Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Groot Stryd - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 42—Die Stryd Beeindig

    AAN die einde van die duisend jaar kom Christus weer na die aarde toe terug. Hy word vergesel van ‘n leërskare van verlostes, asook deur ‘n gevolg van engele. Terwyl Hy in groot heerlikheid neerdaal, gebied Hy die goddelose dode om op te staan vir die uitvoering van hulle vonnis. Hulle kom voort, ‘n magtige leërskare, ontelbaar soos die sand van die see. Wat ‘n teenstelling is dit met diegene wat in die eerste opstanding opgewek is! Die regverdiges het opgestaan beklee met ewige jeug en skoonheid. Die goddelose staan op met die tekens van siekte en die dood.GS 745.1

    Elke oog in daardie groot skare is gerig op die heerlikheid van die Seun van God. Soos met een stem roep die goddelose menigtes uit, “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Dit is nie liefde vir Jesus wat aanleiding gee tot hierdie woorde nie. Die krag van die waarheid dwing die woorde van onwillige lippe. Net soos die goddelose in hulle grafte neergedaal het, so kom hulle voort, met dieselfde vyandigheid teenoor Christus en dieselfde opstandige gees. Vir hulle is daar nie ‘n nuwe genadetyd om die gebreke van die verlede aan te vul nie. Dit sou ook niks help nie. ‘n Lewe van oortreding het nie hulle harte versag nie. As daar ‘n tweede genadetyd aan hulle sou gegee word, sou hulle dit bestee net soos die eerste, in ‘n ontduiking van die vereistes van God en in opstand teen Hom.GS 745.2

    Christus daal neer op die Olyfberg, van waar Hy, na Sy opstanding, opgevaar het en waar die engele die belofte van Sy wederkoms herhaal het. Die profeet sê: “Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” “In die dag sal Sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal in twee dele gesplyt word. . . . Sodat daar ‘n baie groot dal sal wees. . . . En die Here sal Koning wees oor die hele aarde; in die dag sal die Here een wees, en Sy Naam een.” Sag. 14: 5, 4, 9. Wanneer die Nuwe Jerusalem in skitterende heerlikheid uit die hemel neerdaal, sal dit te ruste kom op die plek wat gereinig en gereed gemaak is daarvoor, en Christus, met Sy volk en die engele sal die heilige stad binnegaan.GS 746.1

    Nou maak Satan hom klaar vir die laaste magtige poging om opperheerskappy. Terwyl sy mag ontneem en hy afgesny was van sy werk van bedrog, was die vors van boosheid bedroef en terneergedruk; maar wanneer die goddelose dode opgewek word, en hy die groot skare aan sy kant sien, herleef sy hoop, en hy besluit om nie die groot stryd gewonne te gee nie. Hy sal al die leërskare van die goddelose onder sy banier aanmonster, en deur hulle sal hy ‘n poging maak om sy planne uit te voer. Die goddelose is Satan se gevangenes. Deur hulle verwerping van Christus het hulle die regering van die rebel-leier aangeneem. Hulle is gereed om sy planne aan te neem en sy bevele uit te voer. Maar, nog net so listig as ooit, erken hy nie dat hy Satan is nie. Hy maak daarop aanspraak dat hy die vors en die regmatige eienaar van die wêreld is, wat onwettig beroof is van sy erfdeel. Hy stel hom aan sy misleide onderdane voor as ‘n verlosser, en hy verseker hulle dat dit sy krag is wat hulle uit hulle grafte opgewek het, en dat hy op die punt staan om hulle te verlos van die wreedste tirannie. In die afwesigheid van Christus verrig Satan wonders om sy aansprake te staaf. Hy maak die swakkes sterk, en hy besiel almal met ‘n gees van bedrywigheid. Hy stel voor om hulle aan te voer teen die laer van die heiliges, en om die stad van God in te neem. Met sataniese vreugde wys hy na die ontelbare miljoene wat uit die dode opgewek is, en hy verklaar dat hy, as hulle leier, terdee in staat is om die stad in te neem en die troon van sy koninkryk te herwin.GS 746.2

    Onder hierdie groot skare is daar menigtes van diegene wat so oud geword het voor die Sondvloed; manne van groot gestalte en reuseverstand, wat, nadat hulle hulle oorgegee het aan die beheer van gevalle engele, al hulle kennis en behendigheid bestee het aan die verheffing van self; manne wat weens hulle kunswrerke deur die wêreld aanbid is, maar wat weens hulle wreedheid en bose uitvindsels die aarde besoedel en die beeld van God geskend het, sodat God hulle van Sy skepping uitgedelg het. Daar is konings en generaals wat volke onderwerp het; helde wat nooit ‘n veldslag verloor het nie; trotse stryders voor wrie koninkryke gesidder het. In die dood het hierdie mense geen verandering ondergaan nie. Wanneer hulle uit hulle grafte voortkom, hervat hulle hulle gedagtes net waar hulle opgehou het. Hulle is besiel met dieselfde begeerte om te verower as toe hulle gesneuwel het.GS 747.1

    Satan bespreek sake met sy engele, en daarna met hierdie konings en veroweraars en magtige manne. Hulle aanskou die mag en menigtes aan hulle kant, en hulle verklaar dat die leër binne-in die stad klein is vergeleke met hulle s’n, en dat hulle dit kan oorwin. Hulle beraam planne om die rykdom en heerlikheid van die Nuwe Jerusalem in besit te neem. Dadelik maak almal gereed vir die slag. Geskoolde arbeiders maak oorlogstuig. Militêre leiers, beroemd vir hulle sukses, organiseer die menigtes in afdelings en leers.GS 747.2

    Eindelik word die bevel gegee om op te ruk, en die ontelbare leërskare beweeg —‘n leër soos nog nooit deur aardse veroweraars op die been gebring is of wat deur die gesamentlike magte van alle eeue sedert die eerste oorlog op die aarde oortref is nie. Satan, die magtigste van alle stryders, is aan die voorpunt, en sy engele verenig hulle kragte vir die finale slag. Hy word gevolg deur konings en helde, wat gevolg is deur die menigtes in groot afdelings, elke afdeling onder sy eie aanvoerder. Met militêre reëlmatigheid ruk die linies op oor die aarde se gebroke oppervlakte na die stad van God. Op bevel van Jesus word die poorte van die Nuwe Jerusalem gesluit; die leers van Satan omsingel die stad en maak gereed vir die aanval.GS 747.3

    Christus verskyn nou sodat Sy vyande Hom kan sien. Hoog bokant die stad, op ‘n fondament van blink goud, is ‘n troon, hoog en verhewe. Op hierdie troon sit die Seun van God, en rondom Hom is die onderdane van Sy koninkryk. Geen pen kan die mag en majesteit van Christus beskryf nie. Die heerlikheid van die Ewige Vader omring Sy Seun. Die Heerlikheid van Sy teenwoordigheid vervul die stad, maar dit strek buitekant die poorte en vervul die hele aarde met Sy glans.GS 748.1

    Naaste aan die troon is diegene wat eenmaal ywerig vir die saak van Satan was, maar wat soos stukke brandhout uit die vuur geruk is en hulle Verlosser gevolg het met ‘n vurige toegewydheid. Naas hulle is diegene wat hulle Christelike karakters volmaak het te midde van valsheid en ongeloof; diegene wat die wet van God geëer het toe die Christenwêreld dit tot niet verklaar het; en die miljoene van alle eeue, wat die marteldood vir hulle geloof gesterf het. En anderkant hulle is, “‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale . . . voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande.” Openb. 7: 9, 10. Hulle stryd is beëindig, die oorwinning is behaal. Hulle het die loopbaan geloop en die prys gewin. Die palmtak in hulle hande is ‘n simbool van hulle oorwinning, die wit klere is ‘n simbool van die vlekkelose geregtigheid van Christus wat nou hulle s‘n is.GS 748.2

    Die verlostes hef ‘n loflied aan wat deur die hemel weergalm, “Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Engele en serafs sing saam. Waar die verlostes die krag en kwaadwilligheid van Satan sien, besef hulle, soos nog nooit tevore nie, dat geen krag behalwe die van Christus, hulle oorwinnaars kon gemaak het. In daardie ganse heerlike skare is daar nie een wat sy verlossing aan homself toeskryf asof hy deur sy krag en goedheid oorwin het nie. Daar word nie een woord gesê van wat hulle gedoen en gely het nie; maar die tema van elke lied en die hoofinhoud van elke loflied, is, Heil aan onse God en aan die Lam!GS 748.3

    In die teenwoordigheid van die vergaderde bewoners van die aarde en die hemel, vind die finale kroning van die Seun van God plaas. En nou, beklee met die grootste majesteit en krag, spreek die Koning van die konings die vonnis uit op die rebelle teen Sy regering, en daar word regverdige straf uitgeoefen op diegene wat Sy wet oortree en Sy volk verdruk het. Die profeet van God sê: “Ek het ‘n groot wit troon gesien, en Hom wat daarop sit voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat geskrywe is in die boeke, volgens hulle werke.” Openb. 20: 11, 12.GS 749.1

    Sodra die boeke geopen is en die oog van Jesus op die goddelose gevestig is, word hulle bewus van elke sonde wat hulle nog ooit gepleeg het. Hulle sien presies waar hulle voete afgedwaal het van die weg van reinheid en heiligheid, en presies hoe ver hoogmoed en opstand hulle gevoer het in die oortreding van die wet van God. Die verleidelike versoekings wat hulle aangemoedig het deur die sonde te doen, die seëninge wat hulle misbruik het, die boodskappe van God wat hulle verag het, die waarskuwings wat hulle verwerp het, die strome van genade wat hulle teruggehou het deur ‘n halsstarrige, onboetvaardige hart — alles sien hulle nou soos met letters van vuur geskryf.GS 749.2

    Bokant die troon verskyn die kruis; en soos in ‘n panoramiese gesig word die tonele geopenbaar van Adam se versoeking en val en die agtereenvolgende stappe in die groot verlossingsplan. Die Heiland se nederige geboorte; sy kinderen jongelingsjare van eenvoud en gehoorsaamheid; Sy doop in die Jordaanrivier; Sy vas en versoeking in die woestyn; Sy openbare bediening waarin Hy aan die mense die hemel se kosbaarste seëninge geopenbaar het; die dae vol dade van liefde en genade, die nagte van gebed en die waghou in eensaamheid op die berge; die sameswerings van afguns, haat, en kwaadwilligheid waarmee Sy goedheid terugbetaal is; die ontsettende, misterieuse angs van Golgota onder die verskriklike las van die sondes van die ganse wêreld; Sy oorgawe in die hande van die moordlustige gepeupel; die vreeslike gebeurtenisse van daardie nag van verskrikking — die weerlose gevangene, verlaat deur Sy geliefde dissipels, bars deur die strate van Jerusalem voortgesleep; die Seun van God met voldoening gebring voor Annas, verhoor in die hoëpriester se paleis, in die geregsaal van Pilatus, voor die lafhartige en wrede Herodes, bespot, beledig, gemartel, en tot die dood veroordeel — al hierdie dinge word helder gesien.GS 749.3

    En nou, voor die slingerende skare word die eindtonele geopenbaar— die geduldige Lyer betree die pad na Golgota; die Vors van die hemel hangende aan die kruis; die trotse priesters en die spottende gepeupel wat spot met Sy doodsangs; die bonatuurlike duisternis; die bewende aarde, die geskeurde rotse, die geopende grafte wat die oomblik aanwys toe die wêreld se Verlosser Sy lewe opgegee het.GS 750.1

    Die vreeslike toneel word weergegee net soos dit was. Satan, sy engele, en sy onderdane, het geen mag om weg te draai van die prent van hulle eie werk nie. Elkeen herinner hom aan die rol wat hy gespeel het. Herodes, wat die onskuldige kindertjies van Betlehem laat doodmaak het sodat hy die Koning van Israel kon vernietig; die verlaagde Herodias, aan wie se skuldige siel die bloed van Johannes die Doper kleef; die swakke opportunis, Pilatus; die spottende soldate; die priesters en die owerstes en die rasende gepeupel wat uitgeroep het, “Laat Sy bloed op ons en ons kinders kom!”—almal sien hoe groot hulle skuld is. Tevergeefs trag hulle om hulle te verberg van die goddelike majesteit van Sy voorkomste wat die heerlikheid van die son oortref, terwyl die verlostes hulle krone aan die Heiland se voete neerwerp en uitroep, “Hy het vir my gesterf!”GS 750.2

    Onder die verloste skare is die apostels van Christus, die heldhaftige Paulus, die vurige Petrus, die geliefde en liefhebbende Johannes, en hulle opregte broeders, asook die groot leërskare van martelaars; buitekant die stadsmure, met al die vuil en afskuwelike dinge, staan diegene deur wie hulle vervolg, gevang, en gedood is. Daar is Nero, die monster van wreedheid en sonde, aanskouende die vreugde en voldoening van diegene wat hy eenmaal gemartel het, en in wie se groot angs hy ‘n sataniese behae geskep het. Sy moeder is ook daar, om die gevolge van haar eie handewerk te sien; om te sien hoedat die bose karakter wat haar seun van haar geërf het, die drifte wat aangemoedig en ontwikkel is deur haar invloed en voorbeeld, vrugte gedra het in die vorm van misdade wat die wêreld laat sidder het.GS 750.3

    Daar is die pouslike priesters en prelate, wat voorgegee het dat hulle Christus se gesante was, maar wat die pynbank, die kerker, en die brandstapel gebruik het om die gewete van Gods volk te beheers. Daar is die trotse pouse wat hulle bokant God verhef en hulle aangematig het om die wet van die Allerhoogste te verander. Die sogenaamde kerkvaders moet rekenskap gee voor God, iets waarvan hulle baie graag vrygestel wil wees. Te laat besef hulle dat die Almagtige jaloers is op Sy wet, en dat Hy geensins die skuldiges ongestraf sal laat gaan nie. Hulle leer nou dat Christus Hom vereenselwig met die lyde van Sy volk; en hulle voel die krag van Sy eie woorde, “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” Matt. 25: 40.GS 751.1

    Die ganse bose wêreld staan nou voor die regbank van God op die aanklag van hoogverraad teen die regering van die hemel. Hulle het niemand om hulle saak te bepleit nie; hulle staan sonder verskoning; en die vonnis van die ewige dood word op hulle uitgespreek.GS 751.2

    Dit is nou duidelik vir almal dat die loon van die sonde nie ‘n heerliker onafhanklikheid en ewige lewe is nie, maar slawerny, ondergang en die dood. Die goddelose besef nou wat hulle verbeur het deur hulle lewe van rebellie. Die allesoortreffende en ewige heerlikheid is verag toe dit vir hulle aangebied is; maar hoe begeer hulle dit nie nou nie. “Dit alles,” roep die verlore siel uit, “kon ek gehad het; maar ek het al hierdie dinge verwerp. O, onverstaanbare dwaasheid! Ek het vrede, geluk, en eer verruil vir ellende, oneer, en wanhoop.” Almal sien dat hulle uitsluiting uit die hemel regverdig is. Deur hulle lewens het hulle verklaar, “Ons wil nie hê dat hierdie man oor ons koning moet wees nie.”GS 751.3

    Soos in ‘n droom het die goddelose die kroning van die Seun van God aanskou. In Sy hande sien hulle die tafels van die goddelike wet, die bepalings wat hulle verag en oortree het. Hulle aanskou die verbasing, die verrukking, en die aanbidding van die verlostes; en terwyl ‘n golf van melodie oor die skare buitekant die stad sweef, roep almal soos met een stem uit, “Groot en wonderlik is U werke, Here God, die Almagtige; regverdig en waaragtig is U weë, o Koning van die heiliges!” En op hulle aangesigte neervallende, aanbid hulle die Vors van die lewe. (Openb. 15: 3.)GS 752.1

    Dit skyn of Satan verlam is waar hy die heerlikheid en die majesteit van Christus aanskou. Hy wat eenmaal ‘n gerub was met uitgespreide vlerke, dink nou aan die plek vanwaar hy geval het. ‘n Blinkende seraf, “seun van die more;” hoe is hy verander en hoe is hy verlaag! Van die raadsitting waaraan hy eenmaal die eer gehad het om deel te neem, is hy nou vir ewig uitgesluit. Hy sien nou ‘n ander een naby die Vader staan, wat sy heerlikheid bedek. Hy het gesien hoedat die kroon op die hoof van Christus geplaas is deur ‘n magtige engel van groot gestalte en majestueuse voorkomste, en hy weet dat die verhewe posisie van daardie engel syne kon gewees het.GS 752.2

    Hy dink terug aan sy tuiste van onskuld en reinheid, die vrede en tevredenheid wat syne was totdat hy begin murmureer het teen God en afgunstig geword het op Christus. Sy beskuldigings, sy rebellie, sy bedrog om die medelyde en ondersteuning van die engele te verkry, sy hardnekkige volharding in sy nalatigheid om geen poging te maak om homself reg te ruk toe daar nog kans was op die vergifnis van God —alles kom nou helder voor sy gees. Hy dink terug aan sy werk onder die mense en die gevolge daarvan — die vyandigheid van die mens teen sy medemens, die ontsettende verwoesting van lewe, die opkoms en ondergang van koninkryke, die omverwerping van trone, die lang reeks opstande, oorloë, en omwentelings. Hy dink terug aan sy gedurige pogings om die werk van Christus teen te staan en die mens laer en laer te laat sak. Hy sien dat sy helse komplotte magteloos was om diegene te vernietig wat hulle vertroue in Jesus gestel het. Waar Satan sy koninkryk aanskou, die vrugte van sy werk, sien hy alleen mislukking en puin. Hy het die skares daartoe gebring om te glo dat dit maklik sou wees om die stad van God in te neem; maar hy weet dat dit bedrog is. Keer op keer, namate die stryd ontwikkel het, was hy verslaan en gedwing om in te gee. Hy ken die krag en die majesteit van die ewige God maar te goed.GS 752.3

    Die hoofdoel van die groot rebel was maar altyd om homself te regverdig, en om te bewys dat die goddelike regering aanspreeklik was vir sy opstand. Met hierdie doel voor oë het hy al sy krag en sy reuseverstand ingespan. Stelselmatig en met voorbedagte rade het hy te werk gegaan, en met verbasende sukses, om die ontelbare skare te lei om sy verklaring aan te neem van die groot stryd wat solank reeds woed. Vir duisende jare het hierdie hoof van samesweerders valsheid vir waarheid afgesmeer; maar die tyd het nou aangebreek vir die finale onderdrukking van die opstand, en vir die openbaarmaking van die geskiedenis en karakter van Satan. In hierdie laaste groot poging om Christus te onttroon, Sy volk te vernietig, en die stad van God in te neem, word die aartsbedrieër ten voile ontmasker. Diegene wat met hom saamgestaan het, sien nou die totale mislukking van sy saak. Christus se navolgers en die lojale engele sien nou al sy gekonkel teen die regering van God. Hy is nou die voorwerp van algemene afsku.GS 753.1

    Satan sien nou dat sy rebellie hom ongeskik gemaak het vir die hemel. Hy het sy kragte beoefen in oorlog teen God; die reinheid, vrede, en eensgesindheid van die hemel sou vir hom die grootste marteling wees. Sy beskuldigings teen die genade en regverdigheid van God is nou stilgemaak. Die smaad wat hy op Jehova wou werp val nou op hom. En nou buig Satan hom neer en hy erken die regverdigheid van sy vonnis.GS 753.2

    “Wie sal U nie vrees nie, Here, en U naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat U regverdige dade openbaar geword het.” Openb. 15: 4. Elke punt van waarheid en dwaalleer in die langdurige stryd is nou verduidelik. Die gevolge van rebellie, en die vrugte op die tersydestelling van die goddelike gebooie is nou geopenbaar aan al die geskape wesens. Die uitwerking van Satan se regering, in teenstelling met die regering van God, is aan die ganse heelal voorgestel. Satan se eie werke het hom veroordeel. Gods wysheid, Sy regverdigheid, en Sy goedheid staan volkome bewys. Daar is gesien dat al Sy handelwyse in die groot stryd geskied het met die oog op die ewige welsyn van Sy volk en vir die beswil van al die wêrelde wat Hy geskape het. “Al U werke loof U o Here, en U gunsgenote prys U.” Ps. 145: 10. Deur die ewigheid heen sal die geskiedenis van die sonde getuig dat saam met die wet van God ook die geluk van al Sy geskape wesens opgeslote is. Met al die feite van die groot stryd nou geopenbaar, verklaar die ganse heelal, beide die lojale en die opstandiges, soos met een stem, “Regverdig en waaragtig is U weë o Koning van die heiliges!”GS 753.3

    Die groot opoffering wat gemaak is deur die Vader en die Seun ten behoewe van die mens, is duidelik voor die heelal gestel. Die uur het gekom vir Christus om Sy regmatige plek in te neem, en Hy word verheerlik bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word. Dit was vir die vreugde wat Hom voorgehou is, sodat Hy baie seuns tot heerlikheid kon bring, dat Hy die kruis verdra, en die skande verag het. En ontsettend groot soos die lyding en skande was, nog groter is die vreugde en heerlikheid. Hy aanskou die verlostes, wat herskep is in Sy ewebeeld, met die volmaakte beeld van die goddelike op elke hart afgedruk, terwyl elke aangesig die ewebeeld van sy Koning weerkaats. Hy sien in hulle die moeitevolle arbeid van Sy siel en Hy is versadig. En dan, met ‘n stem wat deurdring tot die vergaderde menigtes van regverdiges en goddelose, verklaar Hy, “Kyk wat het Ek met My bloed gekoop! Vir hulle het Ek gely, en vir hulle het Ek gesterf, sodat hulle deur die ewigheid heen in My teenwoordigheid kan woon.” En dan weergalm die loflied van die skare in wit gekleed rondom die troon, “Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.” Openb. 5: 12.GS 754.1

    Nieteenstaande die feit dat Satan gedwing is om die geregtigheid van God te erken en hom neer te buig voor die oppergesag van Christus, bly sy karakter onveranderd. Die opstandige gees, bars nou uit, soos ‘n magtige stroom. Vervul met woede, besluit hy om nie die groot stryd gewonne te gee nie. Die tyd het aangebreek vir ‘n laaste wanhopige poging teen die koning van die hemel. Hy haas hom na sy onderdane, en hy probeer om hulle aan te vuur met sy eie woede en om hulle op te wek om dadelik die stryd te begin. Maar onder die ontelbare miljoene wat hy tot rebellie verlei het, is daar nou nie een wat sy oppergesag erken nie. Sy mag is op ‘n einde. Die goddelose is met dieselfde haat teen God vervul wat Satan besiel; maar hulle sien dat hulle saak hopeloos is, en dat hulle nie teen Jehova kan staan nie. Hulle woede is nou opgewek teen Satan en sy werktuie in die bedrog, en met die woede van demone val hulle hulle aan.GS 755.1

    Die Here sê: “Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van ‘n god, daarom kyk, Ek bring vreemdes oor jou, die geweldigste nasies, en hulle sal hulle swaarde trek teen die skoonheid wat jou wysheid verwerf het, en jou glans ontheilig. In die kuil sal hulle jou laat neerdaal. . . . Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gerub wat beskut! . . . Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien. . . . Jy het ‘n verskrikking geword en sal daar nie meer wees tot in ewigheid nie.” Eseg. 28: 6-8, 16-19.GS 755.2

    “Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat in bloed gerol is, is tot verbranding, ‘n prooi van die vuur.” “Want die toorn van die Here is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word.” “Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.” Jes. 9: 4; 34: 2; Ps. 11:6. Vuur daal neer van God uit die hemel. Die aarde word verbreek. Die wapens wat in sy dieptes weggesteek is, word geopenbaar. Verterende vlamme skiet by elke skeur uit. Selfs die rotse is aan die brand. Die dag wat brand soos ‘n oond het gekom. Die elemente versmelt weens die verskriklike hitte, en die aarde en die werke wat daarop is verbrand. Die oppervlakte van die aarde is een gesmelte massa —‘n groot, kokende poel van vuur. Dit is die dag van oordeel en verderf vir die goddelose, “‘n dag van wraak, ‘n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.” Mal. 4: 1; 2 Pet. 3: 2; Jes. 34: 8; Spreuke 11: 31.GS 755.3

    Die goddelose ontvang hulle vergelding op die aarde. Hulle sal “‘n stoppel wees; en die dag wat kom sal hulle aan die brand steek, sê die Here van die leërskare.” Mal. 4: 1. Sommige word soos in ‘n oomblik vernietig, terwyl ander baie dae ly. Almal word gestraf volgens hulle dade. Daar die sondes van die regverdiges op Satan oorgeplaas is, ondergaan hy nie alleen straf vir sy eie opstand nie, maar ook vir al die sondes wat hy Gods volk gelei het om te pleeg. Sy straf sal baie groter wees as wat diegene ontvang wat hy verlei het. Nadat almal vernietig is wat ten gronde gegaan het weens sy bedrog, sal sy straf nog steeds voortduur. In die reinigende vlamme word die goddelose eindelik verdelg, wortel en tak — Satan die wortel, en sy volgelinge die takke. Die voile straf van die wet word uitgevoer; daar word voldoen aan die vereistes van geregtigheid: en die hemel en die aarde, waar hulle dit aanskou, getuig van die geregtigheid van Jehova.GS 756.1

    Satan se werk van verwoesting is vir ewig beëindig. Mr sesduisend jaar lank het hy sy wil uitgevoer, die aarde met ellende vervul, en droefheid oor die ganse heelal veroorsaak. Die hele skepping het gesug en tesame in barensnood verkeer. Nou word Gods skepsels vir altyd verlos van sy teenwoordigheid en versoekings. “Die hele aarde rus, is stil; hulle [die regverdiges] breek uit in jubel.” Jes. 14: 7. ‘n Kreet van oorwinning en dank styg op van die ganse lojale heelal. “Die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae,” word gehoor, wat sê, “Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.” Openb. 19: 6.GS 756.2

    Terwyl die aarde omhul is met die vlamme van verwoesting. is die regverdiges veilig in die heilige stad. Oor diegene wat in die eerste opstanding opgestaan het, het die tweede dood geen mag nie. Terwyl God vir die goddelose soos ‘n verterende vuur is, is Hy vir Sy volk beide ‘n son en ‘n skild. (Openb. 20: 6; Ps. 84: 11.)GS 756.3

    “Ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan.” Openb. 21: 1. Die vuur wat die goddelose verdelg, reinig die aarde. Elke spoor van die vloek word uitgewis. Daar sal nie ‘n ewigbrandende hel wees om die verlostes gedurig te herinner aan die vreeslike gevolge van die sonde nie.GS 757.1

    Daar sal net een herinnering aan die sonde wees: ons Verlosser sal altyd die tekens van Sy kruisiging dra. Op Sy hoof, aan Sy sy, en aan Sy hande en voete is die tekens van die wrede werk van die sonde. Waar die profeet Christus in Sy heerlikheid aanskou, sê hy, “‘n Gians soos sonlig is dáár, ligstrale aan Sy sy; en daar is die omhulsel van Sy krag.” Hab. 3: 4. Die deursteekte sy waaruit die rooi stroom gevloei het wat die mens met God versoen het — daar is die Heiland se heerlikheid, ..daar is die omhulsel van Sy krag.” Magtig om te red deur die offer van verlossing, daarom was Hy sterk om diegene te oordeel wat Gods genade verag het. En die tekens van Sy vernedering is die tekens van Sy hoogste eer; deur die ewigheid heen sal die wonde van Golgota Sy lof verkondig en Sy mag.GS 757.2

    “En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja die vroeëre heerskappy.” Miga 4: 8. Die tyd het nou gekom waarna heilige manne uitgesien het van die tyd af dat die vlammende swaard die eerste mensepaar uit Eden verban het — die tyd om “Sy eiendom te verlos.” Efe. 1: 14. Die aarde wat in die begin aan die mens gegee is, wat hy in die hande van Satan oorgegee het, en wat so lank deur die magtige vyand beset is, is teruggebring deur die groot verlossingsplan. Alles wat as gevolg van die sonde verlore gegaan het, is weer herstel. “Want so sê die Here, . . . wat die aarde geformeer en dit gemaak het — Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.” Jes. 45: 18. Waar die aarde nou die ewige tuiste gemaak is van die verlostes, word Gods oorspronklike doel met die skepping daarvan vervul. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Ps. 37: 29.GS 757.3

    Uit vrees dat hulle ons toekomstige erfenis te materialisties sal voorstel, is baie daartoe gebring om die waarhede in verband daarmee te vergeestelik. Christus het Sy dissipels verseker dat Hy vir hulle wonings in Sy Vader se huis gaan berei. Diegene wat die leer van Gods woord aanneem, sal nie heeltemal onkundig wees aangaande die hemelse tuiste nie. En tog word daar gesê, “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.” 1 Kor. 2: 9. Menslike taal is nie in staat om die loon van die regverdiges te beskryf nie. Alleen diegene wat dit eendag sien sal dit ken. Die beperkte menslike verstand kan nie die heerlikheid van die paradys van God besef nie.GS 758.1

    In die Bybel word die erfdeel van die verlostes ‘n vaderland genoem. (Heb. 11: 14-16.) In daardie land sal die hemelse Herder Sy kudde na fonteine van lewende waters lei. Die boom van die lewe gee elke maand sy vrugte, en die blare van die boom is vir die genesing van die nasies. Daar is strome wat nooit opdroog nie, so helder as kristal, en langs hulle groei bome wat hulle skaduwees werp op die paaie wat vir die verlostes van die Here berei is. Daar is wyduitgestrekte vlaktes begrens deur pragtige heuwels en deur die berge van God met hulle hoë spitse. Op daardie vreedsame vlaktes, langs daardie lewende strome, vind Gods volk, wat so lank pelgrims en swerwelinge was, ‘n tuiste.GS 758.2

    “My volk sal woon in ‘n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van onbesorgde rus.” “Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie — van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof.” “En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: Hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie. . . . My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self opgebruik.” Jes. 32: 18; 60: 18; 65: 21, 22.GS 758.3

    “Die woestyn en die dor land sal [daar] bly wees; en die wildernis sal juig en bloei soos ‘n herfslelie.” “Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan; vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan.” “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie. . . . En ‘n klein seuntjie sal hulle drywe.” “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op My heilige berg nie,” sê die Here. Jes. 35:1; 11:6, 9; 33:24; 63:3; 65:19.GS 758.4

    In die atmosfeer van die hemel kan daar geen pyn w’ees nie. Daar sal nie meer trane wees nie, geen begrafnisse, en geen tekens van rou nie. “Daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” “En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; vir die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.” Openb. 21: 4, 11, 24, 3; Jes. 33: 24.GS 760.1

    Daar is die Nuwe Jerusalem, die hoofstad van die verheerlikte nuwe aarde, “‘n sierlike kroon in die hand van die Here en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God.” “Sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalheldere jaspissteen.” “En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” Die Here sê, “Ek sal juig oor Jerusalem, en bly wees oor My volk.” “Die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal Sy volk wees; en God Self sal by hulle wees as hulle God.” Jes. 65: 19; Openb. 21:4, 11, 24, 3.GS 760.2

    In die stad van God sal daar geen nag wees nie. Niemand sal behoefte hê aan slaap nie. Daar sal geen vermoeienis wees in die uitvoering van die wil van God of in die toebringing van lof aan Sy naam nie. Ons sal gedurig die frisheid van die more voel, en dit sal steeds more bly. “En hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig.” Openb. 22: 5. Die lig van die son sal vervang word deur ‘n glans wat, hoewel dit nie so verblindend is nie, nogtans die heerlikheid van die middag sal oortref. Die heerlikheid van God en die Lam verlig die heilige stad met ‘n lig wat nooit verflou nie. Die verlostes sal wandel in die sonlose heerlikheid van ewige daglig.GS 760.3

    “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige is Sy tempel, en die Lam.” Die volk van God het die voorreg van openlike gemeenskap met die Vader en die Seun. “Nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel.” Openb. 21: 22; 1 Kor. 13: 12. Ons sien die beeld van God weerkaats soos in n spieël in die natuur en in Sy handelinge met die mense; maar op die nuwe aarde sal ons Hom van aangesig tot aangesig sien sonder ‘n sluier tussenin. Ons sal in Sy teenwoordigheid staan, en die heerlikheid van Sy aanskyn sien.GS 760.4

    Dáár sal die verlostes ken, net soos hulle geken is. Die liefde en medelyde wat God in die siel ingeskape het, sal daar ware en volle uitdrukking vind. Die reine gemeenskap met heilige wesens, die eenstemmige sosiale lewe saam met die geseënde engele en die getroues van alle eeue, wat hulle klere gewas en witgemaak het in die bloed van die Lam, die heilige bande wat die geslag “in die hemele en op die aarde” saamsnoer — al hierdie dinge sal bydra tot die geluk van die verlostes.GS 761.1

    Dáár sal onsterflike verstande met nimmereindigende vreugde die wonders van die skepping oorpeins, en die verborgenheid van verlossende liefde. Dáár sal geen wrede, verleidende vyande wees om die mense te lei om God te vergeet nie. Alle vermoëns sal vermeerder. Die verkryging van kennis sal nie die verstand of die energie uitput nie. Dáár sal die heerlikste ondernemings voortgesit word, die hoogste ideale bereik en die hoogste ambisies vervul word. En nog sal daar nuwe hoogtes wees om te bereik, nuwe wonders om te bewonder, nuwe waarhede om te verstaan, en nuwe voorwerpe om die vermoëns van liggaam, siel en verstand besig te hou.GS 761.2

    Al die skatte van die heelal sal oop wees vir die studie van die verlostes van God. Ongebonde deur sterflikheid, sal hulle na ver-afgeleë wêrelde vlieg — wêrelde wat met droefheid vervul was by die aanskouing van menslike ellende, en wat weergalm het met liedere van blydskap waar hulle verneem het van ‘n siel wat verlos is. Met onuitspreeklike vreugde deel die kinders van die aarde in die blydskap en wysheid van wesens wat nooit geval het nie. Hulle deel in die skatte van kennis en wysheid wat verkry is deur die eeue heen in die oorpeinsing van Gods handewerk. Met ‘n onbelemmerde gesig aanskou hulle die heerlikheid van die skepping — sonne en sterre en stelsels, wat almal op hulle vasgestelde bane rondom die troon van die Godheid beweeg. Op alle dinge, van die geringste tot die grootste, staan die Skepper se naam geskrywe, en in almal word die rykdom van Sy mag tentoongestel.GS 761.3

    En namate die eeue verloop, sal daar steeds ryker en heerliker openbarings van God en Christus wees. Net soos kennis progressief is, sal ook liefde, eerbied, en geluk vermeerder. Hoe meer mense van God leer, hoe groter sal hulle bewondering van Sy karakter wees. Waar Jesus voor hulle die rykdom van die verlossing en die verbasende prestasies in die groot stryd met Satan openbaar, sal die harte van die verlostes met groter toewyding tril, en met nog heerliker vreugde sal hulle die siters van goud bespeel; en tienduisendmaal tienduisend en duisende van duisende stemme sal verenig in die magtige koor van lof.GS 762.1

    “En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” Openb. 5: 13.GS 762.2

    Die groot stryd is beëindig. Sonde en sondaars bestaan nie meer nie. Die ganse heelal is skoon. Een pols van eensgesindheid en blydskap klop deur die groot skepping. Van Hom wat almal geskape het, vloei lewe en lig en blydskap deur die onbeperkte ruimtes. Van die kleinste atoom tot die grootste wêreld, alle dinge, lewendig en lewenloos, en in hulle volmaakte skoonheid en vreugde, verklaar dat God liefde is.GS 762.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents