In die tyd van die Patriarge het die “...hele Jordaanstreek oral volop water [gehad] ... soos die tuin van die HERE.” Lot het gekies om hierdie skone vallei sy tuiste te maak toe hy “...sy tente tot by Sodom opgeslaan [het].” (Gen 13:10,12) In die tyd wat die stede op die vlaktes vernietig was, het die omliggende omgewing ‘n verlate wildernis geword en het later ‘n deel van die wildernis van Judea geword. DVvPEk 175.1
’n Gedeelte van die pragtige vallei, met sy lewegewende fonteine en strome om die mens se hart mee te verbly, het ongeskonde gebly. In hierdie vallei, ryk aan landerye van graan en bosse dadelpalms en ander vrugdraende bome, het Israel gekampeer nadat hulle die Jordaan oorgesteek en vir die eerste keer die vrugte van die Beloofde Land geproe het. Voor hulle was die mure van Jerigo, ‘n heidense vesting, die middelpunt van die aanbidding van Astarte, die afskuwelikste en mees verlaagde van alle vorms van Kanaänitiese afgodery. Die mure sou binnekort ineenstort, die inwoners gedood word en tydens die val daarvan is die mees plegtige verklaring in die teenwoordigheid van die ganse Israel gemaak: “Vervloek is die man voor die aangesig van die HERE wat sal opstaan om hierdie stad Jérigo op te bou: ten koste van sy eersgeborene sal hy sy fondamente lê en ten koste van sy jongste sal hy sy poorte insit.” (Jos 6:26) DVvPEk 175.2
Vyf eeue het sedertdien verbygegaan. Die plek het, deur God vervloek, verlate gebly. Selfs die fonteine wat verblyf in hierdie vallei so begeerlik gemaak het, het onder die vernietigende effek van die vloek gely. Maar in die dae van Agab se afgodery, toe die aanbidding van Astarte weer onder Isébel se invloed herleef het, is Jerigo, die setel van hierdie afgodery, weer herbou, maar teen ‘n geweldige prys vir die bouer. Hiël, van Bet-el, het “...ten koste van Abíram, sy eersgeborene ... sy fondament gelê en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE.” (1 Kon 16:34) DVvPEk 175.3
Nie ver van Jerigo af nie, in die middel van vrugbare bosse, was een van die skole van die profete en Elisa het na die hemelvaart van Elia, daarheen gegaan. Tydens sy verblyf tussen hulle, het manne uit die stad na die profeet gekom en gesê: “Kyk, die ligging van die stad is goed soos my heer sien, maar die water is sleg en die grond veroorsaak onvrugbaarheid.” Die fontein, wat in die vorige jare suiwer en lewegewend was en grotendeels bygedra het tot die watervoorraad van die stad en die omgewing, was nou ongeskik vir gebruik. DVvPEk 176.1
In antwoord op die pleidooi van die manne van Jerigo, het Elisa gesê: “Bring vir my ‘n nuwe skottel en gooi daar sout in. En hulle het dit na hom gebring. Daarop gaan hy uit na die plek waar die water uitkom en gooi die sout daarin en sê: So spreek die HERE: Ek het dié water gesond gemaak; daar sal geen dood of onvrugbaarheid meer van kom nie.” (2 Kon 2:19-21) DVvPEk 176.2
Die heling van die waters is nie deur die wysheid van die mens nie, maar deur die wonderbaarlike bemiddeling van God vermag. Diegene wat die stad herbou het, het die guns van die Hemel nie verdien nie; tog het Hy wat “...Sy son [laat] opgaan oor slegtes en goeies en Hy [wat] laat reën op regverdiges en onregverdiges...” dit goedgedink om deur hierdie teken van Sy ontferming, Sy gewilligheid te toon om Israel van sy geestelike krankhede te genees. (Matt 5:45) DVvPEk 176.3
Die heling van die waters was permanent: “En die water het gesond geword tot vandag toe volgens die woord van Elisa wat hy gespreek het.” (Vers 22) Deur die eeue heen het die waters voortgevloei en daardie deel van die vallei in ‘n oase van prag omskep. DVvPEk 176.4
Daar is baie geestelike lesse in die verhaal van die heling van die waters. Die nuwe skottel, die sout en die fontein is almal simbolies. DVvPEk 176.5
Deur sout in die bitter fontein te gooi, het Elisa dieselfde geestelike les tuisgebring as wat eeue later deur die Verlosser aan Sy dissipels gegee is toe Hy verklaar het: “Julle is die sout van die aarde.” (Matt 5:13) Die sout wat met die besoedelde waters gemeng het, het dit gesuiwer en het lewe en ‘n seën gebring waar dit voorheen bederf en dood gebring het. Wanneer God sy kinders met sout vergelyk, wil Hy hulle leer dat dit Sy is doel om hulle werktuie van Sy genade te maak, sodat hulle weer werktuie kan word deur wie ander gered kan word. Die oogmerk van God om ‘n volk uit die wêreld uit te kies, was nie net om hulle as Sy seuns en dogters aan te neem nie, maar dat deur hulle, die wêreld die genade wat verlossing bring kan ontvang. Toe die HERE Abraham gekies het, was dit nie slegs om die spesiale vriend van God te wees nie, maar om ‘n medium vir die besondere voordele wat die HERE begeer het om aan die nasies te skenk, te wees. DVvPEk 177.1
Die wêreld benodig bewyse van ware Christelikheid. Die gif van die sonde is aan die werk in die hart van die samelewing. Dorpe en stede is verdiep in sonde en morele verval. Die wêreld is gevul met siekte, lyding en ongeregtigheid. Naby en ver verkeer siele in armoede en nood, neergedruk onder ‘n besef van skuld en aan die vergaan weens gebrek aan ‘n reddende invloed. Die evangelie word aan hulle voorgehou en tog vergaan hulle omdat die voorbeeld van diegene wat ‘n geur van die lewe aan hulle moet voorhou, ‘n geur van die dood is. Hulle siele drink bitterheid, want die fonteine is vergiftig, terwyl hulle soos ‘n fontein van water wat tot die ewige lewe uitspruit, moet wees. DVvPEk 177.2
Sout moet met die bestanddele waarin dit gegooi is gemeng word; dit moet dit deurdring en daarmee vermeng sodat dit bewaar kan word. So gebeur dit dat deur persoonlike kontak en samesyn, mense met die reddende krag van die evangelie bereik word. Hulle word nie in massas gered nie, maar as enkelinge. Persoonlike invloed het krag. Dit behels om met die invloed van Christus te werk, om op te hef waar Christus ophef, om korrekte beginsels oor te dra en om die vordering van korrupsie in die wêreld te stuit. Dit behels om daardie genade, wat net Christus kan verleen, te versprei. Dit behels om die lewens en karakters van ander op te hef en te veraangenaam deur die krag van ‘n suiwer voorbeeld, verenig met ernstige geloof en liefde. DVvPEk 177.3
Van die tot nog toe besoedelde fontein by Jerigo het die Here verklaar: “Ek het dié water gesond gemaak; daar sal geen dood of onvrugbaarheid meer van kom nie.” (2 Kon 2:21) Die besoedelde stroom is verteenwoordigend van die siel wat van God geskei is. Sonde keer die mens nie net weg van God nie, maar vernietig beide die begeerte en die vermoë in die menslike siel om Hom te ken. Deur sonde word die ganse menslike organisme versteur, die verstand verdraai, die verbeelding gekorrupteer en die vermoëns van die siel afgegradeer. Daar is ‘n afwesigheid van suiwer godsdiens en heiligheid van hart. Die bekerende mag van God het nie ‘n transformasie van karakter teweeggebring nie. Die siel is swak en deur ‘n gebrek aan morele krag om te oorkom, is dit besoedel en verlaag. DVvPEk 178.1
In die hart wat gereinig is, het alles verander. Transformasie van karakter is die getuigskrif aan die wêreld van ‘n inwonende Christus. Die Gees van God skep ‘n nuwe lewe in die siel en bring die gedagtes en begeertes tot gehoorsaamheid aan die wil van Christus; en die innerlike mens word vernuwe in die beeld van God. Swak en fouterende manne en vroue toon aan die wêreld dat die verlossende krag van genade kan veroorsaak dat ‘n gebrekkige karakter in eweredigheid en oorvloedige vrugbaarheid kan ontwikkel. DVvPEk 178.2
Die hart wat die woord van God ontvang, is nie soos ‘n poel wat verdamp, of ‘n gebreekte houer wat sy skat verloor nie. Dit is soos ‘n bergstroom, gevoed deur standhoudende fonteine, waarvan die koel sprankelende water van rots tot rots kabbel en die vermoeides, dorstiges en swaar belasdes verkwik. Dit is soos ‘n rivier wat onophoudelik vloei en soos dit vorder, immer dieper en wyer word, totdat die lewegewende waters oor die hele aarde versprei. Die stroom wat vrolik op sy pad voortvloei laat ‘n geskenk van groenigheid en vrugbaarheid agter. Die gras op sy oewers is ‘n varser groen, die bome is weliger en die blomme is meer talryk. Wanneer die aarde kaal en bruin onder die skroeiende somerson lê, dui die welige groen strook die loop van die rivier aan. DVvPEk 178.3
So is dit ook met die ware kind van God. Die godsdiens van Christus word openbaar as ‘n verkwikkende, deurdringende beginsel, ‘n lewende, werkende en geestelike energie. Wanneer die hart oopgestel is vir die hemelse invloed van waarheid en liefde, sal hierdie beginsels weer soos strome in die woestyn voortvloei wat vrugbaarheid, waar onvrugbaarheid en gebrek tot nog toe geheers het, sal voortbring. DVvPEk 179.1
Wanneer diegene wat deur die kennis van Bybelse waarheid gereinig en geheilig is, heelhartig betrokke raak by die werk van die redding van siele, sal hulle inderdaad ‘n geur van lewe tot lewe wees. En soos hulle daagliks uit die onuitputlike fontein van genade en kennis drink, sal hulle vind dat hulle eie harte tot oorlopens toe met die Gees van hulle Meester gevul word en dat baie deur hulle onselfsugtige bediening, fisies, verstandelik en geestelik bevoordeel word. Die vermoeides word verkwik, siekes word genees en die sonde-belasdes vind verligting. In vêrafgeleë lande word dankbetuigings, van die lippe van diegene wie se harte van die dien van sonde tot geregtigheid verander is, gehoor. DVvPEk 179.2
“Gee en aan julle sal gegee word;... ” want die woord van God is “...’n fontein van die tuine, ‘n put met lewende water wat van die Libanon afvloei.” (Luk 6:38;Hoogl 4:15) DVvPEk 179.3