Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Gelykenisse van Christus - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Spraak

    Die vermoë om te praat is ‘n talent wat ywerig aangekweek behoort te word. Van al die vermoëns wat ons van God ontvang het, is daar nie een wat ‘n groter seën inhou as hierdie een nie. Met die stem oortuig en beweeg ons, daarmee bid ons en loof ons God en daarmee vertel ons andere van die Heiland se liefde. Hoe belangrik dan dat dit opgelei word sodat dit die meeste goed kan doen.DGC 238.3

    Die verbetering en korrekte gebruik van die stem word baie verwaarloos, selfs deur intelligente, werksame Christene. Daar is baie wat so sag of so vinnig lees of praat dat hulle nie maklik verstaan kan word nie. Sommige het ‘n dik, onduidelike uitspraak. Ander praat weer op ‘n hoë, skerp, skril toon wat vir die toehoorders pynlik is. Tekste, liedere en die verslae en ander verhandelinge wat voor openbare byeenkomste voorgelees word, word soms op so ‘n wyse gelees dat hulle onverstaanbaar is en dikwels só dat hulle krag en indrukwekkendheid bederf word.DGC 238.4

    Dit is ‘n euwel wat reggestel kan en moet word. Die Bybel leer ons hier aangaande. Van die Leviete wat die Skrifte in die dae van Esra aan die volk gelees het, word daar gesê: “En hulle het uit die boek, uit die wet van God, duidelik voorgelees en dit verklaar, sodat hulle verstaan het wat voorgelees is.” Neh. 8:9.DGC 238.5

    Deur ywerige inspanning kan almal leer om hoorbaar te lees, en om met ‘n vol, helder, ronde stem en op ‘n duidelike en indrukwekkende manier te praat. Sodoende kan ons ons bekwaamheid as werkers vir Christus grootliks verbeter.DGC 239.1

    Elke Christen is geroepe om aan ander die onnaspeurlike rykdom van Christus bekend te maak. Daarom moet hy hom beywer om volmaak te praat. Hy moet die Woord van God so aanbied dat dit vir toehoorders aanneemlik sal wees. God wil nie hê dat Sy menslike kanale ongepoets moet wees nie. Hy wil nie hê dat die mens die hemelse stroom, wat deur hom na die wêreld vloei, moet kleineer of verneder nie.DGC 239.2

    Ons moet die oog op Jesus, die volmaakte voorbeeld vestig; ons moet bid om die bystand van die Heilige Gees, en deur Sy krag moet ons trag om elke orgaan vir volmaakte werk op te lei.DGC 239.3

    Dit geld veral vir diegene wat tot openbare diens geroep is. Elke predikant en elke onderwyser moet in gedagte hou dat hy aan die volk ‘n boodskap gee wat ewige belange betrek. Die waarheid wat gespreek is, sal hulle in die groot dag van afrekening oordeel. En die gedrag van die boodskapper sal in die geval van sommige siele die deurslag gee of hulle die boodskap aanneem of verwerp. Laat die woord dan so gespreek word dat dit ingang sal vind by die verstand, en die hart sal beïndruk. Dit moet stadig, duidelik en plegtig gespreek word, en tog met al die erns wat die belangrikheid daarvan vereis.DGC 239.4

    Die regte ontwikkeling en gebruik van die spraakvermoë het met elke aspek van Christelike werk te make; dit raak die huislike lewe en ons hele omgang met mekaar. Ons moet die gewoonte aankweek om op ‘n aangename stemtoon te praat, om suiwere en korrekte taal en vriendelike en hoflike woorde te gebruik. Aangename, vriendelike woorde is soos dou en sagte reëndruppels vir die siel. Die Skrif sê van Christus dat genade op Sy lippe uitgestort is dat Hy kan “weet om die vermoeide te verkwik met woorde.” (Ps. 45:3; Jes. 50:4) En die Here sê vir ons:DGC 239.5

    “Laat julle woord altyd aangenaam wees.” (Kol. 4:6), “sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.” (Efe. 4:29)DGC 239.6

    Wanneer ons probeer om andere tereg te wys of te hervorm, moet ons versigtig wees met ons woorde. Hulle sal‘n reuk van die lewe tot die lewe of van die dood tot die dood wees. Baie mense gebruik skerp, harde woorde, woorde wat nie aangepas is om die gekweste siel te genees nie, wanneer hulle ander teregwys of van raad bedien. Hierdie verkeerde uitdrukkings skaaf die gees en dikwels word die dwalendes opstandig. Almal wat die beginsels van die waarheid wil bepleit, moet die hemelse liefdesolie ontvang. Onder alle omstandighede moet teregwysing in liefde gespreek word. Dan sal ons woorde hervorm en nie vertoorn nie. Deur Sy Heilige Gees sal Christus die gewig en die krag voorsien. Dit is Sy werk.DGC 240.1

    Nie een woord moet onbedag gespreek word nie. Geen kwaadpratery, geen ligsinnige praatjies, geen knieserige gekla of onreine voorstel sal oor die lippe van hom gaan wat Christus volg nie. Die apostel Paulus skryf deur die Heilige Gees: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie.” Efe. 4:29. ‘n Vuil woord beteken nie net woorde wat laag is nie. Dit beteken enige uitdrukking wat strydig is met die heilige beginsels en die reine en onbesmette godsdiens. Dit sluit onreine skimpe en bedekte insinuasies van sonde in. Tensy dit oombliklik weerstaan word, lei hierdie dinge tot groot sonde.DGC 240.2

    Dit is die plig van elke gesin, van elke indiwiduele Christen om bedorwe spraak te vermy. As ons in die geselskap is van diegene wat ligsinnig praat, is dit ons plig om die gesprek, indien moontlik, in ‘n ander rigting te stuur. Deur die hulp van Gods genade behoort ons stilweg ‘n woordjie te laat val of‘n onderwerp aan te roer wat die gesprek in ‘n nuttige rigting sal stuur.DGC 240.3

    Dit is die plig van ouers om hulle kinders behoorlike spreekgewoontes te leer. Die allerbeste skool vir hierdie ontwikkeling is die huislike lewe. Van hulle vroegste jare af moet kinders geleer word om hulle ouers en mekaar eerbiedig en met liefde aan te spreek. Hulle moet geleer word dat net tere, ware en reine woorde oor hulle lippe moet gaan. Laat die ouers self daagliks leerlinge in die skool van Christus wees. Dan sal hulle hulle kinders, deur hulle lering en hulle voorbeeld, leer om die woord te gebruik wat “gesond en onweerspreeklik is.” (Titus 2:8) Dit is een van die grootste en verantwoordelikste van hulle pligte.DGC 240.4

    As volgelinge van Christus moet ons woorde van so ‘n aard spreek dat hulle vir mekaar tot hulp en ‘n aanmoediging in die Christelike lewe sal wees. Baie meer as wat die geval is, behoort ons van die kosbare hoofstukke in ons ondervinding te praat. Ons behoort van die genade en liefde van God, van die ongeëwenaarde dieptes van die Heiland se liefde te praat. Ons woorde behoort woorde van lof en danksegging te wees. As die gedagtes en hart vol van die liefde van God is, sal dit in die gesprekke geopenbaar word. Dit sal nie moeilik wees om te vertel van wat ons geestelike lewe raak nie. Groot gedagtes, edele strewes, helder begrippe van waarheid, onselfsugtige bedoelinge, verlangens na vroomheid en heiligheid, sal vrug dra in woorde wat die aard van die hart se skat openbaar. As Christus so in ons spraak geopenbaar word, sal dit krag hê om siele vir Hom te wen.DGC 241.1

    Ons behoort van Christus te praat met diegene wat Hom nie ken nie. Ons behoort te maak soos Christus gemaak het. Waar Hy ook al was, in die sinagoge, langs die pad, in ‘n boot effens van die land af weggestoot, by die Fariseër se feesmaal of aan tafel by die tollenaar, het Hy met die mense oor die dinge betreffende die hoër lewe gepraat. Die dinge van die natuur, die gebeure van die daaglikse lewe het Hy met die woorde van waarheid verbind. Hy het die harte van Sy toehoorders tot Hom aangetrek, want Hy het hulle krankes genees, hulle treurendes getroos, hulle kinders in Sy arms geneem en hulle geseën. Wanneer Hy Sy mond oopgemaak het om te praat, was hulle aandag stip op Hom gevestig en elke woord was vir die een of ander siel ‘n reuk van die lewe tot die lewe.DGC 241.2

    So behoort dit met ons te wees. Waar ons ook al is, moet ons op die uitkyk wees vir geleenthede om met ander oor die Heiland te praat. As ons Christus se voorbeeld volg en goed doen, sal harte vir ons, net soos vir Hom, oopgaan. Nie onvriendelik nie, maar met‘n takt uit Goddelike liefde gebore, kan ons hulle vertel van Hom wat“uitnemender as tienduisend”is, en die Een wat“geheel en al die lieflikheid self” is (Hoogl. 5:10,16) Dit is die mees verhewe werk waarvoor ons die spraaktalent kan gebruik. Dit is aan ons gegee sodat ons Christus as sondevergewende Heiland kan voorstel.DGC 241.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents