Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Koning Van Die Eeue - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Aanraking van Geloof

    TERUGGEKOM van Gergesa, aan die westelike kus, het Jesus 'n skare gevind wat vir Hom gewag het, en hulle het Hom met blyd- skap gegroet. Hy het vir 'n tyd aan die kus gebly en geleer en genees, en toe is Hy na die woning van Levi-Mattheus om die tollenaars by die feesmaal te ontmoet. Dit is daar waar Jaïrus, die owerste van die sinagoge, Hom gekry het.KE 345.1

    Hierdie ouderling van die Jode het na Jesus gekom in groot droefheid, hom aan Sy voete neergewerp en uitgeroep, “My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê die hande op haar, sodat sy gered kan word, en sy sal lewe.”KE 345.2

    Jesus is dadelik saam met die owerste na sy huis. Hoewel die dissipels so baie van Sy dade van barmhartigheid gesien het, was hulle nogtans verbaas dat Hy gehoor gegee het aan die versoek van hierdie hoogmoedige rabbi; maar hulle het hulle Meester vergesel, en die mense het gevolg, gretig en verwagtend.KE 345.3

    Die owerste se huis was nie ver nie, maar Jesus en Sy metgeselle het stadig voortbeweeg, want die skare het aan alle kante saamgedring. Die besorgde vader was ongeduldig oor die vertraging; maar Jesus, uit jammerte vir die mense, het nou en dan stilgestaan om 'n lyer te help, of om 'n ongelukkige te vertroos.KE 345.4

    Terwyl hulle nog op pad was, het 'n boodskapper hom deur die skare gedring met die berig aan Jaïrus dat sy dogtertjie reeds dood was en dat dit nutteloos sou wees om die Meester verder lastig te val. Jesus het dit gehoor. “Moenie vrees nie,” het Hy gesê, “glo net, en sy sal gered word.”KE 346.1

    Jaïrus het nader aan die Heiland gekom, en saam is hulle na die owerste se huis. Die gehuurde roudraers en die fluitspelers was reeds daar met hulle geraas en geween. Die skare daar, en die lawaai, het Jesus nie aangestaan nie. Hy het probeer om hulle stil te maak deur te sê, “Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap.” Hulle was verontwaardig oor die woorde van hierdie Vreemdeling. Hulle het die kind sien sterf, en hulle het Hom uitgelag. Hy het almal versoek om die huis te verlaat, en net die vader en die moeder van die kind, en die drie dissipels, Petrus, Jakobus, en Johannes, met Hom geneem na die kamer.KE 346.2

    Jesus het die bed genader en Hy het die kind se hand gevat, en saggies in haar huistaal gesê, “Dogtertjie, staan op!”KE 346.3

    Dadelik het daar 'n siddering deur die bewustelose vorm gegaan. Die hart het weer begin klop. Die lippe het oopgegaan in 'n glimlag. Die oë het wyd oopgegaan soos iemand wat uit die slaap wakkerskrik, en die dogtertjie het verbaas die groep by haar aangéstaar. Sy het opgestaan, en haar ouers het haar omhels en geween van vreugde.KE 346.4

    Onderweg na die owerste se huis, het Jesus onder die skare 'n arme vrou ontmoet wat vir twaalf jaar lank gely het aan 'n kwaal wat haar lewe 'n las gemaak het. Sy het reeds al haar geld spandeer aan dokters en medisyne, om eindelik te hoor dat sy ongeneeslik was. Maar haar hoop het weer herlewe toe sy van die genesings van Christus gehoor het. Sy was seker dat as sy maar net naby Hom kon kom Hy haar sou genees. In haar swakheid en lyde het sy na die see gekom waar Hy geleer het; sy het probeer om deur die skare te dring, maar tevergeefs. Sy het Hom gevolg van die huis van Levi-Mattheus, maar kon nog nie by Hom kom nie. Sy het begin wanhopig word toe Hy, waar Hy deur die skare gevleg het, naby die plek kom waar sy staan.KE 346.5

    Haar gulde geleentheid het gekom. Sy was in die teenwoordigheid van die Groot Geneesheer! Maar in die verwarring kon sy nie met Hom praat nie; sy het net vir 'n oomblik Sy gestalte gesien. Bang dat sy haar enigste kans op genesing sou laat verbygaan, het sy vorentoe gedruk en vir haarseif gesê, “As ek maar net Sy kleed kan aanraak, sal ek gered word.” Toe Hy verbygaan, het sy haar hand uitgesteek en daarin geslaag om aan die soom van Sy kleed te raak. Op daardie oomblik het sy geweet dat sy genees is. In daardie een aanraking was die geloof van haar hele lewe gekonsentreer, en dadelik het die pyn en die swakheid plek gemaak vir lewenskrag en volkome gesondheid.KE 346.6

    Met 'n dankbare hart het sy toe probeer om weg te kom van die skare af; maar skielik het Jesus stilgestaan, en die mense het saam met Hom stilgestaan. Hy het Hom omgedraai, rondgekyk, en toe gevra in 'n stem wat duidelik gehoor kon word bokant die geraas van die skare, “Wie het My aangeraak?” Die openbaring van verbasing deur die skare het hierdie vraag beantwoord, Met mense wat aan alle kante teen Hom stamp, en die gedrang van die skare, was dit 'n baie Sonderlinge vraag vir hulle.KE 347.1

    Petrus wat maar altyd klaar was om te praat, het gesê, “Meester, die skare druk en verdring U, en U sê: Wie is dit wat My aangeraak het.” Jesus antwoord: “Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van My uitgegaan het.” Die Heiland kon die aanraking van geloof onderskei teenoor die toevallige aanraking met die onverskillige skare. Sulke vertroue kon Hy nie laat verbygaan sonder kommentaar nie. Hy sou woorde van troos tot hierdie nederige vrou spreek wat vir haar 'n lewende bron van vreugde sou wees — woorde wat 'n seën sou wees vir Sy navolgers tot die einde van tyd.KE 348.1

    Jesus het die vrou aangekyk en Hy wou weet wie Hom aangeraak het. Toe sy sien dat bedekking hopeloos was, het sy bewende na vore gekom en haarseif aan Sy voete neergewerp. Met trane van dankbaarheid het sy die verhaal van haar siekte vertel, en hoe sy nou verlossing gevind het. Met tederheid het Jesus aan haar gesê: “Hou goeie moed dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Hy het geen geleentheid gegee vir bygeloof om te sê dat daar geneeskrag in 'n blote aanraking van Sy kleed was nie. Die genesing het geskied, nie deur uiterlike aanraking met Hom nie, maar deur die geloof wat Sy goddelike krag aangeneem het.KE 348.2

    Die verbaasde skare wat so dig om Christus saamgedring het, het niks van die lewegewende krag gevoel nie. Maar toe die lydende vrou haar hand uitgesteek het om Hom aan te raak, gelowende dat sy sou gesond word, het sy die geneeskrag gevoel. So is dit ook met geestelike dinge. Om sommer maar net oor die godsdiens te praat, en om te bid sonder 'n sielshonger en lewende geloof, sal niks help nie. Om maar net te sê dat ons in Christus glo as die Verlosser van die wêreld, kan nooit genesing tot die siel bring nie. 'n Saligmakende geloof is nie slegs 'n blote intellektuele toestemming tot die waarheid nie. Die persoon wat wag op volkome kennis voordat hy glo, sal nie die seën van God ontvang nie. Dit is nie genoeg om net omtrent Christus te glo nie; ons moet in Hom glo. Die enigste soort geloof wat van waarde is, is die wat Hom aanneem as 'n persoonlike Verlosser; wat Sy Verdienstes aanneem as ons eie Verdienstes. Vir vele is geloof slegs 'n opinie, 'n Saligmakende geloof is 'n transaksie waarin diegene wat Christus aanneem, hulle in Gods verbond laat opneem. Ware geloof is lewe, n Lewende geloof beteken 'n vermeerdering van lewenskrag, n vaste vertroue, waardeur die siel 'n oorwinnende krag word.KE 348.3

    Na die genesing van die vrou wou Jesus hê dat sy die seën moes erken wat sy ontvang het. Die gawes van die evangelie moet nie stilletjies ontvang word of in die geheim geniet word nie. So ook verwag die Here dat ons Sy goedheid sal bely. “Julie is My getuie, spreek die Here, en ek is God.” Jes. 43: 12.KE 349.1

    Die hemel se gekose metode om Christus aan die wêreld te openbaar, is ons belydenis van Sy getrouheid. Ons moet Sy genade erken soos verkondig deur Gods heilige manne vanouds; maar wat nog van groter krag sal wees, is ons getuienis aangaande ons eie ervaring. Waar ons in onsself die werking van die goddelike krag openbaar, is ons Gods getuies. Elke indiwidu het 'n lewe wat verskil van alle ander, en dus ook is hulle lewenservaring heeltemal verskillend. God wil hê dat ons lof tot Hom gekenmerk sal word deur ons indiwidualiteit. Hierdie kosbare getuienis tot lof en eer van Sy genade, as dit gesteun word deur 'n Christelike lewe, het 'n onweerstaanbare krag wat werk tot redding van siele.KE 349.2

    Toe die tien melaatses tot Jesus gekom het om genesing, het Hy hulle beveel om hulleself aan die priester te gaan toon. Op weg is hulle gereinig, maar net een het teruggekom om Hom die heerlikheid te gee. Die ander het weggegaan, en Hom vergeet wat hulle genees het. Hoeveel is daar nie vandag wat nog dieselfde doen nie! Die Here werk gedurig om die mensdom te seën. Hy gee maar steeds Sy gawes aan hulle. Hy rig siekes weer op uit hulle beddens, Hy verlos mense uit gevare waarvan hulle onbewus is, Hy beveel hemelse engele om hulle te bewaar van rampe, om hulle te beskerm teen “die pes wat in die donker wandel,” en “vir die siekte wat op die middag verwoes” (Ps. 91: 6); maar dit maak geen indruk op hulle nie. Hy het die grootste skat van die hemel gegee om hulle te verlos, maar hulle dink nie aan Sy groot liefde nie. Deur hulle ondankbaarheid sluit hulle hulle harte teen die genade van God. Soos 'n kaal bos in die wildernis sien hulle nie as die goeie kom nie, maar hulle bewoon die dor en brakkerige plekke. (Jer. 17: 6.)KE 349.3

    Dit sal tot ons eie voordeel dien as ons elke gawe van God sal ont- hou, want so sal ons geloof versterk word om meer te vra en meer en meer te ontvang. Ons sal baie meer bemoedig word deur die geringste seën wat ons self van God ontvang, as deur al die berigte oor die geloof en ondervindings van ander. Die siel wat reageer op die genade van God, sal wees soos 'n besproeide tuin. Sy genesing sal skielik uitspruit, sy lig sal deurbreek soos die daeraad, en die heerlikheid van die Here sal sy agterhoede wees. (Jes. 58: 8.) Laat ons dan die goedertierenheid van die Here en Sy oorvloedige seëninge onthou. Laat ons, soos die volk van Israel, gedenkklippe oprig en die verhaal op hulle skryf van wat God vir ons gedoen het. En wanneer ons dink aan die weë waarin Hy ons gelei het in ons pelgrimstog, laat ons uit harte, versag deur dankbaarheid, uitroep: “Wat sal ek die Here vergeld vir al Sy weldade aan my? Ek sal die beker van verlossing opneem en die Naam van die Here aanroep. My geloftes sal ek aan die Here betaal in die teenwoordigheid van Sy ganse volk.” Ps. 116: 12 KE 349.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents