Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    HOOFSTUK VYFTIG—DIE LOON VAN GETROUE WERK

    (Deel IX, bls. 285-288.)

    “As iemand se werk blystaan ... sal hy loon ontvang.” 1 Kor. 3: 14. Heerlik sal die loon wees van die getroue werkers wat rondom die troon van God en die Lam sal vergader. Toe Johannes, as sterflike wese, die heerlikheid van God aanskou het, het hy neergeval soos iemand wat dood is: hy kon nie die heerlike gesig verduur nie. Maar wanneer die kinders van God met die onsterflikheid beklee is, sal hulle “Hom sien soos Hy is.” 1 Joh. 3: 2. Hulle sal voor die troon van God staan, aangenome in die geliefde. Al hulle sondes is uitgedelg en hulle ongeregtighede is weggeneem. Nou kan hulle op die onbedekte heerlikheid van die troon van God kyk. Hulle het saam met Christus gely, hulle het saam met Hom gewerk in die verlossingsplan, en nou is hulle ook deelgenote met Hom in die vreugde as gevolg van die geredde siele in die koninkryk van God, om God daar deur die ewigheid heen te loof.UG1 301.1

    My broeders en susters, ek smeek julle om julleself voor te berei vir die koms van Christus op die wolke van die hemel. Werp die liefde vir die wêreld dag vir dag uit julle harte uit. Verstaan deur eie ondervinding wat dit beteken om gemeenskap met Christus te hê. Berei julleself voor vir die oordeel, sodat wanneer Christus kom, julle ook onder diegene mag wees wat Hom in vrede sal ontmoet. In daardie dag sal die verlostes glinster in die heerlikheid van die Vader en die Seun. Die engele sal met hulle goue harpe die Koning en Sy trofeë verwelkom — naamlik diegene wat hulle klere rein gewas het in die bloed van die Lam. Daar sal ‘n oorwinnaarslied gehoor word wat die hemel sal vul. Christus het die oorwinning behaal. Hy tree die hemelse howe binne, vergesel van die verlostes, die getuies dat Sy sending van lyding en opoffering nie tevergeefs was nie.UG1 301.2

    Die opstanding en hemelvaart van ons Heiland is ‘n gewisse bewys van die oorwinning van die heiliges van God oor die dood en die graf, en dis ook ‘n pand dat die hemel oop is vir almal wat hulle karakters witgemaak het in die bloed van die Lam. Jesus het opgevaar na die Vader as ‘n verteenwoordiger van die menslike geslag, en God sal diegene wat Sy ewebeeld weerkaats ook toelaat om in Sy heerlikheid te deel.UG1 302.1

    Daar is wonings vir die pelgrims van die aarde. Daar is klere van geregtigheid, krone van heerlikheid en palmtakke van oorwinning. Alles wat ons verbyster het in die leiding van God hier op aarde sal in die toekomstige wêreld verduidelik word. Die dinge wat vir ons so moeilik was om te verstaan, sal daar verklaar word. Die verborgenhede van die genade sal voor ons ontvou. Waar ons beperkte menslike verstand maar net verwarring en gebroke beloftes gesien het, sal ons daar volmaakte en heerlike eensgesindheid sien. Dan sal ons verstaan waarom God in Sy oneindige liefde die swaar beproewings toegelaat het. Namate ons die tere sorg besef van Hom wat alle dinge laat meewerk vir ons beswil, sal ons ons verbly met ‘n onuitspreeklike vreugde.UG1 302.2

    In die hemel kan daar nie so iets as pyn bestaan nie. In die tuiste van die verlostes sal daar geen trane, geen begrafnisstoet en geen tekens van rou wees nie. “En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; vir die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.” Jes. 33: 24. Deur die ewigheid heen sal daar slegs geluk heers.UG1 302.3

    Tans is ons nog in die skaduwees en verwarring van aardse werksaamhede. Laat ons die geluksaligheid van die hiernamaals ernstig oorpeins. Laat ons geloof elke donker wolk deurdring, en Hom sien wat vir die sondes van die wêreld gesterf het. Hy het die poorte van die paradys oopgemaak vir almal wat in Hom glo en Hom aanneem. Aan hulle gee Hy krag om seuns en dogters van God te word. Laat die pyn wat ons hier so teister lesse vir ons wees wat ons sal leer om te jaag na die doel om die prys te kry van ons hoë roeping in Christus. Laat die gedagte dat Christus spoedig sal kom ons aanmoedig. Laat hierdie hoop ons harte verbly: “Want nog ‘n klein tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie versuim nie.” Heb. 10: 37. Salig is die diensknegte wat hulle Here, as hy kom, wagtende sal vind.UG1 302.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents