Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Gelykenisse van Christus - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Talente Teruggegee

    “En ná ‘n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken.” Wanneer die Here met Sy diensknegte afreken, sal die wins op elke talent bereken word. Die werk wat gedoen is, openbaar die karakter van die werker.DGC 258.5

    Diegene wat die vyf en die twee talente ontvang het, gee aan die Here die toevertroude gawes saam met hulle wins terug. Hulle doen dit nie om met eie verdienste te roem nie. Hulle talente is dié wat aan hulle gegee is. Hulle het ander talente bygewin, maar sonder kapitaal kon daar geen wins gewees het nie. Hulle besef hulle het net hulle plig nagekom. Die kapitaal was die Here s‘n, die wins is Syne. As die Heiland nie Sy liefde en genade aan hulle betoon het nie, sou hulle vir ewig bankrot gewees het.DGC 258.6

    Maar wanneer die Meester die talente ontvang, gee Hy Sy goedkeuring en beloon Hy die werkers asof die verdienste alles hulle eie was. Vreugde en tevredenheid straal uit Sy aangesig. Hy is met genoeë vervul dat Hy seëninge op hulle kan uitstort. Vir elke diens en elke opoffering beloon Hy hulle, nie omdat Hy dit aan hulle verskuldig is nie, maar omdat Sy hart van liefde en teerheid oorloop.DGC 259.1

    Hy sê: “Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.”DGC 259.2

    Dit is die getrouheid, die lojaliteit aan God, die liefdesdiens wat die Goddelike goedkeuring wegdra. Elke aansporing van die Heilige Gees om mense tot goedheid en tot God te lei, word in die boeke van die hemel aangeteken, en in die dag van God sal die werkers deur wie Hy gewerk het, geprys word.DGC 259.3

    Hulle sal in die vreugde van die Here ingaan wanneer hulle diegene in Sy koninkryk sien wat deur hulle toedoen gered is. En hulle word bevoorreg om daar deel te hê aan Sy werk omdat hulle geskiktheid daarvoor bereik het deur hier aan Sy werk deel te neem. Wat ons in die hemel sal wees, is’n weerkaatsing van wat ons karakter en heilige diens nou is. Christus het van Homself gesê: “Die Seun van die mens [het] nie gekom ... om gedien te word nie, maar om te dien.‘‘ (Matt. 20:28) Sy werk op die aarde is Sy werk in die Hemel. En ons beloning omdat ons saam met Christus in die wêreld gewerk het, is die groter krag en groter voorreg om saam met Hom in die toekomstige wêreld te werk.DGC 259.4

    “En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie; omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.”DGC 259.5

    So verskoon mense hulle verwaarlosing van Gods gawes. Hulle dink God is’n harde tiran wat hulle foute afloer en hulle met oordele besoek. Hulle beskuldig Hom dat Hy eis wat Hy nooit gegee het nie, dat Hy maai waar Hy nie gesaai het nie.DGC 259.6

    Daar is vele wat God in hulle harte aankla dat Hy‘n harde man is omdat Hy aanspraak maak op hulle besittings en hulle diens. Maar ons kan niks na God bring wat nie reeds aan Hom behoort nie. “Want dit kom alles van U,” het koning Dawid gesê, “en uit u hand het ons dit aan U gegee.” (1 Kron. 29:14) Alles behoort aan God, nie net deur die skeppingsdaad nie, maar ook deur die verlossing. Al die seëninge van hierdie lewe en ook van die lewe wat kom, is aan ons afgelewer met die kruis van Golgota daarop gestempel. Daarom is die beskuldiging vals dat God ‘n harde man is, wat maai waar Hy nie gesaai het nie.DGC 260.1

    Die heer weerspreek nie die beskuldiging van die slegte dienskneg nie, al is dit onwaar; hy gebruik sy eie woorde om aan te toon dat daar geen verskoning vir sy gedrag is nie. Daar was verskillende maniere waarop die talent tot voordeel van die eienaar gebruik kon geword het. “Daarom,” het hy gesê, “moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.”DGC 260.2

    Ons hemelse Vader vereis niks meer of minder as waarvoor Hy ons die bekwaamheid gegee het nie. Hy lê op Sy diensknegte geen laste wat hulle nie in staat is om te dra nie. “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” Ps. 103:14. Alles wat Hy van ons eis, kan ons deur Goddelike genade lewer.DGC 260.3

    “Elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel ge vorder word.” Lukas 12:48. Ons sal persoonlik verantwoordelik gehou word omdat ons een jota minder gedoen het as waarvoor ons die bekwaamheid het. Die Here meet presies elke moontlikheid vir diens. Die ongebruikte bekwaamhede kom net soveel in aanmerking as die wat gebruik is. God hou ons verantwoordelik vir alles wat ons deur die regte gebruik van ons talente kon geword het. Ons sal geoordeel word volgens wat ons moes gedoen het, maar wel nie gedoen het nie omdat ons nie ons kragte gebruik het om God daarmee te verheerlik nie. Al sou ons selfs nie ons siele verloor nie, sal ons in die hiernamaals die gevolg van ons ongebruikte talente besef. Vir al die kennis en bekwaamheid wat ons kon verwerf het, maar wel nie gedoen het nie, sal daar‘n ewige verlies wees.DGC 260.4

    Maar wanneer ons ons geheel en al aan God oorgee, en in ons werk Sy bevele gehoorsaam, maak Hy Hom verantwoordelik vir die uitvoering daarvan. Hy wil nie hê dat ons moet gis oor die welslae van ons eerlikeDGC 260.5

    strewe nie. Ons moet nie eens een keer aan mislukking dink nie. Ons moet net saamwerk met Een wat geen mislukking ken nie.DGC 261.1

    Ons moet nie oor ons eie swakheid en onbekwaamheid praat nie. Dit is uitdruklike wantroue in God;‘n verloëning van Sy woord. Wanneer ons oor ons laste kla of weier om die verantwoordelikhede te dra wat Hy op ons gelê het, dan is dit asof ons sê dat Hy‘n harde man is, dat Hy van ons verwag dat ons iets moet doen waarvoor Hy ons nie die krag gegee het nie.DGC 261.2

    Ons is dikwels geneig om die gees van die lui dienskneg nederigheid te noem. Maar ware nederigheid is geheel en al anders. Om met nederigheid beklee te wees, beteken nie dat ons verstandelike dwergies sonder strewe moet wees en lafhartig moet leef terwyl ons laste vermy uit vrees dat ons hulle nie met welslae sal kan dra nie. Ware nederigheid verrig Gods doel deur op Sy krag te steun.DGC 261.3

    God werk deur wie Hy wil. Soms kies Hy die nederigste instrument om die grootste werk te doen, want Sy krag word deur die swakheid van die mens geopenbaar.DGC 261.4

    Ons het ons maatstaf en daarvolgens verklaar ons dat een ding groot en ‘n ander klein is, maar God meet nie met ons maatstaf nie. Ons moet nie dink dat wat vir ons groot lyk, vir God groot moet wees, of wat vir ons klein lyk, vir Hom klein moet wees nie. Dit rus nie by ons om ‘n oordeel te vel oor ons talente of om ons werk te kies nie. Ons moet die laste wat die Here bepaal, opneem, hulle om Sy ontwil dra, en dan altyd na Hom toe gaan vir rus. Wat ons werk ook al mag wees, God word vereer deur heelhartige, blymoedige diens. Dit behaag Hom as ons ons pligte met dankbaarheid opneem en ons daarin verheug dat ons waardig geag kan word om medewerkers van Hom te wees.DGC 261.5

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents