Ook die sterre het ‘n boodskap van bemoediging vir elke mens. In daardie ure wat maar almal se lot is, wanneer die hart flou en versoeking hewig word; wanneer struikelblokke onoorkoomlik lyk, die oogmerke van die lewe onbereikbaar, sy skone beloftes soos die appels van Sodom; waar kan sulke moed en standvastigheid dan gevind word soos in daardie les wat God ons beveel het om te leer van die sterre op hul onverstoorde baan? Op 115.4
“Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. Waarom sê jy dan, o Jakob en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit uitgehoor nie? ‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.” “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God; Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.””Want Ek, die Here jou God, grypjou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou.”Jesaja 40:26-29; 41:10,13. Op 115.5
Die palmboom, wat deur die skroeiende son en die felle sandstorm gestriem word, staan groen en welig en vrugbelaai midde-in die woestyn. Sy wortels word deur lewende fonteine gevoed. Sy lowerkroon is van ver af sigbaar oor die uitgedroogde, verlate vlakte; en die reisiger, op die punt om te beswyk, spoor sy wankele skrede aan na die koel skadu en die lewegewende water. Op 116.1
Die boom in die woestyn is ‘n simbool van wat God wil hê die lewe van Sy kinders in hierdie wêreld moet wees. Hulle moet vermoeide siele, vol onrus en op die punt om in die woestyn van sonde te vergaan, na die lewende water lei. Hulle moet hul medemens wys op Hom wat die uitnodiging rig:“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!. Johannes 7:37. Op 116.2
Die wye, diep rivier wat ‘n waterweg vir die verkeer en reise van die volke bied, word as ‘n wêreldwye voordeel op prys gestel; maar wat van die klein spruitjies wat hierdie edele stroom help vorm? As dit nie vir hulle was nie, sou die rivier verdwyn. Van hulle is sy bestaan afhanklik. So word mense wat geroep word om in die een of ander groot werk leiding te gee, vereer asof sukses net aan hulle te danke is; maar daardie sukses het die getroue samewerking van byna tallose nederige werkers vereis - werkers van wie die wêreld niks weet nie. Take sonder lofspraak, arbeid sonder erkenning, is die lot van die meeste van die wêreld se arbeiders. En met so ‘n lot is baie uiters ontevrede. Hulle voel dat die lewe ‘n verkwisting is. Maar die klein waterlopie wat geruisloos sy weg deur bos en weiveld vind en welstand, vrugbaarheid en skoonheid meebring, is op sy eie manier net so nuttig soos die breë rivier. En deur tot die rivier se lewe by te dra, help dit om iets te verwesenlik wat dit alleen nooit sou kon regkry nie. Op 116.3
Dié les word deur baie benodig.Talent word te veel verafgod en stand te veel begeer. Daar is te veel wat niks sal doen tensy hulle as leiers erken word nie; te veel wat lof moet ontvang, of hulle stel nie daarin belang om te werk nie. Wat ons nodig het om te leer, is getrouheid om die uiterste gebruik te maak van die vermoëns en geleenthede wat ons het en tevredenheid met die lot wat die Hemel aan ons toegesê het. Op 117.1