Go to full page →

Hoofstuk 21—Die Einde van Elisa se Bediening DVvPEk 194

Elisa, wat geroep is om as profeet op te tree terwyl Agab nog gelewe het, het baie veranderinge binne die koninkryk van Israel sien plaasvind. Oordeel na oordeel is oor Israel gevel gedurende die bewind van Hasaél van Sirië, wat gesalf is om die afvallige nasie te teister. Die streng maatreëls vir hervorming wat deur Jehu ingestel is, het die slagting van die hele huis van Agab tot gevolg gehad. In daaropvolgende gevegte met die Arameërs het Joahas, Jehu se opvolger, sommige van die stede oos van die Jordaan verloor. Vir ‘n tyd lank het dit voorgekom asof die Arameërs beheer oor die ganse koninkryk sou verkry. Maar die hervorming wat deur Elia begin en deur Elisa voortgesit is, het baie daartoe gelei om na God te verneem. Die altare van Baal is versaak en stadig maar seker is God se doel in die lewens van diegene wat gekies het om Hom met hulle hele hart te dien, vervul. DVvPEk 194.1

Dit was vanweë Sy liefde vir die afvallige Israel dat God die Arameërs toegelaat het om hulle te treiter. Dit was as gevolg van Sy deernis vir diegene wie se morele krag swak was, dat Hy Jehu opgewek het om die bose Isébel en die hele huis van Agab uit te wis. Weereens, deur genadige voorsienigheid, is die priesters van Baal en van Astarte verwerp en hulle heidense altare neergewerp. God, in Sy wysheid, het voorsien dat indien die versoeking verwyder word, sommige die heidendom sal versaak en hul gesigte hemelwaarts sal draai en dit is hoekom Hy toegelaat het dat ramp op ramp hulle tref. Sy oordele is deur genade getemper en toe Sy doel bereik is, het Hy die gety ten gunste van diegene wat geleer het om na Hom te verneem, verander. DVvPEk 194.2

Terwyl die invloede vir goed en vir kwaad om die oorhand gestreef het en Satan alles in sy mag gedoen het om die ondergang, wat hy onder die bewind van Agab en Isébel bewerkstellig het, uit te voer, het Elisa voortgegaan om sy getuienis te lewer. Hy het teëkanting teëgekom, maar niemand kon sy woorde weerspreek nie. Regdeur die koninkryk is hy geëer en eerbiedig. Baie het na hom vir berading gekom. Terwyl Isébel nog geleef het, het Joram, die koning van Israel, hom geraadpleeg; en op ‘n keer terwyl hy in Damaskus was, is hy deur boodskappers van Benhadad, die koning van Sirië, besoek, om te verneem of die siekte wat hy opgedoen het, tot sy dood sou lei. Terwyl die waarheid aan alle kante verdraai is en die meerderheid mense in ope rebellie teen die Hemel was, het die profeet getroue getuienis gelewer DVvPEk 194.3

En God het nooit Sy gekose boodskapper verlaat nie. By een geleentheid, gedurende ‘n Aramese inval, het die koning van Sirië probeer om Elisa te vernietig as gevolg van die feit dat hy die koning van Israel aangaande die planne van die vyand ingelig het. Die Aramese koning het “...met sy dienaars beraadslaag en gesê: Op dié en dié plek sal my laer staan.” Hierdie plan is deur die HERE aan Elisa bekend gemaak, wat “...die koning van Israel laat weet: Pas op dat u nie deur daardie plek trek nie, want die Arameërs trek daarheen af. Daarom het die koning van Israel na die plek gestuur waarvan die man van God met hom gespreek en waarvoor hy hom gewaarsku het. En hy was daar op sy hoede, nie net een maal of twee maal nie.” DVvPEk 195.1

“Toe word die hart van die koning van Aram hieroor onrustig en hy roep sy dienaars en sê vir hulle: Kan julle my nie te kenne gee wie van ons mense vir die koning van Israel is nie? En een van sy dienaars antwoord: Nee, my heer die koning, maar Elísa, die profeet wat in Israel is, kan die koning van Israel die woorde te kenne gee wat u in u slaapkamer spreek.” DVvPEk 195.2

Vasbeslote om die profeet uit die weg te ruim, het die Aramese koning beveel: “Gaan kyk waar hy is, dat ek hom kan laat vang.” Die profeet was in Dotan en toe die koning dit hoor het hy “...daarheen perde en strydwaens en ‘n swaar leër gestuur en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel.” DVvPEk 195.3

Beangs het Elisa se dienaar hom met die tyding genader: “Ag, my heer, hoe sal ons maak?” DVvPEk 196.1

“Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is,” het die profeet geantwoord en, sodat die dienskneg vir homself kon sien, het “Elísa ... gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.” Tussen die dienskneg van God en die leërskare van gewapende magte, was ‘n kring van hemelse engele. Hulle het met groot mag neergedaal, nie om te vernietig nie, nie om hulde te ontvang nie, maar om die swak en hulpeloses te omring en te bedien. DVvPEk 196.2

Wanneer die volk van God in moeilike situasies verkeer en dit voorkom asof daar geen ontvlugting vir hulle is nie, moet hulle slegs op die HERE vertrou. DVvPEk 196.3

Soos die groep Aramese soldate opsigtelik, onbewus van die onsigbare engele, nadergekom het, het “...Elísa tot die HERE gebid en gesê: Slaan tog hierdie mense met blindheid. En Hy het hulle op die woord van Elísa met blindheid geslaan. Daarop sê Elísa vir hulle: Dit is nie die weg en dit is nie die stad nie; volg my, dan sal ek julle lei na die man wat julle soek; en hy het hulle na Samaría gelei.” DVvPEk 196.4

“En by hulle aankoms in Samaría, sê Elísa: HERE, open hulle oë, dat hulle kan sien. En die HERE het hulle oë geopen, dat hulle kon sien en daar was hulle binne-in Samaria! En die koning van Israel sê vir Elisa toe hy hulle sien: Moet ek verslaan, moet ek verslaan, my vader? Maar hy antwoord: U mag nie verslaan nie. Sou u dan verslaan die wat u met u swaard en u boog as gevangenes weggevoer het? Sit aan hulle brood en water voor, dat hulle kan eet en drink en na hulle heer kan trek.” (1 Kon 6:8¬22) DVvPEk 196.5

Vir ‘n tydperk hierna, was Israel vry van aanvalle van die Arameërs. Maar later, onder leiding van die energieke en vasbeslote koning, Hasaél, het die Aramese leërs Samaria beleër en beset. Israel was nooit voorheen in so ‘n ernstige stryd gewikkel soos tydens hierdie beleg nie. Die misdade van die vaders is inderdaad op die kinders en die kinders se kinders besoek. Die gruwels van die uitgerekte hongersnood het die koning van Israel tot desperate maatreëls gedryf, toe Elisa bevryding vir die volgende dag voorspel het. DVvPEk 197.1

Net toe die dagbreek die volgende oggend wou aanbreek, het die HERE “...die leër van die Arameërs ‘n gedruis van waens en ‘n gedruis van perde, ‘n gedruis van ‘n groot leërmag laat hoor...”, sodat hulle bevrees geraak het en “...hulle [het] in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die laer soos dit was, in die steek gelaat ... ook hul kosvoorrade laat staan ... vir hul lewe gevlug...” en nie getalm voordat hulle die Jordaan oorgesteek het nie. DVvPEk 197.2

Gedurende die nag van hulle vlug, het vier melaatse manne by die stadspoort, desperaat van die honger, onderneem om die Aramese kamp te besoek en hulle aan die genade van die beleëringsmag oor te gee met die hoop dat hulle simpatie en ‘n bietjie kos sou kry. Wat was hulle verbasing groot toe hulle die kamp binnegaan en hulle vind daar “...was daar niemand nie.” Met niemand om hulle te molesteer of verbied nie, het hulle die “...een tent binnegegaan en geëet en gedrink en daar silwer en goud en klere uit weggeneem en dit gaan begrawe. Daarna het hulle teruggekom en ‘n ander tent binnegegaan en ook daaruit weggeneem en dit gaan begrawe. Toe sê hulle die een vir die ander: Ons doen nie reg nie. Hierdie dag is ‘n dag van goeie boodskap en ons bly stil!” Hulle het spoedig met die vreugdevolle tyding na die stad teruggekeer. DVvPEk 197.3

Die buit was baie groot; so oorvloedig, dat op daardie dag “...’n maat fynmeel het ‘n sikkel gekos en twee mate gars ‘n sikkel...” soos deur Elia die vorige dag voorspel is. Weereens is die naam van God voor die heidene verhef “...volgens die woord van die man van God.” (Sien 2 Konings 7:5-16) DVvPEk 197.4

So het die man van God jaar na jaar sy werk voortgesit, deur getroue bediening nader aan die volk gekom en ten tye van krisisse, as raadgewer aan die sy van konings gestaan. Die lang jare van afgodiese verval aan die kant van die heersers en die volk, het ellende oor hulle gebring; die donker skaduwee van afvalligheid was steeds oral sigbaar, maar tog was daar diegene wat onwrikbaar geweier het om die knie voor Baal te buig. Soos Elisa voortgegaan het met sy werk van hervorming, is baie uit heidenisme herwin en hulle het geleer om hul te verheug in die diens van die ware God. Die profeet is deur hierdie wonderwerke van Goddelike genade bemoedig en hy is geïnspireer met ‘n groot verlange om almal wat opreg van hart was, te bereik. Oral waar hy gegaan het, het hy gepoog om ‘n onderwyser van geregtigheid te wees. DVvPEk 198.1

Uit ‘n menslike oogpunt was die vooruitsig vir geestelike herlewing van die nasie net so hopeloos soos wat die vooruitsig vir God se dienaars wat tans in die donker uithoeke van die aarde arbei, is. Maar Christus se kerk is God se agent vir die verkondiging van die waarheid; die kerk is deur Hom bemagtig om ‘n spesiale werk te doen; en as hulle lojaal aan God bly en Sy gebooie gehoorsaam, sal daar binne in die kerk ‘n voortreflikheid van Goddelike krag wees. Indien hulle getrou bly, sal daar geen mag wees wat teen die kerk staande kan bly nie. Die magte van die vyand sal net so magteloos wees om dit oorrompel as wat die kaf die dwarrelwind kan teenstaan. DVvPEk 198.2

’n Dagbreek van ‘n helder en glorieryke dag word aan die kerk voorgehou indien hulle die kleed van Christus se geregtigheid aantrek en hulle van alle trou aan die wêreld onttrek. DVvPEk 198.3

God doen ‘n beroep op Sy getroues, hulle wat in Hom glo, om diegene wat ongelowig en hopeloos is moed in te praat. Draai terug na die HERE, julle gevangenes van hoop. Soek julle krag by God, die lewende God. Wys julle onwankelbare en nederige geloof in Sy krag en Sy gewilligheid om te red. Wanneer ons in geloof Sy krag aangryp, sal Hy die mees hopelose en ontmoedigende lewensbeskouing wonderbaarlik verander. Hy sal dit doen tot verheerliking van Sy Naam. DVvPEk 198.4

Vir so lank as wat Elisa van plek tot plek in die koninkryk van Israel kon reis, het hy voortgegaan om aktief in die opbou van die profete-skole belang te stel. Waar hy ook al was, was God met hom om aan hom die woorde wat hy moes spreek te gee en die krag om wonderwerke te verrig. Op ‘n keer het “...die profete-seuns ... vir Elisa gesê: Kyk tog, die plek waar ons voor u woon, is vir ons te nou. Laat ons tog na die Jordaan gaan en elkeen daarvandaan ‘n balk gaan haal, dat ons daar vir ons ‘n plek kan maak om daar te woon.” (2 Kon 6:1, 2) Elisa het saam met hulle na die Jordaan gegaan, hulle deur sy teenwoordigheid aangemoedig, aan hulle opdragte gegee en selfs wonderwerke verrig om hulle in hul werk by te staan. “Maar terwyl een die balk kap, val die yster in die water; en hy roep uit en sê: Ag, my heer, dit is nogal geleen! En die man van God vra: Waar het dit geval? En toe hy hom die plek wys, het hy ‘n stok afgesny en dit daarheen gegooi en die yster bo laat drywe. En hy sê: Haal dit nou maar uit! En hy het sy hand uitgesteek en dit geneem.” (Verse 5-7) DVvPEk 199.1

Sy bediening was so effektief en sy invloed so wydverspreid dat, toe hy op sy sterfbed was, selfs die jeugdige koning Joas, ‘n afgodedienaar, wat weinig respek vir God gehad het, hom erken het as ‘n vader in Israel en dat sy teenwoordigheid in hulle midde in tye van teëspoed meer werd was as ‘n weermag met perde en strydwaens. Die rekord lees: “...en toe Elisa siek was aan die siekte waaraan hy sou sterwe, het Joas, die koning van Israel, afgekom na hom en oor hom geween en gesê: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!” (2 Kon 13:14) DVvPEk 199.2

Vir menige siel in die verknorsing met behoefte aan hulp, was die profeet ‘n wyse simpatieke vader. En in hierdie geval het hy nie van die goddelose jongeling, wat so onverdienstelik vir die posisie van vertroue wat hy beklee het was en tog so behoeftig aan raadgewing, weggedraai nie. God het in Sy voorsienigheid aan hierdie koning ‘n geleentheid geskenk om die mislukkings van die verlede reg te stel en sy koninkryk op ‘n plek met gunstige vooruitsigte te bring. Die Aramese vyand, wat op daardie stadium die gebied oos van die Jordaan beset het, sou gestuit word. Weereens sou die mag van God namens die dwalende Israel gemanifesteer word. DVvPEk 199.3

Die sterwende profeet het die koning gebied: “Neem ‘n boog en pyle... Sit jou hand aan die boog. En hy het sy hand aan die boog gesit; en Elisa het sy hande op die hande van die koning gelê. Verder sê hy: Maak oop die venster na die ooste toe!” — in die rigting van die stede oos van die Jordaan wat deur die Arameërs beset was. Die koning het die tralievenster oopgemaak en Elisa het hom gebied om te skiet. Soos wat die pyl voortgespoed het, was Elisa geïnspireer om te sê: “‘n Pyl van oorwinning van die HERE en ‘n pyl van oorwinning op Aram: jy moet die Arameërs volkome verslaan in Affek.” DVvPEk 200.1

En toe het die profeet die koning se geloof te toets. Hy het Joas beveel om die pyle te neem en het gesê: “Slaan teen die grond!” Die koning het dit drie maal gedoen en toe opgehou. “Daarop word die man van God baie kwaad vir hom en sê: Jy moes vyf of ses maal geslaan het; dan sou jy die Arameërs volkome verslaan het; maar nou sal jy die Arameërs drie maal verslaan.” (2 Kon 13:15-19) DVvPEk 200.2

Hierdie les geld vir almal in vertrouensposisies. Wanneer God die weg baan vir die uitvoering van ‘n sekere taak en Hy die versekering van sukses gee, moet die gekose instrument alles in sy vermoë doen om die beloofde resultaat te teweeg te bring. Sukses sal, in verhouding met die entoesiasme en deursettingsvermoë waarmee die werk deurgevoer word, behaal word. God kan wonderwerke vir Sy volk verrig wanneer hulle hul deel met onvermoeide energie verrig. Hy roep toegewyde manne vir Sy werk, manne met morele moed, hartstogtelike liefde vir siele en wie se ywer nie verflou nie. Vir sulke werkers is geen taak te moeilik nie en geen vooruitsigte te hopeloos nie; hulle sal onverskrokke aanhou werk, totdat die oënskynlike nederlaag in glorieryke oorwinning omgeskakel word. Nie eens die mure van die gevangenis, of die martelaar se brandstapel, sal hulle van hul doel om saam met God vir die opbou van Sy koninkryk te werk, laat afwyk nie. DVvPEk 200.3

Met die raad en aanmoediging wat aan Joas gegee is, is die werk van Elisa afgehandel. Hy, op wie die volle maat van die gees wat op Elia gerus het, gekom het, was tot aan die einde getrou. Nooit het hy geweifel nie. Nooit het hy sy vertroue in die mag van die Almagtige verloor nie. Te alle tye, selfs wanneer die weg voor hom geslote blyk te gewees het, het hy nog steeds in geloof voortgegaan en God het sy vertroue geëer en die weg voor hom oopgemaak. DVvPEk 201.1

Dit was nie vir Elisa beskore om sy meester in ‘n “...wa van vuur met perde van vuur...” te volg nie. Die HERE het toegelaat dat ‘n langdurige siekte hom oorval. Gedurende die lang ure van menslike swakheid en lyding, het sy geloof aan God se beloftes vasgehou en hy het voortdurend rondom hom hemelse boodskappers van vertroosting en vrede gewaar. Net soos op die hoogtes van Dotan, toe hy die omringende leërskare van die hemel, die vurige waens van Israel en die ruiters daarvan gesien het, so was hy nou van die teenwoordigheid van simpatieke engele bewus en is hy onderskraag. Regdeur sy lewe het hy ‘n sterk geloof gehandhaaf en soos wat hy al meer in kennis van God se voorsienigheid en barmhartige goedhartigheid gegroei het, het sy geloof ryp geword in ‘n blywende vertroue in sy God en toe die dood hom roep, was hy gereed om van sy arbeid te rus. DVvPEk 201.2

“Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote.” (Ps 116:15) “Die regverdige vind ‘n toevlug by sy dood.” (Spr 14:32) Saam met die psalmis kon Elisa met volle vertroue sê: “Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem.” (Ps 49:15) En met vreugde kon hy getuig: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.” (Job 19:25) “Maar ek sal U aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met U beeld as ek wakker word.” (Ps 17:15) DVvPEk 201.3