Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Meester se Onsterflike Rede  - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    “Julle is die sout van die aarde.” Mattheüs 5:13.

    Sout is waardevol as 'n bederfweermiddel; en wanneer God Sy kinders die sout van die aarde noem, wil Hy hulle leer dat Hy hulle die ontvangers van Sy genade gemaak het sodat hulle werktuie kan word om ander te red. Die rede waarom God 'n volk uitverkies het om voor die wêreld te staan, was nie net dat Hy hulle as Sy seuns en dogters kon aanneem nie, maar dat die wêreld deur hulle die “reddende genade” kon ontvang (Titus 2:11). Toe die Here Abraham uitverkies het, was dit nie net om die besondere vriend van God te word nie, maar om die tussenpersoon te wees deur wie Hy besondere voorregte aan die volke sou kon skenk. Jesus het in Sy laaste gebed saam met Sy dissipels net voor Sy kruisiging gesê: “Maar Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.” Johannes 17:19. Net so sal Christene wat deur die waarheid geheilig word, reddende eienskappe besit wat die wêreld van algehele sedelike verval sal bewaar.MOR 43.2

    Sout moet gemeng word met die stof waarby dit gevoeg word; dit moet binnedring en deurdring om te kan bewaar. So is dit ook deur persoonlike aanraking en omgang dat mense deur die reddende krag van die evangelie bereik word. Hulle word nie as massas gered nie, maar as persone. Persoonlike invloed is kragtig. Ons moet op intieme voet verkeer met diegene wat ons graag wil help.MOR 44.1

    Die smaak van sout stel die lewenskrag van die Christen voor - die liefde van Jesus in sy hart, die geregtigheid van Christus wat die lewe deurtrek. Die liefde van Christus sprei uit en dring in. As dit in ons woon, sal dit uitvloei na ander. Ons sal na aan hulle kom, totdat hul harte aangeraak word deur ons onselfsugtige belangstelling en liefde. Die ware gelowige straal 'n lewenskrag uit wat die siele van dié vir wie hy arbei binnedring en nuwe morele krag aan hulle gee. Dit is nie die krag van die persoon self nie, maar die krag van die Heilige Gees wat vir die opwekking sorg.MOR 44.2

    Jesus het hierdie ernstige waarskuwing bygevoeg: “Maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.”MOR 45.1

    Terwyl die mense na Jesus se woorde geluister het, kon hulle die wit sout in die paadjies sien glinster waar dit weggegooi was omdat dit smaakloos en daarom nutteloos geword het. Dit was 'n goeie voorstelling van die Fariseërs en die uitwerking wat hul godsdiens op die samelewing gehad het. Dit is verteenwoordi-gend van die lewe van elke siel van wie die krag van die genade van God gewyk het en wat koud en sonder Christus gelaat is. Ondanks sy belydenis word so 'n mens deur mense en engele as smakeloos en onaangenaam beskou.MOR 45.2

    Dit is aan hulle wat Christus sê: “Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:15, 16).MOR 46.1

    Sonder 'n lewende geloof in Christus as ons persoonlike Verlosser is dit onmoontlik om ons invloed op hierdie skeptiese wêreld te laat geld. Ons kan nie aan ander iets gee wat ons nie self het nie. Die invloed wat ons tot seën en opheffing van die mensdom kan uitoefen, staan in verhouding tot ons eie toewy-ding aan Christus. Sonder ware diens, sonder opregte liefde, sonder werklike ondervinding, is daar geen krag om te help nie, geen verbinding met die hemel nie, geen geur van Christus in die lewe nie. As die Heilige Gees ons nie kan gebruik as werktuie om die waarheid soos dit in Jesus gevind word aan die wêreld te verkondig nie, is ons soos sout wat smaakloos en heeltemal nutteloos geword het. Deur die afwesigheid van die genade van Christus in ons lewens getuig ons teenoor die wêreld dat die waarheid waarin ons na bewering glo, ons nie kan heilig nie; en sover dit ons invloed aangaan, maak ons die woord van God kragteloos.MOR 46.2

    As liefde die hart vervul, sal dit uitvloei na ander, nie as gevolg van gunste wat ons van hulle ontvang nie, maar omdat liefde die dryfveer is. Liefde verander die karakter, beheers die drange, onderdruk vyandskap en veredel die emosies. Hierdie liefde is so wyd soos die heelal, en stem ooreen met dié van die engelewerk-ers. As dit in die hart gekoester word, veraangenaam dit die hele lewe en is dit 'n seën vir almal om ons. Dit alleen is wat ons die sout van die aarde maak.MOR 46.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents