Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Groot Stryd - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 21—‘n Waarskuwing Verwerp

    IN die verkondiging van die leer omtrent die wederkoms, was William Miller en sy medewerkers met die een doel besiel, naamlik om mense op te wek om klaar te maak vir die oordeelsdag. Hulle het getrag om die belyers van godsdiens op te wek tot ‘n besef van die ware hoop van die kerk, en hulle behoefte aan ‘n dieper geestelike lewe; en hulle het gearbei om ook die onbekeerdes wakker te skud om hulle plig te besef van onmiddellike bekering tot God. “Hulle het geen poging gemaak om mense te bekeer tot ‘n party of sekte nie. Derhalwe het hulle onder alle partye en sektes gearbei sonder om hulle te bemoei met hulle kerkverband of dissipline.”GS 429.1

    “In al my werk,” het Miller gesê, “het ek nooit die begeerte gehad of daaraan gedink om ‘n ander genootskap te stig, afgeskei van die reedsbestaande genootskappe, of om die een te laat voordeel trek ten koste van die ander nie. My plan was om almal goed te doen. Veronderstellende dat alle Christene hulle sou verbly in die vooruitsig van die koms van Christus, en dat almal wat nie gesien het soos ek gesien het nie, nie diegene minder sou liefhê wat hierdie leerstelling wel aangeneem het nie, het ek nie verwag dat daar ooit enige nodigheid sou wees vir aparte byeenkomste. My hele doel was om siele tot God te bekeer, om die wêreld te waarsku van die komende oordeel, en om my medemense te bevveeg tot ‘n voorbereiding wat hulle in staat sou stel om hulle God in vrede te ontmoet. Die meerderheid van diegene wat tot bekering gebring is onder my arbeid het by die reedsbestaande kerke aangesluit.”— Bliss, “Memoirs of Wm. Miller,” bl. 328.GS 429.2

    Aangesien sy werk die kerke opgebou het, is dit vir ‘n tyd gunstig beskou. Maar namate die predikante en godsdienstige leiers teen die Adventleerstelling besluit het, en begerig was om alle propaganda oor die onderwerp te onderdruk, het hulle nie alleen die werk uit die kansel bestry nie, maar hulle het aan hulle lede die reg ontsê om preke by te woon oor die tweede koms, of selfs van hulle hoop te spreek in die sosiale byeenkomste van die kerk. As gevolg hiervan het die gelowiges hulle in ‘n posisie van groot beproewing en verbystering bevind. Hulle het hulle kerke liefgehad en wou nie graag daarvan afskei nie; maar waar hulle gesien het dat die getuienis van Gods woord onderdruk word, en dat hulle reg om die profesieë te ondersoek ontken is, het hulle gevoel dat hulle getrouheid aan God hulle belet het om toe te gee. Diegene wat getrag het om die getuienis van Gods woord uit te sluit, kon hulle nie beskou as die kerk van Christus —“Die pilaar en grondslag van die waarheid” nie. Daarom het hulle gevoel dat hulle geregverdig was om hulle af te skei van hulle vorige kerkverband. In die somer van 1844 het sowat vyftig duisend hulle aan die kerke onttrek.GS 430.1

    Gedurende hierdie tyd was daar merkwaardige veranderinge in meeste van die kerke van die Verenigde State. Vir baie jare reeds was daar ‘n stadige dog gewisse toename van gelykvormigheid aan wêreldse praktyke en gewoontes, en ‘n ooreenstemmende agteruitgang van die geestelike lewe; maar in daardie jaar was daar bewyse van ‘n plotselinge en merkwaardige agteruitgang in byna al die kerke van die land. Hoewel niemand in staat was die oorsaak vas te stel nie, is die feit opgemerk en daar is kommentaar gelewer deur sowel die pers as die kansel.GS 430.2

    Op ‘n byeenkoms van die kerkraad van Philadelphia, het Meneer Barnes, skrywer van die kommentaar wat so algemeen bekend is, en herder van een van die vooraanstaande kerke in daardie stad gesê “dat hy vir twintig jaar reeds in die bediening was, en nog nooit, tot met die laaste nagmaal, het hy daardie sakrament bedien sonder om ‘n groter of kleiner getal nuwe lede in die gemeente te ontvang nie. Maar nou was daargeen opwekkings, geen bekerings,nie veel sigbare toename in genade onder die belyers nie, en niemand het na sy studeerkamer gekom om met hom te praat oor die saligheid van hulle siele nie. Met die toename van besigheid en die verbetering van vooruitsigte op handelsen nywerheidsgebied, is daar ook ‘n toename van wêreldsgesindheid.So staan dit met alle genootskappe.”—“Congregational Journal,” 23 Mei 1844.GS 430.3

    In Februariemaand van dieselfde jaar het Professor Finney van Oberlin College gesê: “Ons het die bewys voor ons oë, dat die Protestantse kerke in ons land, as sulks oor die algemeen of onverskillig of vyandiggesind is teenoor al die sedelike hervormings van ons eeu. Ons het ook ‘n ander bevestigde feit: Die byna algemene afwesigheid van ‘n opwekkende invloed in die kerke. Die geestelike onverskilligheid heers byna orals, en dit is ontsettend diepgewortel; sodat die godsdienstige drukpers van die hele land getuig ... die lede van die kerk begin vir ‘n groot gedeelte aan die mode verslaaf te raak, hulle doen mee aan die najaging van die plesier en dans, en feesviering, ens. . . . maar ons hoef nie oor hierdie pynlike onderwerpe uit te wei nie. Dit is genoeg dat die bewyse vermeerder en swaar op ons druk, wat aantoon dat diekerke oor die algemeen op treurige wyse besig is om te ontaard.Hulle het baie ver van die Here afgedwaal, en Hy het Homself aan hulle onttrek.”GS 431.1

    ‘n Skrywer in die “Religious Telescope” getuig: “Ons het nog nooit so ‘n algemene agteruitgang van die godsdiens beleef as tans nie. Voorwaar, die kerk moet wakkerskrik en ondersoek in stel na die oorsaak van hierdie treurige siekte; want elkeen wat Sion liefhet moet dit as ‘n siekte beskou. As ons daaraan dink hoe min gevalle van ware bekering daar is, asook die ongeëwenaarde onboetvaardigheid en hardheid van sondaars, moet ons byna onwillekeurig uitroep, ,Het God vergeet om genadig te wees, of is die genadedeur gesluit?’ “GS 431.2

    So ‘n toestand in ‘n kerk bestaan nooit sonder oorsaak in die kerk self nie. Die geestelike duisternis wat oor ‘n volk kom, op kerke en indiwidue, is te wyte, nie aan willekeurige onttrekking van die hulp van goddelike genade aan die kant van God nie, maar aan ‘n verwaarlosing of verwerping van goddelike lig aan die kant van mense. ‘n Treffende voorbeeld van hierdie waarheid is voorgestel in die geskiedenis van die Joodse volk in die tyd van Christus. Deur hulle verslaafdheid aan die wêreld en veronagsaming van God en Sy woord, is hulle verstand verduister en het hulle harte aards en sinlik geword. Hulle was dus onkundig aangaande die wederkoms van die Messias. en in hulle hoogmoed en ongeloof het hulle die Verlosser verwerp. Selfs toe het God nie die Joodse volk afgesny van ‘n kennis van, of ‘n deelname aan, die seëninge van die saligheid nie. Maar diegene wat die waarheid verwerp het, het alle begeerte verloor vir die Gawe van die hemel. Hulle het “duisternis vir lig, en lig vir duisternis,” aangeneem totdat die lig wat in hulle was duisternis geword het; en hoe groot was hulle duisternis nie!GS 432.1

    Satan gee nie om dat mense die vorm van godsdiens behou solank die gees van ware godsaligheid ontbreek nie. Nadat die Jode die evangelie verwerp het, het hulle ywerig aangehou om die ou vorms na te kom; hulle het hulle stip gehou aan hulle nasionale afgesonderdheid, terwyl hulle self moes erken dat die teenwoordigheid van God nie langer by hulle was nie. Die profesie van Daniël het op so ‘n onmiskenbare wyse gedui op die koms en die dood van die Messias, dat hulle die studie daarvan belet het, en eindelik het die Rabbi’s ‘n vloek uitgespreek op almal wat ‘n poging gemaak het om die tyd te bereken. Vir agtienhonderd jaar het die Israelitiese volk onboetvaardig en blind gebly, onverskillig teenoor die genadige aanbod van saligheid, en sonder om ag te slaan op die seëninge van die evangelie —‘n ernstige en vreeslike waarskuwing teen die gevaar om die lig van die hemel te verwerp.GS 432.2

    Waar dieselfde oorsake bestaan, sal dieselfde gevolge gesien word. Hy wat moedswillig sy oortuigings aangaande sy pligte onderdruk omdat hulle nie in sy smaak val nie, sal eindelik nie langer meer kan onderskei tussen waarheid en dwaalleer nie. Die verstand word verduister, die gewete toegeskroei, die hart verhard, en die siel verwyderd van God. Waar die boodskap van goddelike waarheid verag en verwerp word, daar word die kerk in duisternis gehul; geloof en liefde verkoel en daar ontstaan vervreemding en onenigheid. Die kerklede bestee al hulle krag en belange aan wêreldse sake, en sondaars word verhard in hulle onboetvaardigheid.GS 432.3

    Die eerste engel se boodskap van Openbaring 14, wat die uur van Gods oordeel aangekondig het en die mense opgeroep het om God te aanbid, was bedoel om die belydende volk van God af te skei van die verderflike invloede van die wêreld, en om hulle op te wek om hulle toestand van wêreldsgesindheid en afvalligheid te besef. In hierdie boodskap het God aan die kerk ‘n waarskuwing gestuur, wat, as dit aangeneem was, die booshede sou weggeruim het wat hulle van Horn geskei het. As hulle die boodskap van die hemel aangeneem het, hulle harte voor die Here verootmoedig het, en in opregtheid klaargemaak het om in Sy teenwoordigheid te staan, sou die Gees en krag van God onder hulle geopenbaar gewees het. Die kerk sou weer daardie geseënde staat van eeenheid, geloof en liefde bereik het wat daar was in die apostoliese tyd toe die gelowiges “V’an een hart en siel was,” “die woord van God met vrymoedigheid gespreek het,” en “die Here daagliks by die gemeente gevoeg [het] die wat gered is.” Hand. 4: 32, 31; 2: 47.GS 433.1

    As Gods belydende volk die lig sou aanneem soos dit op hulle skyn uit Sy woord, sou hulle daardie eensgesindheid bereik waarvoor Christus gebid het, en wat die apostel beskryf as, “die eenheid van die Gees . . . deur die band van die vrede.” “Dit is een liggaam en een Gees,” sê Hy, “soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop.” Efe. 4: 3-5.GS 433.2

    Dit was die salige ervaring van diegene wat die Adventboodskap aangeneem het. Hulle het van verskillende genootskappe gekom, en hulle kerklike skeidsmure is neergewerp; botsende geloofspunte is verpletter; die onskriftuurlike hoop op ‘n tydelike millennium is versaak, valse beskouings oor die tweede koms is gewysig, en hoogmoed en gelykvormigheid aan die wêreld is versaak; verkeerde dinge is reggemaak; harte is verenig in heerlike gemeenskap, en liefde en vreugde het die botoon gevier. As hierdie leerstelling dit kon doen vir die paar wat dit aangeneem het, sou dit dieselfde gedoen het as almal dit aangeneem het.GS 433.3

    Maar die kerke oor die algemeen het nie die waarskuwing aangeneem nie. Hulle predikante, wat as “wagters oor die huis van Israel,” die eerste moes gewees het om die tekens van Jesus se koms te sien, het die waarheid nie ontdek nie, nog uit die getuienis van die profete nog in die tekens van die tye. Namate wêreldse hoop en strewe die hart vervul het, het liefde vir God en geloof in Sy woord verkoel; en toe die Adventleerstelling verkondig is, het dit net hulle vooroordeel en ongeloof opgewek. Die feit dat die boodskap, vir ‘n groot deel, deur leke verkondig is, is aangevoer as ‘n argument daarteen. Net soos in die outyd, is die duidelike getuienis van Gods woord begroet met die vraag. “Het die owerstes en die Fariseërs geglo?” Toe hulle vind hoe moeilik dit was om die argumente, gebaseer op die profetiese tydperke, te weerlê, het baie die ondersoek van die profesieë afgeraai deur te beweer dat die profetiese boeke verseël was en nie verstaan kon word nie. Vele, wat volkome vertroue in hulle leraars gehad het, het geweier om die waarskuwing aan te neem; en ander, hoewel hulle van die waarheid oortuig was, het gevrees om dit te bely, sodat hulle nie “uit die sinagoge gewerp sou word nie.” Die boodskap wat God gestuur het om die kerk te toets en te reinig, het maar te duidelik geopenbaar hoe groot die getal was wat hulle harte op die wêreld gestel het liewer as op Christus. Die bande wat hulle aan die aarde verbind het, was sterker as die aantrekkingskrag van die hemel. Hulle het verkies om te luister na die stem van wêreldse wysheid, en hulle het hulle harte afgewend van die deurtastende boodskap van waarheid.GS 434.1

    Deur te weier om te luister na die boodskap van die eerste engel, het hulle die middel van die hemel verwerp wat vir hulle herstelling voorsien was. Hulle het die genadige boodskapper verwerp wat die sondes wat hulle van God geskei het, sou wegneem, en met groter gretigheid het hulle die vriendskap van die wêreld gesoek. Hier het ons die oorsaak van die vreeslike toestand van wêreldsgesindheid, afvalligheid, en die geestelike dood wat daar geheers het in die kerke van 1844.GS 434.2

    In Openbaring 14, word die eerste engel deur ‘n tweede gevolg wat sê “Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoererye.” Openb. 14: 8. Die benaming “Babilon” is afgelei van “Babel,” wat verwarring beteken. Dit is in die Skrifte gebruik om die verskillende vorms van valse of afvallige godsdiens voor te stel. In Openbaring 17, is Babilon deur ‘n vrou voorgestel —‘n beeld wat in die Bybel gebruik word as simbool vir ‘n kerk; ‘n goeie vrou stel ‘n rein kerk voor, en ‘n slegte vrou ‘n afvallige kerk.GS 435.1

    Die verhouding tussen Christus en Sy kerk word in die Bybel voorgestel deur ‘n egverbintenis. Die Here het Sy volk aan Hom verbind in ‘n plegtige verbond; Hy beloof om hulle God te wees, en hulle verbind hulle om Syne te wees en Syne alleen. Hy sê, “Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in barmhartighede.” Hos. 2: 18. En weer lees ons, “Ek is heer oor julle.” Jer. 3: 14. En in die Nuwe Testament gebruik Paulus dieselfde beeld waar hy sê, “Ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.” 2 Kor. 11: 2.GS 435.2

    Die ontrouheid van die kerk van Christus deur sy vertroue en liefde af te wend van Hom, en deur toe te laat dat liefde vir wêreldse dinge die hart vervul, word voorgestel as ‘n skending van die egband. Die sonde van Israel deur hulle afwyking van die Here is onder hierdie beeld voorgestel; en die wonderbare liefde van God wat hulle op hierdie manier verag het, word op treffende wyse as volg beskryf: “Ek het vir jou gesweer en met jou ‘n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het Myne geword.” “Jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het. Daarby het daar ‘n naam van jou af uitgegaan onder die nasies om jou skoonheid ontwil, want dit was volmaak deur My versiersels wat Ek op jou aangebring het, . . . Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam.” “Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die HERE;” “O die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan,het sy vreemdes aangeneem.” Eseg. 16: 8, 13-15, 32; Jer. 3:20.GS 435.3

    In die Nuvve Testament word daar byna dergelike taal gebruik waar belydende Christene wat die guns van die wêreld soek bo die guns van God, aangespreek word. Die apostel Jakobus sê “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.”GS 436.1

    Die vrou [Babilon] van Openbaring 17 word beskryf as iemand wat “Bekleed was met purper en skarlaken en versier met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: VERBORGENHEID, DIE GROOT BABILON, die moeder van hoere en die gruwels van die aarde.” Die profeet sê, “Ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuie van Jesus.” Babilon word verder beskryf as “die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.” Openb. 17: 4-6, 18. Die mag wat vir soveel eeue despotiese heerskappy gevoer het oor die konings van die Christendom, is Rome. Die purper en skarlaken kleed, die goud en kosbare stene en pêrels, beskryf op treffende wyse die prag en meer as koninklike praal wat die trotse Pous van Rome tentoongestel het. Geen ander mag kan so treffend beskryf word as “dronk van die bloed van die heiliges,” as daardie kerk wat die navolgers van Christus so wreed vervolg het nie. Babilon word ook beskuldig van onwettige omgang met die “konings van die aarde.” Dit was deur ‘n verwerping van die Here, en ‘n verbintenis met die heidene, dat die Joodse kerk ‘n hoer geword het. En Rome, wat homself op dieselfde manier besoedel het deur die ondersteuning van wêreldse magte te soek, word op dieselfde manier veroordeel.GS 436.2

    Babilon word beskryf as “die moedervan die hoere.” Haardogtersmoet dus die kerke voorspel wat vashou aan haar leerstellings en tradisies, en wat haar voorbeeld volg om die waarheid en die goedkeuring van God op te offer om ‘n onwettige verbintenis met die wêreld aan te gaan. Die boodskap van Openbaring 14, wat die val van Babilon aankondig, moet betrekking hê op godsdienstige liggame wat voorheen rein was, maar nou besoedel is. Aangesien hierdie boodskap die waarskuwing van die oordeel volg, moet dit in die laaste dae verkondig word; dit kan dus nie uitsluitlik op die Roomse Kerk betrekking hê nie; want daardie kerk verkeer vir eeue reeds in ‘n gevalle toestand. En wat meer is, in die agtiende hoofstuk van Openbaring word daar ‘n oproep gedoen op die volk van God om uit Babilon uit te kom. Volgens hierdie skriftuur, moet baie van Gods kinders nog in Babilon wees. In watter godsdienstige liggame vind ons vandag die grootste gedeelte van die navolgers van Christus? Ongetwyfeld, in die verskillende belydende Protestantse genootskappe. In die tyd van hulle totstandkoming, het hierdie kerke op edele wyse vir God en die waarheid getuig, en Sy seën het op hulle gerus. Selfs die ongelowige wêreld was gedwing om die goeie resultate te erken van die aanname van die beginsels van die evangelie. In die woorde van die profeet aan Israel, “het daar ‘n naam van jou af uitgegaan onder die nasies om jou skoonheid ontwil, want dit was volmaak deur My versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here HERE.” Eseg. 16: 14, 15. Maar hulle het geval as gevolg van dieselfde begeerte as wat die vloek en ondergang van Israel was, naamlik die begeerte om die praktyke van die goddelose na te aap en hulle vriendskap te soek. “Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer van wee jou naam.”GS 436.3

    Baie van die Protestantse kerke volg die voorbeeld van Rome deur sondige verbintenisse met die “konings van die aarde” aan te gaan—naamlik die staatskerke deur hulle verhouding tot aardse regerings; en ander genootskappe, deur die guns van die wêreld te soek. En die benaming “Babilon”— verwarring — kan met reg toegepas word op hierdie liggame wat almal voorgee om hulle leer uit die Bybel te put, maar wat nogtans in ontelbare sektes verdeel is met wyduiteenlopende geloofsbelydenisse en teorieë.GS 437.1

    Behalwe ‘n sondige verbintenis met die wêreld, vertoon die kerke wat van Rome afgeskei het nog ander van sy karaktertrekke.GS 437.2

    In ‘n sekere Rooms-Katolieke boek word die argument aangevoer “dat as die Kerk van Rome ooit skuldig was aan afgodediens deur die aanbidding van die heiliges, haar dogter, die kerk van Engeland ook skuldig is aan dieselfde sonde, wat tien kerke aan die Moeder Maria wy teen een aan Christus.”—Dr. Challoner, “The Catholic Christian Instructed,” Voorwoord, bis. 21, 22 (ed. 1897)GS 437.3

    En Dr. Hopkins, in sy werk, “A Treatise on the Millennium,” verklaar: “Daar is geen rede om aan te neem dat die antichristelike gees en praktyke beperk is alleen tot die kerk wat vandag as die Kerk van Rome bekend is nie. Die Protestantse kerke het net soveel van die antichris in hulle, en hulle is nog lank nie hervorm . . . van die verderflikhede en booshede nie.”—Hopkins, Samuel “Works;’ Deel II, bl. 328 (ed. 1854).GS 438.1

    In verband met die afskeiding van die Presbiteriaanse Kerk van Rome, skryf Dr. Guthrie: “Driehonderd jaar gelede het ons kerk, met ‘n ope Bybel op sy vaandel asook hierdie leuse, ,Ondersoek die Skrifte,’ by die poorte van Rome uitgestap.” En dan vra hy hierdie betekenisvolle vraag, “Het onsheeltemaluit Babilon uitgekom?”— Guthrie, John, “The Gospel in Ezekiel,” bl. 237 (Edinburg ed. 1857).GS 438.2

    “Die Kerk van Engeland,” sê Spurgeon, “skyn deurtrokke te wees van sakramentarianisme; maar die afgeskeidenes skyn net so deurspek te wees met filosofiese ongeloof. Diegene van wie ons beter dinge verwag het, verwerp die grondwaarhede van die geloof, een vir een. Ek glo dat die hart van Engeland deur en deur ondermyn is met ‘n vervloekte ongeloof wat die kansel nog durf bestyg en homself Christelik noem.”GS 438.3

    Wat is die oorsprong van die groot afval? Hoe het die kerk in die eerste plek afgewyk van die eenvoud van die evangelie? Deur gelykvormigheid aan heidense praktyke om die aanname van die Christelike geloof deur die heidene te vergemaklik. Selfs in sy tyd het die apostel Paulus verklaar, dat “die verborgenheid van die ongeregtigheid al aan die werk is.” 2 Thess. 2: 7. Gedurende die leeftyd van die apostels het die kerk betreklik rein gebly. Maar “teen die einde van die tweede eeu het meeste van die kerke ‘n nuwe vorm aangeneem; die oorspronklike eenvoud het verdwyn, en ongemerk, onderwyl die ou dissipels afgesterf het, het hulle kinders, tesame met nuwe bekeerlinge . . . opge staan en ‘n nuwe vorm aan die saak gegee.”—Robinson, Robert, “Ecclesiastical Researches,” hoojstuk 6, para. 17 (ed. 1792, bl. 51) . Om bekeerlinge te maak, is die peil van die Christelike geloof verlaag, en as gevolg het “‘n heidense stroom in die kerk gevloei en saam daarmee gewoontes, gebruike, en afgode.” —“Gavazzi’s Lectures,” bl. 278 ed. 1854. Namate die Christelike godsdiens die guns en ondersteuning van die wêreld se regeerders gekry het, is dit in naam aangeneem deur die menigtes; maar terwyl hulle soos Christene gelyk het, het baie “in werklikheid heidene gebly wat veral hulle afgode in die geheim aanbid het.”—“Gavazzi’s Lectures,” bl. 278 {ed. 1854. GS 438.4

    Is dieselfde proses nie herhaal in byna elke kerk wat homself Protestants noem nie? Namate die stigters daarvan, diegene wat besiel was met die ware gees van hervorming, van die toneel verdwyn het, het hulle nakomelinge opgestaan en “‘n nuwe vorm aan die saak gegee.” Terwyl hulle blindelings vasgehou het aan die geloof van hulle vaders en geweier het om enige waarheid aan te neem behalwe die wat hulle alreeds gehad het, het die kinders van die hervormers heeltemal afgewyk van hulle voorbeeld van nederigheid, selfverloëning, en versaking van die wêreld. Op hierdie wyse “het die eerste eenvoud verdwyn.” ‘n Wêreldse vloed het die kerk binnegestroom en “sy gewoontes, praktyke, en afgode saamgebring.”GS 439.1

    Helaas, in hoe ‘n groot mate word die vriendskap van die wêreld wat “vyandskap teen God” is, nou gekoester deur die sogenaamde navolgers van Christus! Hoe algemeen het die populêre kerke van die Christendom afgewyk van die Bybelse standaard van nederigheid, selfverloëning, eenvoud en godsaligheid! Waar hy gespreek het oor die regte gebruik van geld, het John Wesley gesê: “Verkwis niks van hierdie kosbare talent in ‘n blote bevrediging van die begeerlikheid van die oë deur oorbodige of duur klere of onnodige versiersels te koop nie. Verkwis geen deel daarvan in die versiering van julle huise; of in duur huisraad, of duur prente, skilderye, vergulding. . . . Bestee niks om die hoogmoed van die lewe te bevredig nie, om die bewondering of lof van mense te verkry nie. . . . ,Solank as julle baie aan julle self bestee, sal mense goed van julle praat.’ Solank as julle in ,purper en fynlinne gekleed is en goed elke dag eet’ sal daar ongetwyfeld baie wees wat julle smaak, julle vrygewigheid, en julle gasvryheid sal roem. Maar moenie hulle applous so duur koop nie. Wees liewer tevrede met die eer wat van God kom.” —“Wesley’s Works,” Preek 50, “The Use of Money” Maar in baie kerke van ons tyd word hierdie leer veronagsaam.GS 439.2

    ‘n Skyngodsdiens is gewild by die wêreld. Regeerders, staatliundiges, wetgeleerdes, geneeshere, en koopmanne, sluit by die kerk aan om die respek en vertroue van die samelewing te win, en om hulle eie wêreldse belange te bevorder. Op hierdie manier trag hulle om hulle onregverdige dade met die mantel van skyngodsdiens te bedek. Die verskillende godsdienstige liggame, versterk deur die rykdom en invloed van hierdie gedoopte wêreldlinge, laat die kerk nog ‘n hoër bod maak vir populariteit en beskerming. Pragtige kerkgeboue, op die spandabelste wyse versier, word opgerig langs hoofstrate. Die aanbidders trek hulle aan in die duurste en nuutste modes, ‘n hoë salaris word betaal aan ‘n begaafde predikant om die mense aan te lok en te vermaak. Sy preke moet nie geliefkoosde sondes veroordeel nie, maar hulle moet strelend en aanneemlik wees. Op hierdie ma-nier word skynchristene by die kerk toegevoeg en geliefkoosde sondes bedek onder ‘n mantel van skyngodsdiens.GS 441.1

    In ‘n kommentaar oor die verhouding van naamchristene tot die wêreld, het ‘n vooraanstaande blad gesê: “Ongemerk het die kerk toegegee aan die gees van die tyd en het hy die vorms van die godsdiens aangepas by die nuwe behoeftes.” “Alle dinge wat kan help om die godsdiens aantreklik te maak, word nou deur die kerk gebruik as middel tot daardie doel.” En ‘n skrywer in die New York “Independent” spreek van Metodisme as volg: “Die skeidslyn tussen die goddelike en goddelose verdof tot ‘n soort van halfskaduwee, en ywerige manne aan albei kante werk swaar om alle verskille tussen hulle manier van handel en genotsug uit te wis.” “Die populariteit van die godsdiens het ‘n neiging om die getalle te laat toeneem van diegene wat die voordeel wil hê, maar wat nie al die verpligtings wil aanvaar nie.”GS 441.2

    Howard Crosby sê: “Dit is ‘n saak wat groot besorgdheid verwek dat ons vind dat die kerk van Christus so min beantwoord aan die doel van sy Here. Net soos die Jode vanouds gemeensame omgang gehad het met die afgodiese volke, en toegelaat het dat hulle harte van God weggelok word, ... so gee die kerk van Christus vandag, deur valse vennootskappe met ‘n ongelowige wêreld ook die goddelike reels van sy ware lewe op, en gee hy homself oor aan die verderflike, dog dikwels aanneemlike gewoontes van ‘n goddelose samelewing; en hy gebruik argumente en kom tot gevolgtrekkings wat nie ooreenkomstig die openbaring van God is nie, en wat teenstrydig is met alle opwassing in genade.”—“The Healthy Christian: An Appeal to the Church,” bis. 141, 142 (ed. 1871).GS 441.3

    In hierdie stroom van wêreldsgesindheid en genotsug, is selfopoffering en selfverloëning vir Christus se ontwil byna geheel onsigbaar. “Sommige van die manne en vroue wat nou aktief in ons kerke optree, is geleer toe hulle nog kinders was, om opofferings te maak ten einde in staat te wees om iets vir Christus te gee of te doen.” Maar “as daar vandag middele nodig is, . . . moet niemand gevra word om te gee nie. O nee! Hou ‘n basaar, tableaux, ‘n skynhofsitting, ‘n outydse eetmaal, of iets dergeliks om die mense te vermaak.”GS 442.1

    In sy jaarlikse boodskap het Goewerneur Washburn van Wisconsin op 9 Januarie 1873 gesê: “Dit skyn of daar wetgewing nodig is om die skole te sluit waar dobbelaars opgelei word. Hulle is orals. Selfs die kerk [onwetend natuurlik] doen soms die werk van die duiwel. Pryskonserte, prysondernemings en loterye, soms ter ondersteuning van die godsdiens of liefdadigheid, maar dikwels vir minderwaardige doeleindes—dit alles is middels wat gebruik word om geld te verkry sonder om iets daarvoor te gee. Niks is so demoraliserend of bedwelmend, veral vir jongmense, as die verkryging van geld sonder arbeid nie. Omdat respektabele mense aan hierdie dinge deelneem en hulle gewetes sus met die gedagte dat die geld vir ‘n goeie doel is, is dit nie vreemd dat die jongmense van die Staat so dikwels verval in gewoontes wat aangehelp word deur die opwinding van spele waar geld met ‘n gelukskoot gewin kan word.”GS 442.2

    Regdeur die Christendom dring die gees van gelykvormigheid aan die wêreld die kerke binne. In ‘n preek te Londen skilder Robert Atkins ‘n donker prentjie van die geestelike agteruitgang wat daar in Engeland heers: “Diegene wat werklik regverdig is, verminder op die aarde, en niemand neem dit ter harte nie. Die belyers van die godsdiens van vandag, in alle kerke, is liefhebbers van die wêreld, gelykvormig aan die wêreld, liefhebbers van gemak, en soekers na eer. Hulle word geroep om met Christus te ly, maar hulle deins terug. . . . Ajval, ajval, afval, is op die voorkant van elke kerk gegraveer; en as hulle dit weet en voel, sou daar hoop wees; maar, helaas! hulle skree, ,Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.’ ” —Second Advent Library, Tract No. 39. GS 442.3

    Die groot sonde waarvan Babilon beskuldig is, is dat sy “die bewoners van die aarde dronkgemaak het van die wyn van haar hoerery.” Hierdie beker wat sy aan die wêreld gee, stel die valse leerstellings voor wat sy aangeneem het as gevolg van haar onwettige verbintenis met die grotes van die aarde. Vriendskap met die wêreld het haar geloof besoedel, en sy op haar beurt oefen ‘n verderflike invloed uit op die wêreld deur haar leerstellings wat teenstrydig is met die duidelike verklarings van die Heilige Skrif.GS 443.1

    Rome het die Bybel van sy mense onthou, en het van almal geverg dat hulle sy leerstellings in die plek daarvan moet aanneem. Dit was die werk van die Reformasie om die woord van God aan die mense van die aarde terug te gee; maar is dit nie die waarheid dat mense in ons tyd in die kerke geleer word om hulle geloof te grondves op die leer van hulle kerk, liewer as op die Skrifte nie? Sprekende van die Protestantse kerke, het Charles Beecher gesê: “Hulle deins terug vir elke harde woord teen hulle leerstellings met dieselfde gevoeligheid waarmee daardie heilige vaders sou teruggedeins het vir ‘n harde woord teen die toenemende verering van die heiliges en martelare, wat hulle gekoester het. . . . Die Protestantse evangeliese genootskappe het mekaar se hande so gebind dat hulle, tussen hulle, nie ‘n man sal toelaat om op enige plek ‘n prediker te word sonder dat hy ook die een of ander boek behalwe die Bybel moet aanneem nie. . . . Daar is niks denkbeeldigs in die verklaring dat die mag van ‘n geloofsbelydenis die Bybel begin belet net so gewis as Rome dit gedoen het, maar langs ‘n listiger weg.”—Preek oor “The Bible a Sufficient Creed,” gelewer te Fort Wayne, Ind., 22 Feb. 1846.GS 443.2

    Wanneer getroue leraars die woord van God verklaar, staan daar geleerde manne op, predikante wat voorgee dat hulle die Skrifte verstaan, en hulle veroordeel gesonde leer as dwaalleer, en op hierdie manier lei hulle baie mense van die waarheid af. As dit nie was dat die wêreld hopeloos bedwelmd is van die wyn van Babilon nie, sou menigtes oortuig word en tot bekering gebring word deur die duidelike, snydende waarhede van Gods woord. Maar dit skyn of godsdienstige geloof verward en wanklinkend is en dat die mense nie weet wat om aan te neem as waarheid nie. Die verantwoordelikheid vir die wêreld se onboetvaardigheid berus op die skouers van die kerk.GS 444.1

    Die tweede engel se boodskap van Openbaring 14 is die eerste maal in die somer van 1844 verkondig, en toe was dit meer direk van toepassing op die kerke van die Verenigde State waar die waarskuwing aangaande die oordeel op die mees algemene wyse verkondig is, en ook deur die meeste verwerp is, en waar die afval in die kerke die grootste was. Maar die boodskap van die tweede engel is nie in 1844 ten voile vervul nie. Toe het die kerke ‘n sedelike val ondergaan as gevolg van hulle verwerping van die lig van die Adventboodskap; maar die val was nie volkome nie. Namate hulle die spesiale waarhede vir hierdie tyd verwerp het, het hulle steeds laer en laer geval. Maar toe kon dit nog nie gesê word dat Babilon geval het nie “omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery” nie. Sy het toe nog nie al die nasies van haar wyn laat drink nie. Die gees van wêreldsgesindheid, en die onverskilligheid teenoor die toetswaarhede van ons tyd, bestaan reeds en neem steeds toe in die Protestantse kerke in alle Christenlande; en hierdie kerke is ingesluit in die vreeslike veroordeling van die tweede engel. Maar die afval het nog nie sy toppunt bereik nie.GS 444.2

    Die Bybel verklaar dat Satan, voor die koms van die Here “met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” sal werk; “omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het nie om gered te word nie,” en dat hulle “die krag van dwaling” sal aanneem “om die leuen te glo.” 2 Thess. 2: 9-11. Nie alvorens hierdie toestand bereik is, en die vereniging van die kerk met die wêreld in die hele Christendom verwesenlik is, sal die val van Babilon volkome wees nie. Die verandering vind trapsgewyse plaas, en die volkome vervulling van Openbaring 14: 8 is nog in die toekoms.GS 444.3

    Nieteenstaande die geestelike duisternis en die vervreemding van God wat daar in die kerke is wat Babilon uitmaak, is die grootste gedeelte van die ware navolgers van Christus nog in daardie kerke. Daar is baie wat nog nooit die spesiale waarhede vir hierdie tyd gehoor het nie. Daar is baie wat ontevrede is met hulle geestelike lewe en wat verlang na meer lig. Hulle soek tevergeefs na die beeld van Christus in die kerke waarvan hulle lidmate is. Namate hierdie kerke verder en verder van die waarheid afwyk, en hulle nouer met die wêreld verbind, sal die verskil tussen die twee klasse groter word en uiteindelik eindig in afskeiding. Die tyd sal kom wanneer diegene wat God bo alles liefhet nie langer in verbinding kan bly met diegene wat “meer liefhebbers van vermaak as liefhebbers van God” is en “wat n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”GS 445.1

    Openbaring 18 wys die tyd aan wanneer die kerk, as gevolg van die verwerping van die drievoudige waarskuwing van Openbaring 14: 6-12, eindelik die toestand sal bereik het soos deur die tweede engel voorspel, en wanneer die volk van God wat nog in Babilon is, versoek sal word om hulle van haar af te skei. Hierdie boodskap is die laaste wat ooit aan die wêreld verkondig sal word; en hy sal sy werk verrig. Wanneer diegene “wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2: 12), verlaat sal word om die krag van dwaling aan te neem en die leuen te glo, dan sal die lig van waarheid skyn op almal wie se harte oop is om dit te ontvang, en al die kinders van die Here wat in Babilon is, sal gehoor gee aan die oproep, “Gaan uit haar uit, My volk.” Openb. 18:4.GS 445.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents