Dit was maar altyd die doel van die Satan om die mense se aandag af te trek van Jesus en dit op ‘n mens te vestig, en om die verantwoordelikheid van die indiwidu weg te neem. Die Satan se plan in die versoeking van die Seun van God het misluk, maar hy het groter sukses gehad in sy versoeking van die gevalle mens. Die Christelike godsdiens het besoedel geraak. Pouse en priesters het hulleself verhef, en het die mense geleer om na hulle op te sien vir vergifnis van sondes pleks van self na Christus te gaan. EG 211.1
Die mense is totaal verlei. Hulle is geleer dat die pouse en priesters Gods verteenwoordigers is, wanneer hulle inderwaarheid die verteenwoordigers van die Satan is, en diegene wat vir hulle neerbuig, aanbid die Satan. Die mense het om die Bybel gevra, maar die priesters het dit gevaarlik geag om die mense self te laat lees, want hulle kon miskien verlig word en die sondes van hulle leiers aan die kaak stel. Die mense is geleer om alles aan te neem van hierdie bedrieërs soos uit die mond van God. Hulle het daardie mag oor die verstand uitgeoefen wat God alleen behoort te hê. As enigeen dit gewaag het om sy eie oortuigings te volg, is daar na sy bloed gedors met dieselfde haat as wat die Satan en die Jode teen Jesus geopenbaar het. EG 211.2
Ek is gewys op ‘n tyd toe die Satan werklik die oorwinning behaal het. ‘n Menigte Christene is op ‘n vreeslike wyse om die lewe gebring omdat hulle hul godsdiens rein wou bewaar. Die Bybel is gehaat, en pogings is gemaak om die wêreld daarvan te bevry. Die mense is belet om dit te lees op straf van die dood; en alle eksemplare wat hulle in die hande kon kry, is verbrand. Maar ek het gesien dat God Sy Woord op spesiale wyse bewaar het. Hy het dit beskerm. Soms was daar slegs ‘n paar eksemplare oor, maar Hy sou nie toelaat dat Sy Woord heeltemal uitgeroei word nie, want in die laaste dae sou daardie eksemplare so vermenigvuldig word dat elke gesin sy eie Bybel sou hê. Ek het gesien dat toe daar nog net ‘n paar eksemplare van die Bybel oor was, was dit baie kosbaar en vertroostend vir die vervolgde volgelinge van Jesus. Dit is in die geheim gelees, en diegene wat hierdie groot voorreg gehad het, het gevoel dat hulle ‘n onderhoud met God en Sy dissipels gehad het. Maar vir hierdie heerlike voorreg moes vele met hulle lewens boet. Wanneer hulle ontdek is, is hulle na die skavot, of die brandstapel geneem, of hulle is in die tronk gegooi om daar van honger te sterf. EG 211.3
Die Satan kon nie die verlossingsplan verhinder nie. Jesus is gekruisig, en Hy het die derde dag weer opgestaan. Maar die Satan het aan sy engele gesê dat hy die kruisiging en die opstanding tot sy eie voordeel sou uitbuit. Hy was gewillig om diegene wat geloof bely het in Jesus maar te laat glo dat die wette wat die Joodse offerstelsel bepaal het tot ‘n einde geloop het met die dood van Christus, mits hy hulle verder kon dryf om ook te glo dat die wet van tien gebooie saam met Christus gesterf het. EG 212.1
Ek het gesien dat vele sommer maklik die bedrog van die Satan aangeneem het. Die hele hemel is tot verontwaardiging gestem toe hulle die heilige wet van God onder die voete vertrap gesien het. Jesus en die ganse leërskare van die hemel was bekend met die aard van Gods wet; hulle het geweet dat Hy dit nie sou verander of afskaf nie. Die hopelose toestand van die mens, ná die sondeval, het die grootste droefheid in die hemel veroorsaak, en dit het Jesus beweeg om te sterf vir die oortreders van Gods heilige wet. Maar as daardie wet afgeskaf kon gewees het, sou die mens gered kon gewees het sonder dat Jesus moes sterf. Sy dood het dus nie die wet van Sy Vader vernietig nie, maar het die heilige gebooie daarvan geëer en verhef. EG 212.2
As die kerk rein en standvastig gebly het, sou die Satan hulle nie kon bedrieg het en hulle gelei het om Gods wet te vertrap nie. In hierdie vermetele plan het die Satan regstreeks gemik na die grondslag van Gods regering in die hemel en op die aarde. Sy rebellie het tot sy uitwerping uit die hemel gelei. Ná sy opstand het hy, om homself te red, verlang om Gods wet te verander, maar voor die ganse leërskare van die hemel is daar aan hom gesê dat Gods wet onveranderlik is. Die Satan weet dat as hy ander kan beweeg om Gods wet te oortree, hy hulle vir sy kant gewin het; want elke oortreder van die wet moet sterf. EG 212.3
Die Satan het besluit om nog verder te gaan. Hy het aan sy engele gesê dat sommige so ywerig vir Gods wet sou wees dat hulle nie in sy strikke gevang sal word nie; die tien gebooie is so duidelik dat vele sal glo dat hulle nog bindend is, en daarom moes hulle probeer om net een van die gebooie te vervals. Hy het toe sy verteenwoordigers gelei om te probeer om die vierde gebod, naamlik die Sabbatsgebod, te verander, en sodoendejuis daardie een te verander wat die ware God, die Skepper van die hemel en die aarde, openbaar. Die Satan het aan hulle die glorieryke opstanding van Jesus voorgehou, en hulle wysgemaak dat Hy, deur Sy opstanding op die eerste dag van die week, die Sabbat verander het van die sewende tot die eerste dag van die week. EG 212.4
So het die Satan dan die feit van die opstanding gebruik vir sy eie doeleindes. Hy en sy engele het hulle daarin verbly dat die dwalings wat hy berei het so goed ingang gevind het by die sogenaamde vriende van Christus. Wat die een met geestelike afsku verwerp het, het die ander sonder meer aangeneem. Daarom was dit ook dat verskillende dwalings aangeneem en met ywer verdedig is. Die wil van God, so duidelik in Sy Woord geopenbaar, het bedek geraak met dwalings en tradisies wat geleer is as die gebooie van God. Alhoewel hierdie hemeltergende bedrog verdra sal word tot by die tweede koms van Christus, het God Homself nogtans, deur hierdie lang tydperk van dwaalleer en bedrog, nie onbetuig gelaat nie. Te midde van die duisternis en vervolging van die kerk, was daar altyd opregte en getroue lede wat die gebooie van God bewaar het. EG 213.1
Ek het gesien dat die engele skare met verbasing vervul was by die aanskouing van die lyde en dood van die Koning van heerlikheid. Maar ek het gesien dat dit vir hulle nie ‘n wonder was nie dat die Here van lewe en heerlikheid-Hy wat die ganse hemel vervul het met vreugde en prag—die bande van die dood sou verbreek en sou voortkom uit Sy graf as ‘n triomfantlike oorwinnaar. As een van hierdie gebeurtenisse dan moet herdenk word deur ‘n rusdag, dan is dit seker die kruisiging. Maar ek het gesien dat nie een van hierdie gebeurtenisse bedoel was om Gods wet te verander of af te skaf nie; inteendeel, hulle lewer die sterkste bewys van die onveranderlikheid van die wet. EG 213.2
Albei hierdie belangrike gebeurtenisse het hulle gedenktekens. Deur die gebruik van die brood en wyn by die viering van die Avondmaal, verkondig ons die dood van die Here totdat Hy kom. Die tonele van Sy lyde en dood word daardeur weer vars in ons geheue gebring. Die opstanding van Christus word herdenk deur ons begrafnis met Hom in die doop, en ons opkoms uit die watergraf tot ‘n nuwe lewe is ‘n beeld van Sy opstanding. EG 213.3
Aan my is getoon dat die wet van God vir ewig sal bly staan, en dat dit deur die ewigheid op die nuwe aarde sal bestaan. By die skepping, toe die fondamente van die aarde gelê is, het die seuns van God die werk van die Skepper met bewondering aanskou, en die leërskare van die hemel het gejubel van vreugde. Toe is ook die fondament van die Sabbat gelê. Aan die einde van die ses skeppings dae, het God op die sewende dag gerus van Sy werk wat hy gemaak het; Hy het die sewende dag geseën en dit geheilig omdat Hy op daardie dag gerus het van al Sy werk. Die Sabbat is in Eden ingestel vóór die sondeval, en dit is gevier deur Adam en Eva en die leërskare van die hemel. God het op die sewende dag gerus en dit geheilig. Ek het gesien dat die Sabbat nooit afgeskaf sal word nie, maar dat die verloste heiliges, en die leërskare van engele, dit deur die ewigheid sal vier ter ere van die groot Skepper. EG 214.1
_______________