dit geskyn op diegene wie se gebede opgekom het soos soete wierook. Lig het op Jesus geskyn in groot oorvloed, en op die versoendeksel, en die heerlikheid daarvan het die tempel vervul. Ek kon daardie heerlikheid nie lank aanskou nie. Geen pen kan dit beskryf nie. Ek was oorweldig en het weggedraai van die majesteit en heerlikheid van die toneel. EG 254.2
Daar is ook aan my ‘n heiligdom op die aarde getoon, met twee afdelings. Dit het gelyk soos die een in die hemel, en aan my is gesê dat dit ‘n afbeeldsel was van die hemelse. Die ameublement van die eerste afdeiing van die aardse heiiigdom was soos die in die eerste afdeling van die hemelse. Die voorhangsel was opgelig, en ek kon kyk in die allerheiligste plek, en ek het gesien dat die ameublement daar net soos die was in die allerheiligste plek van die hemelse heiligdom. Die priester het gedien in albei afdelings van die aardse. Hy het daagliks in die eerste afdeling ingegaan, maar het die allerheiligste plek slegs eenmaal per jaar binnegegaan, om dit te reinig van die sondes wat daarin gebring was. Ek het gesien dat Jesus gedien het in albei afdelings van die hemelse heiligdom. Die priesters het die aardse binnegegaan met die bloed van ‘n dier as offer vir die sonde. Christus het die hemelse heiligdom binnegegaan deur die offer van Sy eie bloed. Die aardse priesters het weggeval deur die dood; daarom kon hulle nie te lank dien nie; maar Jesus was ‘n priester vir ewig. Deur die offers wat in die aardse heiligdom ingebring is, moes die kinders van Israel die verdienstes van ‘n komende Verlosser aanneem. En in die wysheid van God is die besonderhede van hierdie werk aan ons gegee sodat ons, deur dit te aanskou, die werk van Jesus in die hemelse heiligdom kon verstaan. EG 254.3
Toe Jesus op Golgota gesterf het, het Hy uitgeroep, “Dit is volbring,” en die voorhangsel van die tempel het van bo tot onder in twee geskeur. Dit was om te wys dat die dienste van die aardse heiligdom vir ewig tot ‘n einde gekom het, en dat God die priesters nie meer sou ontmoet in die aardse tempel om hulle offers aan te neem nie. Die bloed van Jesus is toe gestort, en dit sou Hy self offer in die hemelse heiligdom. Net soos die priester eenmaal per jaar die allerheiligste plek binnegegaan het om die aardse heiligdom te reinig, so het Jesus die allerheiligste plek van die hemelse binnegegaan, aan die einde van die 2300 dae van Daniël 8, in 1844, om finale versoening te doen vir almal wat kon baat deur Sy middelaarskap, om so die heiligdom te reinig. EG 255.1
_______________