Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    HOOFSTUK DERTIG—“DIE SKYN VAN DIE KWAAD”

    (Deel V, bls. 591-603.)

    EK voel gedwonge om ‘n boodskap te stuur aan diegene wat besig is om die laaste waarskuwing te gee aan die wêreld. Of diegene vir wie hulle arbei die waarheid sal sien en aanneem hang grotendeels af van die werkers self. Die goddelike bevel lui: “Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here!” en Paulus vermaan Timotheus as volg: “Let op jouself en op die leer.” Die werk moet by die werker begin; hy moet in Christus wees soos die loot in die wynstok. “Ek is die wynstok, julle die lote,” het Christus gesê. Hier is daar sprake van die nouste verbintenis. Die bladlose loot, op die wynstok ingeënt, word ‘n lewende loot wat sap en voedsel trek uit die wynstok. Vesel vir vesel is die loot verbind aan die wynstok; dit bloei en bot en dra vrugte. Die droë loot stel die sondaar voor. Maar wanneer die sondaar met Christus verbind is — die swakke en die nietige met die heilige en die ewige, word hy een met Christus. “Sonder My,” het Christus gesê, “kan julle niks doen nie.” Is ons, wat voorgee om werkers van Christus te wees, met Hom verbind? Bly ons in Hom en is ons een met Hom? Die boodskap wat ons dra is ‘n wêreldwye boodskap; dit moet verkondig word aan alle nasies en geslagte en tale. Die Here sal nie een van ons stuur om die boodskap te verkondig, sonder om ons genade en krag te gee om dit aan die mense voor te stel volgens die belangrikheid daarvan nie. Die groot vraag waarvoor ons vandag te staan kom is: Verkondig ons hierdie plegtige boodskap aan die wêreld sodat diegene wat dit hoor onder die indruk kom van die belangrikheid daarvan? Die Here sal deur die arbeiders werk wat geheelenal op Christus vertrou. Dit was nooit Sy doel dat Sy sendelinge sonder Sy genade en sonder Sy krag sou werk nie.UG1 198.1

    Christus het ons uit die wêreld geroep sodat ons Sy eie heilige volk kan wees. Hy het Homself vir ons gegee “om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Hom ‘n volk as Sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.” Gods werkers moet manne van gebed wees, ywerige ondersoekers van die Skrifte, manne wat dors na geregtigheid sodat hulle ‘n lig en sterkte kan wees vir ander. Onse God is ‘n jaloerse God; Hy wil hê dat ons Hom in gees en in waarheid sal dien en in die sieraad van heiligheid. Die psalmdigier sê: “As ek ongeregtigheid bedoel het in my hart, dan sou die Here my nie gehoor het nie.” As werkers, moet ons op ons weë let. As die psalmdigter nie verhoor kon word omdat hy ongeregtigheid in sy hart bedoel het nie, hoe kan die gebede van mense dan vandag verhoor word as hulle ongeregtigheid in hulle hart bedoel?UG1 199.1

    Na die tyd in 1844 verbygegaan het, het daar fanatisme in die geledere van die Adventiste ontstaan. God het waarskuwende boodskappe gestuur teen hierdie euwel. Sommige mans en vrouens was te intiem. Ek het die heilige peil wat ons behoort te bereik aan hulle voorgestel, asook die reinheid van wandel wat daar onder ons behoort te wees, sodat ons die goedkeuring van God kan wegdra en sonder vlek of rimpel of gebrek voor Hom kan wees. Die manne en vroue wat onreine gedagtes gekoester het terwyl hulle voorgegee het om die spesiale guns van God te geniet, is op plegtige wyse bestraf; maar die boodskap wat God gestuur het, was verag en verwerp. Hulle het my toegesnou: “Spreek God alleen deur jou en nie deur ons ook nie?” Hulle het hulle nie verbeter nie, en die Here het hulle toegelaat om voort te gaan totdat hulle lewens besoedel was.UG1 199.2

    Ons is selfs nie vandag buite gevaar nie. Elkeen wat besig is om die boodskap van waarskuwing aan die wêreld te verkondig, sal heftig versoek word om ‘n weg in te slaan wat sy geloof sal verloën. Satan lê hom daarop toe om die werkers swak te maak in gebed, kragteloos en sonder invloed, omdat daar gebreke is in hulle karakter. Ons, as werkers, behoort alles in ons omgang met mekaar te verafsku wat enige skyn van kwaad het. Ons geloof is heilig; dis ons werk om die eer van Gods wet te handhaaf, en nooit moet dit van so ‘n aard wees dat dit ander in gedagte en dade sal verlaag nie.UG1 199.3

    Ons behoort op ‘n hoë platvorm te staan. Ons moet die waarheid soos dit in Jesus is, glo en leer. As ons harte rein is, sal ons nooit onreine dade doen nie. As ‘n leraar van die waarheid geneig is tot die geselskap van jong dames, of selfs getroude vrouens, en as hy hulle vrypostig aanraak en op ‘n vrypostige manier met hulle praat, wees dan bang vir hom; die rein beginsels van die waarheid is nie in sy hart nie. Sulke persone is nie in Christus nie, en Christus is nie in hulle nie. Hulle het ‘n grondige bekering nodig voordat God hulle sal aanneem as werkers. Die waarheid wat uit die hemel is, verlang nooit diegene wat dit aanneem en maak hulle nooit onnodig vrypostig nie; inteendeel heilig dit die gelowiges, dit verfyn hulle smaak, verhef en veredel hulle, en bring hulle in noue verbintenis met Christus. Hulle moet agslaan op die vermaning van die apostel Paulus om alle skyn van die kwaad te vermy, sodat daar van “die goeie wat aan hulle behoort, nie kwaad gespreek word nie.”UG1 200.1

    Dit is ‘n onderwerp waaraan ons almal ons aandag behoort te skenk. Ons moet waak teen die sondes van hierdie bedorwe eeu. Ons moet ver bly van alles wat ‘n neiging het tot vrypostigheid. Die Here veroordeel dit. Dit is verbode grond waarop dit gevaarlik is om ons te begeef. Al ons woorde en dade behoort verfynd, verheffend en veredelend te wees. Daar skuil sonde in onbedagsaamheid in hierdie saak. Die apostel Paulus het Timotheus aangemaan tot ywer en deeglikheid in sy bediening, en hy het by hom aangedring om die dinge wat rein en heilig is te oorpeins, sodat almal sy goeie werke kan sien. Die jongmanne van hierdie tyd het groot behoefte aan dieselfde raad. Bedagsaamheid is onontbeerlik. As die mense maar net bedagsamer wou wees en minder voortvarend, sou hulle baie groter sukses met hulle werk hê. Ons is besig met dinge van oneindige belang, en ons kannie bekostig om die swakhede van ons karakters met ons werk saam te weef nie. Ons moet die karakter van Christus voorstel.UG1 200.2

    Ons het ‘n groot werk om te doen om mense op te hef en hulle tot Christus te win en te lei sodat hulle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat hulle ontvlug het die verdorwenheid wat deur die begeerlikheid in die wêreld is. Elke gedagte, woord en daad van die werkers behoort van daardie verhewe karakter te wees wat in ooreenstemming is met die heilige waarheid wat hulle verkondig. Dit mag wees dat manne en vroue noodwendig sal moet saamwerk in ons sendingvelde. As dit die geval is, kan hulle nie te versigtig wees nie. Die getroude mans moet baie versigtig wees sodat daar niks teen hulle gesê kan word nie. Ons lewe in baie sondige tye, en ‘n onbedagsame woord of onbehoorlike gedrag mag groot skade berokken aan die een wat hierdie swakhede aan die dag lê. Die werkers moet terughoudend wees; hulle moet oppas vir selfs een geval waaruit die vyand kan munt slaan. As hulle meer van die een begin hou as die ander, spesiale gunste bewys en vleitaal gebruik, sal die Here Sy Gees onttrek.UG1 201.1

    Waar getroude mans die werk opneem en hulle vrouens en kinders tuis agterlaat, doen die vrou en moeler wat agter bly net so ‘n belangrike werk as die eggenoot en vader. Die moeder se werk is plegtig en belangrik, naamlik om die karakters van haar kinders te vorm, om hulle op te lei vir bruikbaarheid hier op aarde, en hulle te berei vir die toekomstige ewige lewe. Die man daar in die sendingveld mag die lof van mense wegdra, terwyl die vrou tuis geen lof vir haar werk ontvang nie; maar as sy in die beste belange van haar kinders werk en trag om hulle karakters te vorm volgens die goddelike ewebeeld, sal die engel wat die aantekeninge maak haar naam opskryf as een van die grootste sendelinge op aarde. Die Here sien sake anders as die nietige mens. Hoe versigtig behoort die eggenoot en vader te wees om getrou te wees aan sy huweliksbeloftes. Hoe versigtig behoort sy gedrag te wees sodat hy nie miskien gedagtes by jong meisies of selfs getroude vrouens gaande maak wat nie in ooreenstemming met die hoë peil, naamlik die gebooie van God is nie. Christus het aangetoon dat die gebooie baie wyd is en dat hulle selfs deurdring tot die gedagtes en bedoelings van die hart. Hier is dit waar baie mank gaan. Hulle gedagtes is nie rein en heilig soos God verwag nie; hoe hoog hulle roeping en hoe skitterend hulle talente ook mag wees, sal die Here hulle sonde nie oor die hoof sien nie, en in Sy oog is hulle skuldiger en verdien hulle groter straf as diegene met minder talente, lig en invloed.UG1 201.2

    Dit grief my wanneer ek sien dat manne geprys en gevlei word. Die Here het aan my getoon dat sommige van diegene wat hierdie attensies geniet nie waardig is om Sy naam op hulle lippe te neem nie; maar in die oë van nietige mense wat maar net die uiterlike kan sien, word hulle hemelhoog geprys. My susters julle moet nooit arme, feilbare mense prys en vlei nie, of hulle oud of jonk, getroud of ongetroud is. Julle ken nie hulle swakhede nie, en julle kan nooit weet of hierdie attensies en vleitaal nie nog hulle ondergang sal bewerk nie. Ek is verontrus oor die kortsigtigheid en die gebrek aan wysheid wat sommige in hierdie opsig aan die dag lê.UG1 202.1

    Diegene wat met Gods werk besig is en wat Christus in hulle harte het, sal nie op sedelike gebied die peil verlaag nie, maar sal steeds trag om dit te verhoog. Hulle sal geen behae skep in die vleitaal of liefkosings van vrouens nie. Laat beide getroude en ongetroude mans sê: “Hou julle hande tuis! ek sal nooit toelaat dat van die goeie wat aan my behoort kwaad gepraat word nie. My goeie naam is ver meer werd as goud of silwer. Help my om dit onbesmet te bewaar. As my goeie naam besoedel word, sal dit nie wees omdat ek aanleiding daartoe gegee het nie, maar dit sal om dieselfde rede wees dat hulle kwaad gespreek het van Christus, naamlik, omdat hulle die reinheid en heiligheid van Sy karakter gehaat het, want dit was ‘n gedurige bestraffing vir hulle.”UG1 202.2

    Ek wens dat ek elke werker onder die indruk kon bring van die behoefte wat daar is aan onophoudelike, vurige gebed. Hulle kan natuurlik nie altyd op hulle knieë wees nie, maar hulle kan hulle harte steeds ophef tot God. Dit is op hierdie manier dat Henog met God gewandel het. Pas op dat selfgenoegsaamheid nie inkom en Jesus uitdryf nie, en u in u eie krag werk in plaas van in die gees en krag van die Meester nie. Moenie kosbare tyd met ydele praatjies verkwis nie. Moenie uself prys as u sendingwerk gedoen het nie, maar verhef Jesus, verhef die kruis van Golgota. Laat niemand toe om jou te prys en te vlei nie, en laat niemand toe om jou hand vas te hou asof sy dit nie graag weer wil los nie. Wees op jou hoede vir sulke demonstrasies. As jongmense of selfs getroude mense hulle geheime aan jou begin openbaar, pas op! As dit vir jou skyn dat hulle graag jou medelyde wil opwek, dan is dit hoog tyd om versigtig te wees. Diegene wat die Gees van Christus het en wat met God wandel, sal geen onheilige begeerte hê vir medelyde nie. Hulle het geselskap wat hulle in alle opsigte sal tevrede stel. Getroude mans wat die lof en liefkosings van vrouens aanneem, kan daarvan verseker wees dat die liefde en medelyde van hierdie soort vrouens niks werd is nie.UG1 202.3

    Maar te dikwels is vrouens die versoeksters. Op die een of ander voorwendsel soek hulle om getroude en ongetroude mans te trek totdat hulle eindelik die wet van God oortree, onbruikbaar vir die werk van God is en hulle siele in die grootste gevaar is. Die geskiedenis van Josef is opgeteken vir die lering van almal wat soos hy in versoeking gelei is. Wat beginsel betref het was hy so onwrikbaar as ‘n rots, en hy het die versoekster geantwoord: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” Sedelike krag soos die van Josef is vandag nodig. As die vrouens maar net op ‘n hoër peil wou lewe en saam met Christus wou werk, sou daar minder gevaar van hulle kant kom; maar met die onverskilligheid wat hulle huislike pligte betref en die aanspraak wat God op hulle dienste het, oefen hulle dikwels ‘n sterk invloed uit in die verkeerde rigting, hulle kragte word nie ontwikkel nie, en hulle werk dra nie die goddelike merkteken nie. Hulle is nie buurtsendingwerksters nie, en ook is hulle nie buitelandse sendelinge nie; en dikwels ook verwaarloos hulle hulle huise.UG1 203.1

    Laat elkeen wat bely om ‘n navolger van Christus te wees, trag om alles te oorwin wat nie manlik is nie, en alles wat sleg en dwaas is. Sommige manne was nooit op tot die voile gestalte van Christus nie. Hulle is kinderagtig en selfsugtig. Nederige vroomheid sal al hierdie dinge uit die weg ruim. Reine godsdiens het geen plek vir kinderagtige selfsug nie. Dit is eerlik in die grootste mate. Laat dan nie een wat ingeskryf is as ‘n gesant van Christus flou word in die dag van beproewing nie. Almal behoort te besef dat hulle ernstige werk het om te doen vir die opheffing van hulle medemens. Nie een het die reg om te rus in die stryd om die deug te handhaaf en die sonde te haat nie. In hierdie lewe is daar geen vakansie vir die lewende Christen nie. Gehoorsaamheid aan die gebooie van God beteken om reg te doen en gedurig reg te doen. Dit is Christelike manlikheid. Baie behoort die lewe van Christus te bestudeer, wat die owerste Leidsman van ons geloof is. “Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in julle siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.” Julle moet vooruitgang toon in die Christelike deugde. Deur sagmoedig te wees onder prowokasie, en deur wêreldsgesindheid te versaak, lewer u bewys daarvan dat die Heiland in u hart woon; elke gedagte, woord en daad sal mense tot Jesus trek liewer as tot self. Daar is ‘n groot werk om te doen, en maar baie min tyd om dit in te doen. Lê u daarop toe om almal onder die indruk te bring dat hulle ‘n werk het om te doen vir Christus. Aanvaar u pligte en voer hulle getrou uit.UG1 204.1

    Die sedelike peil word nie hoog genoeg gestel onder Gods volk nie. Baie wat voorgee dat hulle Gods gebooie bewaar, oortree self die gebooie. Die versoekings kom op so ‘n listige wyse dat diegene wat versoek is, meen dat hulle ‘n ekskuus het om die wet te oortree. Diegene wat na die sendingvelde gaan, behoort manne en vroue te wees wat met God wandel en met Hom gemeenskap het. Diegene wat in die kansel staan behoort manne te wees van onbesproke karakter; hulle lewens behoort rein te wees. Moenie u goeie naam in gevaar bring deur in die weg van versoeking te wandel nie. As ‘n vrou u hand ‘n bietjie te lank vashou, moet u dit dadelik onttrek en haar bewaar van die sonde. As ‘n vrou ‘n bietjie te lieftallig is en by u kla dat haar man haar nie liefhet nie, moenie met haar simpatiseer en in hierdie behoefte voorsien nie. Die veiligste weg in sulke gevalle is om u medelye vir uself te hou. Daar is baie gevalle soos hierdie. Wys sulke siele op die Een wat alle laste dra en wat hulle van die beste raad sal bedien. As hulle Christus gekies het, sal Hy hulle genade skenk om hulle laste te dra sonder om te kla; en in die tussentyd behoort hulle alles in hulle vermoë te doen om hulle mans tot hulle te trek deur volstrekte getrouheid, en deur die huis netjies en aantreklik te maak. As al hulle pogings ongewaardeer en tevergeefs is, kan hulle staat maak op die medelyde en hulp van hulle Verlosser. Hy sal hulle help om al hulle laste te dra, en Hy sal hulle vertroos in al hulle teleurstellings. Dit is ‘n blyk van ongeloof in Jesus as hulle gaan hulp soek by die vleeslike arm. Deur te mor, sondig hulle teen God. Dit sou hulle goed doen om hulle eie harte te ondersoek om te sien of daar nie miskien sonde skuil nie. Persone wat die medelyde van mense soek en ongeoorloofde attensies aanneem, is nie sonder skuld nie.UG1 204.2

    In die Bybel het ons baie voorbeelde van die groot invloed van bose vrouens. Toe Bileam versoek is om Israel te vloek, is hy nie toegelaat om dit te doen nie; want “daar is geen towery in Jakob of waarsêery in Israel nie.” Maar Bileam wat alreeds toegegee het aan die versoeking, het nou ‘n volslae handlanger van Satan geword, en hy het besluit om op ‘n onregstreekse wyse te doen wat God hom nie wou toelaat om op ‘n regstreekse wyse te doen nie. Hy het ‘n listige strik vir Israel gestel waardeur hulle deur die beeldskone vroue van Moab in versoeking gelei sou word om die wet van God te oortree. Op hierdie manier sou hulle sondig sodat Gods seën nie langer op hulle kon rus nie. Hulle sou baie verswak word en hulle vyande sou hulle nie langer vrees nie, omdat die teenwoordigheid van die Here nie langer met hulle leers was nie.UG1 205.1

    Hierdie voorval is bedoel as ‘n waarskuwing vir die volk van God wat in hierdie laaste dae lewe. As hulle geregtigheid en ware heiligheid sou najaag, en as hulle al Gods gebooie bewaar, sou Satan en sy trawante nie toegelaat word om hulle te oorwin nie. Die teenstand van hulle bitterste vyande sal tevergeefs wees om die wingerd wat God geplant het, uit te roei of te vernietig. Satan verstaan wat Bileam uit bittere ondervinding moes leer, naamlik dat daar geen “towery in Jakob of waarsêery in Israel is” solank hulle nie die ongeregtigheid in hulle harte koester nie; daarom bestee hy al sy krag en invloed om hulle reine karakters te besoedel en hulle eenheid te verstoor. Op ‘n duisend maniere stel hy sy strikke om hulle krag ten goede te verswak.UG1 206.1

    Nogeens wil ek nadruk lê op die noodsaaklikheid van reinheid van gedagtes, woorde en dade. Ons is persoonlik verantwoordelik aan God, en ons het ‘n persoonlike werk wat niemand anders vir ons kan doen nie, en dit is: om die wêreld deur ons handel en wandel ‘n beter plek te maak. Hoewel ons gesellig moet wees, moet dit nie net vir vermaak wees nie, maar ons moet ‘n bepaalde doel daarmee hê. Daar is siele om te red. Ons behoort persoonlik naby hulle te kom. Maak u deur oop vir jongmanne wat aan versoeking blootgestel is. Die sonde wenk hulle van alle kante. Probeer om hulle belangstelling op te wek. As hulle vol foute is, probeer dan om te help om die foute te oorwin. Moet uself nie afsydig hou nie, maar kom naby hulle. Nooi hulle na u huise toe, en laat hulle die huisgodsdiens bywoon. Duisende het behoefte aan bearbeiding. Elke boom in die tuin van Satan is belaai met aanloklike vrugte, en ‘n wee word uitgespreek op elkeen wat van daardie vrugte plek en eet. Laat ons onthou dat God van ons verwag dat ons die pad na die hemel aantreklik sal maak, sodat ons siele kan win weg van die listige en verderflike strikke van Satan.UG1 206.2

    God het aan ons verstand gegee om tot voordeel te gebruik. Ons is hier as leerlinge vir die lewe hiernamaals. Die tyd is te plegtig vir ons om onverskillig te wees. Ons omgang met ander moet gekenmerk wees deur hemelsgesindheid en nugterheid. Ons gesprekke behoort oor hemelse dinge te wees. “Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor Sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en Sy Naam eer. En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man met sy seun wat hom dien, medelyde het.”UG1 207.1

    Daar is nie ‘n beter onderwerp om die gedagte mee besig te hou as die verlossingsplan nie. Dit is ‘n onderwerp wat onuitputlik is. Die liefde van Jesus, die verlossing wat daar vir die gevalle mens is as gevolg van die oneindige liefde, heiligheid, die kosbare, reddende waarheid vir hierdie laaste dae, die genade van Christus — dit is onderwerpe wat die hart besiel en wat die reines ‘n voorsmaak gee van die vreugde wat die dissipels gesmaak het toe Jesus saam met hulle gewandel het soos in die geval van die Emmausgangers. Diegene wie se harte op Christus is, geniet hierdie heilige gemeenskap en hulle put krag daaruit; maar diegene wat nie van sulke gemeenskap hou nie en wat graag soetsappige onsin praat, het ver afgedwaal van God, en hulle is dood wat heilige en edele strewe betref. Hulle beskou vleeslike, aardse dinge as verhewe. As die geselskap van ‘n ligsinnige aard is en die vrouens wat daar teenwoordig is ontevredenheid uitspreek en daar ‘n hunkering is na menslike lof en simpatie, dan is dit die gevolg van sentimentele soetsappigheid, en nog jongmense nog grysaards is veilig in sulke geselskap. As die waarheid van God in die hart is, sal dit soos ‘n bron van lewende water wees. Pogings om dit te smoor, sal dit net op ‘n ander plek laat uitbreek; dit is daar en kannie onderdruk word nie; dit verkwik diegene wat afgemat is en dit verdring alle onreine gedagtes.UG1 207.2

    Vind daar nie genoeg dinge rondom ons plaas om ons onder ‘n besef te bring van die gevare op ons pad nie? Orals sien ons menslike wrakke, verwaarloosde huisaltare, verbroke gesinne. Daar is ‘n vreemde versaking van beginsels, ‘n verlaging van die sedelike peil; die sondes wat die oordele van God op Sodom gebring het, neem vinnig toe. Ons is baie naby die einde. Hoewel God lankmoedig is met die halsstarrige mensheid, is hulle straf nietemin gewis. Laat diegene wat voorgee om die lig van die wêreld te wees, alle sonde versaak. Daar word vandag dieselfde gees teen die waarheid geopenbaar as in die dae van Christus. As hulle nie argumente teen die waarheid in die Bybel kan kry nie, sal diegene wat Gods wet tot niet wil maak vals dinge fabriseer om die karakter van die werkers swart te smeer. Hulle het dit aan die Verlosser van die wêreld gedoen; hulle sal dit ook aan Sy navolgers doen. Rapporte wat op onwaarhede berus, sal as die waarheid rugbaar gemaak word.UG1 208.1

    Die Here het die volk wat Sy gebooie bewaar, geseën, en al die teenstand en valse gerugte sal diegene wat onwrikbaar stan vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is, maar net versterk. Maar as diegene wat voorgee om bewaarders te wees van die wet, self die wet oortree, sal hulle nie meer die beskerming van God geniet nie, en baie sal as gevolg van hulle koppigheid en wellus tot ‘n val kom. Dan sal ons nie langer voor ons vyande kan staan nie. Maar as Sy volk hulle afgesonderd hou van die wêreld, soos ‘n volk wat die geregtigheid doen, sal die Here hulle beskutting wees en geen wapens teen hulle sal geluk nie.UG1 208.2

    Sal ons nie, met die oog op die gevare van ons tyd, as die bewaarders van Gods gebooie alle sonde en ongeregtigheid en halsstarrigheid versaak nie? Sal die vrouens wat voorgee om die waarheid te glo, hulleself nie in toom hou, sodat hulle nie onnodige aanleiding gee tot vrypostigheid nie? As hulle ten alle tye terughoudend sou wees en let op hulle gedrag, sou hulle menige deur tot ver-soeking sluit. Laat die mans Josef as hulle voorbeeld neem en onwrikbaar staan al is die versoeking ook hoe heftig. Ons behoort sterk manne en vroue te wees vir die reg. Daar is diegene rondom ons wat op sedelike gebied swak is. Hulle behoort in die geselskap te wees van diegene wat sterk is en wat dig aan die hart van Christus is. Elkeen sal beproef word. Maar daar is diegene wat sommer blindelings in die versoeking gaan; hulle vra as ‘t ware die vyand om hulle te versoek. Hulle bedwing hulleself nie, hulle sedelike kragte word verswak en die gevolg is skande en sonde.UG1 208.3

    Hoe veragtelik in die oë van die Here is diegene wat voorgee om Sy wet te bewaar maar dit tog oortree! Hulle bring skande op die werk van die Here en versterk die hande van die vyande daarvan. Nooit moet die merk wat die navolgers van Jesus onderskei van die navolgers van Satan, uitgewis word nie. God het self die skeidslyn getrek tussen die kerk en die wêreld en tussen diegene wat Sy wet bewaar en diegene wat dit oortree. Die twee kannie met mekaar versoen word nie. Hulle verskil soos dag en nag — hulle smaak, hulle strewe, hulle werk, hulle lewensdoel en hulle karakters is anders. As ons die liefde en die vrees van die Here koester, sal ons alles verafsku wat onrein is.UG1 209.1

    Mag die Here siele na Hom toe trek en hulle onder ‘n besef bring van hulle heilige plig om sulke karakters te vorm sodat Christus nie sal skaam wees om hulle broeders te noem nie. Verhoog die peil, en dan, in daardie dag wanneer elkeen sal vergeld word volgens sy dade, sal die seën van die Here op u uitgespreek word.UG1 209.2

    Die werkers van God moet lewe asof hulle gedurig in Sy teenwoordigheid is, en hulle moet gedurig opwas in die Christelike deugde en ware godsvrug. Hulle verstand en harte moet so vol wees van die Gees van Christus, en so geheilig deur die plegtige boodskap wat hulle dra, dat elke gedagte, woord en daad verhef sal wees bokant die vleeslike en die aardse. Hulle sal nie hulle geluk soek in verbode, selfsugtige dinge nie, maar in Jesus en Sy liefde.UG1 209.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents