Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    HOOFSTUK VIER-EN-DERTIG—DIE SEËL VAN GOD

    (Deel V, bls. 207-216.)

    “DAARNA het Hy hardop voor my ore geroep en gesê: Kom nader, geregsdienaars van die stad, en elkeen met sy verwoestende wapen in sy hand. . . . En hy het na die man geroep wat met linne bekleed was, wat die skrywer se inkpot aan sy heupe gehad het. En die Here sê vir hom: Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem en maak ‘n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word. Maar vir die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongdogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by My heiligdom. En hulle het begin by die ou manne wat voor die huis was.” Eseg. 9: 1-6.UG1 232.1

    Jesus staan op die punt om die versoendeksel van die hemelse heiligdom te verlaat, om die klere van wraak aan te trek en Sy grimmigheid uit te stort op diegene aan wie die lig van God gegee is, maar wat dit verwerp het. “Omdat die oordeel oor ‘n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen.” In stede dat hulle versag word deur die geduld en lankmoedigheid van God teenoor hulle, versterk diegene wat God nie vrees en die waarheid nie liefhet hulle harte om die kwaad te doen. Maar daar kom ‘n einde selfs aan die lankmoedigheid van God, en vele oorskry die perke van Gods geduld. Hulle het die grense van Gods genade oorskry, en daarom is God genoodsaak om in te gryp en Sy eie eer te handhaaf.UG1 232.2

    Van die Amoriete het die Here gesê: “En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.” Hoewel hierdie volk weens sy afgodery en verdorwenheid groot sondaars was, was die beker van sy ongeregtigheid nog nie vol nie, en die Here wou nie toelaat dat hulle heeltemal uitgeroei moet word nie. Hierdie volk moes nog getuie wees van die openbaring van die goddelike krag op ‘n spesiale wyse, sodat hulle sonder enige verskoning kon wees. Die lankmoedige Skepper was gewillig om hulle ongeregtigheid te gedoog tot selfs die vierde geslag, en as daar dan geen verbetering sou wees, sou Sy oordeel oor hulle voltrek word.UG1 232.3

    Met stipte noukeurigheid hou die Ewige God boek van die doen en late van alle volke. Terwyl Hy Sy genade aanbied deur hulle toe bekering te roep, word hulle rekening nie afgesluit nie, maar as die syfers die juiste bedrag wat God vasgestel het, aantoon, dan word Sy grimmigheid uitgestort. Die rekening word dan vereffen. Die goddelike langmoedigheid het tot ‘n einde gekom. Die genade van God smeek hulle nie meer nie. Die profeet het hierdie tyd in ‘n gesig gesien. Die volke wat in hierdie eeu lewe, het ongeëwenaarde blyke van Gods genade geniet. Die beste van die hemelse gawes is aan hulle gegee, maar toenemende hoogmoed, gierigheid, afgodediens, minagting van God, en snode ondankbaarheid staan op hulle rekening. Hulle is vinnig besig om hulle rekening by God af te sluit.UG1 233.1

    Maar wat my laat sidder is die feit dat diegene wat die meeste lig en voorregte gehad het, ook besoedel is met die heersende sondes. Beïnvloed deur die onregverdiges rondom hulle, het baie, selfs van diegene wat voorgee om die waarheid te glo, koud geword en hulle word met die stroom meegevoer. Die algemene veragting wat daar heers vir vroomheid en heiligheid, beweeg baie wat nie in die Here lewe nie om hulle eerbied vir Sy wet te verloor. As hulle van harte die lig sou aanneem en die waarheid sou gehoorsaam, sou die wet van God wat so verag word nog dierbaarder in hulle oë wees. Namate die veragting van Gods wet meer en meer gesien word, sal die skeidslyn tussen wêreldlinge en diegene wat die gebooie bewaar nog duideliker word. Namate die een klas die wet al meer en meer verag, neem die liefde van die ander klas daarvoor toe.UG1 233.2

    Die krisis nader vinnig. Die toename van die sonde is bewys dat die grimmigheid van God naby is om te kom. Hoewel God nie graag iemand straf nie, sal Hy nogtans die boosdoeners straf en dit gou ook. Diegene wat in die lig wandel sal die tekens van die aanstaande benoudheid sien; maar hulle moenie stil sit, onverskillig oor die komende verwoesting en hulle troos met die gedagte dat God Sy volk sal beskut die dag as Hy die aarde besoek nie. Hulle moet besef dat dit hulle plig is om ernstig te arbei vir die redding van ander, en dat hulle in geloof op God moet vertrou om hulp. “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.”UG1 234.1

    Die suurdeeg van godsvrug het nog nie heeltemal sy krag verloor nie. Op die tyd wanneer die gevaar van die kerk die grootste is, sal die klein klompie wat in die lig is, ween en sug weens die gruwels van die land. Maar veral sal hulle bid vir die kerk omdat die lede daarvan wêreldsgesind geword het.UG1 234.2

    Die vurige gebede van die paar getroues sal nie tevergeefs wees nie. As die Here verskyn om wraak te neem, sal Hy ook al diegene beskerm wat die geloof in sy reinheid bewaar, en hulle vlekkeloos bewaar het van die wêreld. Dit is in hierdie tyd wat God beloof het om reg te doen aan Sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval.UG1 234.3

    Die goddelike bevel is: “Trek dwarsdeur die stad, dwarsdeur Jerusalem en maak ‘n teken op die voorhoofde van die manne wat sug en steun oor al die gruwels wat daarin gedoen word.” Hierdie sugtendes het die woord van die lewe verkondig; hulle het bestraf, gesmeek en gewaarsku. Sommige van die wat God onteer het, het tot bekering gekom en hulle harte voor Hom verootmoedig. Maar die heerlikheid van die Here het nie meer op Israel geskyn nie; hoewel sommige nog aan die uiterlike vorm van die godsdiens vasgehou het, was die krag van God nie meer daarin nie.UG1 234.4

    In die tyd wanneer Sy grimmigheid uitgestort word, sal hierdie nederige, getroue navolgers van Christus uitgeken word van die res van die wêreld deur hulle sieleangs, wat geopenbaar word in wening, waarskuwings en vermanings. Terwyl sommige die heersende euwels met ‘n mantel wil bedek, en die ongeregtigheid wat orals heers, wil verskoon, sal diegene wat ‘n ywer vir die eer van God en ‘n liefde vir siele het, nie swyg om die guns van mense te win nie. Hulle regverdige siele word dag en nag verontwaardig as gevolg van die onheilige praatjies en dade van die onregverdiges. Hulle is magteloos om die stroom van ongeregtigheid te keer, en daarom is hulle met vrees en droefheid vervul. Hulle treur voor God om te sien hoedat die godsdiens verag word, selfs in die huise van diegene wat groot lig gehad het. Hulle ween en verootmoedig hulle siele weens die hoogmoed, gierigheid, selfsug, en bedrog wat in die kerk is. Die Gees van God, deur wie die vermanings gegee word, word onder die voete vertrap, terwyl die diensknegte van Satan triomfeer. God word onteer, en die waarheid word kragteloos gemaak.UG1 235.1

    Die klas wat nie bedroef is oor hulle eie geestelike powerheid nie, en wat nie oor die sondes van ander treur nie, sal sonder die seël van God gelaat word. Aan Sy diensknegte — die manne met die verwoestende wapens, gee die Here die volgende bevel: “Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongdogters, en kinders en vroue tot vemietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by My heiligdom. En hulle het begin by die ou manne wat voor die huis was.”UG1 235.2

    Hier sien ons dat die kerk, die heiligdom van die Here, eerste deur die grimmigheid van God getref is. Die ou manne — hulle aan wie God groot lig gegee het en wat as wagters oor die geestelike belange van die volk gestaan het, is ontrou bevind. Hulle het die stelling ingeneem dat ons wonderwerke en spesiale openbarings van Gods krag sou sien, soos in die outyd. Maar die tye het verander. Hierdie woorde het hulle ongeloof versterk, en hulle het gesê: die Here sal geen goed doen nie, maar ook sal Hy geen kwaad doen nie. Hy is te genadig om die oordeel op Sy volk te voltrek. Dus is vrede en veiligheid die geroep van die manne wat nooit weer hulle stemme sou verhef om die volk van God te wys op hulle sondes en die huis van Jakob op hulle ongeregtighede nie. Hierdie stomme honde wat nie wou blaf nie, is diegene wat die regverdige grimmigheid van ‘n verontwaardigde God sal voel. Mans, jongdogters en kinders, almal tesame kom om.UG1 235.3

    Die gruwels waaroor die getroues ween en sug was maar die sondes wat die menslike oog kon sien, maar die veel erger sondes — die sondes wat die troon van ‘n heilige God opgewek het, is nie geopenbaar nie. Die Een wat die harte ken, weet van al die sondes wat in die geheim gepleeg word deur die bewerkers van die ongeregtigheid. Hierdie mense voel later veilig in hulle bedrieërye, en omdat die Here langmoedig is, sê hulle dat die Here nie sien nie, en hulle handel asof die Here die aarde verlaat het. Maar Hy sal hulle geveinsdheid ontdek, en die sondes wat hulle so sorgvuldig bedek het, sal Hy in die openbaar bring.UG1 236.1

    Rang, waardigheid, wêreldse wysheid en posisie sal niemand bewaar van die versaking van hulle beginsels as hulle aan hulle eie sondige harte oorgelaat word nie. Die-gene wat beskou is as waardige en regverdige persone, was die belhamels in die afval, voorbeelde in onverskilligheid en in die misbruik van die genade van God. Hy sal hulle bose weg nie langer gedoog nie, en in Sy grimmigheid sal hulle geen genade ontvang nie.UG1 236.2

    Teensinnig onttrek God Sy teenwoordigheid van diegene wat Hy met groot lig geseën het, en wat die krag van die woord gevoel het terwyl hulle vir ander gewerk het. Eentyd was hulle Sy getroue diensknegte, begunstig met Sy teenwoordigheid en leiding; maar hulle het Hom verlaat en ander ook op die dwaalweg gelei, en daarom het hulle die misnoeë van God opgewek.UG1 236.3

    Die dag van Gods wraak is reeds hier. Die seël van God sal op die voorhoofde geplaas word van diegene alleen wat ween en sug oor die gruwels van die land. Diegene wat simpatiseer met die wêreld eet en drink saam met die dronkaards en hulle sal sekerlik omkom saam met die werkers van die ongeregtigheid. “Die oë van die Here is op die regverdiges en Sy ore tot hulle hulpgeroep [maar] die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.”UG1 236.4

    Dit hang van ons eie handelwyse af of ons die seël van die lewende God sal ontvang, of gedood sal word met die wapens van vernietiging. ‘n Paar druppels van die grimmigheid van God het alreeds die aarde getref, maar as die sewe laaste plae sonder genade uitgestort word, sal dit vir ewig te laat wees om tot bekering te kom en beskutting te vind. Daar sal dan geen versoeningsbloed wees om die vlekke van die sonde af te was nie.UG1 237.1

    “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” Wanneer hierdie tyd van benoudheid kom, sal die lot van alle mense reeds beslis wees; daar is geen genadetyd meer nie, geen genade meer vir die onboetvaardiges nie. Die volk van God is dan reeds verseel met die seël van die lewende God. Hierdie klein klompie, nie in staat om hulleself te verdedig in die felle stryd teen die magte van die aarde wat deur die draak aangevoer word nie, maak God hulle skuilplek. Die magtigste aardse gesag het die bevel gegee dat hulle die dier moet aanbid en sy merkteken moet ontvang, of met hulle lewens moet boet as hulle weier. Mag die Here Sy volk nou help, want wat sal hulle kan doen in daardie verskriklike stryd sonder Sy hulp!UG1 237.2

    Moed, sielskrag, geloof en onwrikbare vertroue in die almag van God om te kan red, is dinge wat nie in een oomblik kom nie. Hierdie hemelse deugde word deur die jare heen aangekweek. Deur ‘n lewe van heilige strewe en ‘n handhawing van wat reg is, beslis die kin ders van God hulle lot vir die ewigheid. Omring van ontelbare versoekings, het hulle besef dat hulle heftig sou moet stry of ten gronde gaan. Hulle het besef dat hulle ‘n groot werk het om te doen, en dat hulle miskien enige oomblik met hulle lewe sou moet boet; en as hulle aan die einde van hulle loopbaan sou kom sonder dat hulle taak afgedaan is, sou dit ‘n ewige verlies vir hulle beteken het. Hulle het die lig van die hemel gretig aangeneem, net soos die eerste dissipels dit van die lippe van Jesus aangeneem het. Toe daardie vroeë Christene tot die berge en woestyne verban is, en in die donkere kerkers van die honger of weens koue of marteling omgekom het, en toe die marteldood vir hulle menigmaal die enigste uitweg was, het hulle hulle verbly dat hulle waardig geag was om vir Christus wat vir hulle gekruisig was, te ly. Hulle waardige voorbeeld sal ‘n vertroosting en bemoediging wees vir die volk van God wat die tyd van benoudheid soos daar nog nooit was nie, sal moet deurmaak.UG1 237.3

    Nie almal wat voorgee om die Sabbat te vier, sal verseël word nie. Daar is baie onder diegene wat die waarheid aan ander verkondig, wat nie die seël van God op hulle voorhoofde sal ontvang nie. Hulle het die lig van die waarheid gehad, hulle het die wil van hulle Meester geken, hulle het al die punte van ons geloof verstaan, maar hulle het nie die werke gehad nie. Hulle wat so goed bekend was met die profesieë en die skatte van die goddelike wysheid, moes hulle geloof uitgeleef het. Hulle moes hulle huisgenote beveel het om hulle na te volg, sodat hulle deur ‘n welregeerde huisgesin aan die wêreld kon toon watter invloed die waarheid op die menslike hart het.UG1 238.1

    Deur hulle gebrek aan toegewydheid en vroomheid en die lae geestelike peil wat hulle bereik het, het hulle ander siele ook tevrede gemaak met hulle geestelike toestand. Mense met beperkte kennis besef nie dat hulle hulle eie siele in gevaar bring as hulle hierdie mense, wat dikwels die woord van God aan hulle verklaar het, as voorbeeld neem nie. Jesus is ons enigste ware voorbeeld. Elke mens behoort biddend en met kinderlike nederigheid en ‘n hart wat gewillig is om te leer, die Bybel vir homself te ondersoek as hy wil weet wat die Here van hom verwag. Dit maak nie saak hoe hoog ‘n predikant by God aangeskryf gestaan het nie, as hy nalaat om die lig uit te leef wat God hom gegee het, en as hy weier om onderrig te ontvang soos ‘n kind, sal hy in die duisternis en sataniese dwaling verval en hy sal ander op diefelfde pad lei.UG1 238.2

    Nie een van ons sal ooit die seël van God ontvang solank daar nog een vlek aan ons karakters is nie. Dit word aan ons oorgelaat om al die gebreke in ons karakters uit die weg te ruim en die tempel van ons siel van alle onreinheid te reinig. Dan sal die laat reent op ons neerdaal soos die vroeë reent op Pinksterdag op die dissipels geval het.UG1 239.1

    Ons is te maklik tevrede gestel met ons geestelike prestasies. Ons meen dat ons ryk en verryk is, en weet nie dat ons “beklaenswaardig en arm en blind en nakend is nie.” Nou is dit die tyd om ag te slaan op die waarskuwing van die Waaragtige Getuie: “Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.”UG1 239.2

    In hierdie lewe sal ons vurige beproewings moet deurmaak, sowel as groot opofferings, maar die vrede van Christus sal ons loon wees. Daar is so min selfverloëning en so min lyding vir Christus se ontwil, dat die kruis byna vergeet is. Ons behoort deelgenote te wees van die lyding van Christus as ons saam met Hom as oorwinnaars op Sy troon wil sit. Solank as ons die maklike pad kies en bang is vir selfverloëning, sal ons geloof nooit sterk word nie; ons sal nooit die vrede van Jesus ken nie en ook nie vreugde wat kom wanneer ons voel dat ons oorwinnaars is nie. Die verhewendstes onder die verloste skare wat voor die troon van God en die Lam staan, in wit klere, weet wat dit gekos het om te oorwin, want hulle het groot beproewings deurgemaak. Diegene wat hulleself oorgegee het aan hulle omstandighede liewer as om die stryd te stry, sal nie weet hoe om staande te bly in daardie dag van sieleangs wat tot elke siel sal kom nie; en al was Noag, Job en Daniël ook in die land sou hulle nie in staat wees om seun of dogter te red nie, want elkeen moet sy eie siel red deur sy eie geregtigheid.UG1 239.3

    Niemand hoef te sê dat sy saak hopeloos is nie, en dat hy nie ‘n Christelike lewe kan ly nie. Deur die dood van Christus is daar voldoende voorsiening gemaak vir elke siel. Jesus is gedurig daar om ons te help in tye van nood. Roep Hom slegs aan in geloof; Hy het belowe om ons gebede te verhoor.UG1 240.1

    O, vir ‘n lewende, werkende geloof! Ons het behoefte daaraan; ons moet dit hê, of ons sal uitsak in die dag van beproewing. Die duisternis wat ons dan op ons pad sal oorval, moet ons nie ontmoedig of wanhopig maak nie. Dit is maar net die sluier waarmee God Sy heerlikheid bedek wanneer Hy tot ons kom om Sy ryke seëninge mee te deel. Ons behoort dit uit ons eie vorige ondervinding te weet. In daardie dag wanneer God ‘n regsaak met Sy volk het, sal hierdie ondervinding ‘n bron van hoop en vertroosting wees.UG1 240.2

    Dit is nou dat ons onsself en ons kinders onbevlek van die wêreld moet bewaar. Dit is nou dat ons ons karakters moet wit maak in die bloed van die Lam. Dit is nou dat ons ons hoogmoed, ons hartstogte en geetelike powerheid moet oorwin. Dit is nou dat ons moet wakkerskrik en ons in alle erns daarop moet toelê om ‘n volmaakte karakter te vorm. “Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie.” Ons verkeer in ‘n baie moeilike posisie, wakende en wagtende vir die koms van die Here. Die wêreld is in duisternis. “Maar julle broeders,” sê die apostel Paulus, “is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.” Dit was nog altyd Gods doel om die lig uit die duisternis te laat skyn, droefheid in vreugde te verander en rus na stryd te gee aan die wagtende, smagtende siel.UG1 240.3

    Wat doen u, broeders, in hierdie groot voorbereidingswerk? Diegene wat hulleself met die wêreld verbind, word aan die wêreld gelykvormig en berei hulleself voor vir die ontvangs van die merkteken van die dier. Diegene wat self nie vertrou nie en wat hulleself voor God verootmoedig en hulle siele reinig deur geloof in die waarheid, word gelykvormig aan die hemel en berei hulleself vir die ontvangs van die seël van God op hulle voorhoofde. Wanneer die bevel gegee word en die seël afgedruk word, sal hulle karakters rein en vlekkeloos vir die ewigheid bestendig wees.UG1 240.4

    Nou is dit die tyd om voorbereiding te maak. Nooit sal die seël van God op die voorhoof van ‘n onreine man of vrou geplaas word nie. Dit sal ook nie op die eersugtige, wêreldsgesinde man of vrou geplaas word nie. Manne en vroue wie se tonge vals en harte vol bedrog is, sal ook nie die seël van God ontvang nie. Almal wat die seël ontvang sal sonder vlek voor God wees — kandidate vir die hemel. Gaan voorwaarts my broeders en susters. Ek kan by hierdie geleentheid maar net kortliks oor hierdie dinge skryf en julle aandag vestig op die noodsaaklikheid vir voorbereiding. Ondersoek die Skrifte vir julleself, sodat julle hierdie vreeslike en plegtige uur kan besef.UG1 241.1

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents