Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Uittreksels Uit Die Getuienisskrifte - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Esegiël se Gesig van die Toorn

    Esegiël, die treurende balling-profeet, het in die land van die Galdeërs ‘n gesig gesien wat ook die les van geloof in die magtige God van Israel geleer het. Terwyl hy daar aan die oewers van die Kebarrivier was, het dit geskyn asof daar ‘n stormwind uit die noorde gekom het — “’n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskyn.” Hy het ‘n aantal snaakse wiele gesien wat inmekaar gevoeg was en wat aangedryf was deur vier lewende wesens. “En bokant die uitspansel wat oor hulle was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van ‘n troon; en op die troongestalte ‘n gestalte wat soos ‘n mens gelyk het.” “Aangaande die gestalte van die wesens: hulle voorkomste was soos gloeiende vuurkole, soos die voorkomste van fakkels; die vuur het heen en weer beweeg tussen die wesens, en die vuur het ‘n helder glans gehad, en uit die vuur het blitse uitgeslaan.” “En mensehande was onder hulle vlerke.”UG1 160.3

    Daar was wiele binne-in wiele — alles was so ingewikkeld dat dit met die eerste oogopslag vir Esegiël soos verwarring gelyk het. Maar toe hulle beweeg het, was daar volkome ooreenstemming. Hemelse wesens het die wiele voortgedryf, en bo-oor alles was daar die heerlike saffiertroon waarop die Ewige Een gesit het, en rondom die troon was daar ‘n reentboog, die sinnebeeld van genade en liefde. Oorweldig deur die verskriklike heerlikheid van die toneel, het Esegiël op sy aangesig neergeval; toe het ‘n stem hom gebied om op te staan en die Woord van God te hoor. Daar is toe aan hom ‘n waarskuwende boodskap gegee vir Israel.UG1 161.1

    Hierdie gesig het aan Esegiël verskyn op ‘n tyd toe hy baie neerslagtig was. Hy het die land van sy vaders in ‘n woeste toestand gesien. Die stad wat eers bewoon was, het geen inwoner gehad nie. Die stem van gejuig en vreugde was nie in daardie stad gehoor nie. Die profeet self was ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land waar eersug en barbaarse wreedheid botgevier was. Wat hy gesien en gehoor het, het sy siel met verdriet vervul en hy het dag en nag getreur. Maar die wonderlike simbole wat hy daar by die Kebarrivier gesien het, het iemand geopenbaar wat magtiger was as aardse regeerders. Booor die wrede, trotse konings van Assirië en Babilon, het die God van genade en waarheid op Sy troon gesit.UG1 161.2

    Die ingewikkelde wiele wat vir die profeet so verwarrend voorgekom het, was bestuur deur die hand van die ewige God. Die Gees van God, wat die wiele laat beweeg en laat koers hou het, het orde geskep uit die verwarring; so ook is die hele wêreld onder Sy bestuur. Ontelbare heerlike wesens staan gereed om op Sy bevel die mag en beleid van bose mense te verydel en alles ten goede te laat meewerk vir Sy getroue dienaars.UG1 161.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents