Die Satan haas hom na sy volgelinge, en hy probeer om die menigte tot aksie op te wek. Maar vuur van God uit die hemel reën op hulle, en die grotes en magtiges en edelmanne, en die armes en ellendiges word almal tesame verteer. Ek het gesien dat sommige sommer gou vernietig is, terwyl ander langer gely het. Hulle is gestraf volgens wat hulle in die liggaam gedoen het. Dit het dae geneem om sommige te verteer, en solank daar nog ‘n stukkie van een oorgebly het wat nog nie verteer is nie, het die lyding aangehou. Die engel het gesê, “Die wurm van die lewe sal-nie sterf nie; hulle vuur sal nie uitgeblus word nie solank daar nog die kleinste deeltjie oorbly wat verbrand moet word.” EG 299.1
Die Satan en sy engele het lank gely. Die Satan het nie alleen die gewig en straf van sy eie sondes gedra nie, maar ook die sondes van die verloste skare, wat op hom geplaas is; en dan ook moet hy ly vir die siele wat hy geruïneer het. Toe het ek gesien dat die Satan en al die goddelose verteer is, en die regverdigheid van God is bevredig; en die leërskare van engele, en al die verloste heiliges, het met ‘n groot stem gesê, “Amen!” EG 299.2
Die engel het gesê, “Die Satan is die wortel, en sy kinders is die takke. Hulle is nou wortel en tak verteer. Hulle het ‘n ewige dood gesterf. Hulle sal nooit weer opstaan nie, en God sal ‘n rein heelal hê.”Toe het ek gekyk en ek het gesien dat die vuur wat die goddelose verteer het, ook al die vuilgoed verbrand en die aarde gereinig het. Weer het ek gekyk, en ek het gesien dat die aarde gereinig is. Daar was nie ‘n enkele teken van die vloek nie. Die gebroke, oneffe oppervlakte van die aarde, was nou mooi gelyk, soos ‘n uitgestrekte vlakte. Gods ganse heelal was rein, en die groot stryd was vir ewig verby. Waar ons ook al gekyk het, was alles pragtig en heilig. En die ganse verloste skare, oud en jonk, groot en klein, het hulle skitterende krone aan die voete van hulle Verlosser gewerp, en in aanbidding voor Hom neergeval en Hom aanbid wat vir ewig en ewig lewe. Die pragtige nuwe aarde, met al sy heerlikheid, het die ewige erfdeel van die heiliges geword. Die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel is gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle sal dit vir ewig bewoon. EG 299.3