“DIE VERLIGTING ... VAN DIE KENNIS
VAN DIE HEERLIKHEID VAN GOD IN
DIEAANGESIG VANJESUS CHRISTUS.”
DEUR sonde is die mens van God uitgesluit. Sonder die verlossingsplan sou ewige skeiding van God; die duisternis van ‘n eindelose nag, syne gewees het. Deur die offerande van die Heiland is gemeenskap met God weer moontlik gemaak Ons mag nie persoonlik tot in Sy teenwoordigheid kom nie; in ons sonde mag ons nie Sy aangesig sien nie; maar in Jesus, die Heiland, kan ons Hom aanskou en met Hom sielsgemeenskap hê.”Dieverligting ... van die kennis van die heerlikheid van God” word “in die aangesig van Jesus Christus”geopenbaar. God versoen”in Christus die wêreld met Homself.” 2 Korinthiërs 4:6; 5:19. Op 28.1
“En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon... vol van genade en waarheid.” “In Hom was lewe en die lewe was die lig van die mense.” Johannes 1:14; 1:4. Die lewe en dood van Christus, die losprys vir ons saligmaking, is vir ons nie net die belofte en pand van die lewe nie, nie net die middel om weer vir ons die skatte van die wysheid oop te stel nie: dit is ‘n breêr, hoër openbaring van Sy karakter as wat selfs die heiliges van Eden geken het. Op 28.2
En terwyl Christus die hemel vir die mens oopstel, maak die lewe wat Hy - toebedeel, die hart van die mens vir die hemel oop. Sonde sluit ons nie net van God uit nie, maar dit vernietig in die menslike siel sowel die verlange as die kapasiteit om Hom te ken. Dit is Christus se sending om al hierdie bose werk ongedaan te maak. Aan die sielsvermoëns, deur die sonde lamgelê, die verduisterde gemoed, die verwronge wil, het Hy mag om lewe te gee en dit te herstel. Hy stel vir ons die rykdom van die heelal oop en die mag om hierdie skatte te onderskei en ons eie te maak, word deur Hom gegee. Op 28.3
Christus is die “lig wat elke mens verlig” wat “in die wêreld” aan kom was Johannes 1:9. Net soos elke mens deur Christus lewe het, so ontvang ook elke siel deur Hom die een of ander straal van Goddelike lig. Nie net intellektuele vermoë nie, maar geestelike mag, ‘n insig in wat reg is, ‘n verlange na die goeie, bestaan in elke hart. Maar teen hierdie beginsels worstel daar ‘n vyandige mag. Die gevolg van die eet van die boom van die kennis van goed en kwaad word in elke mens se ondervinding geopenbaar. Daar is in sy natuur ‘n neiging tot die bose, ‘n mag waarteen hy hom, sonder hulp, nie kan versit nie. Om dié mag te weerstaan, om die ideaal te verwesenlik wat hy in die binneste van sy siel aanneem as die enigste wat waardig is, kan hy net in een mag bystand vind. Daardie mag is Christus. Samewerking met dié mag is die mens se grootste behoefte. Behoort hierdie samewerking nie die hoogste doel in alle opvoedkundige werk te wees nie? Op 29.1
Die ware onderwyser is nie met tweedeklas werk tevrede nie. Hy is nie daarmee tevrede om sy leerlinge se aandag op ‘n standaard te vestig laer as die hoogste wat dit vir hulle moontlik is om te bereik nie. Hy kan nie daarmee genoeë neem om bloot tegniese kennis aan hulle oor te dra, om net slim rekenmeesters, vernuftige vakmanne, suksesvolle sakelui van hulle te maak nie. Dit is sy ambisie om hulle met beginsels van waarheid, gehoorsaamheid, eer, integriteit en reinheid te inspireer - beginsels wat van hulle ‘n positiewe krag vir die bestendiging en opheffing van die samelewing sal maak. Hy verlang, bo alles, dat hulle die lewe se groot les van onselfsugtige diens sal leer. Op 29.2
Hierdie beginsels word ‘n lewende mag om die karakter te vorm, deur die siel se kennis van Christus, deur die aanname van Sy wysheid as gids, Sy mag as die sterkte, van hart en lewe. As hierdie eenheid tot stand gekom het, het die student die Bron van wysheid gevind. Hy het binne sy bereik die mag om in homself sy edelste ideale te verwesenlik. Die geleenthede van die hoogste opvoeding vir die lewe in hierdie wêreld is syne. En in die opleiding wat hier verwerf word, betree hy daardie kursus wat die ewigheid behels. Op 30.1
In die hoogste sin is die werk van opvoeding en die werk van verlossing een, want in die opvoeding, net soos in die verlossing kan “niemand ... ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.””Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon,” 1 Korinthiërs 3:11; Kolossense 1:19. Op 30.2
Onder veranderde toestande geskied ware opvoeding nog ooreenkomstig die Skepper se plan, die plan van die Eden - skool. Adam en Eva het deur direkte omgang met God onderrig ontvang; ons aanskou die verligting van die kennis van Sy heerlikheid in die aangesig van Christus. Op 30.3
Die groot beginsels van die opvoeding bly onveranderd.”Vasgestel is hulle vir altyd, vir ewig”(Psalm 111:8); want hulle is die beginsels van Gods karakter. Om die student hierdie beginsels te help begryp en om daardie verhouding tot Christus aan te gaan wat dit ‘n beherende mag in die lewe sal maak, moet die onderwyser se primêre poging en sy voortdurende doel wees. Die onderwyser wat hierdie oogmerk aanvaar, is in der waarheid ‘n medewerker van Christus, ‘n arbeider saam met God. Op 30.4
_______________