LEI OP, VERMAAN, SPOOR
AAN, WEES LANKMOEDIG.
EEN van die eerste lesse wat ‘n kind sal moet leer, is die les van gehoorsaamheid. Voordat hy oud genoeg is om te redeneer, kan hy geleer word om gehoorsaam te wees. Deur tere, volhardende pogings moet die gewoonte gevestig word. So, in ‘n groot mate, kan daardie latere konflikte tussen wil en gesag voorkom word wat soveel doen om vervreemding en bitterheid teenoor ouers en onderwysers te skep en te dikwels weerstand teen alle gesag, menslik en Goddelik. Op 287.1
Die doel van dissipline is die opvoeding van die kind vir selfregering. Hy moet selfstandigheid en selfbeheersing geleer word. Daarom, sodra hy daartoe in staat is om te verstaan, moet sy rede aan die kant van gehoorsaamheid gewerf word. Laat alle optrede teenoor hom sodanig wees dat dit toon dat gehoorsaamheid regverdig en redelik is. Help hom om in te sien dat alle dinge aan wette onderhewig is en dat ongehoorsaamheid uiteindelik tot rampspoed en smart lei. As God sê: “Jy mag nie,” waarsku Hy ons in liefde teen die gevolge van ongehoorsaamheid, om ons van nadeel en verlies te red. Op 287.2
Help die kind om in te sien dat ouers en onderwysers verteenwoordigers. van God is en dat as hulle in harmonie met Hom optree, hul wette tuis en op skool ook Syne is. Soos die kind aan ouers en onderwysers gehoorsaamheid moet betoon, so moet die op hulle beurt, gehoorsaamheid aan God betoon. Op 287.3
Om die kind se ontwikkeling te rig sonder om dit deur oormatige beheer te strem, moet die oorwoë strewe van sowel die ouer as onderwyser wees.Te veel beheer is net so sleg as te min. Die poging om ‘n kind se”wil te breek/'is ‘n verskriklike fout.Verstande is verskillend saamgestel; hoewel dwang uiterlike onderwerping mag verseker, is die gevolg by baie kinders ‘n beslister opstandigheid in die hart. Selfs al sou die ouer of onderwyser daarin slaag om die beheer te verkry wat hy wil hê, is die gevolge miskien nie minder nadelig vir die kind nie. Die dissipline van die mens wat die jare van redelike denke bereik het, moet verskil van die opleiding van ‘n redelose dier. Die dier word net onderwerping aan sy meester geleer. Vir die dier is die baas verstand, oordeel en wil. Hierdie metode, wat soms vir die opvoeding van kinders aangewend word, maak van hulle weinig meer as outomate. Verstand, wil, gewete, is onder iemand anders se beheer. Dit is nie Gods plan dat enige verstand so gedomineer moet word nie. Diegene wat indiwidualiteit verswak of vernietig, neem ‘n verantwoordelikheid op hulle wat net kwaad tot gevolg kan hê. Terwyl hulle onder gesag verkeer, lyk die kinders miskien soos goed gedrilde soldate; maar wanneer die aanvoering ophou, sal daar bevind word dat die karakter krag en standvastigheid kortkom. Omdat hy nooit geleer is om homself in toom te hou nie, erken die jongmens geen beperking buiten die vereistes van ouers of onderwyser nie. As dit verwyder word, weet hy nie hoe om sy vryheid te gebruik nie en hy gee hom dikwels oor aan botviering wat sy ondergang beteken. Op 288.1
Omdat die oorgee van die wil vir sommige leerlinge soveel moeiliker as vir andere is, moet die onderwyser dit so maklik as moontlik maak om aan sy vereistes gehoorsaam te wees. Die wil moet gelei en gevorm, maar nie geïgnoreer of verpletter word nie. Bewaar die krag van die wil; in die lewenstryd sal dit benodig word. Op 288.2
Elke kind moet die ware krag van die wil verstaan. Hy moet gelei word om in te sien hoe groot die verantwoordelikheid is wat met hierdie gawe saamhang. Die wil is die beheerrnag in die natuur van die mens, die mag van besluit of keuse. Elke mens wat redeneringsvermoë besit, het die mag om te kies wat reg is. In elke lewensondervinding is Gods woord aan ons;”Kies dan virjulle vandag wiejulle wil dien.”Josua 24:15. Elkeen kan sy wil aandie kant van Gods wil plaas, kan kies om Hom te gehoorsaam en deur hom so aan Goddelike bemiddelinge te verbind, mag hy staan waar niks hom kan dwing om kwaad te doen nie. In elke jong persoon, elke kind, is die mag geleë om, met die hulp van God, ‘n karakter van integriteit te vorm en ‘n nuttige lewe te lei. Op 289.1
Die ouer of onderwyser wat deur sulke onderrig die kind tot selfbeheersing oplei, sal die behulpsaamste en permanent suksesvolste wees. Vir die oppervlakkige waarnemer mag sy werk nie die doeltreffendste vertoon nie; dit mag miskien nie so hooggeag word as die van die persoon wat die kind se verstand en wil onder absolute gesag bewaar nie; maar die jare wat volg, sal die resultate van die beter opleidingsmetode toon. Op 289.2
Die wyse opvoeder sal, in sy optrede teenoor sy leerlinge, trag om vertroue in te boesem en eersin te versterk. Kinders en jongmense baat daarby wanneer hulle vertrou word. Baie, selfs onder die klein kindertjies, het ‘n verhewe eersin; almal verlang om met vertroue en respek behandel te word en dit is hulle reg. Hulle moet nie daartoe gebring word om te voel dat hulle nie kan in - en uitgaan sonder om dopgehou te word nie. Agterdog demoraliseer en bring juis die euwels voort wat dit trag om te verhoed. In plaas van voortdurend op die uitkyk te wees, asof hulle die kwade verwag, sal onderwysers wat met hul leerlinge in kontak is, die werkinge van die rustelose verstand bespeur en invloede aan die gang sit wat die euwel sal teenwerk. Laat die jongmense voel dat hulle vertrou word en daar is min wat nie sal trag om te bewys dat hulle die vertroue waardig is nie. Volgens dieselfde beginsel is dit beter om te versoek as om te beveel; wie op hierdie wyse aangespreek word, het dan ‘n geleentheid om te toon dat hy aan die regte beginsels lojaal is. Sy gehoorsaamheid is die gevolg van keuse eerder as van dwang. Op 289.3
Die reëls wat in die klaskamer geld, moet sover moontlik die stem van die skool verteenwoordig. Elke beginsel wat daarby betrokke is, moet op so ‘n wyse aan die student voorgelê word dat hy van die regverdigheid daarvan oortuig kan wees. Sodoende sal hy ‘n verantwoordelikheid voel om toe te sien dat die reels wat hy self help opstel het, gehoorsaam word. Op 290.1
Reels moet min en weldeurdag wees; en wanneer dit eers ingestel is, moet daaraan uitvoering gegee word. Wat dit ook al onmoontlik vind om te verander, leer die verstand om te erken en hom daarby aan te pas; maar die moontlikheid van verwenning wek begeerte, hoop en onsekerheid en die gevolge is rusteloosheid, knorrigheid en insubordinasie. Op 290.2
Daar moet duidelik gemaak word dat die regering van God geen kompromis met die kwade ken nie. Nog in die huis nog op skool moet ongehoorsaamheid geduld word. Geen ouer of onderwyser wat die welsyn op die hart dra van diegene wat in sy sorg is, sal ‘n kompromis aangaan met die hardnekkige eiesinnigheid wat gesag trotseer of sy toevlug tot voorwendsels of ontwyking neem om gehoorsaamheid vry te spring nie. Dit is nie liefde nie maar sentimentaliteit wat met kwaaddoenery speel en probeer om deur ‘n gesoebat of omkoopgeskenke inskiklikheid te verkry en uiteindelik die een of ander plaasvervanger aanneem in die plek van wat vereis is. Op 290.3
“Die sotheid van die dwase is bedrog.”Spreuke 14:8. Ons moet daarteen waak om sonde lig op te neem. Verskriklik is die mag wat dit oor die oortreder het.”Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose en in die vang strikke van sy sonde word hy vasgehou.” Spreuke 5:22. Die grootste kwaad wat ‘n kind of jongmens aangedoen kan word, is om hom toe te laat om in die slawerny van ‘n slegte gewoonte vasgeketting te word. Op 291.1
Die jeug het ‘n ingebore liefde vir vryheid; hulle verlang om ongebonde te wees; en hulle sal moet verstaan dat dié onberekenbare seëninge net in gehoorsaamheid aan die wet van God geniet kan word. Hierdie wet is die bewaarder van ware vryheid en ongebondenheid. Dit dui daardie dinge aan wat ontaarding bring en verslaaf en verbied dit en sodoende verleen dit aan die gehoorsames beskerming teen die mag van die bose. Op 291.2
Die psalmdigter sê: “Dan wil ek ... in die ruimte wandel, want ek soek u bevele.””Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne.”Psalm 119:44, 45,24. Op 291.3
In ons pogings om die kwade reg te stel, moet ons teen die neiging waak om fout te soek of te sensureer. Voortdurende berisping verbyster maar hervorm nie. Vir baie verstande en dikwels diegene wat die fynste ontvanklikheid besit, is ‘n atmosfeer van onsimpatieke kritiek noodlottig vir inspanning. Blomme ontluik nie onder die asem van ‘n verwelkende wind nie. Op 291.4
'n Kind wat dikwels oor die een of ander besondere fout tereggewys word, beskou naderhand daardie fout as sy eienaardigheid, waarteen dit tevergeefs is om te stry. Sodoende word mismoedigheid en radeloosheid geskep, wat dikwels onder die skyn van traak-my-nieagtigheid of bravade weggesteek word. Op 291.5
Die ware doel van teregwysing word net verwesenlik wanneer die oortreder self daartoe gebring word om sy fout in te sien en sy wil gewerf word om dit uit die weg te ruim. Wanneer dit bereik is, wys hom op die bron van vergifnis en krag. Probeer om sy selfrespek behoue te laat bly en hom met moed en hoop te besiel. Op 291.6
Hierdie werk is de fynste en omsigtigste, die moeilikste, wat ooit aan mense opgedra is. Dit vereis die delikaaste takt, die teerste gevoeligheid, ‘n kennis van die menslike natuur en ‘n geloof en geduld uit die hemel gebore, wat gewillig is om te werk en te waak en te wag. Geen werk kan belangriker as dit wees nie. Op 292.1
Diegene wat graag andere wil beheer, moet eers hulself beheers. Om driftig met ‘n kind of jongmens te werk, sal net ‘n wrok by hom wek. Wanneer ‘n ouer of onderwyser ongeduldig word en in die gevaar verkeer om onverstandig te praat, laat hom stilbly. Daar is ‘n wonderlike mag in swye. Op 292.2
Die onderwyser moet verwag om dwarse geaardhede en harde harte teen te kom. Maar in sy optrede teenoor hulle moet hy nooit vergeet dat hy self ook eenmaal ‘n kind, met ‘n behoefte aan dissipline, was nie. Selfs nou, met al sy voordele van ouderdom, opvoeding en ondervinding, begaan hy dikwels Op 292.3
foute en het genade en verdraagsaamheid nodig. In die opleiding van jongmense, moet hy daaraan dink dat hy met diegene werk wat neigings tot die kwaad het, soortgelyk aan sy eie. Hulle het byna alles om te leer en dit is vir sommige baie moeiliker om te leer as vir andere. Met die dom leerling moet hy geduldig wees en hom nie vir sy onkunde teregwys nie, maar elke geleentheid benut om hom aan te moedig. Met sensitiewe, senuweeagtige leerlinge moet hy baie teer handel. ‘n Besef van sy eie tekortkominge behoort hom voortdurend medelye en verdraagsaamheid te laat openbaar teenoor diegene wat ook met moeilikhede worstel. Op 292.4
Die Heiland se reël: “Soos julle wil hêdatdie menseaan julle moetdoen, so moetjulle ookaan hulle doen” (Lukas 6:31), moet die reël van almal wees wat die opleiding van kinders en jeugdiges onderneem. Hulle is die jonger lede van die Here se huisgesin, mede - erfgename van die genade van die lewe. Christus se reël moet onskendbaar teenoor die domkop, die jongstetjie, die knoeier en selfs teenoor die sondebok en die oproermaker gehandhaaf word. Op 292.5
Hierdie reël sal die onderwyser daartoe lei om, sover moontlik, nie die foute en sondes van ‘n leerling openbaar te maak nie. Hy sal probeer om nie teregwysing of straf in die teenwoordigheid van andere toe te dien nie. Hy sal ‘n leerling nie uit die skool sit voordat elke poging vir sy hervorming aangewend is nie. Maar wanneer dit duidelik word dat die leerling self geen voordeel ontvang nie, terwyl sy trotsering van of minagting vir gesag daartoe neig om die regering van die skool omver te werp en sy invloed andere aantas, dan word sy uitsetting ‘n noodsaaklikheid. Tog sou die skande van openbare uitsetting baie tot volslae roekeloosheid en ondergang dryf. In die meeste gevalle, wanneer verwydering onvermydelik geword het, hoef die saak nie openbaar gemaak te word nie. In oorleg en medewerking met die ouers, laat die onderwyser privaat vir die leerling se onttrekking reelings tref. Op 293.1
In hierdie tyd van besondere gevaar vir die jeug, omring versoekings hulle van alle kante; en terwyl dit maklik is om weg te dryf, is die kragtigste inspanning nodig om teen die stroom in te beur. Elke skool behoort ‘n “vrystad” vir versoekte jongmense te wees, ‘n plek waar hul dwaashede geduldig en verstandig gehanteer word. Onderwysers wat hul verantwoordelikhede besef, sal alles uit hul eie harte en lewens verban wat hulle daarvan sou weerhou om suksesvol met die moedswilliges en ongehoorsames te werk. Liefde en teerheid, geduld en selfbeheersing, sal te alle tye die wet van hul spraak wees. Genade en medelye sal met geregtigheid vermeng wees. Wanneer dit nodig is om tereg te wys, sal hulle taal nie oordrewe wees nie, maar nederig. Vriendelik sal hulle voor die kwaaddoener sy foute stel en hom bystaan om tot verhaal te kom. Elke ware onderwyser sal voel dat as hy ooit moet fouteer, dit beter is om aan die kant van genade as aan die kant van strengheid kort te skiet. Op 293.2
Baie jeugdiges wat die mense meen onverbeterlik is, is in hul harte nie so hard as wat hulle lyk nie. Baie wat as hopeloos beskou word, kan deur verstandige dissipline herwin word. Dit is dikwels dié wat die geredelikste onder vriendelikheid verteder. Laat die onderwyser die vertroue van die versoekte wen en deur die goeie in sy karakter raak te sien en te ontwikkel, kan hy, in baie gevalle, die kwaad regsien sonder om aandag daarop te vestig. Op 294.1
Die Goddelike Leermeester verdra die afgedwaaldes deur al hulle hardnekkigheid. Sy liefde verkoel nie; Sy pogings om hulle te wen, hou nie op nie. Met uitgestrekte arms wag Hy om oor en oor die afgedwaaldes, die opstandiges en selfs die afvalliges te verwelkom. Sy hart word aangedaan vanweë die hulpeloosheid van die klein kindjie wat aan ruwe behandeling onderwerp word. Die uitroep van menslike lyding bereik nooit tevergeefs Sy oor nie. Hoewel almal in Sy oë kosbaar is, ontvang die ruwes, die norses, die hardnekkiges, die meeste Sy simpatie en liefde; want Hy gaan die gevolg tot by sy oorsaak na. Die een wat die maklikste versoek word en die meeste geneig is om te fouteer, is die spesiale ontvanger van Sy besorgdheid. Op 294.2
Elke ouer en elke onderwyser moet die eienskappe koester van Hom wat Hom met die geval van die beproefdes, die lydendes en die versoektes vereenselwig. Hy moet een wees wat “kan saamvoel met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self ook met swakheid bevange is.” Hebreërs 5:2. Jesus behandel ons veel beter as wat ons verdien; en net soos Hy ons behandel het, moet ons ook andere behandel. Die optrede van geen ouer of onderwyser kan geregverdig word as dit anders is as wat die Heiland s'n onder dergelike omstandighede sou gewees het nie. Op 294.3