Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Koning Van Die Eeue - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    “Een Ding Kom Jy Kort”

    EN toe Hy op die pad uitgaan, hardloop daar een na Hom toe en val voor Hom op die knieë en vra Hom: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe ?KE 526.1

    Die jongman wat hierdie vraag gestel het, was 'n owerste. Hy was ryk aan besittings, en het 'n verantwoordelike posisie beklee. Hy het die liefde van Christus gesien vir die kindertjies wat na Hom gebring is; hy het gesien hoe tederlik Hy hulle ontvang en in Sy arms opgeneem het, en daar het liefde in sy hart ontstaan vir die Heiland. Hy het 'n begeerte gevoel om een van Sy dissipels te word. Hy was so aangedaan, dat hy, toe Christus daar vertrek het, agter Hom aan gehardloop en aan Sy voete neergekniel het, en Hom met die grootste opregtheid en erns die vraag gestel het wat so belangrik vir sy siel, en vir die siel van elke mens is, naamlik, “Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”KE 526.2

    “Waarom noem jy My goed?” het Christus gevra, “Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God.” Jesus wou hierdie owerste se opregtheid toets, en hom laat sê waarom hy Hom as goed beskou het. Sou hy besef het dat die Een wie hy aangespreek het die Seun \ an God is? Wat was die ware gevoelens van sy hart?KE 526.3

    Die owerste het 'n hoë dunk gehad van sy eie geregtigheid. Hy het nie regtig gemeen dat hy in enige opsig kortgeskiet het nie, maar hy was darem ook nie tevrede nie. Hy het gevoel dat daar iets was wat hy nie gehad het nie. Sou Jesus hom nie ook kon seën soos die kindertjies en sy sielshonger bevredig nie?KE 526.4

    In antwoord op sy vraag het Jesus hom meegedeel dat gehoorsaamheid aan die gebooie van God nodig is as hy die ewige lewe wil verkry; en Hy het verskeie van die gebooie aangehaal wat die mens wys op sy pligte teenoor sy naaste. Die owerste se antwoord was positief: “Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?”KE 527.1

    Christus het in die gesig van hierdie jongman gekyk asof Hy sy lewe gelees en sy karakter ondersoek het. Hy het hom liefgehad en het verlang om hom daardie vrede en genade en vreugde te gee wat sy karakter sou verander. “Een ding kom jy kort,” het Hy gesê, “gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, neem die kruis op en volg My.”KE 527.2

    Christus het aangetrokke gevoel tot hierdie jongman; Hy het geweet dat hy opreg was met sy bewering, “Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.” Die Verlosser het verlang om hom tot daardie insig te bring wat hom in staat sou stel om die nodigheid in te sien van toewyding, en Christelike goedheid. Hy het verlang om 'n nederige en boetvaardige hart in hom te sien, bewus van die groot liefde wat God toekom, en wat sy onvolmaaktheid sal verberg in die volmaaktheid van Christus.KE 527.3

    Jesus het in hierdie owerste juis die hulp gesien wat Hy nodig gehad het as die jongman 'n medewerker van Hom sou word in die verlossingswerk. As hy homself onder die leiding van Christus sou stel, sou hy 'n krag ten goede word. Hierdie owerste sou Christus baie goed kon verteenwoordig het, want hy het bevoegdhede gehad wat, as hy homself met die Heiland sou verbind, van hom 'n goddelike krag onder die mense sou gemaak het. Christus, wat sy karakter gesien het, het hom liefgekry. Daar het liefde vir Christus ontstaan in die owerste se hart; want liefde wek liefde. Jesus wou hom baie graag as medewerker hê. Hy wou hom graag maak soos Hy self was, 'n spieël wat die beeld van God sou weerkaats. Hy wou graag sy karakter ontwikkel en dit heilig vir die Meester se diens. As die owerste homself aan Christus sou oorgegee het, sou hy opgewas het in die atmosfeer van Sy teenwoordigheid. As hy maar hierdie keuse gedoen het, hoe anders sou sy toekoms nie gewees het nie!KE 527.4

    “Een ding kom jy kort,” het Jesus gesê. “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” Christus het die hart van die owerste gelees. Hy het net een ding kortgekom, maar dit was 'n lewensbelangrike beginsel. Hy het behoefte gehad aan die liefde van God in sy siel. Hierdie tekortkoming, as dit nie aangevul word nie, sou sy ondergang beteken; sy hele natuur sou verdorwe word. Deur die botviering daarvan sou selfsug toeneem. Dus, om die liefde van God te verkry, sou hy sy groot eieliefde moes opgee.KE 528.1

    Christus het aan hierdie man 'n toets gestel. Hy het hom voor die keuse gestel tussen die hemelse skat en wêreldse grootheid. Die hemelse skat sou vir hom verseker wees as Hy Christus sou volg. Maar hy sou sy selfsug moet versaak, en sy wil aan Christus moet oorgee. Die heiligheid van God is aangebied aan hierdie jong owerste. Hy het die kans gehad om 'n seun van God te word, en 'n mede-erfgenaam met Christus van die hemelse skat. Maar dan sou hy die kruis moes opneem en die Heiland moes volg op die pad van selfverloëning.KE 528.2

    In werklikheid was Christus se woorde aan die owerste 'n uitnodiging, “Kies dan . . . vandag wie [jy] wil dien.” Josua 24: 15. Die keuse is aan hom oorgelaat. Jesus wou hom baie graag tot bekering bring. Hy het hom die verrotte plek in sy karakter gewys, en met die grootste belangstelling het hy gewag op die uitslag terwyl die jongman die vraag oorweeg het! As hy besluit om Christus te volg, sou hy Sy Woord moet gehoorsaam in alle dinge. Hy sou sy ambisieuse planne moes laat vaar. Met watter ernstige, angstige verlange, met watter sielshonger het die Heiland na die jongman gekyk, hopende dat hy sou gehoor gee aan die uitnodiging van die Gees van God!KE 528.3

    Christus het die enigste terme voorgestel wat die owerste sou plaas waar Hy 'n volmaakte Christelike karakter kon vorm. Sy woorde was woorde van wysheid, alhoewel hulle hard en veeleisend geklink het. Om hulle aan te neem en te gehoorsaam, was die owerste se enigste hoop op die saligheid. Sy hoë posisie en sy rykdom het 'n listige invloed ten kwade op sy karakter gehad. As hy aan daardie dinge sou vasklem, sou daar geen plek in sy hart vir God wees nie. Om bietjie of veel terug te hou van God, was om daardie dinge te behou wat sy sedelike krag en bekwaamheid sou verminder; want as mens die dinge van hierdie wêreld liefhet, hoe onseker en onwaardig hulle ook mag wees, sal hulle die hele mens in beslag neem.KE 528.4

    Die owerste was gou om te verstaan alles wat Christus se woorde van hom geverg het, en dit het hom hartseer gemaak. As hy maar die waarde van die aangebode gawe verstaan het, sou hy sonder aarseling een van Christus se volgelinge geword het. Hy was 'n lid van die geëerde raad van die Jode, en die Satan was besig om hom te vlei met die vooruitsigte van 'n heerlike toekoms. Hy wou die hemelse skat hê, maar hy wou ook die tydelike voordele geniet wat sy rykdom hom sou gee. Hy was jammer dat daar sulke voorwaardes was; hy het die ewige lewe begeer, maar hy was nie gewillig om die opoffering te maak nie. Die prys van die ewige lewe het vir hom te hoog geskyn, en hy het bedroef weggegaan, “want hy het baie besittings gehad.”KE 530.1

    Hy het homself bedrieg deur te dink dat hy die wet van God gehou het. Hy het getoon dat rykdom sy afgod was. Hy kon nie die gebooie van God hou terwyl die wêreld die eerste plek in sy hart gehad het nie. Hy het die gawes van God liefgehad meer as die Gewer. Christus het die jongman gemeenskap met Homself aangebied. “Volg My,” het Hy gesê. Maar die Heiland was nie van soveel waarde vir hom as sy eie naam onder die mense, of as sy besittings nie. Om sy aardse skatte op te gee wat hy kon sien, vir die hemelse skat wat nie gesien kan word nie, was 'n te groot risiko. Hy het die aanbod van die ewige lewe geweier, en het weggegaan, om vir altyd daarna die wêreld te dien. Duisende kom voor hierdie toets te staan, waar Christus opgeweeg word teen die wêreld, en vele kies die wêreld. Net soos die jong owerste gaan hulle van die Heiland weg en sê in hulle harte, Ek wil nie hierdie Man as leier hê nie.KE 530.2

    Christus se handeling met die jongman word voorgestel as 'n aanskouelike les. God het aan ons die maatstaf van gedrag gegee wat elkeen van Sy diensknegte moet navolg. Dit is gehoorsaamheid aan Sy wet; nie 'n bloot wettiese gehoorsaamheid nie, maar 'n gehoorsaamheid wat die lewe raak en uit die karakter blyk. God het Sy eie karakterpeil gestel vir almal wat onderdane van Sy koninkryk wil word. Alleen diegene wat medewerkers van Christus wil word, alleen diegene wat wil sê, Here, alles wat ek het en is, gee ek aan U, sal erken word as seuns en dogters van God. Almal behoort te oorweeg wat dit beteken om die hemel te begeer, en dan weg te gaan omdat hulle nie die voorwaardes wil aanneem nie. Dink aan wat dit beteken om “Nee” te sê vir Christus. Die owerste het gesê, Nee, ek kan U nie alles gee nie. Sê ons dit ook? Die Heiland bied aan om ons te help met die werk wat God ons gegee het om te doen. Hy bied aan om die middele te gebruik wat God ons gegee het, om Sy werk voort te sit in die wêreld! Alleen op hierdie wyse kan Hy ons red.KE 530.3

    Die besittings van die owerste is aan hom toevertrou sodat hy kon bewys of hy 'n getroue rentmeester is; hy moes die goed gebruik het tot seën van die behoeftiges. Dis ook met hierdie doel dat God vandag besittings en talente en kanse aan mense gee, sodat hulle Sy agente kan wees om die armes en ellendiges te help. Die persoon wat die gawes wat hy ontvang het, bestee volgens Gods plan, is 'n medewerker van Christus. Hy win siele vir Christus, omdat hy Sy karakter openbaar.KE 531.1

    Vir diegene wat soos die jong owerste verantwoordelike posisies beklee en baie besittings het, mag dit na 'n te groot opoffering lyk om alles op te gee om Christus te volg. Maar dit is die maatstaf vir almal wat Sy dissipels wil word. Niks behalwe gehoorsaamheid sal aangeneem word nie. Selfoorgawe is die kern van die leer van Christus. Dikwels word dit beveel in taal wat gebiedend lyk, want daar is geen ander manier om die mens te red nie as om hom te bevry van daardie dinge wat, as hy daaraan vasklem, sy sedelike ondergang sal bewerk.KE 531.2

    Wanneer Christus se navolgers aan die Here Sy eiendom teruggee, vergader hulle vir hulleself skatte wat aan hulle teruggegee sal word die dag wanneer hulle die woorde hoor, “Mooi so, goeie en getroue slaaf, . . . Gaan in in die vreuge van jou heer.” “Wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” Matt. 25: 23; Heb. 12: 2. Die vreugde om siele gered te sien, vir ewig gered, dit sal die loon wees van almal wat volg in die voetstappe van Hom wat gesê het, “Volg My.” KE 531.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents