Tussen die stede van die antieke wêreld, in die dae van die verdeelde Israel, was Nineve, die hoofstad van die Assiriese ryk, die grootste. Dit het op die vrugbare oewer van die Tigris ontstaan, kort nadat die mense, na die oprigting van die toring van Babel uitmekaar gedryf is, waar dit deur die eeue gefloreer het tot “...’n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet.” (Jona 3:3) DVvPEk 203.1
In die tyd van sy tydelike welvaart, was Nineve die middelpunt van misdaad en goddeloosheid. Inspirasie het dit gekenmerk as: “...die bloedstad wat louter bedrog, vol geweld is, terwyl rowery nie ophou nie.” Met beeldspraak het die profeet Nahum die Nineviete vergelyk met ‘n wrede, vraatsugtige leeu: “...oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?” (Nah 3:1, 19) DVvPEk 203.2
Maar, so goddeloos soos wat dit ontaard het, was die stad nie volkome aan boosheid oorgegee nie. “Hy [wat] ... al die mensekinders...” sien (Ps 33:13) en Wie se “...oog ... allerhande kosbare dinge...” sien (Job 28:10), het gewaar dat in daardie stad daar baie was wat na iets beter en meer verhewe gehunker het en wie, indien hul die geleentheid gebied word om die lewende God te leer ken, hul bose dade sou versaak en Hom sou dien. En so het God, in Sy wysheid, Homself op ‘n onmiskenbare wyse aan hulle geopenbaar om hulle, indien moontlik, tot bekering te lei. DVvPEk 203.3
Die profeet wat vir hierdie taak gekies is was Jona, die seun van Amittai. Die woord van die HERE het tot hom gekom: “Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig.” (Jona 1:2) DVvPEk 203.4
Terwyl die profeet die moeilikhede en oënskynlike onmoontlikheid van hierdie opdrag oorweeg het, was hy versoek om die wysheid van die oproep te bevraagteken. Vanuit ‘n menslike oogpunt, het dit geblyk dat, deur die verkondiging van so ‘n boodskap in daardie stad, niks bereik sou word nie. Hy het vir ‘n wyle vergeet dat die God wat hy dien, wys en almagtig is. Terwyl hy gehuiwer en steeds getwyfel het, het Satan hom met moedeloosheid oorweldig. Groot vrees het die profeet aangegryp en “...Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug.” Hy is na Joppe toe waar hy ‘n skip gevind het wat gereed was om te vertrek. “En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na Tarsis te vaar.” (Vers 3) DVvPEk 204.1
Met die opdrag wat aan hom gegee is, is ‘n groot verantwoordelikheid aan Jona opgelê; maar Hy wat hom gebied het om te gaan, is in staat om Sy dienaar te ondersteun en met sukses te bekroon. Indien die profeet onomwonde gehoorsaam het, sou hy baie bittere ervarings gespaar en oorvloediglik geseën gewees het. Tog, in die uur van Jona se wanhoop, het die HERE hom nie verlaat nie. Deur ‘n reeks beproewings en vreemde voorvalle, sou die profeet se vertroue in God en in Sy oneindige krag om te red, herstel word. DVvPEk 204.2
Indien Jona, toe hy die opdrag ontvang het, stilgestaan en kalm daaroor nagedink het, sou hy geweet het hoe dwaas enige poging aan sy kant was om van die verantwoordelikheid wat op hom geplaas is, te ontsnap. Maar hy was nie vir lank toegelaat om ongehinderd in sy dolle vlug voort te gaan nie. “Maar die HERE het ‘n sterk wind op die see gewerp en toe daar ‘n groot storm op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly. Toe word die seeliede bang — hulle het elkeen tot sy god geroep en die lading wat in die skip was, in die see gegooi om vir hulle verligting aan te bring. Maar Jona het na die onderste dele van die skip afgeklim en daar gaan lê en vas aan die slaap geraak.” (Verse 4,5) DVvPEk 204.3
Terwyl die bemanning hul heidense gode om hulp gesmeek het, het die skeepskaptein, mateloos ontsteld, na Jona gaan soek en hom gevra: “Wat makeer jou dat jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink, sodat ons nie vergaan nie.” (Vers 6) DVvPEk 205.1
Maar die gebede van die man wat van sy verantwoordelikhede weggedraai het, het geen hulp gebring nie. Die seevaarders, onder die indruk dat die vreemde geweld van die storm die woede van hul gode aangedui het, het as laaste uitweg, ‘n loting voorgestel: “...dan sal ons weet om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het. En hulle het geloot en die lot het op Jona geval. En hulle sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland en uit watter volk is jy?” DVvPEk 205.2
“En hy antwoord hulle: Ek is ‘n Hebreër en ek vrees die HERE, die God van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het.” DVvPEk 205.3
“Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die manne het geweet dat hy van die aangesig van die HERE af wegvlug; want hy het hulle dit te kenne gegee.” DVvPEk 205.4
“Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? — want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword. En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het.” DVvPEk 205.5
“Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het. Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na U welbehae. En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid. Toe het die manne die HERE gevrees met ‘n groot vrees en ‘n slagoffer aan die HERE gebring en geloftes gedoen.” DVvPEk 205.6
“En die HERE het ‘n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.” “En Jona het tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis en gesê: DVvPEk 206.1
Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep,
En Hy het my verhoor;
Uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp —
U het my stem gehoor.
U tog het my in die diepte gewerp
In die hart van die see,
Sodat ‘n stroom my omring het;
Al U bare en U golwe het oor my heengegaan.
Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van U oë,
og sal ek weer U heilige tempel aanskou.
Waters het my omring,
Tot aan die siel toe.
Die vloed was rondom my;
Seegras was om my hoof gedraai.
Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge,
Die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit;
Maar U het my lewe uit die kuil opgetrek
my God!
Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE
gedink,
En my gebed het tot by U gekom
In U heilige tempel. DVvPEk 206.2
Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir
hulle goedertieren is.
Ek daarenteen sal aan U offer met ‘n stem van lof;
Wat ek beloof het, sal ek betaal.
Die heil behoort aan die HERE.” DVvPEk 207.1
(Verse 1:7-2:9)
Uiteindelik het Jona geleer dat “...die heil behoort aan die HERE.” (Ps 3:8) Saam met berou en erkenning van die reddende genade van God, het verlossing gekom. Jona is uit die gevare van die diep waters verlos en is op droë grond uitgewerp. DVvPEk 207.2
Weer het die dienskneg van God opdrag gekry om Nineve te gaan waarsku: “En die woord van die HERE het vir die tweede maal tot Jona gekom en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en verkondig daar die boodskap wat Ek jou sal sê.” Hierdie keer het hy nie gewag om te bevraagtekening of te twyfel nie, maar het sonder huiwering gehoorsaam. “Toe maak Jona hom klaar en gaan na Ninevé volgens die woord van die HERE.” (Jona 3:1-3) DVvPEk 207.3
Toe Jona die stad binnekom, het hy dadelik “...gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes.” Hy het van straat tot straat beweeg en die noot van waarskuwing laat weerklink. DVvPEk 207.4
Die boodskap was nie tevergeefs nie. Die uitroep wat deur die strate van die goddelose stad weergalm het, is van mond tot mond oorvertel, totdat al die inwoners die ontstellende aankondiging gehoor het. Die Gees van God het die boodskap aan elke hart tuisgebring en veroorsaak dat menigtes vanweë hulle sondes gesidder het en in diepe ootmoed tot bekering gekom het. DVvPEk 207.5
“En die manne van Ninevé het God geglo en ‘n vasdag uitgeroep en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehul in die as gaan sit. En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot manne — geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag nie wei of water drink nie; maar mens en dier moet ‘n rougewaad om hê en hulle moet ernstig tot God roep en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande kleef. Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?” (Verse 5-9) DVvPEk 207.6
Toe die koning, die adel en die onderdane “...hul op die prediking van Jona bekeer...” (Matt 12:41) en saam die God van die hemel aangeroep het, het Hy aan hulle Sy genade geskenk. Hy “...het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou aandoen en Hy het dit nie gedoen nie.” (Jona 3:10) Hulle verdoemenis is afgeweer, die God van Israel is regoor die heidense wêreld verhoog en vereer en Sy wet is eerbiedig. Eers na die verloop van baie jare, het Nineve, deur van hulle God te vergeet en deur hooghartige trots, die prooi van omliggende nasies geword. [Sien hoofstuk 30 vir ‘n verslag oor die ondergang van Assirië] DVvPEk 208.1
Toe Jona verneem van God se voorneme om die stad, ondanks die boosheid daarvan te spaar, nadat dit in sak en as tot bekering gekom het, was hy veronderstel om die eerste te wees om hom te verheug oor die wonderlike genade van God; maar in stede daarvan, het hy toegelaat dat sy gedagtes stilstaan by die feit dat hy moontlik as ‘n valse profeet beskou sou word. Jaloers op sy reputasie, het hy die oneindige groter waarde van die siele in daardie ellendige stad uit die oog verloor. Oor die medelye wat God teenoor die bekeerde Nineviete betoon het, was Jona “...erg ontstemd en hy het kwaad geword.” “Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid en Een wat berou het oor die onheil.” (Jona 4:1,2) DVvPEk 208.2
Weereens het hy aan sy neiging om te bevraagteken en te twyfel toegegee en is deur moedeloosheid oorweldig. Deur ander se belange uit die oog te verloor en met die gevoel dat hy eerder wou sterf as om te sien dat die stad gespaar word, het hy in sy ontevredenheid uitgeroep: “O HERE, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” DVvPEk 209.1
“Daarop sê die HERE: Het jy rede om vertoornd te wees? En Jona het die stad verlaat en aan die oostekant van die stad gaan sit. Daar maak hy toe vir hom ‘n skerm en hy gaan daaronder in die skaduwee sit, totdat hy sou sien wat met die stad gebeur. Toe beskik die HERE God ‘n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy ontstemdheid te bevry; en Jona was baie bly oor die wonderboom.” (Verse 3-6) DVvPEk 209.2
Daarna het die HERE hom ‘n les geleer: “God het ... ‘n wurm beskik; en dié het die wonderboom gesteek, sodat dit verdor het. En met sonop het God ‘n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.” DVvPEk 209.3
Weer het God met Sy profeet gespreek: “Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom? En hy antwoord: Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe.” DVvPEk 209.4
“Verder sê die HERE: Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd-en-twintig-duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter en hulle linkerhand nie weet nie en baie vee?”(Verse 7-11) DVvPEk 209.5
Verward, verneder en nie in staat om God se doel om Nineve te spaar te begryp nie, het Jona nietemin die opdrag uitgevoer om die groot stad te gaan waarsku; en al het die voorval, soos voorspel is, nie plaasgevind nie, was die boodskap van waarskuwing nietemin van God afkomstig en het dit die doel wat God daarmee beplan het, bereik. Die heerlikheid van Sy genade is aan die heidendom geopenbaar. Diegene “...wat in duisternis en doodskaduwee gesit het, gevang in ellende en yster ... het ... die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het hulle uit duisternis en doodskaduwee laat uitgaan en hulle bande verbreek.” “Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.” (Ps 107:10,13,14,20) DVvPEk 209.6
Christus het gedurende sy aardse bediening na die goeie werk, wat deur die prediking van Jona in Nineve bereik is, verwys en die inwoners van daardie heidense sentrum met die belydende volk van God in Sy tyd vergelyk. “Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en — meer as Jona is hier!” (Matt 12:41) Christus het na hierdie besige wêreld, gevul met die druk en wisselwerking van handel, waar mense gepoog het om alles wat hulle kon vir hulself te bekom, gekom; en bo die verwarring, is Sy stem, soos die basuin van God, gehoor: “Want wat sal dit ‘n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?” (Mark 8:36,37) DVvPEk 210.1
Net soos die prediking van Jona vir die Nineviete ‘n teken was, so was Christus se prediking ‘n teken vir Sy geslag. Maar hoe groot kontras was daar in die ontvangs van Sy woord! Tog het die Verlosser, te midde van die onverskilligheid en hoon, met Sy werk volhard totdat Hy Sy sending voltooi het. DVvPEk 210.2
Die les geld ook vir vandag se boodskappers van God, wanneer die stede van die nasies net so ‘n behoefte aan ‘n kennis van die eienskappe en doelstellings van die ware God het, soos die Nineviete van ouds. Christus se ambassadeurs moet mense na ‘n edeler wêreld, wat grootliks uit die oog verloor is, wys. Volgens die leer van die Heilige Skrifte, is die enigste stad wat sal oorleef, die stad waarvan die bouer en maker God is. Met die oog van geloof kan die mens die drumpel van die hemel, gehul in die lewende heerlikheid van God, aanskou. Deur sy dienaars doen die HERE Jesus ‘n beroep op mense om met heilige ambisie daarna te strewe om die oneindige erfenis te verseker. Hy spoor hulle aan om skatte by die troon van God te versamel. DVvPEk 210.3
’n Bykans universele skuldgevoel gaan vinnig en seker oor die inwoners van die stede kom, as gevolg van die geleidelike toename in vasberade boosheid. Die korrupsie wat heers, is buite die mag van die menslike pen om te beskryf. Elke dag bring nuwe onthullings van onmin, omkopery en bedrog; elke dag bring sy hartverskeurende rekord van geweld en wetteloosheid, van onverskilligheid teenoor menslike lyding en van wrede, demoniese vernietiging van menslike lewe. Elke dag getuig van ‘n toename in kranksinnigheid, moord en selfmoord. DVvPEk 211.1
Deur die eeue het Satan gepoog om die mens onkundig aangaande die weldadige planne van Jehova te hou. Hy het gepoog om die groot dinge van God se wet - die beginsels van geregtigheid, barmhartigheid en liefde wat daarin uiteengesit is - buite hul sig te verwyder. Mense spog met die wonderlike vooruitgang en lig van die tyd waarin ons tans leef; maar God sien ‘n aarde gevul met ongeregtigheid en geweld. Mense verklaar dat die wet van God afgeskaf is, dat die Bybel nie eg is nie; en gevolglik is daar ‘n gety van boosheid wat die wêreld, soos nog nie sedert die dae van Noag en die afvallige Israel gesien nie, oorstroom. Edelheid van siel, sagmoedigheid en vroomheid word verwerp om die wellus vir verbode dinge te bevredig. Die swart rekord van misdaad wat ter wille van wins gepleeg word, is genoeg om die bloed te laat stol en die siel met afgryse te vul. DVvPEk 211.2
Ons God is ‘n God van genade. Hy hanteer die oortreders van Sy wet met lankmoedigheid en sagmoedige deernis. En tog, in hierdie hedendaagse tyd, wanneer manne en vroue soveel geleenthede het om met die Goddelike wet, soos in die Heilige Skrif geopenbaar, vertroud te raak, kan die groot Heerser van die heelal nie met enige mate van tevredenheid, die goddeloosheid van stede waar geweld en misdaad heers, aanskou nie. Die einde van God se verdraagsaamheid teenoor diegene wat in ongehoorsaamheid volhard, kom spoedig nader. DVvPEk 211.3
Mag die mens dan verbaas wees: Oor ‘n skielike en onverwagte verandering in die optrede van die Opperheerser teenoor die inwoners van die gevalle wêreld; wanneer oortreding en toenemende misdaad met straf opgevolg word; dat God vernietiging en dood oor diegene bring wie se onwettige winste deur misleiding en bedrog verkry is? Nieteenstaande die feit dat toenemende lig aangaande die vereistes van God op hulle weg geskyn het, het baie mense steeds geweier om Jehova se heerskappy te erken en het hulle verkies om onder die swart vaandel van die bron van alle rebellie teen die regering van die hemel te staan. DVvPEk 212.1
God se verdraagsaamheid was baie groot — so groot, dat wanneer ons die voortdurende belediging van Sy heilige gebooie oorweeg, ons verstom staan. Die Almagtige het ‘n beperkende mag oor Sy eie eienskappe uitgeoefen. Maar Hy sal beslis opstaan om die goddelose te straf, wat die regverdige eise van die Dekaloog so blatant teëgaan. DVvPEk 212.2
God laat die mens ‘n proeftydperk toe; maar daar kom ‘n tyd wanneer Goddelike verdraagsaamheid uitgeput gaan raak en die oordele van God sekerlik sal volg. Die HERE is lankmoedig teenoor die mens en die stede en, in Sy groot genade, waarsku Hy hulle om hulle van die Goddelike toorn te red; maar daar sal ‘n tyd kom wanneer pleidooie om genade nie meer gehoor sal word nie en die opstandige elemente wat aanhou om die lig van die waarheid te verwerp, in genade teenoor hulle en teenoor diegene wat andersins deur hul voorbeeld beïnvloed word, uitgewis sal word. DVvPEk 212.3
Die tyd is op hande wanneer daar droefheid in die wêreld gaan kom wat geen menslike balsem sal kan genees nie. Die Gees van God gaan onttrek word. Rampe op see en land sal mekaar vinnig opvolg. Hoe gereeld hoor ons van aardbewings en tornado’s, van vernietiging deur vuur en oorstroming, met groot verliese aan lewe en eiendom! Oënskynlik is hierdie rampe wispelturige uitbrake van ongeorganiseerde, ongereguleerde natuurkragte, geheel en al buite die mens se beheer; maar die doel van God kan in almal gesien word. Hulle is van die middele waardeur Hy poog om manne en vroue wakker te skud tot ‘n besef van die gevaar waarin hulle verkeer. DVvPEk 213.1
Die boodskappers van God moenie moedeloos raak oor die boosheid, die ongeregtigheid, die verdorwenheid wat hulle in die gesig staar terwyl hulle strewe om die blye boodskap van verlossing te verkondig nie. Die HERE wil elke werker met dieselfde boodskap bemoedig wat Hy in die bose Korinte aan die apostel Paulus gegee het: “Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (Hand 18:9,10) Laat diegene wat besig is met die bediening om siele te red, onthou dat terwyl daar baie is wat nie op die raad van God in Sy woord ag sal slaan nie, die hele wêreld nie sal wegdraai van lig en waarheid en die uitnodigings van ‘n geduldige en verdraagsame Verlosser nie. In elke stad, al is dit vol geweld en misdaad, is daar baie mense wat, met die regte leiding, kan leer om volgelinge van Jesus te word. Derduisende mens kan so met die reddende waarheid bereik en gelei word om Christus as hul persoonlike Verlosser aan te neem. DVvPEk 213.2
God se boodskap vandag vir die bewoners van die aarde is: “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” (Matt 24:44) Die toestande wat in die samelewing en veral in die verskillende groot stede van die nasies heers, verkondig met donderslae dat die uur van die oordeel van God aangebreek het en dat die einde van alle aardse dinge op hande is. Ons staan op die drumpel van die krisis van die eeue. God se oordele sal mekaar vinnig opvolg — vuur, oorstromings en aardbewings, asook oorloë en bloedvergieting. Ons moenie op hierdie stadium verbaas wees oor groot en beslissende gebeure nie; want die engel van genade kan nie veel langer talm om die onboetvaardiges te beskerm nie. DVvPEk 213.3
“Want kyk, die HERE sal uit Sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.” (Jes 26:21) Die storm van God se oordele is aan die broei; en slegs diegene wat reageer op die uitnodiging van genade sal staande bly, net soos die inwoners van Nineve onder die prediking van Jona gedoen het en sal geheilig word deur gehoorsaamheid aan die wette van die Goddelike Heerser. Alleenlik die regverdiges sal met Christus in God geborge wees, totdat die verwoesting verby is. Laat die taal van die siel wees: DVvPEk 214.1
“Ander toevlug het ek geen,
U is al wat ek begeer.
Laat, o laat my nie alleen,
sterk U en vertroos my, Heer.
Heiland, laat my by U skuil,
stil in die onstuimigheid,
veilig as die winde huil,
veilig tot in ewigheid.” DVvPEk 214.2