Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Gelykenisse van Christus - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Die Verlore Skaap

    Hierdie keer het Christus Sy toehoorders nie aan die Skrifwoord herinner nie. Hy het hom op die getuienis van hulle eie ondervinding beroep. Die wyd uitgestrekte tafellande aan die oostekant van die Jordaan het oorvloedige weiding vir vee aangebied, en deur die klowe en oor die be boste heuwels het menige verlore skaap gedwaal om weer deur ‘n sorgsame herder gesoek en teruggebring te word. In die geselskap rondom Jesus was herders en ook persone wat geld in troppe vee belê het, en almal kon Sy voorstelling waardeer: “Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die nege-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie?”DGC 124.3

    Hierdie siele wat julle verag, het Jesus gesê, is die eiendom van God. Deur skepping en verlossing is hulle Syne, en hulle is waardevol in Sy oë. Net soos die herder sy skape liefhet en nie kan rus as daar selfs een weg is nie, so het God elke verstote siel oneindig meer lief. Mense ontken miskien dat Sy liefde‘n aanspraak op hulle het, hulle dwaal miskien van Hom weg en kies dalk ‘n ander meester; tog behoort hulle aan God, en Hy verlang om Sy eie terug te win. Hy sê: “Soos ‘n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg: en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid.” (Eseg. 34:12)DGC 124.4

    In die gelykenis gaan die herder uit om na een skaap te soek-die minste wat getel kan word. So sou Christus, al was daar net een verlore siel, vir daardie een gesterf het.DGC 125.1

    Die skaap wat van die kudde weggedwaal het, is die hulpeloosste van alle skepsele. Die herder moet daarna soek, want dit kan nie self terugkom nie. So ook met die siel wat van God weggedwaal het, hy is so hulpeloos soos ‘n verdwaalde skaap, en as Goddelike liefde hom nie kom red het nie, sou hy nooit na God terugkeer nie.DGC 125.2

    Die herder wat ontdek dat een van sy skape makeer, kyk nie onverskillig na sy trop wat veilig in die kraal is, en sê, “Ek het negen-en-negentig, en dit sal vir my te veel moeite kos om na die verdwaalde een te gaan soek, laat hom terugkom en Ek sal die deur van die skaapkraal oopmaak en hom inlaat” nie. Nee; skaars het die skaap verdwaal of die herder is bedroef en bekommerd. Hy tel sy kudde en tel hulle weer. As hy seker is dat een van die skape makeer, gaan hy nie slaap nie. Hy los die nege-en-negentig in die kraal en gaan die verdwaalde skaap soek. Hoe donkerder en stormagtiger die nag en hoe gevaarliker die weg, hoe groter die herder se angs en hoe ernstiger soek hy. Hy doen alles in Sy vermoë om daardie een verlore skaap te vind.DGC 125.3

    Met watter verligting hoor hy in die verte die eerste effense geblêr. Hy klim teen die hoogste steiltes agter die geluid aan en waag sy lewe tot aan die rand van die afgrond. So soek hy verder terwyl die geblêr al sagter word en hom laat weet dat die skaap byna dood is. Uiteindelik word sy moeite beloon en die verlorene word gevind. Dan raas hy nie met hom omdat hy hom soveel moeite veroorsaak het nie. Hy jaag hom nie met ‘n sweep aan nie. Hy probeer hom selfs nie huis toe lei nie. In sy vreugde neem hy die bewende dier op sy skouers. As hy gekneus en gewond is, neem hy hom in sy arms en druk hom aan sy bors sodat die warmte van sy eie hart aan hom lewe kan gee. Met dankbaarheid dat sy soektog nie verniet was nie, dra hy hom na die kudde terug.DGC 125.4

    Dank God, Hy het geen droewige toneel voor ons verbeelding geskilder van ‘n bedroefde herder wat sonder die skaap terugkeer nie. Die gelykenis spreek nie van mislukking nie, maar van sukses en die vreugde van herwinning. Hier is die Goddelike waarborg dat selfs nie een van die verlore skape van Gods kudde oorgesien word nie. Nie een word sonder hulp gelaat nie. Christus sal elkeen wat hom oorgee om vrygekoop te word, uit die put van verdorwenheid en uit die dorings van sonde red.DGC 125.5

    Wanhopige siel, hou moed, selfs al het u verkeerd gehandel. Moenie dink dat God miskien u sondes sal vergewe en u sal toelaat om in Sy teenwoordigheid te kom nie. God het die eerste toenadering gesoek. Terwyl u in opstand was teen Hom, het Hy u gaan soek. Met die tere hart van die herder het Hy die nege-en-negentig agtergelaat en in die woestyn na die verdwaalde gaan soek. Om die siel wat gekneus en gewond is, wat gereed is om te sterf, slaan Hy Sy arms van liefde, en met vreugde dra Hy hom na die veilige kraal.DGC 126.1

    Die Jode het geleer dat die sondaar hom moet bekeer voordat Gods liefde tot hom uitgereik kan word. In hulle oog is bekering die werk waardeur die mens die guns van God moes verdien. En dit was hierdie gedagte wat die Fariseërs in verbasing en woede laat uitroep het: “Hierdie man ontvang sondaars.” Hulle het gemeen Hy moes niemand toelaat om Hom te nader behalwe diegene wat tot bekering gekom het nie. Maar in die gelykenis van die verlore skaap het Christus geleer dat redding nie kom deurdat ons God soek nie, maar deurdat God ons soek. “Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk.” Rom. 3:11, 12. Ons kom nie tot bekering sodat God ons moet liefhê nie, maar Hy openbaar Sy liefde aan ons sodat ons tot bekering kan kom.DGC 126.2

    Wanneer die verdwaalde skaap uiteindelik huis toe gebring word, sing die herder sy welluidende danken vreugdelied. Hy roep sy vriende en bure en sê aan hulle: “Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.” So ook wanneer die groot Herder van die skape ‘n verdwaalde skaap vind, hef die hemel en die aarde saam ‘n danken vreugdelied aan.DGC 126.3

    “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor nege-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” Julle Fariseërs, het Christus gesê, dink dat julle die gunstelinge van die hemel is. Julle dink dat julle veilig in julle eie geregtigheid rus. Julle moet dan weet dat as julle geen bekering nodig het nie, My sending nie op julle betrekking het nie. Hierdie arme siele wat hulle armoede en sondigheid voel - dit is juis hulle wat Ek kom red het. Die engele van die hemel stel belang in hierdie verlorenes wat julle verag. Julle kla en trek julle neus op wanneer een van hierdie siele hom by My aansluit; maar weet dit dat engele hulle verheug en‘n triomflied klink in die hemelhowe daarbo.DGC 126.4

    Die rabbi’s het ‘n gesegde gehad dat daar vreugde in die hemel is as iemand wat teen God gesondig het, vernietig word: maar Jesus het geleer dat die werk van vernietiging vir God ‘n vreemde werk is. Die ganse hemel verheug hom wel in die herstel van Gods eie beeld in die siele wat Hy geskape het.DGC 127.1

    Wanneer iemand wat ver in die sonde verdwaal het, probeer om na God terug te keer, sal hy kritiek en wantroue ondervind. Sommige sal twyfel of sy bekering opreg is, of hulle sal fluister: “Hy het geen vastigheid nie; ek glo nie dat hy sal kan volhou nie.” Hierdie mense doen nie die werk van God nie, maar die werk van die Satan, wat die aanklaer van die broeders is. Deur hulle kritiek wil die Bose daardie siel mismoedig maak en steeds verder wegdryf van hoop en van God. Laat die boetvaardige sondaar nadink oor die vreugde in die hemel oor die terugkeer van die een wat verlore was. Laat hom rus vind in die liefde van God en geensins mismoedig voel oor die veragting en agterdog van die Fariseërs nie.DGC 127.2

    Die Rabbi’s het verstaan dat Christus se gelykenis op die tollenaars en sondaars van toepassing was, maar dit het ook‘n breër betekenis gehad. Deur die verlore skaap stel Christus nie net die individuele sondaar voor nie, maar die een wêreld wat afvallig geword het en deur sonde verwoes is. Hierdie wêreld is net‘n atoom in die groot heelal waaroor God regeer, nogtans is hierdie gevalle wêreldjie die een verlore skaap-kosbaarder in Sy oë as die nege-en-negentig wat nie van die kudde weggedwaal het nie. Christus, die geliefde Bevelvoerder van die hemelse howe het Homself verneder; Hy het afstand gedoen van die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het om die een verlore wêreld te red. Hiervoor het Hy die sondelose wêrelde daar bo verlaat - daardie nege-en-negentig wat Hom liefgehad het - en na hierdie aarde gekom om “ter wille van ons oortredinge deurboor” en “ter wille van ons ongeregtighede ... verbrysel” te word (Jes. 53:5) God het Homself in Sy Seun gegee sodat Hy die vreugde kan smaak om die verlore skaap terug te kry.DGC 127.3

    “Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word.” 1 Joh. 3:1. En Christus sê: “Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.” (Joh. 17:18) - om aan te vul “die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is.” (Kol. 1:24) Elke siel wat Christus gered het, is geroep om in Sy Naam te werk vir die wat verlore is. Hierdie werk was in Israel verwaarloos. Word dit nie vandag deur diegene verwaarloos wat bely dat hulle Christus se volgelinge is nie?DGC 128.1

    Hoeveel van die verdwaaldes het u, geagte leser, gaan soek en na die kudde teruggebring? Wanneer u, u van diegene afwend wat onbelowend en onaantreklik skyn te wees, besef u dat u besig is om siele te verwaarloos na wie Christus soek? Juis op daardie oomblik wanneer u hulle verwerp, kan hulle in die grootste behoefte vir u meegevoel verkeer. In elke godsdienstige byeenkoms is daar siele wat na rus en vrede verlang. Dit kan voorkom of hulle onverskillig leef, maar hulle is nie onbewus van die invloed van die Heilige Gees nie. Baie van hulle kan vir Christus gewen word.DGC 128.2

    As die verlore skaap nie na die kudde teruggebring word nie, dwaal hy totdat hy sterf. En baie siele word verwoes omdat daar nie ‘n uitgestrekte hand was om te red nie. Hierdie sondiges kom miskien hard en onverskillig voor, maar as hulle dieselfde voordele gehad het wat andere gehad het, sou hulle miskien ‘n veel groter eerbaarheid en meer talente vir diensbaarheid aan die dag gelê het. Engele bejammer hierdie verdwaaldes. Engele ween terwyl menslike oë droog is en harte sonder meegevoel gesluit is. O, die gebrek aan diepe, sielroerende meegevoel vir die versoektes en dwalendes! Was daar net meer van Christus se gees en minder, veel minder, van die self.DGC 128.3

    Die Fariseërs het verstaan dat Christus se gelykenis vir hulle‘n teregwysing was. Pleks dat Hy hulle kritiek oor Sy werk aanvaar het, het Hy hulle vir hulle verwaarlosing van die tollenaars en sondaars tereggewys. Hy het dit nie openlik gedoen nie om te verhoed dat dit hulle harte teen Hom sou sluit, maar Sy illustrasie het hulle op die eintlike werk gewys wat God van hulle verlang het en wat hulle versuim het om te doen. As hulle ware herders was, sou hierdie leiers van Israel die werk van ‘n herder gedoen het. Hulle sou die genade en liefde van Christus geopenbaar het en sou saam met Hom Sy sending verrig het. Hulle weiering om dit te doen het bewys dat hulle beweerde vroomheid vals was. Daar was wel baie wat Christus se teregwysinge verwerp het, nogtans het Sy woorde sommige oortuig. Na Christus se hemelvaart het die Heilige Gees op hierdie persone gekom, en hulle het hulle met die dissipels verenig in die werk wat in die gelykenis van die verlore skaap uiteengesit word.DGC 128.4

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents