Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 7: Die Toets van Dissipelskap

    “As iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan; kyk, dit het alles nuut geword.” 2 Kor. 5:17.SC 55.1

    Mens mag miskien nie in staat wees om presies te sê waar, wanneer en hoe die bekering geskied het nie; maar dit is nog geen bewys dat jy nie bekeerd is nie. Christus het aan Nikodemus gesê, “Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarnatoe hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” Joh. 3:8. Soos die wind wat onsigbaar is, maar waarvan die uitwerking duidelik gesien en gevoel kan word, is ook die werking van die Gees van God in die menslike hart. Die herskeppende krag, wat die menslike oog nie kan sien nie, verwek 'n nuwe lewe in die siel; dit skep 'n nuwe wese in die ewebeeld van God. Terwyl die werking van die Gees stil en onsigbaar is, kan mense nogtans die uitwerking daarvan duidelik sien. As die hart deur die Gees vernuwe is, sal die bewyse daarvan in die lewe gesien word. Hoewel ons uit onsself niks kan doen om ons hart te verander nie, of in ooreenstemming met God te bring nie; hoewel ons nie op onsself of op ons goeie werke moet vertrou nie, sal ons lewe nogtans toon of die genade van God in ons woon. Daar sal 'n verandering in ons leefwyse, karakter en werk gesien word. Die teenstelling tussen wat ons eers was en wat ons nou is, sal baie duidelik uitkom. Ons karakter word geopenbaar, nie deur goeie of slegte dade so nou en dan nie, maar deur ons alledaagse woorde en dade.SC 55.2

    Dit is heeltemal moontlik dat daar 'n uiterlike goeie gedrag kan wees sonder die vernuwende krag van Christus. Die feit dat ons graag die goedkeuring van ander wil wegdra en hoog aangeskryf wil wees, mag ons beweeg om 'n goeie lewe te lei. Selfrespek mag ons noop om verkeerde dinge te vermy, en 'n selfsugtige hart mag goeie dade verrig. Waaraan sal ons onsself dan toets; hoe sal ons vasstel aan wie se kant ons staan?SC 56.1

    Aan wie behoort die hart? Waar is u gedagtes? Van wie praat u graag? Met wie deel u u liefde en vir wie doen u die beste werk? As ons aan Christus behoort, sal ons oor Hom dink en ons soetste gedagtes sal van Hom wees. Alles wat ons het en is, sal aan Hom toegewy wees. Ons sal verlang om Sy beeld te weerkaats, Sy gesindheid te hê, Sy wil te doen en Hom in alles te behaag.SC 56.2

    Diegene wat nuwe skepsels in Christus Jesus word, sal die vrugte van die Gees voortbring, naamlik: “Liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Gal. 5:22. Hulle sal die ou sondige lewe versaak, en deur die geloof van die Seun van God sal hulle Hom volg, Sy karakter openbaar en hulself reinig soos Hy rein is. Die dinge wat hulle eers gehaat het, sal hulle nou liefhê, en die dinge wat hulle eers liefgehad het, sal hulle nou haat. Diegene wat eers trots was, is nou nederig van hart; diegene wat ydel was, is nou ernstig en beskeie. Die dronkaard laat die drank staan; en die wat losbandig was voer 'n rein lewe. Die ydele modes en gewoontes van die wêreld word versaak. Christene sal hulle nie toelê op uiterlike versiering nie, maar hulle sal verlang om die verborge mens van die hart te versier met “n sagmoedige en stille gees.” 1 Pet. 3:3, 4.SC 56.3

    Tensy daar 'n verandering in die lewe plaasvind, is daar geen bewys van 'n opregte bekering nie. As hy sy beloftes nakom, diegene vergoed wat hy tekort gedoen het, sy sondes bely, God en sy naaste liefhet, kan die sondaar seker wees dat hy van die dood tot die lewe oorgegaan het.SC 57.1

    Wanneer ons, as sondaars, tot Christus kom en Sy genade deelagtig word, wel daar liefde in ons hart op. Elke las is dan lig, want die juk van Christus is nie swaar nie. Plig word 'n vreugde, en opoffering 'n plesier. Die pad wat eers donker geskyn het, word nou bestraal deur die Son van Geregtigheid.SC 57.2

    Die lieflikheid van Christus se karakter sal in Sy navolgers gesien word. Hy skep behae daarin om die wil van God te doen. Liefde tot God, ywer vir Sy heerlikheid - dit was die dryfkrag in die lewe van Christus. Liefde het al Sy dade mooi en edel gemaak. Liefde is uit God, en die hart wat nie toegewy is nie, kan dit nie voortbring nie. Dit word net in die hart gevind waar Jesus regeer. “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” 1 Joh. 4:19. In die hart wat vernuwe is deur goddelike genade, is liefde die dryfveer. Dit vorm die karakter, beheers die drifte, hou ons in bedwang en veredel ons lewe. Hierdie liefde, wat in die hart gekoester word, maak die lewe aangenaam en versprei 'n veredelende invloed rondom ons.SC 57.3

    Daar is twee foute waarteen die kinders van God moet waak - veral diegene wat pas tot bekering gekom het. Die eerste, wat ons alreeds bespreek het, is om op hul werke staat te maak om die guns van God te wen. Hy wat probeer om heilig te word deur sy eie pogings om die wet te onderhou, durf die onmoontlike aan. Alles wat die mens kan doen sonder Christus, is met sonde en selfsug besoedel. Dit is die genade van Christus alleen, deur geloof, wat ons kan heilig maak.SC 57.4

    Die ander dwaling wat nie minder gevaarlik is nie, is om te glo dat Christus ons vrystel van die onderhouding van die wet van God; en aangesien ons net deur geloof deelgenote word van die genade van Christus, ons werke niks met ons verlossing te make het nie.SC 57.5

    Ons moet egter daarop let dat gehoorsaamheid nie net goeie werke is nie, maar wel liefdesdiens. Die wet van God is 'n uitvloeisel van Sy natuur; dit is die beliggaming van liefde, en daarom is dit ook die grondslag van Sy regering in die hemel en op aarde. As ons harte herskep is in die ewebeeld van God, as goddelike liefde ons beheers, sal ons dan nie die wet uitleef nie? As ons deur liefde gemotiveer word, en in die beeld van ons Skepper herskep is, sal die belofte van die nuwe verbond aan ons vervul word: “Ek sal my wette gee in hulle hart en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe.” Heb. 10:16. En as die wet in die hart geskrywe is, sal dit nie die lewe beinvloed nie? Gehoor-saamheid - die bewys van liefde en trou - is die teken van ware dissipelskap. Derhalwe sê die Skrif: “Dit is die liefde van God, dat ons sy gebooie bewaar.” 1 Joh. 5:3. “Hy wat sê: Ek ken Hom - en sy gebooie nie bewaar nie - is 'n leuenaar en in hom is die waarheid nie.” 1 Joh. 2:4. In stede daarvan dat geloof 'n mens van gehoorsaamheid onthef, is dit geloof, en geloof alleen, wat jou deur die genade van Christus in staat stel om gehoorsaam te wees.SC 58.1

    Ons verdien nie die saligheid deur ons gehoorsaamheid nie; want die saligheid is 'n vrye gawe van God, wat ons deur die geloof aanneem. Maar gehoorsaamheid is die vrug van geloof. “Julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien nie en Hom nie geken nie.” 1 Joh. 3:5, 6. Hier is die ware toets: As ons in Christus bly, en die liefde van God in ons woon, sal ons gevoelens, ons gedagtes, ons dade, in ooreenstemming met Sy wil wees, soos uitgedruk in Sy heilige wet. “My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is.” 1 Joh. 3:7. God se heilige wet, soos dit op Sinai gegee is, is 'n uiteensetting van geregtigheid.SC 58.2

    Daardie sogenaamde geloof in Christus wat mens vrystel van gehoorsaamheid aan God, is nie geloof nie, maar vermetelheid. “Uit genade is julle gered deur die geloof.” Efe. 2:8. Maar, “die geloof, as dit geen werke het nie, is in sigself dood.” Jak. 2:17. Voordat Jesus na die aarde toe gekom het, het Hy van Homself gesê: “Ek het lus, o, my God, om u welbehae te doen, U wet is binne-in my ingewande.” Ps. 40:9. En kort voor Hy na die hemel opgevaar het, het Hy gesê: “Ek het die gebooie van my Vader bewaar en bly in sy liefde.” Joh. 15:10. Die Skrif sê: “Hieraan weet ons dat ons Hom ken, as ons sy gebooie bewaar.... Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” 1 Joh. 2:3-6. “Want Chris-tus het ook vir julle gely en 'n voorbeeld vir julle nagelaat, sodat julle sy voetstappe kan navolg.” 1 Pet. 2:21.SC 59.1

    Die voorwaarde vir die ewige lewe is vandag nog net wat dit altyd was - presies wat dit in die Paradys was voor die val van ons eerste voorouers - naamlik, volkome gehoorsaamheid aan die wet van God - volmaakte geregtigheid. As die ewige lewe sou geskenk word sonder hierdie voorwaarde, sou dit die geluk van die ganse heelal in gevaar stel. Die weg vir die sonde met al sy droefheid en ellende sou dan geopen wees en verewig word.SC 60.1

    Voor sy val was dit vir Adam moontlik om 'n regverdige karakter te vorm deur gehoorsaamheid aan God se wet. Maar hy het nie daarin geslaag nie, en weens sy sonde is ons natuur verdorwe en kan ons onsself nie regverdig maak nie. Aangesien ons sondig en onheilig is, kan ons die heilige wet nie volkome gehoorsaam nie. Ons het geen geregtigheid van ons eie wat aan die eise van die wet van God kan voldoen nie. Maar Christus het vir ons 'n uitweg bewerkstellig. Hy het te midde van versoeking en beproewing op die aarde gelewe, onder net sulke om-standighede as ons. Maar Hy het nie gesondig nie. Hy het vir ons sondes gesterwe en nou bied Hy aan om ons sondes op Hom te neem en Sy geregtigheid aan ons te gee. As u uself aan Hom oorgee, en Hom aanneem as u Verlosser, dan word u om Sy ontwil regverdig verklaar, afgesien van die sonde wat u gedoen het. Christus se karakter geld in die plek van u karakter, en God neem u aan asof u nooit gesondig het nie.SC 60.2

    Daarbenewens, verander Christus u hart. Hy woon in u hart deur geloof. Hierdie verbintenis met Christus moet gehandhaaf word deur geloof en deur 'n gedurige onderworpenheid aan Sy wil; solank as u dit doen, sal Hy in u werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae. Dan sal u kan sê: “Wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof van die Seun van God, wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.” Gal. 2:20. Daarom het Jesus ook aan Sy dissipels gesê: “Dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.” Matt. 10:20. As Christus dus in u werk, sal u dieselfde gesindheid openbaar en dieselfde werke doen, naamlik, werke van geregtigheid en gehoorsaamheid.SC 61.1

    Ons het niks in onsself om oor te roem nie; ons het geen gronde vir selfverheffing nie. Ons enigste hoop is in die geregtigheid van Christus wat vir ons toegereken word en wat die Heilige Gees in en deur ons doen.SC 61.2

    Waar ons van geloof praat, moet ons onthou dat daar twee soorte geloof is: Daar is 'n soort geloof wat nie eintlik geloof in die Bybelse sin is nie. Die bestaan en die almag van God, en die betroubaarheid van Sy Woord is feite wat selfs Satan en sy engele nie kan betwis nie. Die Bybel sê, “Die duiwels glo dit ook en hulle sidder.” Jak. 2:19. Maar dit is nie geloof nie. Waar die geloof in God se Woord gepaardgaan met onderwerping van die wil en 'n oorgawe van die hart aan Hom, dit is geloof - die geloof wat deur liefde werk en die siel reinig. Deur geloof word die hart in die ewebeeld van God herskep. Die hart wat nie herskape is en hom nie aan die wet van God onderwerp en ook nie kan nie, het nou behae in die gebooie van God, en roep saam met die psalmdigter uit: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag.” Ps. 119:97. En die geregtigheid van die wet word vervul in ons “wat nie na die vlees wandel nie”, maar na die Gees. Rom. 8:1.SC 61.3

    Daar is diegene wat kennis gemaak het met die vergewende liefde van Christus en wat regtig begeer om kinders van God te word, maar hulle besef dat hulle karakters onvolmaak is; hulle lewe is vol foute en hulle twyfel daaraan of hulle harte deur die Heilige Gees herskep is. Aan diesulkes wil ek graag se: Moenie in wanhoop opgee nie. Dikwels sal ons aan die voete van Jesus moet neerval en ween oor ons foute en tekortkominge; maar ons moenie moed opgee nie. Al kry die vyand soms die oorhand, het God ons nie verwerp of verlaat nie. Nee, Christus is aan die regterhand van God waar Hy vir ons intree. Die apostel Johannes het soos volg geskryf. “Hierdie dinge skryf ek aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n voor-spraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.” 1 Joh. 2:1. En laat ons nie die woorde van Christus vergeet nie, “die Vader self het julle lief.” Joh. 16:27. Hy verlang om julle tot Hom terug te bring en om Sy eie reinheid en heiligheid in julle te sien. As julle julself maar net aan Hom wil oorgee, sal Hy “wat 'n goeie werk in julle begin het, dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus”. Bid vuriger en laat u geloof kragtiger wees. Laat ons, namate ons eie kragte wantrou, steeds meer op die krag van ons Verlosser steun, en dan sal ons stof tot dankbaarheid hê in Hom wat ons genees.SC 62.1

    Hoe digter u aan Jesus kom, hoe meer sal u u foute besef; want u sal dan beter kan sien en u onvolmaakthede sal duidelik in teenstelling wees met Sy volmaakte karakter. Dit beteken dat die bedrieëry van Satan kragteloos geword het, en dat die lewegewende Gees van God in u werk en u wakker maak,SC 63.1

    Opregte liefde vir Christus woon nie in die hart wat nie sy eie sondigheid besef nie. Die siel wat deur die genade van Christus herskep is, sal Sy goddelike karakter bewonder; maar as ons nie ons eie sedelike onvolmaakthede kan sien nie, is dit gewis 'n bewys dat ons nog nie 'n blik gekry het op die skoonheid en uitnemendheid van die karakter van Christus nie.SC 63.2

    Hoe minder ons van onsself dink, hoe meer sal ons die onbeskryflike reinheid en heerlikheid van ons Saligmaker waardeer. As ons sondigheid insien sal dit ons na Hom toe dryf om vergifnis; en wanneer die siel, onder 'n besef van sy eie hulpeloosheid, sy hand na Christus uitsteek, sal Hy Homself in Sy krag openbaar. Hoe meer die besef van ons behoefte ons tot Hom en die Woord van God dryf, hoe beter sal ons Sy karakter verstaan en hoe meer sal ons aan Sy beeld gelykvormig word.SC 64.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents