Toe het Jesus en die gevolg van heilige engele, en al die verloste heiliges, die stad verlaat. Die engele het hulle aanvoerder omring en Hom op Sy weg begelei, en die verloste heiliges het gevolg. En toe, in verskriklike majesteit, het Jesus die goddelose dode opgewek; en hulle het te voorskyn gekom met dieselfde verswakte siek liggame waarmee hulle in die graf gegaan het. Wat ‘n skouspel! Wat ‘n toneel! By die eerste opstanding het almal met onsterflikheid beklee voortgekom; by die tweede opstanding was die tekens van die vloek sigbaar op almal. Die konings en die groot manne van die aarde, die gemenes en verlaagdes, geleerdes en ongeleerdes-almal het saam te voorskyn gekom. Almal sien die Seun van die mens; en diegene wat Hom verag en bespot het, wat die doringkroon op Sy heilige hoof geplaas het, wat Hom met die riet geslaan het, sien Hom nou in Sy koninklike majesteit. Diegene wat op Hom gespuug het in die uur van Sy verhoor, deins nou terug vir Sy deurdringende blik en vir die heerlikheid van Sy aanskyn. Diegene wat die spykers deur Sy hande en voete geslaan het, sien nou die tekens van Sy kruisiging. Diegene wat die spies in Sy sy gesteek het, sien nou die merke van hulle wreedheid in Sy liggaam. En hulle weet dat dit Hy is wat hulle gekruisig en bespot het in Sy folterende dood. En toe het daar ‘n groot noodkreet opgegaan, en hulle het gevlug om hulle te verberg voor die aangesig van die Koning van die konings en die Here van die here. EG 297.1
Almal probeer wegkruip in die rotse, sodat hulle kan wegkom van die verskriklike heerlikheid van Hom wat hulle eenmaal verag het. En, oorweldig en gepynig deur Sy majesteit en groot heerlikheid, roep hulle soos met een stem en met die grootste duidelikheid uit, “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” EG 297.2
Toe het Jesus en die heilige engele, vergesel van al die heiliges, weer na die stad gegaan, en die bitter geween van die rampsalige goddelose het deur die lug weerklink.Toe het ek gesien dat die Satan weer met sy werksaamhede begin. Hy het onder sy onderdane beweeg, en hy het die swakkes sterk gemaak en aan hulle vertel dat hy en sy engele baie sterk is. Hy het gewys na die ontelbare miljoene wat opgewek is. Daar was magtige vegters en konings wat die krygskuns verstaan het en baie koninkryke verslaan het. Daar was die magtige reuse wat nooit ‘n veldslag verloor het nie. Die trotse, eersugtige Napoleon was daardie man wat die koninkryke laat bewe het. Daar was manne van groot gestalte en waardige houding, wat in die stryd geval het terwyl hulle oorlogsugtig was. Toe hulle uit hulle graftes gekom het, het hulle weer hulle gedagtegang hervat waar dit deur die dood afgebreek is. Hulle is nog besiel met dieselfde oorlogsgees as toe hulle geval het. Die Satan hou raad met sy engele, en dan weer met die konings en oorwinnaars en magtige manne.Toe kyk hy so oor die ontsaglike leër, en hy deel hulle mee dat die groep in die stad klein en swak is, dat hulle die stad kan inneem, die inwoners kan uitwerp, en die rykdom en heerlikheid vir hulleself kan neem. EG 297.3
Die Satan het daarin geslaag om hulle te bedrieg, en almal het dadelik voorberei vir die slag. Daar is baie bedrewe manne in daardie groot leër, en hulle maak allerhande soorte krygstuig. Toe het hulle, met die Satan aan die hoof, voortbeweeg. Konings en krygsliede het onmiddellik agter die Satan gevolg, en daarna het die menigtes in afdelings gevolg. Elke afdeling het sy eie leier gehad, en hulle het orde gehandhaaf waar hulle oor die gebroke oppervlakte van die aarde gemarsjeer het na die Heilige Stad. Jesus het die poorte van die stad gesluit, en hierdie groot leer het dit omsingel; hulle is in slagorde opgestel, en hulle het ‘n bitter stryd verwag. Jesus en die leërskare van engele en al die heiliges, met hulle skitterende krone op hulle hoofde, het tot bo-op die muur van die stad gegaan. In majesteit het Jesus gespreek, en gesê: “Aanskou, julle sondaars, die loon van die regverdiges! En My verlostes, aanskou die loon van die goddelose!” Daardie groot menigte het die heerlike groep op die muur van die stad gesien. En toe hulle die prag van die skitterende krone, en die stralende gesigte van die verlostes sien, en ook die onoortreflike heerlikheid en majesteit van die Koning van die konings en Here van die here, het hulle moed hulle begewe. Die besef van die skatte en die heerlikheid wat hulle verloor het, tref hulle, en hulle sien dat die loon van die sonde die dood is. Hulle sien die heilige, gelukkige groep wat hulle verag het, beklee met heerlikheid en eer en onsterflikheid en die ewige lewe, terwyl hulle buitekant die stad is, saam met alles wat gemeen en afskuwelik is. EG 298.1
_______________