Go to full page →

Hoofstuk 69—Die Verlossing Van Die Heiliges EG 289

Dit was middernag toe God besluit het om Sy volk te verlos. Terwyl die goddelose rondom hulle gespot het, het die son skielik opgekom en in sy volle krag geskyn; en die maan het stilgestaan. Die goddelose het die toneel in verbasing aanskou, terwyl die heiliges die tekens van hulle verlossing met eerbiedige vreugde aanskou het. Tekens en wonders het mekaar vinnig opgevolg. Dit het geskyn of die natuurlike gang van alles verstoor was. Die strome het opgehou om te vloei. Donker, swart wolke het opgekom en teen mekaar gebots. Maar daar was een oop plek van heerlikheid, en daarvandaan is die stem van God gehoor, soos van baie waters, en dit het die hemele en die aarde geskud. Daar was ‘n groot aardbewing. Die grafte is geopen, en diegene wat in die geloof gesterf het onder die derde engel se boodskap, en die Sabbat gehou het, het opgestaan en verheerlik voortgekom om die verbond van vrede te hoor wat God sou maak met diegene wat Sy wet gehou het. EG 289.1

Die lug het oopen toegegaan met groot gedreun. Die berge het gebewe soos ‘n riet in die wind, en ruwe rotse is orals uitgewerp. Die see het gekook soos ‘n pot, en het klippe op die land gewerp. En toe God die dag en die uur van Jesus se koms aankondig, en die ewige verbond aan Sy volk gee, het Hy een sin gespreek en dan stilgebly, terwyl die woorde oor die aarde gerol het. Die Israel van God het gestaan met hulle oë na die hemel gerig, en het geluister na die woorde soos hulle uit die mond van Jehova gekom en oor die aarde gerol het soos harde donderslae. Dit was alles baie vreesaanjaend. Aan die einde van elke sin het die heiliges uitgeroep: “Heerlik! Halleluja!” Hulle aangesigte was verlig met die heerlikheid van God, en hulle gesigte het gestraal van die heerlikheid soos die van Moses toe hy van Sinai afgekom het. Die goddelose kon weens die heerlikheid nie na hulle kyk nie. En toe daardie ewige seën uitgespreek is oor diegene wat God geëer het deur Sy Sabbat te heilig, het daar ‘n magtige oorwinningskreet opgegaan oor die dier en sy beeld. EG 289.2

Toe het die jubileum begin, wanneer die land sou rus. Ek het gesien dat vrome slawe opstaan in oorwinning, en die kettings wat hulle gebind het, afskud, terwyl hulle bose meesters verward was en nie geweet het wat om te doen nie; want die goddelose kon nie die woorde van die stem van God verstaan nie. EG 289.3

Eerlank het daar ‘n groot wit wolk verskyn, en daarop het die Seun van die mens gesit. Toe dit eers in die verte verskyn het, het dit baie klein gelyk. Die engel het gesê dat dit die teken is van die Seun van die mens. Namate dit nader aan die aarde gekom het, kon ons die allesoortreffende heerlikheid en majesteit van Jesus sien waar Hy voortgery het as oorwinnaar. ‘n Gevolg van heilige engele, met blink krone op hulle hoofde, het Hom begelei. Geen pen kan die heerlikheid van daardie toneel beskryf nie. Die lewende wolk van majesteit en onoortreflike heerlikheid het nadergekom, en ons kon duidelik die lieflike gestalte van Jesus sien. Hy het nie ‘n doringkroon gedra nie, maar ‘n kroon van heerlikheid. Op Sy kleed en Sy heup was ‘n Naam geskryf, Koning van die konings, en Here van die here. Sy gelaat het geblink soos die middagson; Sy oë was soos vuurvlamme, en Sy voete was soos gloeiende blink koper. Sy stem was soos die geluid van baie musiekinstrumente. Die aarde het gebewe voor Hom; die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit.”En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van Sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” Diegene wat nog ‘n kort rukkie tevore Gods getroue kinders van die aardbodem wou verdelg, het nou die heerlikheid van God gesien wat hulle bestraal het. En te midde van al hulle vrees het hulle die stemme van die heiliges blymoedig hoor sê:“Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos.” EG 290.1

Die aarde het vreeslik gebewe toe die stem van die Seun van God die slapende heiliges opgewek het. Hulle het gehoor gegee aan die roepstem, en het voortgekom, beklee met die heerlike onsterflikheid, en hulle het geroep, “Oorwinning, oorwinning oor die dood en oor die grafl Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?”Toe het die lewende heiliges, en die wat uit die dode opgewek is, hulle stemme verhef in ‘n lankgerekte oorwinningskreet. Die liggame wat in die graf gelê is met die tekens van siekte en die dood, het voortgekom in onsterflike gesondheid en lewenskrag. Die lewende heiliges is verander in ‘n oomblik, in ‘n oog wink, en hulle is saam met die wat opgewek is, opgeneem hulle Here tegemoet in die lug. O, wat ‘n heerlike wederontmoeting! Vriende wat deur die dood geskei is, is weer verenig, om nooit weer te skei nie. EG 290.2

Aan elke kant van die wolkewa was vlerke, en onder was lewende wiele; en namate die wa opgevaar het, het die wiele uitgeroep, “Heilig,” en die vlerke, terwyl hulle beweeg het, het geroep, “Heilig,” en die gevolg van heilige engele rondom die wolk, het uitgeroep, “Heilig, heilig, heilig, Here God Almagtig!” Al die heiliges in die wolk het geroep, “Heerlik! Hallelujah!” En steeds het die wa opwaarts beweeg na die Heilige Stad. Voordat hulle die stad binnegegaan het, is die heiliges in ‘n volmaakte vierkant opgestel, met Jesus in hulle midde. Hy het kop en skouers bokant die heiliges en die engele gestaan. Sy majestueuse gestalte, en lieflike gelaat, kon gesien word deur almal in die vierkant. EG 291.1

_______________