Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 6: Geloof en Aanneming

    DAAR U gewete deur die Heilige Gees wakker gemaak is, het u tot 'n sekere mate die boosheid van die sonde, die skuld en die ellende daarvan besef, en u verafsku dit. U voel dat die sonde u van God geskei het en dat u 'n slaaf in die mag van die bose is. Hoe meer u worstel om te ontvlug, hoe meer besef u u magteloosheid. U beweegredes is onrein; u hart is besoedel. U sien dat u lewe vol selfsug en sonde is. U verlang na vergifnis, reiniging en vryheid. Ooreenstemming met God, gelykvormigheid aan Hom — hoe sal u dit verkry?LVB 44.1

    Dit is vrede wat u nodig het — die vergifnis van die hemel en vrede en liefde in u siel. Geld kan dit nie koop nie, geleerdheid kan dit nie verkry nie, wysheid kan dit nie bereik nie; u kan nooit hoop om dit deur u eie pogings of inspanning te verkry nie. Maar God bied dit vir u aan as 'n gawe, “sonder geld en sonder prys.” Jes. 55: 1.LVB 44.2

    Dit is uwe as u maar net u hand sal uitsteek en dit neem. Die Here sê: “Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Jes. 1: 18. “Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee.” Eseg. 36: 26.LVB 45.1

    U het u sondes bely en dit in u hart versaak. U het besluit om uself aan God oor te gee. Gaan nou na Hom toe en vra Hom om u te reinig van u sondes en u 'n nuwe hart te gee. Glo dat Hy dit gedoen het omdat Hy belowe het om dit te doen. Dit is die les wat Jesus ons geleer het toe Hy op die aarde was, naamlik dat ons moet glo dat ons die gawe ontvang het wat God belowe het, en dit sal ons s’n wees. Jesus het die mense van hulle siektes genees toe hulle in Sy krag geglo het; Hy het hulle gehelp in die sigbare dinge en dus hulle geloof aangewakker in die dinge wat hulle nie kon sien nie; en dit het hulle gelei om te glo in Sy mag om sonde te vergewe. Hy het dit uitdruklik gesê toe Hy die lam man gesond gemaak het: “Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe” het Hy aan die lam man gesê, “Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.” Matt. 9: 6. Waar Johannes van die wonderwerke van Christus praat, sê hy: “Hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in Sy Naam.” Joh. 20: 31.LVB 45.2

    Uit die eenvoudige Bybelse verhaal hoedat Jesus die siekes gesond gemaak het, leer ons hoe om in Hom te geloof vir die vergifnis van sonde. Laat ons let op die verhaal van die genesing van die lam man van Betesda. Hy was hulpeloos; vir agt-endertig jaar het hy nie geloop nie, en nogtans gebied Jesus hom: “Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.” Die siek man kon gesê het, “Here, as U my eers gesond maak, dan sal ek U bevel gehoorsaam.” Maar nee, hy het Christus se woord geglo, hy het geglo dat hy gesond was, en hy het dadelik probeer om te loop; hy het sy wilskrag beoefen, en hy het geloop, Hy het op die woord van Christus gehandel, en God het hom die krag gegee. Hy is gesond gemaak.LVB 45.3

    U is ewe-eens 'n sondaar. U kan nie versoening doen oor u sondes van die verlede nie; u kan u hart nie verander of uself heilig maak nie. Maar God belowe om dit alles vir u te doen deur Christus. U glo daardie belofte; u bely u sondes, en u gee uself oor aan God. U span u wilskrag in om Hom te dien. Net so gewis as u dit doen, sal God Sy woord aan u gestand doen. As u die belofte aanneem — glo dat u vergewe en gereinig is — sal God dit vir u waarmaak; u word gesond net soos die lam man aan wie Christus krag gegee het om te loop toe hy geglo het dat hy gesond gemaak is. Dit is so as u dit glo.LVB 46.1

    Moenie wag om te voel dat u gesond is nie, maar sê, “Ek glo dit; dit is so, nie omdat ek dit voel nie, maar omdat God dit belowe het.”LVB 46.2

    Die Here Jesus sê: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit ontvang, en julle sal dit verkry.” Markus 11: 24. Daar is 'n voorwaarde aan hierdie belofte verbonde, naamlik dat ons volgens die wil van God moet bid. Maar dit is die wil van God om ons van die sonde te reinig, om ons Sy kinders te maak en om ons in staat te stel om 'n heilige lewe te lei. Ons vra dus om hierdie seëninge, ons glo dat ons hulle ontvang, en dank die Here ons verkry hulle ook werklik. Dit is ons voorreg om na Jesus te gaan vir reiniging, en om voor die wet te staan sonder skaamte of verwyt. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Rom. 8: 1.LVB 46.3

    Voortaan behoort u nie meer aan uself nie; want u is duur gekoop. “Julle is nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop nie, maar deur die kosbare bloed van Christus soos van 'n Lam sonder gebrek en vlekkeloos.” 1 Pet. 1: 18, 19. Deur hierdie eenvoudige geloofsdaad het die Heilige Gees 'n nuwe lewe in u hart verwek. U is nou 'n kind van God, en Hy het u lief net soos Hy Sy Seun liefhet.LVB 46.4

    As u uself eenmaal aan die Here gegee het, moet dan nie weer terugtrek nie; moet Hom nie weer verlaat nie, maar sê elke dag: “Ek behoort aan Christus; ek het myself aan Hom gegee”; en vra Hom om Sy Gees aan u te gee en om u deur Sy genade te bewaar. Dit is wanneer u uself aan God oorgee en in Hom glo, dat u Sy kind word; en so moet u ook in Hom lewe. Die apostel sê: “Aangesien julle dan Christus Jesus die Here aangeneem het, wandel in Hom.” Kol. 2: 6.LVB 47.1

    Sommige meen dat hulle 'n proeftyd moet deurmaak en bewys moet lewer dat hulle wel hervorm het, voordat hulle die seen van God kan toeëien. Maar hulle kan dadelik aanspraak maak op die seen van die Here. Hulle moet Sy genade hê — die Gees van Christus — om hulle in hulle swakheid te help, of hulle sal die bose nooit kan weerstaan nie. Jesus wil graag he dat ons na Hom toe moet kom net soos ons is, vol sonde, hulpeloos en afhanklik. Ons mag kom met al ons swakhede, dwaashede, en sondigheid en aan Sy voete neerval. Dit is vir Hom die grootste genot om Sy arms van liefde om ons te slaan, ons wonde te verbind en ons van alle onreinheid te reinig.LVB 47.2

    Dis juis hier waar duisende skipbreuk ly: Hulle glo nie dat Jesus hulle persoonlik vergewe nie. Hulle neem Hom nie op Sy woord nie. Dit is die voorreg van almal wat die voorwaardes nakom, om die versekering te hê dat elke sonde uit vrye genade vergewe is. Verwerp die gedagte dat Gods beloftes nie ook vir u geld nie; hulle is gegee aan elke boetvaardige sondaar. Daar is in Christus krag en genade vir elke gelowige, en dienende engele sal dit aan hulle bring. Niemand is te sondig om krag en reinheid en geregtigheid te vind in Jesus wat vir hulle gesterf het nie. Hy wag om hulle besoedelde klere uit te trek, en hulle te beklee met die wit klere van geregtigheid; Hy beveel hulle om te lewe en nie te sterf nie.LVB 47.3

    God handel nie met ons soos sterflinge met mekaar handel nie. Sy gedagtes teenoor ons is gedagtes van genade, liefde en die teerste ontferming. Hy sê: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Jes. 55: 7. “Ek delg jou oortredinge uit soos 'n newel en jou sondes soos 'n wolk.” Jes. 44: 22.LVB 48.1

    “Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe me, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe.” Ezeg. 18: 32. Satan staan gereed om die geseënde versekerings van God van ons weg te neem. Hy wil alle hoop en lig aan die siel ontneem; maar u moet hom nie toelaat om dit te doen nie. Moenie na die versoeker luister nie, maar sê: “Jesus het gesterwe sodat ek kan lewe. Hy het my lief en wil nie hê dat ek verlore moet gaan nie. Ek het 'n ontfermende hemelse Vader; en ofskoon ek Sy liefde misbruik het, en alhoewel ek die seëninge wat Hy aan my gegee het, verwaarloos het, sal ek nogtans opstaan en tot my Vader gaan en aan Hom sê: ‘Ek het gesondig teen die hemel en voor U en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my as een van U huurlinge.’” Die gelykenis vertel hoe die swerwer ontvang is. “Toe hy nog ver weg was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.” Lukas 15: 18-20.LVB 48.2

    Maar selfs hierdie gelykenis, aandoenlik soos dit is, slaag nie daarin om die oneindige ontferming van die Vader uit te druk nie. Deur Sy profeet sê die Here: “Ek het jou liefgehad met 'n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid” Jer. 31: 3. Terwyl die sondaar nog ver van die Vader se huis af is, en sy goed in 'n vreemde land deurbring, verlang die Vader se hart na hom. Elke verlange in die hart van die sondaar is slegs die tere smeekstem van Sy Gees, wat die swerwer smeek en met liefde trek om terug te keer.LVB 48.3

    Kan u nog twyfel, in weerwil van die heerlike beloftes van die Bybel? Kan u glo dat die Here die sondaar wat graag wil terugkom en wat verlang om sy sonde te versaak, op 'n wrede manier sal belet om in ootmoed aan Sy voete neer te val? Weg met sulke gedagtes! Niks kan u siel meer kwaad doen as om so oor God te dink nie. Hy haat die sonde, maar Hy het die sondaar lief, en in Christus het Hy Homself gegee, sodat almal wat wil, gered kan word en in Sy heerlike koninkryk ingaan. Kan daar sterker en liefderyker taal gebruik word om Sy liefde vir ons uit te druk? Hy vra: “Kan ook 'n vrou haar suigeling vergeet dat sy haar nie sal ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal ek jou nie vergeet nie.” Jes. 49: 15.LVB 49.1

    Hef u oë op, u wat twyfel en vreesagtig is; want Jesus leef om vir ons in te tree. Dank God vir die gawe van Sy geliefde Seun, en bid dat Hy nie tevergeefs vir u mag gesterf het nie. Die Gees roep u vandag. Kom met u hele hart na Jesus en vra om Sy seen.LVB 49.2

    Waar u hierdie beloftes lees, onthou dat hulle die uitdrukking is van onuitspreeklike liefde en ontferming. Die oneindige liefde van God gaan met onbegrensde ontferming uit tot sondaars. “In Hom het ons die verlossing deur Sy bloed, die vergifnis van die misdade.” Efe. 1: 7. Glo net dat God u helper is. Hy wil Sy beeld in die mens herstel. Waar u in bekering en belydenis tot Hom kom, sal Hy in genade neerbuig en u vergifnis skenk.LVB 49.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents