Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Koning Van Die Eeue - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Sabbat

    DIE Sabbat is by die skepping geheilig. Dit is vir die mens verordineer “toe die moresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het.” Job 38: 7. Vrede het oor die wêreld geheers, want die aarde was in harmonie met die hemel. “Toe sien God al wat Hy gemaak het en — dit was baie goed;” en Hy het gerus in die vreugde van Sy voltooide werk. Gen. 1: 31.KE 280.1

    God het, omdat Hy op die Sabbat gerus het, “die sewende dag geseën en dit geheilig”— dit wil sê: Hy het dit afgesonder vir 'n heilige doel. Hy het dit aan Adam gegee as 'n rusdag. Dit was 'n gedenkteken van die skeppingswerk, en dus 'n teken van Gods krag en van Sy liefde. Die Skrif sê, “Hy het vir Sy wonders 'n gedagtenis gestig.” “Sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in Sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik Sy ewige krag en goddelikheid.” Gen. 2:3; Ps. 111: 4; Rom. 1: 20.KE 280.2

    Alle dinge is deur die Seun van God geskape. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God. . . . Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Joh. 1: 1-3. En aangesien die Sabbat 'n gedenkteken is van die skeppingswerk, is dit 'n teken van die liefde en krag van Christus.KE 280.3

    Die Sabbat vestig ons gedagtes op die natuur, en bring ons in gemeenskap met die Skepper. In die sang van die voëltjies, die gesug van die wind in die bome, en in die musiek van die see kan ons nog die stem hoor van Hom wat met Adam en Eva in Eden gepraat het “terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie.” En waar ons Sy krag in die natuur sien, word ons vertroos, want die woord wat alle dinge geskape het, is ook die wat lewe tot die siel spreek. “Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn — dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus.” Kor. 4: 6.KE 281.1

    Dit was hierdie gedagte wat die lied geïnspireer het:KE 281.2

    “Want U het my bly gemaak, Here, deur U dade;
    Ek jubel oor die werke van U hande.
    Hoe groot is U werke, o Here;
    Baie diep is U gedagtes.”
    KE 281.3

    En die Heilige Gees sê deur die profeet Jesaja: “By wie wil julle dan God vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? . . . Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle op die fondamente van die aarde nie gelet nie? Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon. . . . By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uit- trek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is: daar word nie een gemis nie. Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie. ... Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen krag het nie.” “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met My reddende regterhand.” “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! want Ek is God, en daar is geen ander nie.” Dit is die boodskap wat in die natuur geskryf is, en wat die Sabbat in gedagtenis moet bring. Toe die Here Israel beveel om Sy Sabbatte te heilig, het Hy gesê: “Hulle sal 'n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die Here julle God is.” Jes. 40:18-29; 41:10; 45:22; Eseg. 20:20.KE 281.4

    Die Sabbat is opgeneem in die wet wat op Sinai gegee is, maar dis nie toe vir die eerste maal bekendgemaak as 'n rusdag nie. Die volk van Israel was daarmee bekend vóór hulle by Sinai gekom het. Op weg daarheen is die Sabbat gevier. Toe sommige dit ontheilig het, het die Here hulle bestraf deur te sê, “Hoelank weier julle om My gebooie en My wette te onderhou?” Exod. 16: 28.KE 282.1

    Die Sabbat is nie slegs aan Israel gegee nie, maar aan die hele wêreld. Dit is aan die mens in Eden bekendgemaak, en, soos die ander gebooie van die Dekaloog, is die verpligting daarvan ewig- durend. Van die wet waarvan die vierde gebod deel uitmaak, het Christus gesê, “Totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan” nie. Solank as die hemele en die aarde voortbestaan, sal die Sabbat blystaan as n teken van die Skepper se krag. Wanneer Eden weer op die aarde sal wees, sal Gods heilige rusdag deur almal onder die son geëerbiedig word. “Elke week op die Sabbat” sal die bewoners van die verheerlikte nuwe aarde “kom om te aanbid voor My aangesig, sê die Here.” Matt. 5: 18; Jes 66: 23.KE 282.2

    Geen ander instelling aan die Jode gegee, het hulle so volkome onderskei van die nasies rondom hulle soos die Sabbat nie. Dit was Gods doel dat die viering van die Sabbat hulle sou aanwys as diegene wat Hom aanbid het. Dit sou die teken wees van hulle verwydering van afgodediens, en van hulle verbintenis met die ware God. Maar om die Sabbat te kan heilig moet die mense self heilig wees. Deur die geloof moet hulle die geregtigheid van Christus deelagtig word. Toe die gebod aan Israel gegee is, “Dink aan die Sabbatdag, dat jy dit heilig,” het die Here ook aan hulle gesê, “Julie moet vir My heilige mense wees.” Exod. 20: 8; 22: 31. Alleen op hierdie wyse sou die Sabbat Israel onderskei as die aanbidders van God.KE 282.3

    Namate die Jode van God afgedwaal en in gebreke gebly het om die geregtigheid van Christus deur die geloof aan te neem, het die Sabbat sy betekenis vir hulle verloor. Die Satan het gestreef om homself te verhef en die mense weg te trek van Christus, en hy het hom beywer om die Sabbat te verdraai omdat dit die teken is van die krag van Christus. Die Joodse leiers het die wil van die Satan gedoen deur Gods rusdag met moeilike vereistes te belemmer. In die dae van Christus was die Sabbat so verdraai dat die viering daarvan die karakter van selfsugtige, eiesinnige mense geopenbaar het liewer as die karakter van 'n liefdevolle hemelse Vader. Die rabbi's het God werklik voorgestel as iemand wat wette gegee het wat die mense onmoontlik kon gehoorsaam. Hulle het die mense gelei om God te beskou as n tiran, en om te dink dat die viering van die Sabbat soos Hy dit voorgeskryf het, mense hard en wreed gemaak het. Dit was die werk van Christus om hierdie verkeerde begrippe uit die weg te ruim. Alhoewel die rabbi's Hom met ongenadige vyandigheid agtervolg het, het Hy nooit die skyn gegee dat Hy aan hulle vereistes voldoen het nie, maar Hy het voortgegaan om die Sabbat te hou volgens die wet van God.KE 283.1

    Op die Sabbatdag, toe die Heiland en Sy dissipels van die plek van aanbidding gekom het, moes hulle deur 'n koringland gaan. Jesus het tot laat gewerk, en terwyl hulle deur die koringlande geloop het, het die dissipels van die are gepluk en in hulle hande uitgevryf sodat hulle die korrels kon eet. Op enige ander dag sou hierdie daad geen kommentaar uitgelok het nie, want iemand wat deur n graanland, tuin, of wingerd geloop het, was geregtig om te pluk wat hy wou eet. (Sien Deut. 23: 24, 25.) Maar om dit op die Sabbat te doen, is beskou as 'n daad van ontheiliging. Nie alleen was die pluk van die graan as 'n soort van oes beskou nie, maar om dit met die hande uit te vryf, is as dors beskou. Daar was dus, in die oordeel van die rabbi's, 'n dubbele oortreding gepleeg.KE 283.2

    Dadelik het die spioene by Jesus gekla, “Kyk, U dissipels doen wat nie geoorloof is om op die Sabbat te doen nie.”KE 284.1

    Toe Hy te Betesda van Sabbatskending beskuldig is, het Jesus Homself verdedig deur te beklemtoon dat Hy die Seun van God is en dat Hy saam met Sy Vader gewerk het. Maar nou dat Sy dissipels beskuldig is, het Hy voorbeelde uit die Ou Testament aangehaal van dade wat op die Sabbat gedoen is deur diegene wat in die diens van God was.KE 284.2

    Die Joodse leiers het gespog met hulle kennis van die Skrifte, en die antwoord wat die Heiland hulle gegee het, was 'n bestraffing van hulle onkunde aangaande die Heilige Skrif. “Het julle dan nie dit gelees,” het Hy gevra, “wat Dawid gedoen het nie — toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was—hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, . . . wat hulle nie geoorloof was om te eet nie, maar net die priesters alleen?” “En Hy sê vir hulle: Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie.” “Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die Sabbat in die tempel die Sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. . . . Die Seun van die mens is Here ook van die Sabbat.” Lukas 6: 3, 4; Markus 2: 27, 28; Matt. 12: 5, 6, 8.KE 284.3

    As dit reg was vir Dawid om sy honger te stil deur die heilige toonbrode te eet, dan was dit ook reg vir die dissipels om van die are te pluk en te eet op die heilige ure van die Sabbat. En dan weer het die priester harder gewerk op die Sabbatdag as op enige ander dag. As dit gewone sekulêre werk was, sou sulke werk sonde gewees het; maar die priesters het die werk verrig in die diens van God. Hulle was besig met die rituaal wat gewys het op die verlossende krag van Christus, en hulle werk het nie die Sabbat geskend nie. Maar nou het Christus self gekom. Die dissipels, deur die werk van Christus te doen, was met Gods werk besig, en wat nodig was om daardie werk te doen, kon ook op die Sabbat gedoen word.KE 284.4

    Christus wou Sy dissipels en Sy vyande leer dat die diens van God eerste kom. Die doel van Gods werk op die aarde is die verlossing van die mens; enigiets wat dus op die Sabbat gedoen moet word in verband met daardie werk, kan nie die wet van die Sabbat skend nie. Jesus het toe Sy argument beklink deur te verklaar dat Hy “Here ook van die Sabbat” is — Iemand wat heeltemal bokant die wet gestaan het. Hierdie ewige Regter het die dissipels vrygespreek van blaam deur Hom te beroep op die wette wat hulle dan sou oortree het.KE 284.5

    Jesus het nie die saak laat verbygaan sonder 'n bestraffing van Sy vyande nie. Hy het gesê dat hulle in hulle blindheid 'n verkeerde begrip van die doel van die Sabbat gehad het. Hy het gesê: “Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie.” Matt. 12: 7. Hulle baie meedoënlose rites kon nie die gebrek aan opregtheid en tere liefde toesmeer wat altyd die opregte aanbidder van God sal kenmerk nie.KE 285.1

    Weer het Christus die waarheid beklemtoon dat offerandes op sig- self geen waarde het nie. Hulle is die middel, maar nie die doel nie. Hulle doel is om die aandag van die mense op die Heiland te vestig en hulle aldus in ooreenstemming met God te bring. Dit is liefdesdiens wat God waardeer. As dit ontbreek, dan is 'n gewone reeks seremonies net 'n aanstoot vir Hom. So is dit ook met die Sabbat. Die doel daarvan is om die mens in gemeenskap met God te bring; maar wanneer die hart in beslag geneem is deur vermoeiende rites, word die doel van die Sabbat verydel. Die blote uiterlike viering daarvan is waardeloos.KE 285.2

    Op 'n ander Sabbat, toe Jesus die sinagoge binnegaan, het Hy daar 'n man gesien met 'n verdorde hand. Die Fariseërs het Hom dop- gehou, gretig om te sien wat Hy sou doen. Die Heiland het goed geweet dat as Hy op die Sabbat sou genees, hulle Hom as 'n oortreder sou beskou, maar Hy het nie geaarsel om die muur van tradisionele bepalings wat die Sabbat belemmer het, af te breek nie. Jesus het die siek man beveel om op te staan, en toe het Hy gevra: “Is dit geoorloof om op die Sabbat goed of kwaad te doen, 'n siel te red of dood te maak?” Dit was 'n reël van die Jode dat dit sonde was om nie goed te doen as mens die geleentheid daartoe het nie; om na te laat om 'n lewe te red, was om 'n siel dood te maak. So het Jesus die rabbi's met hulle eie wet getroef. “Maar hulle het stilgebly. En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het, en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle harte, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.” Markus 3:4, 5.KE 285.3

    Toe aan Hom gevra is: “Is dit geoorloof om op die Sabbat gesond te maak?” het Jesus geantwoord, “Watter mens van julle sal daar wees wat een skaap het, en as dit op die Sabbat in 'n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is n mens dan nie werd as n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die Sabbat goed te doen.” Matt. 12: 10-12.KE 286.1

    Die spioene het dit nie gewaag om Christus in die teenwoordigheid van die skare te antwoord nie, want hulle het gevrees dat hulle miskien in die moeilikheid kon kom. Hulle het geweet dat Hy die waarheid gepraat het. Liewer as om hulle tradisies te oortree, sou hulle n man laat ly terwyl hulle 'n dier sou red omdat dit 'n verlies vir die eienaar sou wees om hom te laat dood gaan. So was hulle dan meer besorg oor 'n stomme dier as oor 'n mens wat in die beeid van God geskape is. Hier het ons 'n illustrasie van hoe alle valse godsdienste werk. Hulle het hulle ontstaan in die mens se begeerte om homself te verhef bokant God, maar hulle uitwerking is om die mens te verlaag tot minder as 'n stomme dier. Elke godsdiens wat in stryd is met die soewereiniteit van God, beroof die mens van die heerlikheid wat syne was by die skepping, en wat weer herstel sal word in Christus. Elke valse godsdiens leer sy volgelinge om nalatig te wees wat betref menslike behoeftes, lyding, en regte. Die evangelie skat die mens baie hoog, gekoop deur die bloed van Christus, en dit leer dat ons moet sorg vir die mens in sy behoeftes en eilende. Die Here sê, “Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.” Jes. 13: 12.KE 286.2

    Toe Jesus die vraag aan die Fariseërs gestel het of dit geoorloof is om goed of kwaad te doen op die Sabbat, om 'n siel te red of dood te maak, het Hy hulle te staan gebring voor hulle eie bose bedoelings. Hulle was besig om op Hom jag te maak met 'n bittere haat, terwyl Hy besig was om die lewens van ander te red en blydskap te bring aan die skare. Was dit beter om dood te maak op die Sabbat, soos hulle wou doen, as om die sieke te genees soos Hy nou gedoen het? Was dit meer regverdig om moord in hulle hart te bedink op Gods heilige dag as om alle mense lief te hê, soos bewys word deur dade van barmhartigheid?KE 286.3

    In die genesing van die verdorde hand, het Jesus die gebruik van die Jode veroordeel, en Hy het die vierde gebod laat staan soos God dit gegee het. “So is dit dan op die Sabbat geoorloof om goed te doen,” het Hy gesê. Deur die onsinnige bepalings van die Jode weg te veeg, het Christus die Sabbat vereer, terwyl diegene wat Hom beskuldig het, in werklikheid Gods heilige dag onteer het.KE 287.1

    Diegene wat beweer dat Christus die wet afgeskaf het, leer dat Christus die Sabbat verontheilig en Sy dissipels geregverdig het waar hulle dit ook gedoen het. Hulle neem dus feitelik dieselfde standpunt in as die vitterige Jode. Daardeur weerspreek hulle die getuienis van Christus self, toe Hy gesê het dat Hy die gebooie van Sy “Vader bewaar en in Sy liefde bly.” Joh. 15: 10. Nòg die Heiland nòg Sy navolgers het die wet van die Sabbat oortree. Christus was 'n lewende verteenwoordiger van die wet. Nooit eenmaal het Hy die heilige voorskrifte daarvan in Sy lewe oortree nie. Die volk wat gedurig gesoek het na iets waarvoor hulle Hom kon veroordeel, het Hy uit- gedaag met die woorde, “Wie van julle oortuig My van sonde?” Joh. 8: 46.KE 287.2

    Die Heiland het nie gekom om tot niet te maak wat die patriarge en profete gespreek het nie; want dit was Hy self wat deur hierdie manne gespreek het. Al die waarhede van Gods Woord het van Hom gekom. Maar hierdie kostelike kleinode is vals voorgestel. Hulle kosbare lig is gebruik om dwaalleer te bevorder. God wou hê dat hulle uit daardie valse rame geneem, en in die raam van die waarheid geplaas moes word. Hierdie werk kon alleen deur 'n goddelike hand gedoen word. Deur sy verbintenis met dwaalleer het die waarheid die saak van die vyand van God en mens gedien. Christus het gekom om dit te stel waar dit God sou verheerlik en die verlossing van die mens sou bewerkstellig.KE 287.3

    “Die Sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die Sabbat nie,” het Jesus gesê. Die instellings van God is vir die voordeel van die mensheid. “Dit is alles om julle ontwil.” “Of dit Paulus is, of Apollos of Sefas of die wêreld of lewe of dood of teenwoordige of toekomstige dinge — alles behoort aan julle; maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” 2 Kor. 4: 15; 1 Kor. 3: 22, 23. Die wet van Tien Gebooie, waarvan die Sabbat 'n deel uitmaak, het God aan Sy volk gegee om 'n seën te wees. “Die Here het ons beveel,” het Moses gesê, “om al hierdie insettinge te volbring om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.” Deut. 6: 24. En deur die psalmis is die volgende boodskap aan Israel gegee: “Dien die Here met blydskap; kom voor Sy aangesig met gejubel! Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak, en ons is Syne, Sy volk en die skape van Sy weiding. Gaan Sy poorte in met lof, Sy voorhowe met lofgesang.” Ps. 100: 2-4. En van almal “wat die Sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie,” sê die Here, “Hulle sal Ek bring na My heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in My huis van gebed.” Jes.56: 6, 7.KE 287.4

    “Daarom is die Seun van die mens Here ook van die Sabbat.” Hierdie woorde is leersaam en vol vertroosting. Omdat die Sabbat vir die mens gemaak is, is dit die dag van die Here. Dit behoort aan Christus. Want “alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Joh. 1:3. As Hy alle dinge gemaak het, het Hy ook die Sabbat gemaak. Deur Hom is dit geheilig as gedenkteken van die Skepping. Dit verwys na Hom as beide Skepper en Heiligmaker. Dit verklaar dat Hy wat alle dinge gemaak het in die hemel en op die aarde, en wat alle dinge in stand hou, die hoof van die kerk is, en dat ons deur Sy krag met God versoen is. Want, van Israel sprekende, het Hy gesê, “Daarby het Ek ook My Sabbatte aan hulle gegee om 'n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig,”—hulle heilig maak. Eseg. 20: 12. Die Sabbat is die teken van Christus se krag om ons heilig te maak. En dit is gegee aan almal wat Christus heilig maak. As teken van Sy heiligmakende krag is die Sabbat gegee aan almal wat deur Christus deel word van die Israel van God.KE 288.1

    En die Here sê, “As jy jou voet terughou van die Sabbat — om nie jou besigheid op My heilige dag te doen nie, en as jy die Sabbat 'n verlustiging noem en die heilige dag van die Here eerwaardig, ... dan sal jy jou verlustig in die Here.” Jes. 58: 13, 14. Vir almal wat die Sabbat aanneem as 'n teken van Christus se skeppingskrag en Sy verlossing, sal dit 'n verlustiging wees. Deur Christus daarin te sien, sal hulle hulleself in Hom verlustig. Die Sabbat verwys na Sy skeppingswerk as bewys van Sy groot verlossingskrag. Terwyl dit herinner aan die verlore vrede van Eden, spreek dit van herstelde vrede in Christus. En elke voorwerp in die natuur herhaal Sy uitnodiging, “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” Matt. 11: 28.KE 288.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents