Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Groot Stryd - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 36—Die Dreigende Stryd

    VANDAT die groot stryd in die hemel begin het, was dit Satan se doel om die wet van God tot niet te maak. Dit was met hierdie doel voor oë dat hy teen die Skepper gerebelleer het; en hoewel hy uit die hemel gewerp is, het hy sy stryd op die aarde voortgesit om mense te bedrieg, en hulle sodoende te lei om Gods wet te oortree — dit is die doel wat hy steeds nagestreef het. Of hy sy doel bereik om die hele wet te verwerp, of net een van die gebooie, die gevolge sal uiteindelik dieselfde wees. Hy wat een gebod oortree, openbaar sy minagting vir die hele wet; sy voorbeeld en invloed is aan die kant van oortreding, en hy “het aan almal [die gebooie] skuldig geword.” Jak. 2: 10.GS 657.1

    In sy poging om die goddelike gebooie in veragting te bring, het Satan die leerstellings van die Bybel verdraai, met die gevolg dat daar dwalings opgeneem is in die geloof van duisende wat voorgee om in die Skrifte te glo. Die laaste groot botsing tussen waarheid en dwaalleer is slegs die finale worsteling in hierdie eeu-oue stryd aangaande die wet van God. Hierdie worsteling het ons nou begin — naamlik die stryd tussen die wette van mense en die gebooie van Jehova, tussen die godsdiens van die Bybel en die godsdiens van fabels en oorlewering.GS 657.2

    Die werktuie wat sal verenig teen die waarheid en geregtigheid is nou reeds aan die werk. Gods woord wat aan ons oorgelewer is teen so ‘n groot prys van lyding en bloed, word maar min gewaardeer. Die Bybel is binne die bereik van almal, maar daar is min wat dit waarlik aanneem as lewensgids. Ongeloof heers in ‘n groot mate, nie alleen in die wêreld nie, maar ook in die kerk. Vele loën vandag leerstellings wat inderwaarheid pilare is van die Christelike geloof. Die groot waarhede van die skepping, die sondeval, die versoening, en die ewigdurendheid van die wet van God, soos voorgestel deur geïnspireerde skrywers, word feitlik verwerp, gedeeltelik of heeltemal, deur ‘n groot gedeelte van die belydende Christenwêreld. Duisende wat hulle beroem op hulle wysheid en onafhanklikheid, beskou dit as ‘n teken van swakheid om onwrikbare geloof in die Bybel te hê; hulle meen dat dit ‘n bewys is van groter talente en geleerdheid as hulle hulle begeef tot haarklowery oor die Skrifte, en om die vernaamste waarhede van die Bybel te vergeestelik of weg te redeneer. Baie predikante leer hulle gemeentes, en baie professore en onderwysers leer hulle studente, dat die wet van God verander of afgeskaf is; en diegene wat die vereistes van die wet nog as bindend beskou om letterlik aangeneem en gehoorsaam te word, word bespot of verag.GS 658.1

    Waar mense die waarheid verwerp, verwerp hulle die Bron van waarheid. Waar hulle die wet van God vertree, ontken hulle die gesag van die Wetgewer. Dit is net so maklik om ‘n afgod te maak van valse leerstellings en teorieë as om een te maak van hout of klip. Deur die eienskappe van God verkeerd voor te stel, lei Satan mense om ‘n valse besef van die karakter van God te kry. Vele het ‘n filosofiese afgod opgestel in die plek van Jehova; terwyl die lewende God, soos Hy in Sy woord, in Christus, en in die skepping geopenbaar is, deur slegs ‘n paar gedien word. Duisende vergoddelik die natuur, terwyl hulle die God van die natuur loën. Hoewel in ‘n ander vorm, bestaan afgodediens in die Christenwêreld vandag net so gewis as in die tyd van Israel en Elia. Die God van baie van die sogenaamde wyse manne, filosowe, digters, politikusse, joernaliste — die God van die hoëlui, van baie kolleges en universiteite, en selfs van sommige teologiese inrigtings, is nie veel beter as Baal, die songod van die Feniciërs nie.GS 658.2

    Geen dwaling wat deur die Christenwêreld aangeneem is, tas die gesag van die hemel op vermeteler wyse aan, nie een is so bepaald in stryd met die rede, en nie een is so skadelik in sy gevolge nie, as die moderne leerstelling wat so vinnig veld win, naamlik dat Gods wet nie langer bindend op die mens is nie. Elke volk het sy wette wat geërbiedig en gehoorsaam word; geen regering kan daarsonder bestaan nie; en kan ons ons voorstel dat die Skepper van die hemele en die aarde geen wet het vir die regering van die wesens wat Hy gemaak het nie? Veronderstel dat vooraanstaande predikante in die openbaar sou leer dat die wette van hulle land, wat die regte van die burgers beskerm, nie verpligtend is nie — dat hulle sou aanvoer dat die wette die vryheid van die volk beperk en om daardie rede nie gehoorsaam moet word nie; hoe lank sou sulke manne in die kansel gedoog word? Maar is dit ‘n ernstiger misdaad om die wette van ‘n volk te veronagsaam as om die goddelike gebooie, wat die grondslag is van alle regering, te verwerp?GS 659.1

    Baie eerder kan die volke hulle wette afskaf en die mense toelaat om te maak soos hulle wil, as vir die Heerser van die heelal om sy wet tot niet te verklaar, en die wêreld te laat sonder ‘n maatstaf om die skuldiges te oordeel en die gehoorsames te regverdig. Wil ons graag weet watter gevolge daar sal wees as Gods wet tot niet gemaak word? So iets is reeds probeer. Verskriklik was die tonele wat in Frankryk afgespeel is toe Ateïsme aan bewind was. Daar is toe aan die wêreld bewys dat die verwerping van alle beperkings wat God ingestel het, beteken het om die regering te aanvaar van die wreedste tiran. Wanneer die maatstaf van geregtigheid verwerp word, word die weg geopen vir die vors van boosheid om sy mag op die aarde te bevestig.GS 659.2

    Waar ook al die goddelike gebooie verwerp word, hou sonde op om sonde te wees, en geregtigheid is nie begeerlik nie. Diegene wat weier om hulle te onderwerp aan die regering van God is heeltemal ongeskik om hulle self te regeer. Deur hulle skadelike leerstellings word die gees van opstand verwek in die harte van kinders en jongmense wat van nature nie onder gesag wil staan nie; en ‘n wettelose, bandelose, samelewing is die gevolg. Terwyl hulle spog met die liggelowigheid van diegene wat die gebooie van God gehoorsaam, neem die massas gretig die bedrog van Satan aan. Wellus word botgevier, en hulle doen die sondes wat die oordele van God oor die heidene laat kom het.GS 659.3

    Diegene wat die mense leer om die gebooie van God ligtelik op te neem, saai ongehoorsaamheid en hulle maai ongehoorsaamheid. Laat die beperkings wat deur die goddelike wet opgelê is, heeltemal afgewerp word, en menslike wette sal gou veronagsaam word. Omdat God oneerlike praktyke, gierigheid, die leuen, en bedrog verbied, is mense gereed om sy wette te vertree as iets wat hulle wêreldlike voorspoed verhinder; maar hulle besef nie wat die gevolge sal wees as hierdie gebooie afgeskaf sou word nie. As die wet nie bindend was nie, waarom sal mense dan bang wees vir oortreding? Niemand se besittings sal langer veilig wees nie. Mense sou hulle bure se besittings met geweld afneem; en die sterkste man sou die rykste wees. Selfs die lewe sou veronagsaam word. Die huweliksband sou nie langer ongeskonde bly as die bolwerk wat die gesin beskerm nie. Die een wat die mag het, sou, as hy dit begeer, sy buurman se vrou met geweld afneem. Die vyfde gebod sou saam met die vierde tersyde gestel word. Kinders sou nie aarsel om die lewe van hulle ouers te neem as hulle daardeur kon verkry wat hulle verdorwe harte begeer nie. Die beskaafde wêreld sou omgeskep word in ‘n hol van rowers en moordenaars; en vrede, rus, en geluk, sou van die aarde wyk.GS 660.1

    Die leerstelling dat mense vrygestel is van gehoorsaamheid aan Gods wette het reeds die krag van sedelike verpligting verswak, en die sluise van sonde op die wêreld oopgemaak. Wetteloosheid, losbandigheid, en verdorwenheid stroom oor die wêreld soos ‘n oorweldigende vloedgolf. Satan werk in die gesin; sy vlag wapper, selfs in sogenaamde Christelike huise Daar is afguns, bose agterdog, huigelary, vervreemding, nywer, stryd, verbreking van beloftes, en die botviering van wellus. Die hele stelsel van godsdienstige beginsels en leerstellings wat die grondslag en raamwerk van die samelewing behoort te wees, staan klaar om in duie te val. Die slegste misdadigers, wanneer hulle in die tronk is vir hulle misdade, ontvang dikwels gifte en hulle geniet aandag asof hulle iets groots gepresteer het. Hulle misdade en karakter word wyd en syd bekendgemaak. Die nuusblaaie publiseer in stuitende besonderhede hulle misdade, en sodoende word ander daartoe gebring om ook bedrog, roof, en moord te pleeg; en Satan verheug hom oor die sukses van sy helse planne. Die verloklikheid van misdaad, die roekelose manier waarop moord gepleeg word, die ontsettende toename van onmatigheid en alle soorte sondes, behoort almal wat God vrees, op te wek om te vra wat daar gedoen kan word om die vloedgolf van boosheid te keer.GS 660.2

    Die geregshowe is bedorwe. Regeerders is besiel met ‘n begeerte vir wins en ‘n liefde vir singenot. Onmatigheid het die sinne van baie benewel, sodat Satan hulle byna heeltemal beheers. Diegene wat die wet moet handhaaf, word omgekoop en mislei. Dronkenskap en brassery, hartstog, afguns, en alle soorte oneerlikheid, word aangetref onder diegene wat moet toesien dat die wette uitgevoer word. “So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid blystaan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie.” Jes. 59: 14.GS 661.1

    Die sonde en geestelike duisternis wat bestaan het onder die opperheerskappy van Rome, was die onvermydelike gevolg van sy onderdrukking van die Skrifte; maar waar moet ons soek na die oorsaak van die algemene troueloosheid, die verwerping van Gods wet, en die gevolglike verwording onder die voile lig van die evangelie in hierdie eeu van godsdiensvryheid? Noudat Satan die wêreld nie langer onder sy mag kan hou deur die onthouding van die Skrifte nie, neem hy sy toevlug tot ander middels om dieselfde doel te bereik. Om geloof in die Bybel te vernietig, kom net so goed in sy kraam te pas as om die Bybel self te vernietig. Deur mense te laat glo dat Gods wet nie langer bindend is nie, lei hy hulle om net so maklik te oortree asof hulle glad nie van die gebooie geweet het nie. En vandag, net soos in vorige eeue, werk hy deur middel van die kerk om sy planne te bevorder. Die godsdienstige organisasies van vandag het geweier om te luister na die onpopulêre waarhede wat so duidelik in die Skrifte geleer word, en in hulle bestryding van daardie waarhede het hulle verklarings en stellings aangeneem wat die saad van skeptisisme wyd en syd gesaai het. Vasklemmende aan die pouslike dwaling dat die mens van nature onsterflik is en dat hy sy bewussyn behou in die dood, het hulle die enigste verdediging teen die verleidings van Spiritisme verwerp. Die leerstelling van ewige pyniging het vele tot ongeloof in die Bybel gebring. Waar die vereistes van die vierde gebod aan die volk voorgehou is, is dit duidelik dat die viering van die sewende dag Sabbat gebied word; maar om hulleself te bevry van die plig wat hulle nie gewillig is om na te kom nie, verklaar baie van die leraars dat die wet van God nie langer bindend is nie. Hulle verwerp die wet saam met die Sabbat. Namate die werk van Sabbatshervorming uitbrei, sal die verwerping van die goddelike wet om die aansprake van die vierde gebod te ontduik. so-te-sê algemeen word. Die leerstellings van godsdienstige leiers het die deur oopgemaak vir ongeloof, vir Spiritisme, en vir die minagting van Gods heilige wet; en dit is op die skouers van hierdie leiers wat die vreeslike verantwoordelikheid rus vir die sonde wat vandag in die Christenwêreld heers.GS 661.2

    En nogtans is dit hierdie selfde klas wat beweer het dat die toenemende bedorwenheid grotendeels te wyte is aan die ontheiliging van die sogenaamde “Christelike sabbat,” en dat verpligte Sondagsviering die sedes van die samelewing baie sou verbeter. Veral in Amerika, die land waar die leerstelling van die ware Sabbat die meeste verbrei is, word daarop aangedring. In hierdie land word die matigheidswerk, een van die belangrikste sedelike hervormings, dikwels verbind met die Sondagsbeweging, en die voorstanders van laasgenoemde beweging gee voor dat hulle hulle beywer vir die hoogste belange van die samelewing; en diegene wat weier om met hulle saam te werk, word uitgemaak as die vyande van matigheid en hervorming. Maar die feit dat ‘n beweging vir die bevestiging van dwaalleer gepaard gaan met ‘n werk wat op sigself goed is, is geen argument ten gunste van die dwaalleer nie. Ons kan gif bedek deur dit te meng met goeie voedsel, maar dit sal nie die gif verander nie; inteendeel, ons sal dit net gevaarliker maak, want dan sal mense dit makliker inneem. Dit is een van Satan se listige planne om net genoeg waarheid met dwaalleer te meng om dit aanneemlik te maak. Die leiers van die Sondagsbeweging mag nodige hervormings voorstaan, beginsels wat in ooreenstemming is met die Bybel; maar as hierdie dinge gepaard gaan met vereistes wat teenstrydig is met Gods wet, kan Sy diensknegte nie met sulke mense saamwerk nie. Niks kan hulle die reg gee om die gebooie van God tersyde te stel vir die gebooie van mense nie.GS 662.1

    Deur die twee groot dwalings, naamlik die leer van die onsterflikheid van die siel, en die leer van Sondagsheiligheid, sal Satan die mense onder die krag van sy bedrog bring. Terwyl eersgenoemde die grondslag lê vir Spiritisme, vorm laasgenoemde die band van medelyde met Rome. Die Protestante van die Verenigde State sal die eerste wees om die hand uit te steek oor die kloof en die hand van Spiritisme te neem; ook sal hulle die hand uitsteek oor die kloof om die hand van die Roomse mag te neem; en onder die invloed van die drievoudige vereniging, sal hierdie land die voetstappe van Rome navolg om die regte van die gewete te vertrap.GS 663.1

    Namate Spiritisme die sogenaamde Christelike godsdiens van vandag noukeurig naáap, verkry dit groter krag om te bedrieg en te versterk. Volgens Spiritiste het Satan tot bekering gekom. Hy sal verskyn in die hoedanigheid van ‘n engel van lig. Deur middel van Spiritisme sal wonderwerke geskied, siekes sal genees word, en wonders wat nie kan ontken word nie, sal verrig word. En daar die geeste sal voorgee dat hulle in die Bybel glo en eerbied betoon vir die instellings van die kerk, sal hulle werk aangeneem word as ‘n openbaring van goddelike krag.GS 663.2

    Die skeidslyn tussen naamchristene en die goddelose bestaan byna nie meer nie. Kerklede het die dinge lief wat die wêreld liefhet, en hulle doen saam; Satan is vasberade om die twee groepe in een liggaam te verenig om sodoende sy saak te versterk en almal in die geledere van Spiritisme op te neem. Pousgesindes wat voorgee dat wonderwerke onmiskenbare tekens is van die ware kerk, sal baie maklik bedrieg word deur hierdie wonderwerkende mag; en Protestante, omdat hulle die skild van die waarheid verwerp het, sal bedrieg word. Katolieke, Protestante, en wêreldlinge — almal sal die vorm van godsdiens aanneem sonder die krag daarvan, en in hierdie vereniging sal hulle die groot krag vir die bekering van die wêreld en die bevestiging van die langverwagte millennium sien.GS 663.3

    Deur Spiritisme verskyn Satan as die weldoener van die mens; hy genees die siekes, en gee voor dat hy ‘n nuwe en meer verhewe stelsel van godsdiens het; maar terselfdertyd werk hy as verwoester. Sy versoekings lei menigtes tot hulle ondergang. Onmatigheid onttroon die rede; botviering van die vleeslike luste, stryd, en bloedvergieting is die gevolg. Satan skep behae in oorlog, want dit wek die laagste drifte van die siel op en dit voer die slagoffers, gedoop in sonde en bloed, die ewigheid in. Dit is sy doel om die volke tot oorlog teen mekaar op te sweep; want sodoende kan hy die aandag van die volk aftrek van die werk van voorbereiding vir die dag van God.GS 664.1

    Satan werk deur die elemente om sy oes van onvoorbereide siele in te samel. Hy het die geheime van die laboratoriums van die natuur nagegaan, en hy gebruik al sy krag om die elemente te beheers sover as God hom toelaat. Toe hy toegelaat is om Job te teister, hoe vinnig was die vee en beeste en diens-knegte en huise en kinders weggeveeg; die een ramp het op die ander gevolg soos in ‘n oomblik. Dit is God wat Sy skepsels beskerm, en hulle beskut teen die mag van die verwoester. Maar die Christenwêreld het sy minagting van die wet van Jehova getoon; en die Here sal doen presies wat Hy verklaar het dat Hy sal doen — Hy sal Sy seëninge aan die aarde onttrek, en Sy beskerming ontneem aan diegene wat in opstand is teen Sy wet, en wat ander leer en dwing om dieselfde te doen. Satan beheers almal wat nie spesiaal deur God beskerm is nie. Hy sal sommige begunstig en voorspoedig maak om sy eie planne te bevorder; en oor ander sal hy moeilikhede laat kom om hulle te lei om te glo dat dit God is wat hulle teister.GS 664.2

    Terwyl hy hom aan die mensekinders voordoen as die groot geneesheer wat al hulle siektes kan genees, sal hy siekte en rampe laat ontstaan totdat digbewoonde stede omgeskep is in ruïnes en verwoesting. Hy is nou reeds aan die werk. In ongelukke en rampe op see en land, in groot brande, in verwoestende winde, in verskriklike haelstorms, in storms, oorstromings, orkane, vloedgolwe, en aardbewings, orals en in ‘n duisend vorms, beoefen Satan sy mag. Hy laat ryp oeste verwoes, en hongersnood en ellende is die gevolg. Hy besoedel die lug, en duisende kom om in pestilensies. Hierdie rampe sal meer dikwels en met ontsettender gevolge kom. Verwoestings sal kom oor mens en dier. “Die aarde treur, dit verwelk; . . . en die hoë mense van die aarde versmag. Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.” Jes. 24: 4, 5.GS 665.1

    En dan sal die groot bedrieër die mense wysmaak dat diegene wat God dien die oorsaak van al die onheile is. Die klas wat die misnoeë van die Hemel uitgelok het, sal diegene wie se gehoorsaamheid aan Gods gebooie ‘n gedurige bestraffing vir die oortreders is, blameer vir al hulle moeilikhede. Hulle sal beweer dat die mense God mishaag deur die ontheiliging van die Sondag-sabbat; en dat dit hierdie sonde is wat die oorsaak van die rampe is wat nie sal ophou totdat Sondagviering nougeset gehandhaaf word nie; en dat diegene wat die aansprake van die vierde gebod voorhou, daardeur eerbied vir Sondag vernietig, dat hulle die beroerdes van die volk is, en oorsaak is dat die goddelike guns en tydelike voorspoed verhinder word. Op hierdie manier sal die beskuldiging wat in die outyd teen Gods dienskneg ingebring is, weer herhaal word, en dit op gronde ewegoed bevestig: “En net toe Agab Elia sien, vra Agab vir hom: Is dit jy, jou beroerder van Israel? Toe sê hy: Ek het Israel nie in beroering gebring nie, maar u en u familie, deurdat u die gebooie van die Here verlaat het, en u agter die Baals aangeloop het.” 1 Kon. 18: 17, 18. Namate die woede van die volk opgewek word deur die valse beskuldigings, sal hulle teen Gods gesante optree net soos afvallige Israel teen Elia opgetree het.GS 665.2

    Die wonderwerkende krag deur Spiritisme geopenbaar, sal ‘n invloed uitoefen teen diegene wat verkies om God te gehoorsaam liewer as die mens. Boodskappe van die geeste sal verklaar dat God hulle gestuur het om die verwerpers van Sondag te oortuig van hulle dwaling, en hulle sal beweer dat die landswette gehoorsaam moet word net soos die wet van God. Hulle sal die boosheid van die wêreld betreur, en die getuienis van godsdienstige leraars bevestig dat die verlaagde sedelike peil veroorsaak is deur die ontheiliging van Sondag. Groot sal die verontwaardiging wees teen diegene wat weier om hulle getuienis aan te neem.GS 665.3

    Satan se beleid in die finale stryd teen Gods volk is dieselfde as die wat hy gevolg het by die aanvang van die groot stryd in die hemel. Hy het voorgegee dat hy gewerk het ter bevordering van die goddelike regering, terwyl hy heimelik alle kragte ingespan het om dit omver te werp. En hy het die lojale engele beskuldig van dieselfde werk waarmee hy juis besig was. Hierdie selfde beleid van bedrog kenmerk die geskiedenis van die Roomse Kerk. Hy het voorgegee om te handel as die ge-sant van die Hemel, terwyl hy al die tyd daarop uit was omn homself bokant God te verhef en Gods wet te verander. Onder die heerskappy van Rome is diegene wat moes sterf vir hulle getrouheid aan die evangelie veroordeel as boosdoeners; daar is beweer dat hulle in ‘n verbond met Satan was; en alle middels is gebruik om hulle te beklad en hulle in die oë van die volk voor te stel, en selfs in hulle eie oe, as die laagste misdadigers. So sal dit nou ook gaan. Terwyl Satan trag om diegene te vernietig wat Gods wet eerbiedig, sal hy dit bewerk dat hulle beskuldig word as oortreders van die wet, as mense wat God onteer, en verantwoordelik is vir die oordele wat die wêreld tref.GS 666.1

    God dwing nooit die wil of die gewete nie; maar Satan, ten einde diegene te beheers wat hy nie andersins kan verlei nie, neem steeds sy toevlug tot dwangmiddels en wreedheid. Deur vreesaanjaging of geweld probeer hy om die gewete te beheers en om huldebetoning vir homself te verkry. Om dit te bewerkstellig, werk hy sowel deur godsdienstige as wêreldlike owerhede, en hy beweeg hulle om menslike wette te handhaaf in stryd met die wet van God.GS 666.2

    Diegene wat die Bybelse Sabbat vereer sal uitgeskel word as vyande van wet en orde, as diegene wat die sedelike beperkings van die samelewing vernietig, wat anargie en verderf veroorsaak, en wat die oordele van God oor die aarde uitlok. Hulle gewetenbesware sal bestempel word as koppigheid, hardnekkigheid, en minagting van gesag. Hulle sal beskuldig word van ontrouheid aan die regering. Predikante wat die verpligtings van die goddelike wet ontken, sal van die kansel af die plig beklemtoon om die burgerlike owerhede te gehoorsaam as magte wat deur God verorden is. In volksraadsale en geregshowe sal diegene wat die gebooie bewaar, vals voorgestel en veroordeel word, ‘n Valse betekenis sal aan hulle woorde gegee word. En die ergste motiewe sal aan hulle handelwyse toegeskryf word.GS 667.1

    Namate die Protestantse kerke die duidelike, skriftuurlike argumente ter verdediging van Gods wet verwerp, sal hulle verlang om diegene stil te maak wie se geloof hulle nie deur die Bybel kan vernietig nie. Hoewel hulle hulle oë sluit vir die feit, is hulle reeds besig om die weg in te slaan wat sal lei tot die vervolging van diegene wat uit oortuiging weier om te maak soos die res van die Christenwêreld wat die aansprake van die pouslike sabbat erken.GS 667.2

    Die waardigheidsbekleërs van kerk en staat sal saamstaan om alle klasse om te koop, te oorreed, of te dwing om Sondag te eerbiedig. Die gemis aan goddelike gesag sal goedgemaak word deur wette van verdrukking. Politieke korrupsie is besig om die liefde vir reg en waarheid te vernietig; en selfs in vrye Amerika sal heersers en wetgewers, ten einde openbare guns te verkry, toegee aan die algemene eis om wette om Sondagviering verpligtend te maak. Gewetensvryheid, wat so groot opoffering gekos het, sal nie langer eerbiedig word nie. In die vinnignaderende stryd sal ons die profeet se woorde bewaarheid sien: “En die draak was vertoomd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te maak met haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” Openb. 12: 17.GS 667.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents