Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Gelykenisse van Christus - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 16—“Verlore en Is Gevind”

    Na aanleiding van Lukas 15:11-32

    DIE gelykenisse van die verlore skaap, die verlore muntstuk en die verlore seun, verduidelik aan ons Gods medelydende liefde vir diegene wat van Hom weggedwaal het. Hoewel hulle God verwerp het, laat Hy hulle nie net so in hulle ellende bly nie. Hy is vol goedheid en tere meegevoel teenoor almal wat aan die versoekings van die slinkse vyand blootgestel is.DGC 135.1

    Die gelykenis van die verlore seun vertel hoe die Here met diegene handel wat eenmaal die Vader se liefde geken het, maar toegelaat het dat die versoeker hulle na willekeur gevange neem.DGC 135.2

    ” ‘n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ‘n vêr land.”DGC 135.3

    Hierdie jongste seun het moeg geword vir die beperkinge in sy vader se huis. Hy het gedink dat sy vryheid ingeperk was. Sy vader se liefde en sorg vir hom het hy verkeerd voorgestel, en hy het besluit om sy eie kop te volg.DGC 135.4

    Die jongman erken geen verpligting teenoor sy vader nie en spreek ook geen dankbaarheid uit nie, en tog maak hy aanspraak op sy voorreg as kind om deel te hê aan sy vader se besittings. Die erfenis wat hom met sy vader se dood te beurt sou val, wil hy nou hê. Hy dink net aan die genietinge van die oomblik en gee nie vir die toekoms om nie.DGC 135.5

    Nadat hy die vaderlike erfdeel ontvang het, gaan hy na ‘n ver land, weg van sy vader se huis. Met volop geld, en die vryheid om te maak soos hy wil, vlei hy hom dat hy die verlange van sy hart verkry het. Daar is niemand om te sê:“Moenie so maak nie, want dit sal skadelik vir jou wees”; of: “Doen dit, want dit is reg, nie. Slegte maats help hom om dieper in sonde in te sak, en hy verkwis sy eiendom “deur losbandig te lewe.”DGC 135.6

    Die Bybel praat van mense wat “voorgee dat hulle wys is,” maar “hulle [het] dwaas geword.” (Rom. 1 :22); en dit is die verhaal van die jongman in die gelykenis. Hy verkwis die rykdom wat hy selfsugtig van sy vader geëis het op hoere. Die skat van sy jongelingsjare word verkwis.DGC 135.7

    Die kosbare jare van sy lewe, die krag van sy intellek, die heldere droomverwagtinge van sy jeug, die geestelike strewe-alles word in die gloed van wellus verteer.DGC 136.1

    Daar kom groot hongersnood; hy begin gebrek ly en voeg hom by een van die burgers van daardie land, wat hom die veld instuur om varke op te pas. Vir ‘n Jood was dit die laagste en vernederendste soort werk. Die jongeling wat in sy vryheid geroem het, bevind hom nou ‘n slaaf. Hy is nou in die ergste soort gebondenheid - in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.” (Spr. 5:22) Die glans en die klatergoud wat hom gelok het, het verdwyn, en hy voel die las van sy ketting. Terwyl hy in daardie verlate, verhongerde land op die grond sit, met geen ander geselskap as die varke nie, verlang hy om sy maag met die peule te vul waarmee die diere gevoed word. Van die plesiersoekende maats wat in die dae van sy oorvloed om hom gedraai het, en wat op sy koste geëet en gedrink het, is daar nie een oor om aan hom vriendskap te bewys nie. Waar is sy wilde plesier nou? Terwyl hy sy gewete gedemp en sy gevoelens verdoof het, het hy gedink dat hy gelukkig was, maar nou, met sy geld verkwis, met sy honger onversadig, met sy trots verneder, met sy morele natuur verstomp, met sy wil verswak en onbetroubaar, met sy fyner gevoelens skynbaar dood, is hy die ellendigste onder die sterflinge.DGC 136.2

    Wat ‘n prentjie van die toestand van die sondaar! Alhoewel hy met die seëninge van Gods liefde omring is, begeer die sondaar wat selfbevrediging en sondige plesier soek, niks meer as om van Hom ontslae te wees nie. Net soos die ondankbare seun, eis hy die goeie dinge van God asof hy daarop geregtig is. Hy beskou hulle as vanselfsprekend, en bewys geen dankbaarheid nie; hy lewer geen liefdesdiens nie. Net soos Kain weggegaan het van die teenwoordigheid van God af om ‘n tuiste te soek, soos die verlore seun na ‘n“vêr land” gedwaal het, so soek sondaars geluk sonder om God in erkentenis te hou. (Rom. 1:28)DGC 136.3

    Hoe dinge ook al op die oog af mag lyk, is elke lewe verkwis wat op homself ingekeer is. Hy wat probeer om sonder God te leef, bring sy eiendom deur. Hy verkwansel die kosbare jare, die vermoëns van verstand en hart en siel, en werk om homself vir die ewigheid bankrot te maak. Die man wat hom van God skei sodat hy homself kan dien, is die slaaf van mammon. Die verstand wat God vir die geselskap van engele geskape het, is verlaag tot diensbaarheid aan alles wat aards en dierlik is. Dit is die eindresultaat waartoe selfsug lei.DGC 136.4

    As u so ‘n lewe gekies het, weet u dat u geld afweeg vir iets wat geen brood is nie, en arbeid vir wat nie kan versadig nie. Daar kom tot u oomblikke wanneer u u verlaagde toestand insien. Alleen in die ver land is u bewus van u ellende, en wanhopig roep u uit: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?.” (Rom. 7:24) Dit is die verklaring van‘n universele waarheid wat in die volgende woorde van die profeet bevat word: “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk. En hy sal wees soos’n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ‘n brakkerige en onbewoonde land,” Jer. 17:5,6. God “laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.” (Matt. 5:45); maar die mens is in staat om hom van sonskyn en stortreën te verberg. Terwyl die Son van Geregtigheid dus skyn, en die stortreëns van genade vir almal oorvloediglik val, kan ons “dor plekke van die woestyn bewoon deur ons van God te skei.”DGC 137.1

    Die liefde van God verlang nog na die een wat verkies het om hom van Hom te skei, en Hy stel invloede in werking om hom na die Vaderhuis terug te bring. In sy ellende het die verlore seun “tot homself gekom.” Die Satan se verleidende mag oor hom is verbreek. Hy het ingesien dat sy lyding die gevolg was van sy eie dwaasheid, en gesê: “Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan.” Al was hy ellendig, die verlore seun het hoop gevind in die sekerheid van sy vader se liefde. Dit was daardie liefde wat hom huiswaarts getrek het. So ook is dit die sekerheid van Gods liefde wat die sondaar dring om na God terug te keer. Jy besef nie “dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei.” (Rom.2:4) nie.‘n Goue ketting, die genade en meegevoel van Goddelike liefde, word om elke bedreigde siel gebind. Die Here verklaar: “Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.” (Jer. 31:3)DGC 137.2

    Die seun neem hom voor om sy skuld te bely. Hy sal na sy vader gaan en sê: “Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.” Maar hy voeg by, en toon hierdeur aan hoe beperk sy begrip van sy vader se liefde is:“Maak my soos een van u huurlinge.”DGC 138.1

    Die jongman gaan van die troppe varke en die peule weg en rig hom huiswaarts. Bewend van swakheid en byna flou van die honger beur hy gretig aan huis toe. Hy het niks om sy vodde mee te dek nie, maar sy ellende het sy trots oorwin, en hy haas hom om te smeek dat hy ‘n huurling mag wees waar hy eenmaal as kind gewoon het.DGC 138.2

    Min het die vrolike, onbedagsame jongeling gedink toe hy uit sy vader se hek uitgegaan het, hoeveel pyn en verlange daar in die hart van daardie vader was. Terwyl hy saam met sy wilde maats gedans en feesgevier het, het hy min gedink aan die skadu wat op sy ouerhuis geval het. En waar hy nou met vermoeide en pynlike voetstappe die pad huiswaarts volg, weet hy nie dat daar iemand is wat op sy terugkoms wag nie. Maar toe “hy nog ver was” onderskei die vader sy gestalte. Liefde sien gou raak. Selfs nie die ontaarding van die jare van sonde kan die seun vir die vader se oe bedek nie. Hy het “innig jammer vir hom gevoel en gehardloop” en hom lank, styf en tederlik omhels.DGC 138.3

    Die vader sal nie toelaat dat veragtende oë met sy seun se ellende en vodde spot nie. Hy haal die breë, pragtige mantel van sy eie skouers af en hang dit om die seun se uitgeteerde liggaam, en die jongeling snik sy berou uit met die woorde; “Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie.” Die vader hou hom styf teen sy sy en bring hom huis toe. Hy kry geen geleentheid om te vra om soos ‘n huurling te wees nie. Hy is ‘n seun, wat met die beste vereer sal word wat die huis kan aanbied, en wat die bediendes sal respekteer en bedien.DGC 138.4

    Die vader sê toe aan sy diensknegte: “Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.”DGC 138.5

    In sy rustelose jongelingsjare het die verlorene sy vader as streng en kwaai beskou. Hoe anders is sy begrip van hom nou! So beskou diegene wat deur die Satan verlei word God as hard en streng. Hulle beskou Hom as Een wat gereed is om af te keur en te veroordeel, as Een wat onwillig is om die sondaar te ontvang solank as wat daar‘n wettige verskoning is om hom nie te help nie. Hulle beskou Sy wet as ‘n beperking op die geluk van die mens, ‘n neerdrukkende juk waarvan hulle bly is om los te, kom. Maar hy wie se oë deur die liefde van Christus geopen is, sal in God een sien wat vol medelyde is. Hy lyk nie na ‘n tiranniese, ontoegeeflike wese nie, maar na ‘n vader wat verlang om sy berouvolle seun te omhels. Die sondaar sal soos die psalmdigter uitroep: “Soos ‘n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.” (Ps. 103:13)DGC 139.1

    In die gelykenis is daar geen verwyte, geen verwysing na die verlore seun se sondige gedrag nie. Die seun voel dat die verlede vergewe en vergeet is - vir ewig uitgewis. En op dieselfde wyse sê God aan die sondaar: “Ek delg jou oortredinge uit soos’n newel en jou sondes soos’n wolk.” (Jes. 44:22) “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34) “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik...” (Jes. 55:7) “In dié dae en in dié tyd, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie.” (Jer. 50:20)DGC 139.2

    Wat ‘n versekering het ons hier van God se gewilligheid om die boetvaardige sondaar aan te neem! Het u, geagte leser, u eie weg gekies? Het u ver van God weggedwaal? Het u verlang om met die vrugte van oortreding fees te vier, en toe ontdek dat hulle op u lippe as word?DGC 139.3

    _______________

    “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Jes. 55:6, 7.

    _______________ En nou, dat u eiendom verkwis, u lewensplanne verydel, en u hoop tot niet is, sit u daar eensaam en alleen? Nou kom daardie stem wat lank reeds tot u gespreek het, maar waarna u nie wou luister nie, duidelik en helder tot u: “Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie, weens die onreinheid wat verwoesting aanrig, ja, ‘n onherstelbare verwoesting.” (Miga 2:10) Gaan terug na u Vader se huis. Hy nooi u met die woorde,“Keer terug na My, want Ek het jou verlos.” (Jes. 44:22)

    Moenie na die vyand se voorstel luister om van Christus af weg te bly totdat u uself beter gemaak het nie - totdat u goed genoeg is om na God te kom nie. As u tot dan wag, sal u nooit kom nie. Wanneer die Satan na u besoedelde kleed wys, herhaal net die belofte van Jesus: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh. 6:37) Vertel die vyand dat die bloed van Jesus Christus van alle sondes reinig. Bid soos Dawid: “Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.” (Ps. 51:9)DGC 140.1

    Staan op en gaan na u Vader. Hy sal u reeds van ver af tegemoet gaan. As u selfs een boetvaardige tree na Sy kant toe neem, sal Hy u haastig met die arms van Sy eindelose liefde omvou. Sy oor is oop vir die geroep van die berouvolle siel. Hy weet wanneer die hart die heel eerste keer na Hom soek. Geen gebed, hoe stamelend ook al, geen traan, hoe verborge ook al, geen opregte verlange na God, hoe effens ook al, of die Gees van God gaan dit tegemoet. Selfs voordat die gebed geuiter of die hunkering van die hart bekend gemaak word, gaan daar van Christus genade uit om die genade tegemoet te gaan wat reeds in die menslike hart werksaam is.DGC 140.2

    U hemelse Vader sal die kleed wat met sonde besoedel is van u wegneem. In die pragtige paraboliese profesie van Sagaria, stel die hoëpriester Josua, wat in vuil klere gekleed voor die engel van die Here gestaan het, die sondaar voor. En die Here spreek die woorde: “Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. En hulle het die rein tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek.” (Sag. 3:4,5)DGC 140.3

    So sal God u ook“beklee met die klere van heil,”en u bedek met“die mantel van geregtigheid.” (Jes. 61:10) “As julle daar lê tussen die veekrale,”sal julle wees soos “die vlerke van die duif oordek met silwer en sy vleuels met liggroen goud.” (Ps. 68:14)DGC 140.4

    Hy sal u in die wynhuis inbring en sy vaandel oor u sal liefde wees (Hoogl. 2:4) “As jy in my weë wandel,” verklaar Hy, sal Ek jou “vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan.” (Sag. 3:7)DGC 141.1

    “Soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.” Jes. 62:5. “Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.” Sef. 3:17. En hemel en aarde sal saam die lied van die Vader se blydskap sing, met die woorde: “Want hierdie seun van My was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind.”DGC 141.2

    Tot dusver was daar in die gelykenis nog geen wanklank om die harmonie van die vreugdestoneel te bederf nie, maar nou bring Christus ‘n ander element in. Toe die verlorene tuis kom, was die oudste seun “in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Die sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie.” Hierdie oudste broer het hom nie soos sy vader bekommer oor en gewag vir die een wat verlore was nie. Daarom deel hy nie in sy vader se blydskap oor die terugkoms van die swerweling nie. Die vreugdesklanke wek geen blydskap in sy hart nie. Hy vra ‘n dienskneg uit oor die rede vir die feestelikheid, en die antwoord maak hom jaloers. Hy sal nie ingaan om sy broer te verwelkom nie. Hy beskou die guns wat aan die verlorene bewys word, as ‘n belediging vir homself.DGC 141.3

    Wanneer die vader uitkom om hom te vermaan, openbaar hy sy hoogmoed en boosaardigheid. Hy kla dat sy lewe in sy vader se huis net ‘n eentonige roetine van onbeloonde diens is, en vergelyk dit ongunstig met die genoeë waarmee die wegloper se terugkoms begroet word. Hy laat dit duidelik blyk dat hy eerder‘n bediende was as’n seun. Hy moes in die teenwoordigheid van sy vader blywende vreugde gevind het, maar sy gedagtes was op die wins wat sy versigtige lewe hom sou gee. Sy woorde toon dat dit die rede is waarom hy die sonde afgesweer het. As hierdie broer nou ‘n deel van die gawes van die vader moet kry, reken die oudste seun dat hy veronreg is. Hy gun sy broer nie die guns wat aan hom bewys is nie. Hy toon duidelik dat as hy die vader was, hy die deurbringer nie sou ontvang het nie. Hy erken hom nie eers as’n broer nie, maar praat ongevoelig van hom as “hierdie seun van u.”DGC 141.4

    Tog behandel die vader hom met tederheid. “Kind,” sê hy, “jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.” Het jy dan nie deur al die jare dat jou broer ‘n verstoteling was, die voorreg van my kameraadskap gehad nie?DGC 142.1

    Alles wat sy kinders gelukkig kon maak, is ruim aan hulle gegee. Die seun hoef hom nie oor geskenk of beloning te bekommer nie. “Al wat myne is, is joue.” Jy hoef net my liefde te glo en die geskenk te neem wat so ruim gegee word.DGC 142.2

    Een seun het hom tydelik van die gesin geskei omdat hy die vader se liefde nie kon raaksien nie. Maar nou het hy teruggekeer en die golf van blydskap wis elke verontrustende gedagte uit. “Want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.”DGC 142.3

    Is die oudste broer tot die plek gebring waar hy sy eie gemene, ondankbare gees kon raaksien? Het hy ooit besef dat alhoewel sy broer sonde gedoen het, hy nog altyd sy broer was? Het die oudste broer berou gekry oor sy jaloesie en hardvogtigheid? Hieroor het Christus geswyg; want die gelykenis het hom nog afgespeel, en dit het by die toehoorders berus om te beslis wat die uiteinde sou wees.DGC 142.4

    Die oudste seun het die onboetvaardige Jode van Christus se tyd voorgestel, en ook die Fariseërs van alle tye, wat met veragting op diegene neersien wat hulle as tollenaars en sondaars beskou. Omdat hulle nie self die uiterste sondes gepleeg het nie, word hulle met eiegeregtigheid gevul. Christus het hierdie vitters op hulle eie vlak ontmoet. Soos die oudste seun in die gelykenis het hulle besondere voorregte van God geniet. Hulle het beweer dat hulle seuns in die huis van God was, maar hulle het die gesindheid van die huurling gehad. Hulle het gewerk, nie uit liefde nie, maar met die verwagting dat hulle beloon sou word. In hulle oë was God ‘n veeleisende slawedrywer. Hulle het gesien hoe Christus tollenaars en sondaars nooi om die gawe van Sy genade kosteloos te ontvang - die gawe wat die rabbi’s gehoop het om deur middel van arbeid en boetedoening te verkry - en hulle het aanstoot geneem. Die terugkeer van die verkwister, wat die vaderhart met blydskap gevul het, het hulle net jaloers gemaak.DGC 142.5

    In die gelykenis was die vader se vermaning van die oudste seun die Hemel se tedere beroep op die Fariseërs.DGC 143.1

    “Al wat myne is, is joune”-nie as loon nie, maar as’n geskenk. Soos in die geval van die deurbringer, kan u dit net as ‘n onverdiende skenking van die Vader se liefde ontvang.DGC 143.2

    Eiegeregtigheid maak nie net dat mense God verkeerd voorstel nie, dit maak hulle hardvogtig en krities teenoor hulle broeders. In sy selfsug en jaloesie, was die oudste seun gereed om sy broer dop te hou, om elke beweging te kritiseer en om hom oor die nietigste tekortkoming aan te kla. Hy sou elke fout raaksien en elke verkeerde daad uitbuit. So sou hy trag om sy eie onvergewensgesindheid te regverdig. Baie maak deesdae so. Terwyl die siel eers teen ‘n vloedgolf van versoeking begin spartel, staan hulle daar met hardnekkige, eiesinnige klagtes en beskuldigings. Hulle gee miskien voor dat hulle kinders van God is, maar hulle beoefen die gesindheid van die Satan. Deur hulle houding teenoor hulle broeders, plaas hierdie beskuldigers hulle waar God hulle nie die lig van Sy aangesig kan skenk nie.DGC 143.3

    Vele vra voortdurend: “Waarmee sal ek die Here tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die Here‘n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie?” Maar “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?.” (Miga 6:6-8)DGC 143.4

    Dit is die diens wat God verkies het - “dat julle los maak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek... en jou vir jou eie vlees nie verberg nie.” (Jes.58:6, 7) Wanneer u besef dat u sondaars is wat net deur die liefde van u hemelse Vader gered word, sal u tere meegevoel hê vir andere wat onder sonde ly. U sal ellende en boetvaardigheid nie meer met jalousie en berisping tegemoet gaan nie. Wanneer die ys van selfsug uit u hart weggesmelt is, sal u met God saamvoel en saam met Hom bly wees oor die redding van die verlorenes.DGC 143.5

    U gee wel voor dat u ‘n kind van God is, maar as dit waar is, onthou dat dit “u broer” is wat “dood” was, en weer lewendig geword het, en verlore was en gevind is. Hy is aan u gebind met die hegste bande; want God erken hom as ‘n seun. Ontken u verwantskap met hom, en u bewys dat u net ‘n huurling in die huisgesin is, nie‘n kind in die gesin van God nie.DGC 144.1

    Alhoewel u nie deel wil hê in die verwelkoming van die verlore nie, sal daar nog steeds blydskap wees. Die herstelde een sal nog sy plek aan die Vader se sy en in die Vader se werk hê. Hy vir wie baie vergewe is, het baie lief. Maar u sal in die duisternis daar buite wees. Want “hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” (1 Joh. 4:8)DGC 144.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents