Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Gelykenisse van Christus - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 11—“Nuwe en Ou Dinge”

    Na aanleiding van Mattheus 13:51, 52

    ONDERWYL Christus die volk geleer het, het Hy Sy dissipels opgelei vir hulle toekomstige werk. In al Sy onderrig was daar vir hulle lesse. Nadat Hy die gelykenis van die net gegee het, het Hy hulle gevra: “Het julle al hierdie dinge verstaan?” en hulle het geantwoord: “Ja, Here!” Toe leer Hy hulle met nog ‘n gelykenis hulle verantwoordelikheid in verband met die waarhede wat hulle ontvang het. “Daarom,” het Hy gesê, “is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos’n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”DGC 79.1

    Die huisheer hoop die skatte wat hy kry nie op nie.DGC 79.2

    Hy bring hulle te voorskyn om hulle met andere te deel. En deur gebruik, word die skatte meer. Die huisheer het kosbare dinge beide nuut en oud. So leer Christus ons dat die waarheid wat aan die dissipels toevertrou is, aan die wêreld meegedeel moet word. En namate die kennis van die waarheid meegedeel word, sal dit meer word.DGC 79.3

    Almal wat die evangelieboodskap in die hart ontvang, sal verlang om dit te verkondig. Die liefde van Christus, wat uit die hemel gebore is, moet hom laat geld. Diegene wat hulle met Christus beklee het, sal van hulle ondervinding vertel en stap vir stap die leiding van die Heilige Gees bekend maak. Hoe hulle gehonger en gedors het na die kennis van God en van Jesus Christus wat Hy gestuur het; van die gevolge van hulle ondersoek van die Skrifte; hulle gebede, hulle sieleangs, en die woorde van Christus tot hulle: “Jou sondes is jou vergewe!” Dis onnatuurlik vir enigeen om hierdie dinge te verswyg, en diegene wat gevul is met die liefde van Christus, sal dit nie doen nie. In dieselfde mate as wat die Here Sy heilige waarheid aan hulle toevertrou het, sal hulle verlang om dieselfde seën aan andere te bring. En namate hulle die ryk skatte van Gods genade bekend maak, sal hulle met al meer van die genade van Christus toebedeel word. Hulle sal die hart van ‘n kindjie hê met sy eenvoud en onvoorwaardelike gehoorsaamheid. Hulle siele sal na heiligheid smag en al meer van die skatte van die waarheid en genade sal aan hulle geopenbaar word sodat hulle dit aan die wêreld kan gee.DGC 79.4

    Die groot skatkamer van die waarheid is die woord van God - die geskrewe Woord, die boek van die natuur, en die boek van ondervinding van Gods handelwyse met die menslike lewe. Hier is die skatbronne waaruit die werkers van Christus moet put. In die soektog na waarheid, moet hulle op God vertrou, nie op mense, die groot manne wie se wysheid dwaasheid by God is nie. Deur Sy eie gekose kanale sal die Here die kennis aangaande Homself aan elke soeker meedeel.DGC 80.1

    As die volgelinge van Christus in Sy Woord sal glo en dit beoefen, sal daar geen natuurwetenskap wees wat hy nie in staat sal wees om te verstaan en te waardeer nie. Daar is niks wat hy nie sal kan gebruik om die waarheid aan andere mee te deel nie. Die natuurwetenskappe is bronne van kennis waaruit elke student in die skool van Christus kan put. Wanneer ons die skoonheid van die natuur bepeins, wanneer ons sy lesse in die bewerking van die grond, in die groei van die bome, in al die wondere van aarde, see en lug leer, sal ons ‘n nuwe begrip van die waarheid kry. Die verborgenhede in verband met Gods behandeling van die mens, die dieptes van Sy wysheid en oordeel soos in die menselewe gesien - in hulle ontdek ons’n skathuis ryk aan skatte.DGC 80.2

    Maar in die geskrewe Woord word die kennis van God die duidelikste aan die sondige mens geopenbaar. Dit is die skatkamer van die onnaspeurlike rykdom van Christus.DGC 80.3

    Die Woord van God bevat sowel die Ou Testament as die Nuwe. Een is onvolledig sonder die ander. Christus het verklaar dat die waarhede van die Ou Testament net so waardevol is as dié van die Nuwe. Aan die begin van die wêreld was Christus net soseer die Verlosser van die mensdom as nou. Voordat Hy Sy Godheid met mensheid beklee en na ons wêreld gekom het, is die evangelieboodskap deur Adam, Set, Henog, Metusalag en Noag verkondig. Abraham het die boodskap in Kanaan verkondig en Lot in Sodom, en van geslag tot geslag het getroue boodskappers Sy koms bekend gemaak. Die rites van die Joodse stelsel is deur Christus self ingestel. Hy was die grondslag van hulle offerstelsel, die groot teenbeeld van al hulle godsdiens-oefeninge. Die offerbloed wat gestort is, het vooruit na die soenoffer van die Lam van God gewys. Alle sinnebeeldige offers is in Hom vervul.DGC 80.4

    Christus, soos Hy aan die patriarge getoon, in die offerdiens voorgestel, in die wet uitgebeeld en deur profete geopenbaar is, is die rykdom van die Ou Testament. Christus, in Sy lewe, in Sy dood, in Sy opstanding, Christus soos deur die Heilige Gees geopenbaar, is die skat van die Nuwe Testament. Ons Heiland, die afskynsel van die heerlikheid van die Vader, is sowel die Oue as die Nuwe.DGC 81.1

    Van Christus se lewe en dood en bemiddeling wat profete voorspel het, sou die apostels nou gaan getuig. Christus in Sy vernedering, in Sy reinheid en heiligheid, in Sy ongeëwenaarde liefde, sou die hoofsaak van hulle boodskap wees. En om die evangelie in al sy volheid te verkondig, moet hulle die Heiland nie net voorhou soos Sy lewe en Sy leer Hom openbaar nie, maar ook soos die profete van die Ou Testament Hom voorspel en soos die offerdiens Hom simboliseer.DGC 81.2

    In Sy leer het Christus ou waarhede voorgehou waarvan Hy self die oorsprong was, waarhede wat Hy deur patriarge en profete verkondig het, maar nou het Hy nuwe lig daarop gewerp. Hoe anders was die betekenis! Sy verduideliking het‘n oorvloed van lig en geestelikheid meegebring. En Hy het belowe dat die Heilige Gees die dissipels sou verlig, dat die Woord van God altyd meer vir hulle sou ontvou. Hulle sou in staat wees om die waarheid daarvan so voor te stel dat mense daar ‘n nuwe skoonheid in gewaar.DGC 81.3

    Sedert die eerste belofte van verlossing in Eden gespreek is, het mense die lewe, die karakter, en die middelaarswerk van Christus bestudeer. Nogtans het elkeen deur wie die Heilige Gees gewerk het, hierdie onderwerp in ‘n nuwe lig voorgestel. Die waarhede van die verlossing kan voortdurend ontwikkel en uitgebrei word. Hoewel hulle oud is, is hulle altyd nuut. Deur hulle gaan daar vir die soeker na waarheid altyd groter heerlikheid en krag oop.DGC 81.4

    In elke eeu is daar ‘n nuwe uitbreiding van die waarheid, ‘n boodskap van God aan daardie geslag. Die ou waarhede is almal noodsaaklik; nuwe waarhede is nie onafhanklik van die oues nie, maar is’n ontplooiing daarvan. Eers wanneer ons die ou waarhede verstaan, kan ons die nuwes begryp. Toe Christus aan Sy dissipels die waarheid aangaande Sy opstanding wou openbaar, het Hy “van Moses en al die profete af” begin, en “vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het” (Lukas 24:27) Maar dit is die lig wat uit die nuwe ontplooiing van die waarheid straal wat die oue verheerlik. Hy wat die nuwe verwerp of verwaarloos, is nie werklik in besit van die oue nie. Vir hom het dit nie meer lewende krag nie, dit word ‘n lewelose vorm.DGC 81.5

    Daar is mense wat voorgee dat hulle die waarhede van die Ou Testament glo en leer, maar die Nuwe verwerp. Maar deur te weier om die leer van Christus aan te neem, toon hulle dat hulle nie glo wat patriarge en profete gespreek het nie. “Maar as julle Moses geglo het,” het Christus gesê, “sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.” (Joh. 5:46) Gevolglik is daar geen werklike krag in hulle onderrigting, selfs uit die Ou Testament nie.DGC 82.1

    Vele wat meen dat hulle die evangelie glo en leer, maak dieselfde fout. Hulle verwerp die Ou-Testamentiese geskrifte, waarvan Christus gesê het: “Dit is dié wat van My getuig.” (Joh. 5:39) Deurdat hulle die Oue verwerp, verwerp hulle eintlik die Nuwe, want albei is dele van ‘n onskeidbare geheel. Niemand kan die wet van God sonder die evangelie of die evangelie sonder die wet reg verkondig nie. Die wet is die beliggaming van die evangelie, en die evangelie is die ontplooiing van die wet. Die wet is die wortel, die evangelie is die geurige bloeisel en die vrug wat dit dra.DGC 82.2

    Die Ou Testament werp lig op die Nuwe, en die Nuwe op die Oue. Elk is’n openbaring van die heerlikheid van God in Christus. Albei openbaar waarhede wat voortdurend aan die ernstige soeker nuwe dieptes van betekenis sal openbaar.DGC 82.3

    Waarheid in Christus en deur Christus is onmeetlik. Hy wat die Skrifte bestudeer, kyk as’t ware in ‘n fontein in wat al dieper en breër word namate hy die dieptes inkyk. In hierdie lewe sal ons geen begrip kan vorm van die verborgenheid van die liefde wat beweeg het om Sy Seun te gee om vir ons sondes te boet nie. Die werk van ons Heiland op hierdie aarde is ‘n onderwerp wat ons verbeeldingskrag tot die uiterste toe sal inspan, en dit sal altyd so wees. ‘n Mens kan sy verstand tot die uiterste toe inspan om hierdie verborgenheid te probeer peil, maar hy sal net swak en uitgeput raak. Die ywerigste soeker sal hom voor‘n grenslose see bevind.DGC 82.4

    Die waarheid soos dit in Jesus beliggaam is, kan belewe, maar nie ver-duidelik word nie. Die hoogte en breedte en diepte daarvan gaan ons ver-stand te bowe. Ons kan ons verbeelding tot die uiterste toe inspan, en dan sien ons nog net die vae buitelyne van ‘n onverklaarbare liefde wat so hoog soos die hemele is, maar hom tot die aarde toe verneder het om die beeld van God op die ganse mensdom af te druk.DGC 83.1

    Nogtans is dit vir ons moontlik om soveel van die Goddelike meegevoel te sien as wat ons kan verdra. Dit word vir die nederige, boetvaardige siel blootgelê. Namate ons begryp wat God vir ons opgeoffer het, sal ons ook Sy medelyde verstaan. Na gelang ons die Woord van God met‘n nederige hart ondersoek, sal ons die verlossing beter verstaan. Hoe langer ons dit beskou, hoe duideliker sal dit word, en hoe meer ons streef om dit te begryp, hoe hoër en dieper sal dit word.DGC 83.2

    Ons lewe moet met die lewe van Christus saamgevoeg word; ons moet gedurig van Hom leer, Hom, die lewende Brood wat uit die hemel neergedaal het; nuttig, uit die fontein drink wat altyd vars is, wat immer sy oorvloedige skatte voortbring. As ons altyd aan die Here dink, Hom van harte dank en loof, sal ons godsdienstige lewe altyd opleef. Ons gebede sal soos ‘n gesprek met God wees, asof ons met ‘n vriend gesels. Hy sal Sy verborgenhede persoonlik aan ons bekend maak. Dikwels sal ons ‘n soete, vreugdevolle bewustheid van die teenwoordigheid van Jesus beleef. Dikwels sal ons harte brandende in ons wees wanneer Hy nader kom om soos met Henog ook met ons gemeenskap te hou. Wanneer die Christen dit werklik ondervind, verskyn daar in sy lewe ‘n onskuld,‘n nederigheid, verdraagsaamheid en sagmoedigheid van hart, wat aan almal met wie hy omgaan, toon dat hy‘n metgesel van Jesus is en van Hom geleer het.DGC 83.3

    In hulle wat dit besit, sal die Christelike geloof as ‘n lewegewende, deurdringende beginsel, ‘n lewende, werkende, geestelike krag gesien word. Die varsheid en krag en vreugde van voortdurende jeugdigheid sal kennelik in hulle wees. Die hart wat die woord van God ontvang, is nie soos ‘n plas wat verdamp nie, nie soos ‘n gebreekte bak wat sy skat verloor nie. Dit is soos’n bergstroom wat deur onuitputlike fonteine gevoed word, waarvan die koel, vonkelende waters van rots tot rots spring, en die vermoeides, dorstiges en swaarbelastes verkwik.DGC 83.4

    Hierdie belewenis gee aan elke verkondiger van die waarheid die besondere eienskappe wat hom bekwaam om Christus te verteenwoordig. Die gees van Christus se leer sal sy boodskappe en gebede kragtig en uitdruklik maak. Sy getuienis vir Christus sal nie eng en leweloos wees nie. Die leraar sal nie dieselfde ou preke herhaal nie. Sy gemoed sal oop wees vir die voortdurende toeligting deur die Heilige Gees.DGC 84.1

    Christus het gesê: “Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe. ... Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. ... Dit is die gees wat lewend maak ... die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” Joh. 6:54-63.DGC 84.2

    Wanneer ons Christus se vlees eet en Sy bloed drink, sal die element van die ewige lewe in die bediening gevind word. Daar sal nie ‘n voorraad ou afgesaagde, dikwels herhaalde idees wees nie. Die saai, vervelige prekery sal tot‘n einde kom. Die ou waarhede sal aangebied word, maar hulle sal in ‘n nuwe lig gesien word. Daar sal ‘n nuwe begrip van die waarheid wees, ‘n helderheid en ‘n krag wat vir almal duidelik sal wees. Hulle wat die voorreg het om so‘n bediening aan te hoor, sal as hulle ontvanklik is vir die invloed van die Heilige Gees, die opwekkende krag van ‘n nuwe lewe aanvoel. Die vuur van Gods liefde sal aangesteek word. Hulle insig sal verskerp word sodat hulle die skoonheid en majesteit van die waarheid kan onderskei.DGC 84.3

    Die getroue huisheer is ‘n voorbeeld van wat elkeen wat kinders en jongmense onderrig, behoort te wees. As die Woord van God sy skat is, sal hy gedurig nuwe skoonheid en nuwe waarhede te voorskyn bring. As die onderwyser biddend op God vertrou, sal die Gees van Christus op hom neerdaal, en God sal deur middel van die Heilige Gees deur hom op die gemoedere van andere werk. Die Gees vul die verstand en die hart met soete hoop en moed en met Bybelse beelde, en al hierdie dinge sal onder sy leiding aan die jeug oorgedra word.DGC 84.4

    Die fonteine van hemelse vrede en vreugde, wat deur die ingegewe woorde in die siel van die onderwyser oopgemaak word, sal ‘n magtige rivier van invloed word tot heil van almal wat met hom in aanraking kom. Dan sal die Bybel nie vir die student‘n vermoeiende boek wees nie. Onder ‘n wyse leermeester sal die Woord steeds begeerliker word. Dit sal soos die brood van die lewe wees, en nooit oud word nie. Die oorspronklikheid en skoonheid daarvan sal die kinders en jongmense aantrek en bekoor. Dit is soos die son wat op die aarde skyn en voortdurend lig en warmte verleen, maar nooit uitgeput raak nie.DGC 84.5

    Gods heilige, opvoedende Gees is in Sy woord. ‘n Lig, ‘n nuwe en kosbare lig, straal uit elke bladsy. Waarheid word daar geopenbaar, en woorde en sinne word duidelik en gepas vir die geleentheid, soos die stem van God wat tot die siel spreek.DGC 85.1

    Die Heilige Gees spreek graag tot die jeug en openbaar aan hulle skatte en skoonhede van Gods Woord. Die beloftes wat deur die groot Leermeester gespreek is, sal die sintuie gevange neem en die siel met ‘n Goddelike, geestelike krag verlewendig. In die vrugbare verstand sal bekendheid met Goddelike dinge groei, en dit sal as’n skans teen versoeking dien.DGC 85.2

    Die woorde van waarheid sal al belangriker word, en ‘n breë, voile betekenis kry waarvan ons nog nooit kon droom nie. Die skoonheid en rykdom van die Woord het‘n veranderende invloed op die gesindheid en die karakter. Die hemelse liefde tref die hart as ‘n besielende lig.DGC 85.3

    Mens waardeer die Bybel meer namate jy dit bestudeer. Waar die student ook al kyk, vind hy daarin ‘n uitstalling van die oneindige wysheid en liefde van God.DGC 85.4

    Ons begryp die betekenis van die Joodse stelsel nog nie ten voile nie. Omvattende, grondige waarhede word deur sy rites en simbole uitgebeeld. Die evangelie is die sleutel wat sy verborgenhede ontsluit. ‘n Kennis van die verlossingsplan help om sy waarhede verstaanbaar te maak. Dit is ons voorreg om hierdie mooi onderwerpe veel beter as nou te verstaan. Ons moet die diep dinge van God verstaan. Engele verlang om die waarhede te verstaan wat aan diegene geopenbaar woord wat met verslae harte die Woord van God ondersoek, en wat bid om meer lengte en breedte en diepte en hoogte in die kennis wat net Hy kan gee.DGC 85.5

    Na gelang die einde van hierdie wêreld se geskiedenis nader kom, moet ons veral die profesieë betreffende die laaste dae bestudeer. Die laaste boek van die Nuwe Testament is vol waarhede wat ons moet verstaan. Die Satan het die insig van vele belemmer sodat hulle enige verskoning aangegryp het om die boek Openbaring nie te bestudeer nie. Maar Christus het deur Sy dienskneg Johannes vertel wat in die laaste dae moet gebeur, en Hy sê:DGC 85.6

    “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees; en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is.” (Openb. 1:3)DGC 86.1

    “En dit is die ewige lewe,” het Christus gesê, “dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Joh. 17:3) Waarom is dit dat ons die waarde van hierdie kennis nie besef nie? Waarom is hierdie heerlike waarhede nie soos ‘n warm gloed in ons harte nie? Waarom bewe hulle nie op ons lippe nie? Waarom is ons hele wese nie daarmee deurtrek nie?DGC 86.2

    Deurdat Hy Sy Woord aan ons gegee het, het God elke waarheid aan ons gegee wat nodig is vir ons verlossing. Duisende het uit hierdie bronne van die lewe water geput, en tog is die voorraad niks minder nie. Duisende het die Here voor hulle gestel, en deur aanskoue is hulle in dieselfde beeld verander. Hulle gees brand in hulle wanneer hulle van Sy karakter praat, en vertel wat Christus vir hulle beteken, en hulle vir Christus. Maar hierdie soekers het nog nie hierdie verhewe en heilige onderwerpe uitgeput nie. Nog duisende kan die verborgenhede van saligheid navors. Na gelang die lewe van Christus en die aard van Sy sending bepeins word, sal ligstrale nog duideliker uitstraal met elke poging om waarheid te ontdek. Elke nuwe soektog sal interessanter dinge openbaar as wat nog ooit ontdek is. Die onderwerp is onuitputlik. Die studie van die vleeswording van Christus, Sy soenoffer en middelaarswerk sal die gedagte van die vlytige student besig hou solank daar nog tyd is, en hy sal na die hemel met sy ontelbare jare opkyk, en uitroep:“Die verborgenheid van die godsaligheid is groot.”DGC 86.3

    In die ewigheid sal ons alles leer wat ons verstand sou geopen het as ons hier al die moontlike inligting ontvang het. Die verlostes sal deur die ewigheid oor die verlossing dink en praat en sing. Hulle sal die waarhede verstaan wat Christus graag aan Sy dissipels wou openbaar, maar wat hulle weens gebrek aan geloof nie kon verstaan nie. In alle ewigheid sal nuwe insigte in die volmaaktheid en heerlikheid van Christus ontplooi. Deur die eindelose eeue sal die getroue Huisheer uit Sy skatte nuwe en ou dinge te voorskyn bring.DGC 86.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents