Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Gelykenisse van Christus - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 24—Sonder ‘n Bruilofskleed

    Na aanleiding van Mattheus 22:1-14

    DIE gelykenis van die bruilofskleed ontsluit vir ons ‘n les van groot belang. Die bruilof stel die huwelik van die mensheid met die Godheid voor; die bruilofskleed stel die karakter voor wat almal moet besit wat as geskikte gaste by die bruilof gereken sal word.DGC 221.1

    Net soos die gelykenis van die groot maaltyd is hierdie een ‘n voorstelling van die evangelie-uitnodiging, die verwerping daarvan deur die Joodse volk en die roepstem van genade tot die heidene. Maar wat diegene betref wat die uitnodiging verwerp, bring hierdie gelykenis ‘n groter belediging en ‘n aakliger straf aan die lig. Die oproep om die fees by te woon, is’n koning se uitnodiging. Dit gaan van iemand uit wat die gesag het om te beveel. Dit is ‘n groot eerbewys. Maar die eer word nie gewaardeer nie. Die koning se gesag word verag. Waar die huisheer se uitnodiging met onverskilligheid bejeën word, word dié van die koning met belediging en moord ontvang. Hulle het sy diensknegte verag, mishandel en doodgemaak.DGC 221.2

    Toe hy sien dat sy uitnodiging van die hand gewys is, het die huisheer verklaar dat nie een van die manne wat uitgenooi is van sy maaltyd iets sou geniet nie. Maar vir diegene wat die koning leed aangedoen het, is daar meer as uitsluiting uit sy teenwoordigheid beveel. Hy het “sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.”DGC 221.3

    In albei gelykenisse is daar voorsiening vir gaste om die fees by te woon, maar die tweede dui aan dat almal wat die fees wil bywoon hulle daarvoor moet voorberei. Diegene wat nalaat om hulle voor te berei, word uitgewerp. “En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”DGC 221.4

    Die uitnodiging om na die fees te kom is deur Christus se dissipels verstrek. Die Here het die twaalf uitgestuur en daarna die sewentig, en bekend gemaak dat die koninkryk van God ophande was, en op die mense ‘n beroep gedoen om hulle te bekeer en die evangelie te glo. Maar die uitnodiging is verontagsaam. Diegene wat na die fees genooi is, het nie gekom nie. Die diensknegte is later uitgestuur om te sê: “Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof.” Dit is die boodskap wat na die kruisiging van Christus aan die Joodse volk gestuur is, maar die volk wat beweer het dat hulle Gods eiendomsvolk was, het die evangelie wat in die krag van die Heilige Gees na hulle gebring is, verwerp. Baie het dit met uiterste veragting gedoen. Ander het hulle so vererg oor die verlossingsaanbod, die aanbod van vergifnis vir die verwerping van die Here van heerlikheid, dat hulle die draers van die boodskap aangeval het. “Daar het‘n ... groot vervolging ... ontstaan.” Hand. 8:1. Baie manne en vroue is in die gevangenis gewerp, en sommige van die Here se boodskappers, soos Stefanus en Jakobus, is doodgemaak.DGC 222.1

    So het die Jode hulle verwerping van die genade van God verseël. Christus het die gevolge in die gelykenis voorspel. Die koning het “sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.” Die oordeel wat uitgespreek is, het die Jode getref toe Jerusalem verwoes en die volk verstrooi is.DGC 222.2

    Die derde uitnodiging na die fees stel die verkondiging van die evangelie aan die heidene voor. Die koning het gesê: “Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof.”DGC 222.3

    Die diensknegte van die koning wat op die kruispaaie uitgegaan het, het “almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies.” Dit was ‘n gemengde geselskap. Sommige het niks meer agting vir die gasheer gehad as diegene wat die uitnodiging verwerp het nie. Die eerste groep wat uitgenooi is, het gedink hulle kon dit nie bekostig om enige wêreldse gewin prys te gee net om die koning se maaltyd by te woon nie. En onder diegene wat die uitnodiging aangeneem het, was daar sommige wat net gedink het watter voordeel daar vir hulle in steek. Hulle het gekom om die ete te geniet, maar hulle het geen begeerte gehad om die koning eer aan te doen nie.DGC 222.4

    Toe die koning inkom om die gaste te sien, is die ware karakter van almal geopenbaar. Vir elke gas by die fees is ‘n bruilofskleed voorsien. Hierdie kleed is deur die koning geskenk. Deur dit te dra, het die gaste hulle agting vir die een bewys wat die feesmaal gegee het. Maar een man het nog sy alledaagse klere aangehad. Hy het geweier om die voorbereiding te maak wat die koning verwag het. Hy het geweier om die kleed te dra wat teen geweldige koste vir hom voorsien is. Sodoende het hy sy heer beledig. Toe die koning hom vra: “Hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan?” kon hy geen antwoord gee nie. Hy het homself veroordeel. Daarna sê die koning: “Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis.”DGC 223.1

    Die koning se ondersoek van die gaste by die fees stel oordeelswerk voor. Die gaste by die evangeliefees is diegene wat voorgee dat hulle God dien; diegene wie se name in die boek van die lewe geskrywe staan. Maar nie almal wat voorgee dat hulle Christene is, is ware dissipels nie. Voordat die finale beloning gegee word, moet daar besluit word wie geskik is om in die erfenis van die regverdiges te deel. Hierdie besluit moet gemaak word voordat Christus die tweede keer met die wolke van die hemel kom; want wanneer Hy kom, is Sy loon by Hom, “om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.” (Openb. 22:12) Voor Sy koms sal die aard van elke mens se werk reeds bepaal wees, en aan elkeen van Christus se volgelinge sal die beloning reeds toebedeel wees volgens sy dade.DGC 223.2

    Dit is terwyl die mense nog op die aarde woon dat die werk van die ondersoekende oordeel in die hemelhowe plaasvind. Die lewens van al Sy beweerde volgelinge word deur God ondersoek. Almal word ondersoek volgens wat in die boeke van die hemel staan, en volgens sy dade word die lotsbestemming van elkeen vir ewig beslis.DGC 223.3

    Die bruilofskleed in die gelykenis stel die rein, vleklose karakter voor wat Christus se ware volgelinge sal besit. Aan die kerk is gegee, “om bekleed te wees met rein en blink fyn linne,” (Openb. 19:8) “sonder vlek of rimpel of iets dergeliks.” (Efe. 5:27) Die fyn linne, sê die Skrif, “is die regverdige dade van die heiliges.” (Openb. 19:8) Dit is die geregtigheid van Christus, Sy eie onbevlekte karakter, wat deur die geloof aan almal toebedeel word wat Hom as hulle persoonlike Saligmaker aanneem.DGC 223.4

    Ons eerste voorouers het die wit kleed van onskuld gedra toe God hulle in die tuin van Eden geplaas het. Hulle het in volmaakte gehoorsaamheid aan die wil van God geleef. Al die krag van hulle liefde is aan hulle hemelse Vader gegee. ‘n Lieflike, sagte lig, die lig van God, het die heilige egpaar omhul. Hierdie kleed van lig was die simbool van hulle geestelike kleed van hemelse onskuld. As hulle getrou aan God gebly het, sou dit hulle voortdurend omhul het. Maar toe die sonde intree, het hulle hul verbinding met God afgebreek en die ligkring om hulle het gewyk. Nakend en skaam het hulle die hemelse klere probeer vervang deur vyeblare aanmekaar te werk as ‘n bedekking.DGC 224.1

    Dit is wat die oortreders van Gods wet sedert die dag van Adam en Eva se ongehoorsaamheid gedoen het. Hulle het vyeblare aanmekaar gewerk om die naaktheid te bedek wat deur oortreding veroorsaak is. Hulle het hulle eie selfbeplande klere gedra. Deur hulle eie werke het hulle geprobeer om hulle sondes te bedek en om hulleself voor God aanneemlik te maak.DGC 224.2

    Maar dit kan hulle nooit doen nie. Niks wat die mens bedink, kan die plek van die verlore kleed van onskuld inneem nie. Geen vyeblaarkleed, geen alledaagse drag, kan deur diegene gedra word wat saam met Christus en die engele by die bruilofsmaal van die Lam aansit nie.DGC 224.3

    Net die bedekking wat Christus self voorsien het, kan ons geskik maak om in die teenwoordigheid van God te verskyn. Hierdie bedekking, die kleed van Sy eie geregtigheid, sal Christus vir elke boetvaardige, gelowige siel aantrek. “Ek raai jou aan,” sê Hy, “om van My te koop ... wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie.” (Openb. 3:18)DGC 224.4

    Hierdie kleed, wat op die weefstoel van die hemel geweef is, het geen enkele draad wat deur die mens bedink is nie. Christus het ‘n volmaakte karakter in Sy mensheid gevorm, en Hy bied aan om ons met hierdie karakter te bedeel. “AI ons geregtighede [is] soos’n besoedelde kleed.‘‘ Jes. 64:6. Alles wat ons uit onsself kan doen, is deur sonde besoedel. Maar die Seun van God het verskyn “om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie.” Sonde word as “wetteloosheid” beskryf (1 Joh. 3:5, 4) Maar Christus het elke vereiste van die wet gehoorsaam. Hy het van Homself gesê: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.” (Ps. 40:9) Toe Hy op die aarde was, het Hy aan Sy dissipels gesê: “Ek [bewaar] die gebooie van my Vader.” (Joh. 15:10) Deur Sy volmaakte gehoorsaamheid het Hy dit vir elke mens moontlik gemaak om Gods gebooie te gehoorsaam. Wanneer ons, ons aan Christus onderwerp, is die hart met Sy hart verenig, die wil met Sy wil saamgesmelt, dan word die gesindheid een met Sy gesindheid en die gedagtes word deur Hom gevange geneem; dan leef ons Sy lewe. Dit is wat dit beteken om met die kleed van Sy geregtigheid geklee te wees. Wanneer die Here dan na ons kyk, sien Hy nie die vyeblaarkleed nie, nie die naaktheid en misvormdheid van die sonde nie, maar Sy eie kleed van geregtigheid, wat volmaakte gehoorsaamheid aan die wet van Jehova is.DGC 224.5

    Die gaste by die bruilofsmaal is deur die koning ondersoek. Net diegene wat gehoorsaam was aan sy vereistes en die bruilofskleed aangehad het, is aangeneem. So is dit met die gaste by die evangeliefees gesteld. Almal moet die noukeurige ondersoek van die groot Koning ondergaan, en net diegene wat die kleed van Christus se geregtigheid aangetrek het, word aangeneem.DGC 225.1

    Geregtigheid is om te doen wat reg is, en dit is deur hulle dade dat almal geoordeel sal word. Ons karakters word geopenbaar deur wat ons doen. Die werke toon aan of die geloof opreg is.DGC 225.2

    Dit is nie vir ons voldoende om te glo dat Christus nie ‘n indringer is nie, en dat die godsdiens van die Bybel nie‘n kunstig verdigte fabel is nie. Ons kan glo dat die Naam van Jesus die enigste Naam onder die hemel is waardeur die mens gered kan word, en tog kan dit wees dat ons Hom nie deur die geloof ons persoonlike Saligmaker maak nie. Dit is nie voldoende om die teorie van die waarheid te glo nie. Dit is nie voldoende om ‘n belydenis van geloof in Christus te doen en om ons name in die kerkregister opgeteken te hê nie. “En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly: aan die Gees wat Hy ons gegee het.” “En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.” 1 Joh. 3:24; 2:3. Dit is die egte bewys van bekering. Wat ons belydenis ook mag wees, dit is van nul en gener waarde tensy Christus in werke van geregtigheid geopenbaar word nie.DGC 225.3

    Die waarheid moet in die hart ingeplant word. Dit moet die verstand beheers en die liefde rig. Die hele karakter moet die stempel van die Goddelike uitsprake dra. Elke jota en titel van die Woord van God moet in die daaglikse doen en late ingebring word. Hy wat die Goddelike natuur deelagtig word, sal dit eens wees met Gods groot maatstaf van geregtigheid, Sy heilige wet. Dit is die maatstaf waarmee God die gedrag van mense meet. Dit sal in die oordeel die maatstaf wees waarmee karakters gemeet word.DGC 226.1

    Daar is baie wat beweer dat die wet deur die dood van Christus afgeskaf is, maar hierdeur weerspreek hulle Christus se eie woorde: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie, ... voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titeltjie van die wet ooit verbygaan ... nie.” (Matt. 5:17, 18) Dit was om versoening te doen vir die mens se oortreding van die wet dat Christus Sy lewe neergelê het. As die wet verander of afgeskaf kon geword het, hoef Christus nie te gesterf het nie. Deur Sy lewe op aarde het Hy die wet van God vereer. Deur Sy dood het Hy dit bevestig. Hy het Sy lewe as ‘n offer gegee, nie om die wet te ontbind of om ‘n laer maatstaf te skep nie, maar dat die reg gehandhaaf mag word; dat daar bewys kan word dat die wet onveranderlik is, dat dit vir ewig vas kan staan.DGC 226.2

    Die Satan het beweer dat dit vir die mens onmoontlik is om Gods gebooie te bewaar; en dit is waar dat ons in ons eie krag nie in staat is om dit te hou nie. Maar Christus het in die gedaante van ‘n mens gekom, en deur Sy volmaakte gehoorsaamheid het Hy bewys dat die mensheid en die godheid saam al Gods voorskrifte kan gehoorsaam.DGC 226.3

    “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.” Joh. 1:12. Hierdie krag lê nie by die mens nie. Dit is die krag van God. Wanneer‘n siel Christus ontvang, ontvang hy krag om die lewe van Christus te lei.DGC 226.4

    God eis volmaaktheid van Sy kinders. Sy wet is ‘n skriftelike weergawe van Sy eie karakter, en dit is die maatstaf vir alle karakters. Hierdie ewige maatstaf word aan almal voorgehou sodat daar geen fout kan wees rakende die soort volk wat God in Sy koninkryk wil hê nie. Die lewe van Christus op aarde was ‘n volmaakte weergawe van Gods wet, en wanneer die karakter van diegene wat beweer dat hulle kinders van God is, soos dié van Christus word, sal hulle Gods gebooie gehoorsaam. Dan kan die Here hulle vertrou om van die getal te wees wat die gesin van die hemel sal uitmaak. In die heerlike kleed van Christus se geregtigheid geklee, het hulle‘n plek aan die Koning se feesmaal. Hulle het die reg om hulle aan te sluit by die bloedgewaste skare.DGC 226.5

    Die man wat sonder bruilofskleed na die feesmaal gekom het, stel die toestand van baie mense in ons wêreld voor. Hulle beweer dat hulle Christene is en maak aanspraak op die seëninge en voorregte van die evangelie; tog voel hulle geen behoefte aan ‘n verandering van karakter nie. Hulle het nog nooit ware berou oor sonde geken nie. Hulle besef nie hulle behoefte aan Christus nie en beoefen ook geen geloof in Hom nie. Hulle het hulle oorgeërfde en aangeleerde neigings tot die sonde nie oorwin nie. Tog dink hulle dat hulle self goed genoeg is, en hulle vertrou op hulle eie verdienste pleks dat hulle op Christus vertrou. As hoorders van die Woord kom hulle na die feesmaal, maar hulle het nie die kleed van Christus se geregtigheid aangetrek nie.DGC 227.1

    Baie wat hulle Christene noem, is slegs menslike sede-meesters. Hulle het die enigste gawe geweier wat hulle in staat kon stel om Christus te vereer deur Hom voor die wêreld te verteenwoordig. Die werk van die Heilige Gees is vir hulle ‘n vreemde werk. Hulle is nie daders van die woord nie. Die hemelse beginsels wat diegene wat een met Christus is van diegene onderskei wat een met die wêreld is, het byna onwaarneembaar geword. Die beweerde vogelinge van Christus is nie meer ‘n afsonderlike eiendoms-volk nie. Die skeidslyn is onduidelik. Die mense onderwerp hulle aan die wêreld, aan sy gebruike, sy gewoontes, sy selfsug. Die kerk het deur wetsoortreding na die wêreld oorgegaan, terwyl die wêreld deur gehoorsaamheid aan die wet na die kerk moes oorgekom het. Daagliks word die kerk tot die wêreld bekeer.DGC 227.2

    Hulle almal verwag om deur Christus se dood gered te word, maar hulle weier om Sy selfopofferende lewe te leef. Hulle besing die rykdom van vrye genade, en probeer om hulleself met ‘n skyn van geregtigheid te bedek, in die hoop om hulle karaktergebreke te bedek, maar op die dag van God sal hulle pogings van nul en gener waarde wees.DGC 227.3

    Die geregtigheid van Christus sal geen gekoesterde sonde bedek nie. ‘n Man kan in sy hart ‘n wetsoortreder wees, en tog as hy geen openbare wetsoortreding pleeg nie, kan hy deur die wêreld as een beskou word wat aansienlike onkreukbaarheid besit. Maar die wet van God deurgrond die geheime van die hart. Elke daad word geoordeel deur die motiewe wat daartoe aanleiding gee. Net wat in ooreenstemming met die wet van God is, sal in die oordeel staande bly.DGC 228.1

    God is liefde. Hy het daardie liefde in die gawe van Christus bewys. Toe “Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê,” het Hy niks van Sy vrygekoopte besitting teruggehou nie (Joh. 3:16) Hy het die ganse hemel gegee, waaruit ons krag en bekwaamheid kan put, sodat ons nie deur ons groot teenstander teruggedryf of oorwin moet word nie. Maar die liefde van God laat Hom nie toe om sonde te verskoon nie. Hy het dit nie in die Satan verskoon nie; Hy het dit nie in Adam of in Kain verskoon nie; nog minder sal Hy dit in enige ander mensekind verskoon. Hy sal ons sondes nie oogluikend toelaat of ons karakterswakhede oor die hoof sien nie. Hy verwag dat ons in Sy Naam moet oorwin.DGC 228.2

    Diegene wat die gawe van Christus se geregtigheid verwerp, is besig om daardie karaktertrekke te verwerp wat van hulle seuns en dogters van God sou maak. Hulle verwerp die enigste ding wat vir hulle daardie geskiktheid kan gee vir‘n plek by die bruilofsmaal.DGC 228.3

    Toe die koning in die gelykenis vra: “Hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan?” was die man stom. So sal dit in die groot oordeelsdag wees. Mense kan tans vir hulle karaktergebreke verskoning maak, maar in daardie dag sal hulle geen verskoning aanbied nie.DGC 228.4

    Die beweerde kerke van Christus in hierdie geslag is hoogs bevoorreg. Die Here is in ‘n steeds toenemende lig aan ons geopenbaar. Ons voorregte is veel groter as die voorregte van Gods volk van ouds. Ons het nie net die groot lig wat aan Israel toevertrou is nie, maar ons het die toenemende bewyse van die groot verlossing wat deur Christus na ons gebring is. Wat vir die Jode tipe en simbool was, is vir ons werklikheid. Hulle het die Ou Testamentiese geskiedenis gehad. Ons het sowel dit as die Nuwe Testament. Ons het die sekerheid van ‘n Saligmaker wat gekom het, ‘n Saligmaker wat gekruisig is, wat opgestaan het, en oor die oop grafkelder van Josef verklaar het:DGC 228.5

    “Ek is die opstanding en die lewe.” Met ons kennis van Christus en Sy liefde kom die koninkryk van God in ons midde. Christus word in preke aan ons geopenbaar en in liedere besing. Die geestelike feesmaal word in ryke oorvloed aan ons voorgesit. Die bruilofskleed, wat teen onberekenbare koste voorsien is, word vrylik aan elke siel gebied. Deur die boodskappers van God word vir ons die geregtigheid van Christus voorgehou, regverdigmaking deur die geloof, die grootste en kosbaarste beloftes van Gods Woord, vrye toegang tot die Vader deur Christus, die vertroosting van die Gees, die diepgegronde versekering van die ewige lewe in die koninkryk van God. Wat kon God meer vir ons doen as wat Hy gedoen het in die voorsiening van die groot maaltyd, die hemelse feesmaal?DGC 229.1

    In die hemel sê die dienende engele: Ons het die bediening uitgevoer wat ons opgedra is. Ons het die leërmag van bose engele teruggedruk. Ons het helderheid en lig in mensesiele ingestuur, en hulle aan die liefde van God herinner wat deur Jesus bewys is. Ons het hulle oë na die kruis van Christus getrek. Hulle harte is diep ontroer deur die bewustheid van die sonde wat die Seun van God gekruisig het. Hulle is oortuig. Hulle het gesien watter stappe in bekering geneem moes word. Hulle het die krag van die evangelie aangevoel Hulle harte is versag toe hulle die soetheid van die liefde van God gewaar het. Hulle het die skoonheid van die karakter van Christus aanskou. Maar met die meerderheid was dit vergeefs. Hulle wou nie hulle eie gewoontes en karakter prysgee nie. Hulle het geweier om die aardse kleed uit te trek sodat hulle met die kleed van die hemel beklee kon word. Hulle harte is oorgegee aan die hebsug. Hulle het die geselskap van die wêreld meer liefgehad as wat hulle hul God liefgehad het.DGC 229.2

    Dit sal ‘n gewigtige dag wees wanneer die laaste besluit geneem word. In ‘n profetiese gesig beskrywe Johannes dit: “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” Openb. 20:11,12.DGC 229.3

    Treurig sal die terugblik in daardie dag wees wanneer die mensdom van aangesig tot aangesig voor die ewigheid te staan sal kom. Die hele lewe sal voor die gees opkom net soos dit was. Die wêreld se plesier, rykdom en eer sal dán nie so belangrik lyk nie. Mense sal dan sien dat net die geregtigheid wat hulle verag het, van waarde is. Hulle sal sien dat hulle hulle karakters onder die verleidende aantreklikhede van die Satan gevorm het. Die kleed wat hulle gekies het, is die kenteken van hulle getrouheid aan die eerste groot afvallige. Dan sal hulle die gevolge van hulle keuse sien. Hulle sal kennis hê van wat dit beteken om die gebooie van God te oortree.DGC 230.1

    Daar sal geen toekomstige proeftyd wees om hulle vir die ewigheid voor te berei nie. Ons moet die kleed van Christus se geregtigheid in hierdie lewe aantrek. Dit is ons enigste geleentheid om karakters te vorm vir die tuiste wat Christus vir diegene berei het wat Sy gebooie bewaar.DGC 230.2

    Die dae van ons proeftyd is haas verby. Die einde is naby. Aan ons word die waarskuwing gegee: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.” Lukas 21:34. Wees op u hoede dat dit u nie ongereed betrap nie. Wees versigtig dat u nie miskien by die Koning se feesmaal sonder bruilofskleed gevind word nie.DGC 230.3

    “Die Seun van die mens kom op‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” “Salig is hy wat waak en en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.”Matt. 24:44; Openb. 16:15.DGC 230.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents