Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Koning Van Die Eeue - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Ware Teken

    EN Hy het weer vertrek uit die gebied van Tirus en Sidon en na die meer van Galilea gegaan, deur die gebied van Dekapolis.” Markus 7:31.KE 411.1

    Dit was in die gebied van Dekapolis waar die duiwelbesetenes van Gergesa genees is. Hier het die mense, verontrus oor die vernietiging van die varke, Jesus versoek om hulle gebied te verlaat. Maar hulle het geluister na die boodskappers wat Hy agtergelaat het, en daar het by hulle 'n begeerte ontstaan om Hom te sien. Toe Hy weer in daardie gebied kom, het 'n groot skare rondom Hom vergader, en 'n dowe man wat swaar gepraat het, is na Hom toe gebring. Jesus het in hierdie geval, nie soos Sy gewoonte was, die man met net 'n woord genees nie. Hy het hom weg van die skare geneem, Sy vingers in sy ore gesteek en sy tong aangeraak; toe het Hy opgekyk na die hemel en gesug toe Hy gedink het aan die ore wat nie vir die waarheid wou oop- gaan nie en die tonge wat geweier het om Hom as Verlosser te bely. Op die woord, “Gaan oop!” is die man se spraak herstel, en ten spyte van die bevel om dit aan niemand te vertel nie, het hy die verhaal van sy genesing orals vertel.KE 411.2

    Daarvandaan het Jesus op die berg geklim, en die skare het na Hom toe'gestroom en hulle siekes en kreupeles gebring en hulle aan Sy voete neergelê. Hy het hulle almal genees; en die mense, heidene soos hulle was, het die God van Israel verheerlik. Vir drie dae het die mense om die Heiland vergader; hulle het buite geslaap, en bedags het hulle om Hom geskaar om Sy woorde te hoor en Sy werke te sien. Aan die einde van die drie dae was hulle kos gedaan. Jesus wou hulle nie honger huis toe stuur nie, en Hy het Sy dissipels beveel om hulle te voed. Weer het die dissipels hulle ongeloof geopenbaar. By Betsaida het hulle gesien hoe die bietjie kos wat hulle gehad het, met Christus se seën genoeg was om die hele skare te voed; en nogtans het hulle nie nou alles wat hulle gehad het, te voorskyn gebring en op Hom vertrou om dit te vermenigvuldig vir die hongerige skare nie. En wat meer is, diegene wat Hy te Betsaida gevoed het, was Jode; hierdie mense was heidene. Daar was nog sterk Joodse vooroordeel in die harte van die dissipels, en hulle het aan Jesus gevra, “Waar sal ons in die woestyn soveel brood vandaan kry om so 'n groot skare te versa- dig?” Maar gehoorsaam aan Sy woord het hulle gebring wat hulle gehad het—sewe brode en twee visse. Die skare is gevoed, en daar het sewe mandjies vol brokkies oorgebly. Vierduisend mans, behalwe vrouens en kinders, is verkwik, en Jesus het hulle weggestuur met blye en dankbare harte.KE 411.3

    Hy en Sy dissipels het toe in 'n skuit oorgevaar na Magdala aan die suidpunt van die vlakte van Genesaret. By die grens van Tirus en Sidon is Sy gees verkwik deur die vertrouende geloof van die Siro- Feniciese vrou. Die heidense bewoners van Dekapolis het Hom met blydskap ontvang. En nou, toe Hy weer eens in Galilea kom waar Sy krag die meeste geopenbaar is, waar meeste van Sy wonderwerke gedoen is, en waar Hy die meeste geleer het, is Hy met veragtende ongeloof ontvang.KE 412.1

    Daar was 'n afvaardiging van Fariseërs, bygestaan deur verteenwoordigers van die ryk en trotse Sadduseërs, die priesterlike party, die skeptikusse en aristokrate van die volk. Hierdie twee sektes het in bittere vyandskap verkeer. Die Sadduseërs het die guns gesoek van die regerende mag ten einde hulle eie posisie en gesag te handhaaf. Die Fariseërs aan die anderkant, het haat teen die Romeine opgewek en verlang na die tyd wanneer hulle die juk van die veroweraar sou kon afwerp. Maar Fariseër en Sadduseër het nou saamgespan teen Christus. Soort soek soort; en boosheid, waar dit ook al bestaan, span altyd saam met boosheid om die goeie te vernietig.KE 412.2

    Die Fariseërs en Sadduseërs het nou na Christus gekom en om 'n teken uit die hemel gevra. Toe Israel in die tyd van Josua die stryd gevoer het met die Kanaäniete by Bet-Horon, het die son stilgestaan op bevel van die aanvoerder totdat die oorwinning behaal is; en verskeie dergelike wonders is geopenbaar gedurende hulle geskiedenis. Min of meer so 'n teken is nou van Jesus gevra. Maar dis nie sulke tekens wat die Jode nodig gehad het nie. Geen bloot uiterlike getuienis sou hulle help nie. Hulle grootste behoefte was nie intellektuele verligting nie, maar geestelike hernuwing.KE 413.1

    “Geveinsdes,” het Jesus gesê, “julle weet wel om die voorkomste van die lug te onderskei”— deur na die lug te kyk, kon hulle die weer voorspel —“en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?” Christus se eie woorde, gespreek in die krag van die Heilige Gees wat hulle van die sonde oortuig het, was die teken wat God gegee het vir hulle verlossing. En tekens regstreeks uit die hemel is gegee om die sending van Christus te bevestig. Die lied van die engele vir die skaapwagters, die ster wat die wyse manne gelei het, die duif en die stem uit die hemel by Sy doop, het getuig van Hom.KE 413.2

    “Toe sug Hy swaar in Sy gees en sê: Waarom begeer hierdie geslag 'n teken?” “Geen teken sal aan hom gegee word nie behalwe die teken van Jona, die profeet.” Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die vis was, sou Christus 'n dergelike tydperk in die hart van die aarde wees. En soos die prediking van Jona 'n teken vir die Nineviete was, so sou die prediking van Christus 'n teken vir Sy geslag wees. Maar hoe groot is die kontras tussen daardie mense en hierdie! Die mense van daardie groot heidense stad het gesidder toe hulle die waarskuwing van God gehoor het. Konings en edelliede het hulleself verootmoedig voor God; beide die hooggeplaastes en die nederiges het tot die God van die hemel geroep en Hy was hulle genadig. “Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel,” het Christus gesê, “want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier.” Matt. 12: 41.KE 413.3

    Elke wonderwerk wat Christus gedoen het, was 'n teken van Sy godheid. Hy het juis daardie werke gedoen wat voorspel is dat die Messias sou doen; maar vir die Fariseërs was hierdie werke van genade 'n aanstoot. Die Joodse leiers het menslike lyding met gevoellose onverskilligheid aanskou. In baie gevalle was die lyding wat Christus verlig het, te wyte aan hulle selfsug en verdrukking. Sy wonderwerke was dus vir hulle 'n verwyt.KE 413.4

    Die dinge wat die Jode beweeg het om die Heiland se werk te verwerp, was die sterkste bewys van Sy goddelike karakter. Die grootste betekenis van Sy wonderwerke word gesien in die feit dat hulle gedoen is vir die seën van die mensdom. Die sterkste bewys dat Hy van God gekom het, is dat Sy lewe die karakter van God geopenbaar het. Hy het die werke van God gedoen en die woorde van God gespreek. So 'n lewe is die grootste van alle wonderwerke.KE 414.1

    In ons tyd, wanneer die waarheid verkondig word, is daar baie wat soos die Jode sê: Gee ons 'n teken. Doen 'n wonderwerk. Christus het geen wonderwerk gedoen op versoek van die Fariseërs nie. Hy het geen wonderwerk in die woestyn gedoen in antwoord op die Satan se insinuasies nie. Hy gee nie aan ons krag om onsself te regverdig, of om ons ongeloof en hoogmoed te bevredig nie. Maar die evangelie is nie sonder 'n teken van sy goddelike oorsprong nie. Is dit nie 'n wonderwerk dat ons kan losbreek uit die slawerny van die Satan nie? Vyandigheid teen die Satan is nie 'n natuurlike ding in die menslike hart nie; dit word daarin verwek deur die genade van God. Wanneer iemand wat beheers was deur 'n koppige, sondige wil, bevry word, en hy homself volkome oorgee aan die werking van Gods hemelse kragte, dan geskied daar 'n wonderwerk; en dieselfde geld wanneer 'n persoon wat eers dwaalleer aangehang het sedelike waarheid aanneem. Elke keer wanneer daar 'n siel tot bekering kom en leer om God lief te hê en Sy gebooie te onderhou, is dit 'n vervulling van die belofte van God, “Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee.” Eseg. 36: 26. Die verandering van menslike harte en van menslike karakters, is 'n wonderwerk wat 'n altydlewende Verlosser openbaar wat werk om siele te red. 'n Konsekwente lewe in Christus is 'n groot wonderwerk. By die verkondiging van die evangelie is die teken wat nou en altyd geopenbaar moet word, die teenwoordigheid van die Heilige Gees om die woord 'n wederbarende krag te maak vir diegene wat dit hoor. Dit is Gods getuienis aan die wêreld van die goddelike sending van Sy Seun.KE 414.2

    Diegene wat 'n teken van Jesus begeer het, het hulle harte deur ongeloof so verhard dat hulle nie in Sy karakter die ewebeeld van die goddelike gesien het nie. Hulle wou nie insien dat Sy sending 'n vervulling van die Skrifte was nie. In die gelykenis van die ryk man en Lasarus, het Jesus aan die Fariseërs gesê, “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand ook uit die dode opstaan.” Lukas 16: 31. Geen teken wat in die hemel of op die aarde gegee kon word, sou vir hulle iets beteken nie.KE 414.3

    Toe sug Jesus “swaar in Sy gees,” en Hy het hulle verlaat en weer in die skuit geklim saam met Sy dissipels. In droefheid en stilte het hulle oor die meer gevaar. Hulle is egter nie terug na die plek wat hulle verlaat het nie, maar het gevaar in die rigting van Betsaida, naby die plek waar die vyfduisend gevoed is. Toe hulle aan die anderkant kom, het Jesus gesê, “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs.” Dit was die gebruik van die Jode, sedert die tyd van Moses, om tydens die Paasfees alle suurdeeg uit hulle huise te verwyder; hulle is op daardie wyse geleer om dit te beskou as 'n tipe van die sonde. Maar die dissipels het Jesus nie verstaan nie. In hulle skielike vertrek van Magdala het hulle vergeet om brood saam te neem, en hulle het net een brood by hulle gehad. Hulle het gemeen dat Christus op hierdie omstandigheid gesinspeel het, en dat dit 'n waarskuwing vir hulle was om nie die brood van 'n Fariseër of Sadduseër te koop nie. Hulle gebrek aan geloof en geestelike insig het hulle dikwels Christus se woorde laat misverstaan. Jesus het hulle nou bestraf omdat hulle gedink het dat Hy wat duisende gevoed het met 'n paar vissies en garsbrode, met daardie waarskuwing slegs gewone brood bedoel het. Daar was gevaar dat die listige redenasies van die Fariseërs en Sadduseërs ongeloof onder die dissipels kon verwek, sodat hulle die werke van Christus te lig sal opneem.KE 415.1

    Die dissipels was geneig om te dink dat hulle Meester aan die eis om 'n teken uit die hemel moes toegegee het. Hulle het geglo dat Hy dit wel kon doen, en dat so 'n teken Sy vyande die swye sou oplê. Wat hulle nie gesien het nie, was die huigelary van daardie vitters.KE 415.2

    Maande daarna, “toe duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap het,” het Jesus dieselfde waarskuwing gegee. Hy het aan Sy dissipels gesê, “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is geveinsdheid.” Lukas 12: 1.KE 415.3

    Die suurdeeg wat in meel geplaas word, werk onsigbaar en dit verander die hele massa. So werk huigelary ook in die hart, dit deur- trek die hele karakter en lewe. Die afkeur van hulle gebruik van die “Korban” was 'n uitstaande voorbeeld van die huigelary van die Fariseërs, wat Christus veroordeel het, want daardeur het hulle hulle plig as kinders teenoor ouers ontduik onder die voorwendsel dat dit vrygewigheid aan die tempel was. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het bedrieglike beginsels voorgestaan. Hulle het die ware aard van hulle leer bedek, en van elke geleentheid gebruik gemaak om dit met lis in die verstand en hart van die hoorders te bring. Hierdie valse beginsels, wanneer hulle eenmaal aangeneem is, het soos suurdeeg in meel gewerk, want dit het die hele karakter deurtrek en dit verander. Dit was hierdie verleidelike leer wat dit so swaar gemaak het vir die mense om die woorde van Christus aan te neem.KE 415.4

    Dieselfde invloede werk vandag deur diegene wat probeer om die wet van God op so 'n manier te verduidelik dat dit aangepas kan word by hulle gebruike. Hierdie klas val nie die wet openlik aan nie, maar hulle verkondig teorieë wat die beginsels daarvan ondermyn. Hulle verklaar dit sodat die krag daarvan vernietig word.KE 416.1

    Die huigelary van die Fariseërs was die produk van selfsug. Die hoofdoel van hulle lewe was om hulleself te verheerlik. Dit was dit wat hulle beweeg het om die Skrifte te verdraai en verkeerd toe te pas, en dit het hulle verblind vir die doel van Christus se sending. Selfs die dissipels van Christus het gevaar geloop om hierdie sonde te koester. Diegene wat gestaan het met die navolgers van Jesus, maar wat nie alles verlaat het om Sy dissipels te word nie, was in 'n groot mate beïnvloed deur die redenasie van die Fariseërs. Hulle was dikwels heen en weer geslinger tussen geloof en ongeloof, en hulle het nie die skatte van wysheid gesien wat in Christus geskuil het nie. Selfs die dissipels, alhoewel hulle uiterlik alles vir Christus versaak het, het nie in hulle harte opgehou om voordeel vir hulleself te soek nie. Dit was juis hierdie gees wat hulle laat stry het oor wie die grootste onder hulle sou wees. Dit is dit wat tussen hulle en Christus ingekom het, en hulle so uit voeling gehou het met Sy sending en opoffering, en hulle so traag gemaak het om die verborgenheid van die verlossing te begryp. Soos suurdeeg, as dit alleen gelaat word om voort te werk, verderf veroorsaak, so sal 'n selfsugtige gees, as dit in die hart gekoester word, die besoedeling en ondergang van die siel bewerk. Onder die navolgers van die Here vandag, net soos in die ou tyd, is hierdie listige, bedrieglike sonde net so algemeen! Hoe dikwels word ons diens vir Christus, en ons omgang met mekaar, bederf deur die geheime begeerte vir selfverheffing! Hoe word daarna gesmag om gelukgewens te word en menslike goedkeuring te verkry! Dit is eieliefde, die verlange na 'n makliker weg as wat God aanwys wat mense daartoe bring om menslike teorieë en gebooie te stel in die plek van die goddelike voorskrifte. Aan Sy eie dissipels het Christus die waarskuwing gegee, “Pas op vir die suurdeeg van die Fariseërs.”KE 416.2

    Die godsdiens van Christus is die verpersoonliking van opregtheid. Ywer vir die heerlikheid van God is die dryfkrag wat deur die Heilige Gees gegee word; alleen die werking van die Heilige Gees kan daardie motief in die siel plant. Alleen die krag van God kan selfsug en huigelary verban. Hierdie verandering is die teken van Sy werking. Wanneer die geloof wat ons aanneem, selfsug en geveinsdheid vernietig, wanneer dit ons lei om God te verheerlik en nie onsself nie, dan kan ons weet dat dit die regte is. Die grondtoon van Christus se lewe was, “Vader, verheerlik U Naam” (Joh. 12: 28), en as ons Hom volg, sal dit ook die grondtoon van ons lewe wees. Hy gebied ons om “self ook so te wandel soos Hy gewandel het;” en “hieraan weet ons dat ons Hom ken, as ons Sy gebooie bewaar.” 1 Joh. 2:6, 3.KE 417.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents