Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Koning Van Die Eeue - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    By die Fontein van Jakob

    Op weg na Galilea het Jesus deur Samaria gereis. Dit was middag toe Hy die pragtige dal van Sigem bereik het. By die opening van hierdie dal was die fontein van Jakob. Moeg van Sy reis het Hy daar gaan sit om te rus terwyl Sy dissipels gaan voedsel koop het.KE 180.1

    Die Jode en die Samaritane was bitter vyande, en sover moontlik het hulle alle omgang met mekaar vermy. Om noodgedwonge met hulle handel te dryf het die rabbi's toegelaat as wettig, maar sosiale omgang met hulle is veroordeel, n Jood sou nooit iets van 'n Samaritaan leen, of 'n vriendskap aanneem—selfs nie 'n stukkie brood of 'n beker water nie. Waar die dissipels gaan voedsel koop het, het hulle gehandel ooreenkomstig die gebruike van hulle volk. Verder as dit sou hulle nie gaan nie. Om 'n guns van die Samaritane te vra, of om hulle op enige wyse te bevoordeel — dit het nooit by die dissipels opgekom nie.KE 180.2

    Toe Jesus daar by die fontein sit, was Hy baie moeg en honger en dors. Van die more af het hulle 'n lang ent gestap, en nou het die middagson Hom gebak. Sy dors het nog erger geword toe Hy dink aan die heerlike koel, verkwikkende water wat so naby was; maar Hy kon dit nie bykom nie, want Hy het nie 'n tou of kan gehad nie, en die put was diep. Soos enige ander mens was Hy afhanklik van iemand wat kom water put het.KE 180.3

    Daar het 'n Samaritaanse vrou gekom, en skaars bewus van Sy teenwoordigheid, het sy haar kan volgemaak. Toe sy wegdraai om te loop, het Jesus haar om 'n bietjie water gevra. So 'n guns sou geen Oosterling weier nie. In die Ooste is water genoem “die gawe van God.” Om water te gee aan 'n dorstige reisiger was 'n plig wat die Arabiere as so heilig beskou het dat hulle in die woestyn uit hulle pa sou gaan om dit na te kom. Die haat wat daar tussen Jode en Samaritane was, het die vrou belet om hierdie vriendelikheid aan Jesus te betoon; maar Jesus het gesoek na 'n sleutel om hierdie hart oop te sluit, en met takt, gebore uit goddelike liefde, het Hy n guns gevra, nie een aangebied nie. Die aanbod van 'n guns kon miskien van die hand gewys word, maar vertroue wek vertroue. Die Koning van die hemel het na hierdie verworpe siel gekom en 'n guns van haar gevra. Hy wat die oseaan gemaak het, wat die waters van die groot iepte beheers, wat die fonteine en waterkanale van die aarde geopen het, het gerus by die fontein van Jakob, en was afhanklik van die vriendelikheid van 'n vreemdeling vir 'n bietjie water.KE 181.1

    Die vrou het gesien dat Jesus 'n Jood was. In haar verbasing het sy vergeet om aan Sy versoek te voldoen, maar wou weet waarom Hy van haar die guns gevra het. “Hoe is dit,” het sy gevra, “dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is?”KE 181.2

    Jesus het geantwoord, “As jy die gawe van God geken het en wis wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” Jy is verbaas dat Ek van jou selfs so 'n klein gunsie soos 'n bietjie water vra van die fontein hier by ons voete. As jy My gevra het, sou Ek jou die water van die ewige lewe gegee het om te drink.KE 181.3

    Die vrou het nie die woorde van Christus begryp nie, maar sy het die gewigtige betekenis daarvan gevoel. Haar ligsinmgheid het begin verander. Menende dat Jesus van die fontein daar by hulle gepraat het, het sy gesê, “Here, U het nie eens 'n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie wat vir ons die put gegee het en self daaruit gedrink het?” Sy het voor haar slegs 'n dorstige reisiger gesien, moeg en vol stof. In haar hart het sy Hom vergelyk met die geeerde patriarg Jakob. Sy het die gevoel gekoester, en heeltemal natuurlik ook, dat geen ander fontein so goed was as die wat deur die aarts vaders gegee is nie. Sy het teruggekyk op die vaders, vooruit na die koms van die Messias, terwyl die Hoop van die vaders, die Messias self, langs haar was, en sy het Hom nie geken nie. Hoeveel dorstige siele is daar vandag wat naby die lewende fontein is, maar wat in die verte kyk na die fonteine van die lewe! “Moenie in jou hart sê nie. Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of. Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? . . . Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. . . . As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.” Rom. 10: 6-9.KE 181.4

    Jesus het nie dadelik die vraag oor Homself beantwoord nie, maar met groot erns het Hy gesê, “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.”KE 183.1

    Hy wat trag om sy dors te les by die fonteine van hierdie wêreld sal drink om net weer dors te kry. Orals is die mense onbevredig. Hulle verlang na iets wat sal voorsien in die behoeftes van die siel. Daar is net Een wat kan voorsien in daardie behoefte. Die behoefte van die wêreld, die Koning van die eeue, is Christus. Die goddelike genade wat Hy alleen kan meedeel, is soos lewende water wat die siel reinig, verkwik en versterk.KE 183.2

    Jesus het nie die idee gegee dat net eenmaal se drink van die water van die lewe genoeg sal wees vir die ontvanger nie. Hy wat die liefde van Christus gesmaak het, sal gedurig verlang na nog meer en meer, en hy sal na niks anders soek nie. Die rykdom, eer, en plesier van die wêreld sal hom nie aantrek nie. Die gedurige verlange van sy hart sal wees, Nog meer van U. En Hy wat aan die siel sy behoefte openbaar, is gereed om die honger en dors daarvan te les. Elke menslike bron sal faal. Die damme sal leeg word, en watergate opdroog; maar ons Verlosser is 'n onuitputlike Bron. Ons mag drink, en weer drink, en altyd 'n nuwe voorraad kry. Die een in wie Christus woon, het binne-in hom die bron van seën — “'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” Uit daardie bron kan hy krag en genade put genoeg vir al sy behoeftes.KE 183.3

    Toe Jesus gepraat het van die lewende water, het die vrou met die grootste belangstelling na Hom gekyk. Hy het haar belangstelling opgewek en 'n begeerte vir die gawe waarvan Hy gespreek het. Sy het besef dat dit nie die water was van Jakob se fontein waarvan Hy gepraat het nie, want daarvan het sy gedurig gedrink om maar net weer dors te word. “Here,” het sy gesê, “gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie.”KE 184.1

    Jesus het nou skiehk die gesprek verander. Voordat hierdie siel die gawe kon ontvang wat Hy wou gee, moes sy haar sonde besef en haar Verlosser sien. Hy het toe aan haar gesê: “Gaan roep jou man en kom hier.” Sy antwoord, “Ek het nie 'n man nie.” Sy het gehoop om op hierdie manier alle vrae in daardie rigting te verhoed. Maar die Heiland het voortgegaan, “Jy het reg gesê: Ek het nie 'n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie. Dit het jy met waarheid gesê.”KE 184.2

    Die vrou het gesidder. 'n Misterieuse hand was besig om die blaaie van haar lewensgeskiedenis om te blaai, en dinge te openbaar wat sy gehoop het om vir ewig bedek te hou. Wie was hierdie man wat die geheim van haar lewe kon lees? Sy het aan die ewigheid begin dink, aan die toekomstige oordeel wanneer alles wat nou bedek is, openbaar gemaak sal word. In die lig van daardie dinge is die gewete wakker gemaak.KE 184.3

    Sy kon niks ontken nie; maar sy het probeer om alles in verband met hierdie onwelkome onderwerp te ontduik. Met groot eerbied het sy gesê, “Here, ek sien dat U 'n profeet is.” En toe, hopende om die oortuiging wat in haar posgevat het, te smoor, het sy die gesprek verander en oor die godsdienstwis gepraat. As dit 'n profeet hierdie was, sou Hy haar seker kon inlig oor sake waaroor daar so lank reeds getwis word.KE 184.4

    Geduldig het Jesus haar toegelaat om die gesprek te stuur in die rigting wat sy verkies het. In die tussentyd het Hy op 'n kans gewag om die waarheid nogeens aan haar hart te bring. “Ons vaders het op hierdie berg aanbid,” het sy gesê, “en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is.” Net voor hulle was die berg Gerisim; die tempel daar het in puin gelê, en net die altaar alleen het gestaan. Hierdie plek van aanbidding was die onderwerp van 'n stryd tussen die Jode en die Samaritane. Sommige van die voorvaders van laas- genoemdes het eentyd aan Israel behoort; maar weens hulle sondes, het die Here toegelaat dat 'n afgodiese nasie hulle verower. Vir baie geslagte reeds is hulle vermeng met afgodedienaars wie se godsdiens geleidelik hulle s'n besoedel het. Dit is waar dat hulle aangevoer het dat hulle beeld maar net gebruik is om hulle aan die lewende God te herinner, die Regeerder van die heelal; maar nogtans het dit ten gevolge gehad dat die mense hulle beelde aanbid het.KE 184.5

    Toe die tempel te Jerusalem herbou is in die dae van Esra, wou die Samaritane baie graag die Jode help met die bouwerk. Hierdie voorreg is aan hulle geweier, en daar het 'n kwaai vyandskap ontstaan tussen die twee volke. Die Samaritane het hulle eie tempel gebou op die berg Gerisim. Daar het hulle aanbid volgens die rituaal van Moses, alhoewel hulle nie heeltemal die afgodediens opgegee het nie. Maar rampe het hulle getref; hulle tempel is deur hulle vyande verwoes, en dit het geskyn of 'n vloek op hulle gerus het; hulle het egter nog vasgeklem aan hulle tradisies en vorm van godsdiens. Hulle wou nie die tempel van Jerusalem erken as die huis van God nie, en ook nie dat die godsdiens van die Jode beter was as hulle eie nie.KE 185.1

    In antwoord het Jesus aan die vrou gesê: “Glo My daar kom n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode.” Jesus het getoon dat Hy vry was van die Joodse vooroordeel teenoor die Samaritane. Nou het Hy probeer om die Samaritaanse vooroordeel teenoor die Jode af te breek. Hoewel Hy verwys het na die feit dat die Samaritaanse godsdiens besoedel was met afgodery, het Hy verklaar dat die groot waarhede van die verlossing aan die Jode toevertrou was, en dat die Messias uit hulle sou kom. In die Heilige Skrifte het hulle 'n duidelike voorstelling van die karakter van God, en die beginsels van Sy regering. Jesus het Homself saam met die Jode geklassifiseer as die mense aan wie God 'n kennis van Homself geopenbaar het.KE 185.2

    Hy het probeer om die gedagtes van die vrou te verhef bokant vorms en seremonies, en geskilpunte. “Daar kom 'n uur,” het Hy gesê, “en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en in waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook sulke mense wat Hom aanbid. God is Gees; en diegene wat Hom aanbid, moet in Gees en waarheid aanbid.”KE 185.3

    Hier het ons dieselfde waarheid wat Jesus aan Nikodemus geopenbaar het toe Hy gesê het, “As iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Joh. 3: 3. Mense word nie in gemeenskap met God gebring deur te soek na 'n heilige berg of n heilige tempel nie. Godsdiens is nie beperk tot uiterlike vorms en seremonies nie. Die godsdiens wat van God kom, is die enigste godsdiens wat tot God sal lei. Om God op die regte manier te dien, moet ons gebore word uit die goddelike Gees. Dit sal die hart reinig en die verstand vernieu en 'n nuwe vermoë skenk om God te ken en lief te hê. Dit sal ons gewillig maak om al Sy vereistes te gehoorsaam. Dit is ware aanbidding. Dit is die vrug van die werking van die Heilige Gees. Elke opregte gebed is ingegee deur die Gees, en sulke gebede is aanneemlik vir God. Waar 'n siel ook al soek na God, daar sien ons die werking van die Gees, en God sal Hom aan daardie siel openbaar. God soek na sulke aanbidders. Hy wag om hulle te ontvang en hulle Sy seuns en dogters te maak.KE 186.1

    Terwyl die vrou met Jesus gepraat het, het sy onder die indruk gekom van Sy woorde. Nog nooit het sy sulke gedagtes gehoor van die priesters van haar eie volk of van die Jode nie. Waar haar verlede so aan haar geopenbaar is, het sy tot 'n besef gekom van haar groot behoefte. Sy het haar sielsdors besef wat die waters van die put van Sigar nooit kon bevredig nie. Niks wat sy tevore in aanraking mee gekom het, het haar haar hoër behoeftes so laat besef nie. Jesus het haar oortuig dat Hy die geheime van haar lewe kon lees, en nogtans het sy gevoel dat Hy haar vriend was wat vir haar jammer is en haar liefhet. Hoewel die reinheid van Sy teenwoordigheid haar sonde veroordeel het, het Hy geen woord van veroordeling gespreek nie, maar haar vertel van Sy genade wat haar siel kon vernieu. Sy het Sy karakter begin verstaan, en die vraag het by haar opgekom: Is dit nie miskien die langverwagte Messias nie? Sy het aan Hom gesê: “Ek weet dat die Messias kom—Hy wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig.” Jesus het geantwoord, “Dit is Ek wat met jou spreek.”KE 186.2

    Toe die vrou hierdie woorde hoor, het geloof in haar hart ontstaan. Sy het die wonderbare verklaring van die lippe van die goddelike Leraar aangeneem.KE 186.3

    Hierdie vrou was in 'n waarderende gemoedstemming. Sy was gereed om die heerlike openbaring aan te neem, want sy het belang gestel in die Skrifte, en die Heilige Gees het haar hart berei om meer lig te ontvang. Sy was bekend met die Ou Testamentiese belofte, “n Profeet onder jou uit, uit jou broers, soos ek is, sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister.” Deut. 18: 15. Sy het verlang om hierdie profesie te verstaan. Daar het reeds lig in haar hart geflits. Die water van die lewe, die geestelike lewe wat Christus gee aan elke dorstige siel, het in haar hart begin opspring. Die Gees van die Here het in haar gewerk.KE 187.1

    Die duidelike verklaring wat Christus aan hierdie vrou gemaak het, kon nie aan die eiegeregtige Jode gemaak word nie. Christus was baie meer teruggetrokke wanneer hy met hulle gepraat het. Die dinge wat van die Jode teruggehou is, en wat die dissipels later beveel is om geheim te hou, is aan haar geopenbaar. Jesus het gesien dat sy haar kennis sou gebruik om ander te bring om ook in Sy genade te deel.KE 187.2

    Toe die dissipels teruggekom het, was hulle verbaas om te sien dat hulle Meester besig was om met die vrou te praat. Hy het nie die water gedrink wat Hy gevra het, of van die voedsel geëet wat Sy dissipels gebring het nie. Toe die vrou weg was, het Sy dissipels Hom gevra om te eet. Hulle het gemerk dat Hy stil was, asof Hy verdiep was in Sy gedagtes. Sy gesig het gestraal, en hulle wou nie Sy gemeenskap met die hemel verbreek nie. Maar hulle het geweet dat Hy afgemat was, en gemeen dat dit hulle plig was om Hom te herinner aan Sy liggaamlike behoeftes. Jesus het hulle vriendelike belangstelling opgemerk, en Hy het gesê, “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie.”KE 187.3

    Die dissipels het gewonder wie vir Hom kos kon gebring het, maar Hy het verduidelik, “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en Sy werk te volbring.” Joh. 4: 34. Namate Sy woorde die gewete van die vrou wakker gemaak het, het Jesus Hom verheug. Hy het gesien hoedat sy drink van die water van die lewe, en Sy honger en dors is bevredig. Die doen van die werk waarvoor Hy van die hemel gekom het, het die Heiland versterk vir Sy taak, en Hom verhef bokant die menslike behoeftes. Om 'n siel te bedien wat hongerig en dorstig is vir die waarheid, het Hom meer behaag as eet en drink. Dit was 'n vertroosting, 'n verkwikking vir Hom. Om te seën was die lewe van Sy siel. KE 187.4

    Ons Verlosser dors na erkenning. Hy smag na die medelyde en liefde van diegene wat Hy met Sy eie bloed gekoop het. Hy verlang met 'n onuitspreeklike verlange dat hulle na Hom toe moet kom en die lewe moet aanneem. Net soos 'n moeder uitsien na die erkentlike glimlag van haar kindjie, wat ook die teken is van die begin van intelligensie, so wag Christus op die openbaring van waarderende liefde wat toon dat geestelike lewe in die siel begin het.KE 188.1

    Waar sy na Christus se woorde geluister het, is die vrou met vreugde vervul. Die wonderbare openbaring het haar byna oorweldig Sy het haar waterkan daar gelaat en na die dorp teruggekeer om die boodskap aan ander te bring. Jesus het geweet waarom sy daar weg is. Die feit dat sy haar waterkan laat staan het, was bewys van die indruk wat Sy woorde gemaak het. Dit was die begeerte van haar siel om die lewende water te verkry; sy het vergeet waarvoor sy na die fontein gekom het, en sy het die Heiland se dors vergeet wat sy graag wou les. Met 'n hart wat oorloop van blydskap is sy haastig daar weg om die heerlike lig wat Sy ontvang het aan ander mee te deel.KE 188.2

    “Kom kyk, 'n man wat my vertel het alles wat ek gedoen het,” het sy gesê aan die mense van die dorpie. “Is Hy nie miskien die Christus nie?” Haar woorde het hulle harte aangeraak. Daar was 'n nuwe uitdrukking op haar gelaat, en haar hele voorkomste het verander. Hulle wou ook vir Jesus sien. “Hulle het toe uit die stad gegaan en na Hom gekom.”KE 188.3

    Terwyl Jesus nog daar by die fontein gesit het, het Hy oor die graanlande gekyk wat daar voor Hom uitgestrek het, die groen, verlig deur die goue sonstrale. Hy het Sy dissipels se aandag daarop gevestig en dit as simbool gebruik: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.” En terwyl hy gepraat het, het Hy gekyk na die groepe wat na die fontein toe aangekom het. Dit was vier maande voordat die graan geoes kon word, maar hier was 'n oes wat heeltemal gereed was vir die snyers.KE 188.4

    “Hy wat maai,” het Hy gesê, “ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees. Want hierin is die woord waar: Dit is een wat saai, en 'n ander een wat maai.” Hier het Christus gewys op die heilige plig wat diegene wat die evangelie ontvang, aan God verskuldig is. Hulle moet Sy lewende werktuie wees. Hy verlang hulle persoonlike diens. En of ons saai of maai, ons werk vir God. Die een saai die saad; 'n ander oes dit in, en beide die saaier cn die maaier ontvang loon. Hulle verbly hulle 'saam in die loon op hulle werk.KE 188.5

    Jesus het aan Sy dissipels gesê, “Ek het julle gestuur om te maai waaraan julle nie gewerk het nie. Ander het gewerk, en julle het in hulle arbeid ingegaan.” Die Heiland het hier vooruit gesien op die groot insameling op Pinksterdag. Die dissipels moes dit nie beskou as die gevolge van hulle eie pogings nie. Hulle was besig om die vrugte te pluk van ander se arbeid. Van die sondeval van Adam af het Christus die saad van Sy woord aan Sy uitverkore diensknegte toevertrou om te saai in menslike harte. En 'n onsigbare werktuig, een wat almagtig is, het stil maar doelmatig gewerk oen die oes te produseer.KE 189.1

    Die dou en reent en sonskyn van Gods genade is gegee om die saad van die waarheid te voed en te verkwik. Christus sou eerlank die saad met Sy eie bloed benat. Dit was 'n voorreg vir Sy dissipels om saam met God te werk. Hulle was medewerkers van Christus en met die heilige manne van ouds. Deur die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster, het duisende in een dag tot bekering gekom. Dit was die gevolg van die saad wat Christus gesaai het, die oes op Sy werk. In die woorde wat tot die vrou gespreek is by die fontein, is daar goeie saad gesaai, en hoe gou was daar 'n oes. Die Samaritane het gekom en Jesus gehoor, en in Hom geglo. Hulle het hulle om Hom geskaar by die fontein en Hom bestook met vrae; hulle het gretig Sy verduidelikings aangeneem van baie dinge wat hulle eers nie verstaan het nie. Namate hulle geluister het, het hulle moeilikhede verdwyn. Hulle was soos mense in groot duisternis wat n ligstraal opgevolg het totdat hulle in die daglig gekom het. Maar hulle was nie tevrede met hierdie kort samespreking nie. Hulle wou baie graag meer weet, en ook dat hulle vriende hierdie wonderbare Leraar moes hoor. Hulle het Hom uitgenooi na hulle stad, en Hom gesoebat om by hulle te bly. Vir twee dae het Hy in Samaria vertoef, en baie meer het in Hom geglo.KE 189.2

    Die Fariseërs het die eenvoud van Jesus verag. Hulle het Sy wonderwerke geïgnoreer, en om 'n teken gevra dat Hy die Seun van God was. Maar die Samaritane het geen teken gevra nie, en Jesus het geen wonderwerke onder hulle gedoen nie, behalwe om aan die vrou die geheime van haar lewe te openbaar daar by die fontein. Nogtans het vele Hom aangeneem. In hulle nuwe vreugde het hulle aan die vrou gesê, “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Verlosser van die wêreld is.”KE 189.3

    Die Samaritane het geglo dat die Messias sou kom as die verlosser, nie van die Jode alleen nie, maar van die wêreld. Die Heilige Gees het deur Moses Sy koms voorspel, as 'n profeet van God gestuur. Deur Jakob is verklaar dat die volk tot Hom vergader sou word, en deur Abraham dat al die nasies van die aarde in Hom geseën sou wees. Op hierdie skrifgedeeltes het die Samaritane hulle geloof in die Messias gebaseer. Die feit dat die Jode die later profete verkeerd vertolk het en die heerlikheid van die tweede koms toegepas het op die eerste, het die Samaritane daartoe gedryf om al die geskrifte te verwerp behalwe die wat deur Moses gegee is. Maar waar die Heiland hierdie verkeerde verklarings weggeveeg het, het vele die latere profesieë aangeneem, en ook die woorde van Christus self aangaande die koninkryk van God.KE 190.1

    Jesus het begin om die skeidsmuur af te breek tussen Jood en heiden, en om verlossing aan die wêreld te verkondig. Alhoewel Hy n Jood was, het Hy vryelik omgegaan met die Samaritane, en die Farisese gebruike van Sy volk ter syde gestel. Ten spyte van hulle vooroordeel het Hy die gasvryheid van hierdie veragte volk aangeneem. Hy het in hulle huise geslaap, aan hulle tafels geëet—voedsel wat deur hulle hande berei is; Hy het in hulle strate geleer en hulle met die grootste vriendelikheid en hoflikheid bejeën.KE 190.2

    By die tempel van Jerusalem het 'n laer muur die voorhof van al die ander dele van die heilige gebou geskei. Op hierdie muur is daar opskrifte aangebring in verskillende tale, wat gelui het dat alleen Jode oor daardie grens kon gaan. As 'n heiden hom sou aangematig het om na die binneste dele te gaan, sou hy die tempel veront- heilig en dit sou sy lewe gekos het. Maar Jesus, in wie die tempel en sy dienste sy oorsprong gehad het, het die heidene tot Hom getrek met bande van menslike medelyde, terwyl Sy goddelike genade aan hulle die saligheid gebring wat die Jode verwerp het.KE 190.3

    Die verblyf van Jesus in Samaria was bedoel om 'n seën té wees vir Sy dissipels wat nog onder die invloed van Joodse bekrompenheid verkeer het. Hulle het gevoel dat trou aan hulle eie volk dit geverg het dat hulle vyandig moet wees teenoor die Samaritane. Hulle was verbaas oor die gedrag van Jesus. Hulle kon nie weier om Sy voorbeeld te volg nie, en gedurende die twee dae in Samaria, het getrouheid aan Hom hulle vooroordeel onder beheer gehou, maar in hulle harte was hulle onversoenlik. Hulle was stadig om te leer dat hulle veragting en haat plek moes maak vir ontferming en medelyde. Maar ná die Here se hemelvaart, het Sy lesse tot hulle teruggekom met nuwe betekenis. Ná die uitstorting van die Heilige Gees het hulle teruggedink aan die uitdrukking op die Heiland se gelaat, Sy woorde, die respek en sagmoedigheid wat Hy getoon het teenoor daardie veragte vreemdelinge. Toe Petrus in Samaria gaan preek het, het hy dieselfde gees getoon in sy werk. Toe Johannes geroep is na Efese en Smirna, het hy onthou wat by Sigem gebeur het, en hy was vervul met dankbaarheid aan die goddelike Leraar, wat die moeilikhede waarvoor hulle te staan sou kom, voorsien het, en hulle die hulp van Sy eie voorbeeld gegee het.KE 190.4

    Die Heiland doen vandag nog dieselfde werk as toe Hy die water van die lewe aangebied het aan die vrou van Samaria. Diegene wat hulleself Sy navolgers noem, mag die uitvaagsels verag en vermy; maar geen omstandigheid van geboorte of ras, geen lewenstoestand, kan Sy liefde afwend van die mensekinders nie. Aan elke siel, hoe sondig ook, sê Jesus, As julle dit van My vra, sal Ek julle die water van die lewe gee.KE 191.1

    Die evangelie-uitnodiging moet nie beperk word tot, en gegee word aan 'n paar uitverkorenes, wat soos ons meen, ons sal vereer as hulle dit aanneem nie. Die boodskap moet aan almal verkondig word. Waar daar oop harte is wat die waarheid sal aanneem, is Christus gereed om hulle te leer. Hy openbaar die Vader aan hulle, en die soort godsdiens wat aanneemlik is vir Hom wat die hart lees. Vir sulkes gebruik Hy geen gelykenisse nie. Aan hulle, net soos aan die vrou by die fontein, sê hy, “Dit is Ek wat met jou spreek.”KE 191.2

    Toe Jesus gaan sit en rus het by die fontein van Jakob, het Hy van Judea gekom, waar Sy bediening min vrugte afgewerp het. Hy is deur die priesters en rabbi's verwerp, en selfs diegene wat bely het om Sy dissipels te wees, het nie Sy goddelike karakter bespeur nie. Hy was moeg en afgemat, maar Hy het nie die kans laat verbygaan nie om met een vrou te praat, alhoewel sy 'n vreemdeling was, vervreemd van Israel, en lewende in die sonde.KE 191.3

    Die Heiland het nie gewag op 'n gehoor nie. Dikwels het Hy begin leer met net 'n paar mense rondom Hom, maar een vir een het die verbygangers gaan staan en luister totdat 'n skare, verwonderd en met ontsag, die woorde van God gehoor het deur die Leraar uit die hemel. Die werker vir Christus moenie voel dat hy nie met dieselfde erns kan spreek tot 'n paar hoorders as tot 'n groot gehoor nie. Daar mag net een wees om die boodskap te hoor, maar wie kan sê hoe verreikend die invloed sal wees? Selfs vir die dissipels van Christus het dit onbelangrik gelyk dat die Heiland Sy tyd sou bestee aan 'n vrou van Samaria. Maar Hy het met meer erns en welsprekendheid tot haar gespreek as tot konings, raadslede, of hoëpriesters. Die lesse wat Hy.aan daardie vrou gegee het, is oor die hele aarde verkondig.KE 192.1

    Sodra sy die Heiland gevind het, het die Samaritaanse vrou ander tot Hom gebring. Sy het bewys dat sy 'n baie beter sendeling was as Sy eie dissipels. Die dissipels het niks in Samaria gesien wat dit kon aandui as 'n bemoedigende sendingveld nie. Hulle het gedink aan 'n groot werk wat in die toekoms gedoen moet word. Hulle het nie gesien dat daar rondom hulle 'n oes was om in te samel nie. Maar deur die vrou wat hulle verag het, is 'n hele stadsbevolking gebring om die Heiland te hoor. Sy het dadelik die lig na haar volksgenote geneem.KE 192.2

    In hierdie vrou het ons 'n voorstelling van die werking van 'n praktiese geloof in Christus. Elke ware dissipel is in die koninkryk van God gebore as 'n sendeling. Die een wat van die lewende water drink, word 'n fontein van die lewe. Die ontvanger word 'n gewer. Die genade van Christus in die siel is soos 'n fontein in die woestyn, wat opspring om almal te verkwik, en wat diegene wat op die punt staan om te versmag gretig maak om van die water van die lewe te drink.KE 192.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents