Jonger as Josef of Daniël was Moses toe hy uit die beskermende sorg van die tuiste van sy kinderjare verwyder is; tog het dieselfde invloede wat hulle lewens gevorm het, reeds aan syne gestalte gegee. Hy het net twaalf jaar saam met sy Hebreeuse bloedverwante deurgebring, maar gedurende hierdie jare is die fondament van sy grootheid gelê; dit is gedoen deur die hand van iemand wat min roem verwerf het. Op 61.2
Jogebed was ‘n vrou en ‘n slavin. Haar lewenslot was nederig en swaar haar las. Maar deur geen ander vrou, behalwe Maria van Nasaret, het die wêreld groter seën ontvang nie. In die wete dat haar kind spoedig haar sorg moet verlaat, vir die voogdyskap van diegene wat God nie geken het nie, het sy des te ernstiger gepoog om sy siel met die hemel te verbind. Sy het getrag om liefde en lojaliteit teenoor God in sy hart te plant. En getrou is die werk volbring. Daardie waarheidsbeginsels wat die las van sy moeder se onderrig en die les van haar lewe was, kon geen latere invloed Moses beweeg om te verloën nie. Op 61.3
Uit die nederige tuiste in Gosen het die seun van Jogebed na die Farao’s se paleis gegaan, na die Egíptiese prinses, om deur haar as ‘n beminde en vertroetelde seun verwelkom te word. In die skole van Egipte het Moses die mees gevorderde burgerlike en militêre opleiding ontvang. Van groot persoonlike aanvalligheid, edel in vorm en gestalte, met ‘n beskaafde verstand en prinslike houding en roemryk as militêre leier, het hy die trots van die nasie geword. Die koning van Egipte was ook ‘n lid van die priesterdom; en Moses is, hoewel hy geweier het om aan die heidense aanbidding deel te neem, met al die verborgenhede van die Egiptiese godsdiens vertroud gemaak. Egipte was toentertyd nog die magtigste en die hoogs beskaafde volk. Moses, as die toekomstige heerser, was die erfgenaam van die mees hewenste eerbewyse wat hierdie wêreld kon bied. Maar syne was ‘n edeler keuse. Ter wille van Gods eer en die bevryding van Sy onderdrukte volk, het Moses die eerbetuigings van Egipte opgeoffer.Toe het God, in ‘n spesiale sin, sy opleiding onderneem. Op 62.1
Moses was nog nie vir sy lewenstaak gereed nie. Hy moes nog die les van afhanklikheid van Goddelike mag leer. Hy het Gods doel verkeerd begryp. Dit was sy hoop om Israel met wapengeweld te verlos. Hiervoor het hy alles gewaag en misluk. In neerlaag en teleurgesteld het hy ‘n vlugteling en banneling in ‘n vreemde land geword. Op 62.2
In die woesteny van Midian het Moses veertig jaar as skaapherder deurgebring. Skynbaar vir altyd van sy lewensending afgesny, het hy die noodsaaklike dissipline vir die vervulling daarvan ontvang. Wysheid om ‘n onkundige en ongedissiplineerde menigte te regeer, moes deur selfbeheersing verkry word. In die versorging van die skape en die tingerige lammetjies moes hy ‘n ondervinding verwerf wat hom ‘n getroue, lankmoedige herder van Israel sou maak. Sodat hy ‘n verteenwoordiger van God kon word, moes hy van Hom leer. Op 62.3
Die invloede wat hom in Egipte omring het, die liefde van sy pleegmoeder, sy eie posisie as die koning se kleinseun, die weelde en ondeug wat in tienduisend gedaantes gelok het, die verfyndheid, die lis en die mistiek van ‘n valse godsdiens, het ‘n indruk op sy verstand en karakter gemaak. In die strenge eenvoud van die woestyn het dit alles verdwyn. Op 63.1
Te midde van die plegtige majesteit van die afsondering tussen die berge was Moses alleen met God. Orals was die naam van die Skepper geskrywe. Dit was asof Moses in Sy teenwoordigheid gestaan het en deur Sy mag oorskadu is. Hier is sy selfgenoegsaamheid weggevee. In die teenwoordigheid van die Oneindige het hy besef hoe swak, hoe onbekwaam, hoe kortsigtig Op 63.2
die mens is. Op 63.3
Hier het Moses dit verwerf wat hom dwarsdeur die jare van sy moeisame en kommervolle lewe bygebly het'n besef van die persoonlike teenwoordigheid van die Goddelike. Hy het nie net deur die eeue heen gekyk om te sien hoe Christus in die vlees geopenbaar sou word nie; hy het Christus bespeur wat die menigtes van Israel op al hul reise vergesel. Toe hy verkeerd begryp en voorgestel is, toe hy verwyte en beledigings moes verduur, gevaar en die dood trotseer, was hy daartoe in staat om te volhard “soos een wat die Onsienlike sien.'‘ Hebreërs 11:27. Op 63.4
Moses het nie net aan God gedink nie, hy het Hom gesien. God was die bestendige visioen voor hom. Nooit het hy Sy gesig uit die oog verloor nie. Op 63.5
Vir Moses was geloof geen raaispel nie; dit was ‘n werklikheid. Hy het geglo dat God sy lewe spesiaal regeer; en in al die besonderhede daarvan het hy Hom erken. Vir krag om elke versoeking te weerstaan, het hy op Hom vertrou. Op 63.6
Die groot werk wat aan hom opgedra is, het hy verlang om in die hoogste mate te laat slaag; en hy het geheel en al op Goddelike krag gesteun. Hy het sy behoefte aan hulp gevoel, daarom gevra, dit deur die geloof aangegryp en met die versekering van ‘n onderskr-agende sterkte vooruitgegaan. Op 63.7
Sodanig was die ondervinding wat Moses deur sy veertigjarige opleiding in die woestyn verkry het. Om so ‘n ondervinding toe te bedeel, het Oneindige Wysheid nie die tydperk te lank of die prys te groot geag nie. Op 64.1
Die gevolge van daardie opleiding, van die lesse wat daar geleer is, is verweef, nie net met die geskiedenis van Israel nie, maar met alles wat sedert daardie tyd tot op hede die wêreld se vooruitgang bevorder het. Die mees verhewe getuienis van die grootheid van Moses, die oordeel wat deur Ingewing oor sy lewe uitgespreek is, is: “En soos Moses, vir die Here van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie.” Deuteronomium 34:10. Op 64.2