Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Koning Van Die Eeue - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    In die Buitenste Voorhof

    EN daar was sommige Grieke onder die wat opgekom het om op die fees te aanbid — hulle het na Filippus gegaan wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra en gesê: Meneer, ons wil Jesus graag sien. Filippus kom en sê dit vir Andreas en Andreas en Filippus vertel dit weer aan Jesus.”KE 634.1

    In hierdie tyd het dit gelyk of Christus se werk 'n volslae mislukking was. Hy was oorwinnaar in die stryd met die priesters en Fariseërs, maar dit was duidelik dat hulle Hom nooit sou aanneem as die Messias nie. Die laaste skeiding was daar. Vir Sy dissipels het die saak hopeloos gelyk. Maar Christus het die voleindiging van Sy werk genader. Die groot gebeurtenis wat nie alleen die Joodse volk aangegaan het nie, maar die hele wêreld, sou eerlank plaasvind. Toe Christus die gretige versoek, “Ons wil Jesus graag sien,” hoor, het Hy daarin die geroep van 'n hongerige wêreld gehoor. Sy gelaat het gestraal, en Hy het gesê, “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” In die versoek van die Grieke het Hy 'n pand gesien van die resultaat van Sy groot offerande.KE 634.2

    Hierdie manne het uit die Weste gekom om die Verlosser te soek i aan die einde van Sy lewe, net soos die wyse manne uit die Ooste gekom het aan die begin. T-en tyde van Christus se geboorte was die Joodse volk so in beslag geneem deur hulle eie groot planne dat hulle nie geweet het van Sy koms nie. Die magiërs uit 'n heidense land het na die krip gekom met hulle gifte om die Verlosser te aanbid. So het die Grieke, wat die nasies en stamme en volke van die wêreld verteenwoordig het, gekom om Jesus te sien. So sal die mense van alle lande en alle eeue getrek word deur die Heiland se kruis. So sal baie kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in die koninkryk van die hemele. Matt. 8: 11KE 635.1

    Die Grieke het gehoor van Christus se triomfantlike intog in Jerusalem. Sommige het gemeen, en het ook gerugte versprei, dat Hy die priesters en owerstes uit die tempel gedryf het, en dat Hy die troon van Dawid sou bestyg om as koning van Israel te regeer. Die Grieke wou baie graag die waarheid weet met betrekking tot Sy sending. “Ons wil Jesus graag sien,” het hulle gesê. Daar is voldoen aan hulle begeerte. Toe die versoek aan Jesus gebring is, was Hy in daardie deel van die tempel waar almal, behalwe Jode, uitgesluit was, maar Hy het na die Grieke in die buitenste voorhof gegaan, en Hy het 'n persoonlike onderhoud met hulle gehad.KE 635.2

    Die uur van Christus se verheerliking het gekom. Hy het gestaan in die skaduwee van die kruis, en die navraag van die Grieke het aan Hom getoon dat die offer wat Hy op die punt gestaan het om te gee, baie seuns en dogters na God sou bring. Hy het geweet dat die Grieke Hom eerlank in 'n posisie sou sien wat hulle nie toe van gedroom het nie. Hulle sou Hom langs Barabbas, 'n rower en moordenaar, sien wat bo die Seun van God verkies sou word vir loslating. Hulle sou hoor hoe die mense, geïnspireer deur die priesters en owerstes, hulle keuse doen. En op die vraag: “Wat moet ek dan maak met Jesus wat genoem word Christus?” sou die antwoord kom, “Laat Hom gekruisig word!” Matt. 27: 22. Deur hierdie versoening vir die sondes van die mensheid te doen, het Christus geweet dat Sy koninkryk volmaak sou word en die hele wêreld sou beslaan. Hy sou werk as die Hersteller, en Sy Gees sou die oorwinning behaal. Vir 'n oomblik het Hy in die toekoms gekyk en gehoor hoe stemme in alle dele van die aarde verkondig, “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Joh. 1: 29. In hierdie vreemdelinge het Hy die pand van 'n groot oes gesien, wanneer die skeidsmuur tussen Jood en heiden afgebreek sou wees, en alle nasies en stamme en volke die boodskap van verlossing sou hoor. Hierdie vooruitsig, die verwesenliking van Sy hoop, is uitgedruk in Sy woorde, “Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word.” Maar die wyse waarop hierdie verheerliking sou geskied, was nooit uit Christus se gedagte nie. Die insameling van die heidene sou plaasvind na Sy aanstaande dood. Alleen deur Sy dood sou die wêreld gered kan word. Soos 'n koring- korrel moes die Seun van die mens in die grond gegooi word en sterf en onder die grond begrawe word; maar Hy sou weer lewe.KE 635.3

    Christus het Sy toekoms geopenbaar en dit geïllustreer deur die dinge van die natuur, sodat Sy dissipels dit kon verstaan. Die ware resultaat van Sy sending sou bereik word ná Sy dood. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” Wanneer die graankorrel in die grond val en sterwe, groei dit uit en dra dit vrugte. So sou die dood van Christus vrugte vir die koninkryk van God dra. Net soos in die geval van die planteryk, sou daar lewe kom uit Sy dood.KE 636.1

    Diegene wat die grond bewerk, sien gedurig hierdie illustrasie voor hulle. Jaar na jaar bewaar die mens sy voorraad graan deur oënskynlik die beste deel daarvan weg te gooi. Vir 'n tyd moet hy dit inploeg, onder die grond, om bewaar te word deur die Here. Daarna verskyn die halmpie, dan die aar, en later die korrels in die aar. Maar hierdie ontwikkeling kan nie plaasvind tensy die graan onder die grond begrawe, bedek en skynbaar verlore raak nie.KE 636.2

    Die saad wat in die grond begrawe word, bring die vrugte voort, en op sy beurt word daardie saad weer geplant. So word die oes vermenigvuldig. So ook sal die dood van Christus aan die kruis van Golgota vrugte voortbring tot die ewige lewe. Die oorpeinsing van hierdie offer sal die heerlikheid wees van diegene wat, soos die vrugte daarvan, deur die ewigheid sal lewe.KE 636.3

    Die graankorrel wat sy eie lewe bewaar, kan geen vrugte voortbring nie. Dit bly alleen. Christus kon, as Hy wou, Homself van die dood gered het. Maar as Hy dit gedoen het, sou Hy alleen gebly het; Hy sou geen seuns en dogters tot God kon bring nie. Alleen deur Sy lewe op te gee, sou Hy lewe aan die mensheid kon gee. Alleen deur in die grond te val en te sterf, sou Hy die saad kon word van daardie groot oes — daardie menigte uit alle nasies en stamme en tale en volke, verlos vir God.KE 636.4

    Met hierdie waarheid verbind Christus die les van selfopoffering wat almal behoort te leer: “Wie sy lewe lief het, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.” Almal wat graag vrugte wil voortbring as werkers saam met Christus, moet eers in die grond val en sterf. Die lewe moet gewerp word in die ploegvoor van die wêreld se behoefte. Eieliefde en eiebelang moet sterf. En die wet van selfopoffering is die wet van selfbehoud. Die landbouer bewaar sy graan deur dit weg te gooi. So is dit ook met die menslike lewe. Om te gee is om te lewe. Die lewe wat behou sal word, is die lewe wat vryelik gegee word in die diens van God en mens. Diegene wat om Christus ontwil hulle lewe in hierdie wêreld opoffer, sal dit bewaar tot die ewige lewe.KE 637.1

    Die lewe wat aan eiebelang bestee word, is soos die graan wat geëet word. Dit verdwyn, maar daar is geen vermeerdering nie. 'n Man mag alles wat hy kan vir homself insamel; hy mag lewe en dink en planne maak vir homself; maar sy lewe gaan verby, en hy het niks nie. Die wet van self-diens is die wet van selfvernietiging.KE 637.2

    “As iemand My dien,” het Jesus gesê, “laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal My dienaar ook wees; as iemand My dien, sal die Vader hom eer.” Almal wat saam met Jesus die kruis van opoffering gedra het, sal saam met Hom wees in Sy heerlikheid. In Sy vernedering en lyde was dit die vreugde van Christus dat Sy dissipels met Hom sou verheerlik word. Hulle is die vrugte van Sy opoffering. Die uitwerking in hulle van Sy eie karakter en gees is Sy loon, en dit sal Sy vreugde wees deur die ewigheid heen. Hierdie vreugde ondervind hulle saam met Hom wanneer hulle die vrugte van hulle arbeid en opoffering sien in ander harte en lewens. Hulle is medewerkers van Christus, en die Vader sal hulle eer soos Hy Sy Seun eer.KE 637.3

    Die versoek van die Grieke, wat 'n aanduiding was van die in- sameling van die heidene, het Jesus laat dink aan Sy hele sending. Hy het die werk van verlossing voor Hom gesien, van die tyd toe die plan in die hemel gemaak is, tot Sy dood wat nou ophande was. Dit het geskyn of 'n geheimsinnige wolk die Seun van God bedek het. Die somberheid daarvan is gevoel deur diegene naby Hom. Hy het diep in gedagte gesit. Eindelik is die stilte verbreek deur Sy droefgeestige stem, “Nou is My siel ontsteld, en wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur!” Reeds byvoorbaat was Christus besig om die bittere beker te drink. Sy mensheid het teruggedeins vir die uur van verlatenheid, wanneer Hy skynbaar ook selfs deur God verlate sou wees, en wanneer almal Hom sou sien, soos een geplaag, deur God geslaan en verdruk. Hy het teruggedeins vir die openbare skouspel, vir die behandeling as die grootste misdadiger, en vir die skanddood. 'n Voorbode van Sy stryd met die magte van die duisternis, 'n besef van die vreeslike skuld van die mens se oortreding, en die Vader se wraak weens die sonde, het die gees van Jesus laat verflou, en Sy gelaat was doodsbleek.KE 637.4

    Toe het die goddelike onderwerping aan die Vader se wil gekom. “Hierom het Ek in hierdie uur gekom,” het Hy gesê, “Vader, verheerlik U Naam!” Alleen deur die dood van Christus kon die Satan se koninkryk omver gewerp word. Op hierdie manier alleen kon die mens verlos, en God verheerlik word. Jesus het die lyde aanvaar; Hy was gewillig om die offer te gee. Die Majesteit van die hemel het ingestem om te ly as die Sondoffer. Hy het gesê, “Vader, verheerlik U Naam!” Toe Christus hierdie woorde spreek, het daar 'n antwoord gekom uit die wolk wat oor Sy hoof gesweef het: “Ek het dit verheerlik en Ek sal dit weer verheerlik.” Christus se hele lewe, van die krip tot die tyd dat hierdie woorde gespreek is, het God verheerlik; en in die aanstaande beproewing sou Sy godlik-menslike lyde inderwaarheid die Naam van Sy Vader verheerlik.KE 638.1

    Toe die stem gehoor is, het daar 'n lig uit die wolk geskiet en Christus omring, asof die arms van die Almagtige om Hom geslaan is soos 'n muur van vuur. Die mense het hierdie toneel met vrees en verbasing aanskou. Nie een het dit gewaag om te praat nie. Stil, en met gespanne aandag het die mense gestaan met hulle oë op Jesus gevestig. Nadat die getuienis van die Vader gekom het, het die wolk opgestyg en in die lug verdwyn. Vir die tyd was die sigbare kommunikasie tussen die Vader en die Seun beëindig.KE 638.2

    “En die skare wat daar staan en dit hoor, het gesê dat daar 'n donderslag gewees het. Ander het gesê: 'n Engel het met Hom gespreek.” Maar die Grieke wat gekom het om Jesus te sien, het die wolk gesien, die stem gehoor, verstaan wat daar gesê is, en Christus inderwaarheid gesien; aan hulle is Hy geopenbaar as die Een van God gestuur.KE 638.3

    Die stem van God is- gehoor by die doop van Jesus aan die begin van Sy bediening, en weer by die verheerliking op die berg. Nou, aan die einde van Sy bediening, is dit vir die derde maal gehoor, deur 'n groter aantal mense, en onder Sonderlinge omstandighede. Jesus het toe so pas die plegtigste waarheid geuiter betreffende die toestand van die Jode. Hy het Sy laaste oproep gedoen, en die vonnis oor hulle uitgespreek. Nou het God weer Sy seël gedruk op die werk van Sy Seun. Hy het die Een erken wat deur Israel verwerp is. “Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie,” het Jesus gesê, “maar om julle ontwil.” Dit was die beslissende bewys van Sy Messiasskap, die teken van die Vader dat Jesus die waarheid gespreek het, en dat Hy die Seun van God is.KE 639.1

    “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld,” het Christus voortgegaan; “nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek. En dit het Hy gesê om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.” Dit is die krisis van die wêreld. As Ek die versoening word vir die sondes van die mense, sal die wêeld verlig word. Die Satan se houvas op die siele van die mense sal verbreek wees. Die geskonde beeid van God sal herstel word in die mensdom, en 'n gesin van gelowige heiliges sal eindelik die hemelse tuiste beërf. Dit is die resultaat van Christus se dood. Die Heiland is verdiep in die toneel van oorwinning voor Hom. Hy sien die kruis, die wrede, skandelike kruis, met al sy meegaande verskrikking, skitterende in heerlikheid.KE 639.2

    Maar die verlossingswerk vir die mens is nie al wat deur die kruis teweeggebring word nie. Die liefde van God word aan die heelal geopenbaar. Die owerste van hierdie wêreld word uitgewerp. Die beskuldigings wat die Satan teen God ingebring het, is geloënstraf. Die verwyt wat hy teen die hemel gewerp het, is vir ewig verwyder. Engele sowel as mense is tot die Verlosser getrek. “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word,” het Hy gesê, “sal almal na My toe trek.”KE 639.3

    Daar was baie mense rondom Christus toe Hy hierdie woorde gespreek het, en een het gesê, “Ons het uit die wet gehoor dat die Christus tot in ewigheid bly; en hoe sê U dat die Seun van die mens moet verhoog word? Wie is hierdie Seun van die mens?” En Jesus sê vir hulle: “Nog 'n klein tydjie is die lig by julle. Wandel solank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie. Solank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees.”KE 639.4

    “En alhoewel Hy so baie tekens voor hulle gedoen het, het hulle nie in Hom geglo nie.” Eenmaal het hulle aan die Heiland gevra, “Watter teken doen U dan, sodat ons kan sien en U glo?” Joh. 6: 30. 'n Menigte tekens is gegee, maar hulle het hulle oë daarvoor gesluit en hulle harte verhard. Noudat die Vader self gespreek het, en hulle om geen verdere teken kon vra nie, het hulle nog geweier om te glo.KE 640.1

    “Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo. Maar terwille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.” Hulle het die lof van mense meer liefgehad as die goedkeuring van God. Om hulleself te red van verwyt en skande, het hulle Christus verloën en die aanbod van die ewige lewe verwerp. En hoeveel is daar wat deur die eeue sedert daardie tyd dieselfde gedoen het! Al die Heiland se woorde van waarskuwing is op hulle van toepassing: “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor.” “Wie My verwerp en My woorde nie aanneem nie,” het Jesus gesê, “het een wat hom oordeel; die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.” Joh. 12: 48.KE 640.2

    Wee diegene wat nie die gunstige tyd weet toe God hulle besoek het nie! Langsaam, en met droefheid het Christus vir ewig die tempel verlaat.KE 640.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents