Go to full page →

Hoofstuk 20—Naaman *Hier hoofstuk is gebaseer op 2 Konings 5 DVvPEk 187

“En Naaman, die leërowerste van die koning van Aram, was ‘n groot man voor sy heer en hoog in aansien; want deur hom het die HERE aan die Arameërs ‘n oorwinning gegee; en die man was ‘n dapper held, maar melaats.” (1 Kon 5:1) DVvPEk 187.1

Benhadad, die koning van Sirië, het die leërs van Israel in die geveg wat gelei het tot die dood van Agab, oorwin. Sedertdien het die Arameërs voortdurend ‘n grensoorlog met Israel gevoer en tydens een so ‘n strooptog het hulle ‘n jong meisietjie ontvoer. In die land waarheen sy ontvoer is, het sy in die “...diens van Naaman se vrou gekom.” Nieteenstaande die feit dat sy ‘n slavin en ver van haar huis verwyder was, was hierdie meisie een van God se getuies en onbewustelik besig om die doel waarvoor God Israel as Sy volk gekies het, te vervul. Soos wat sy in hierdie heidense huishouding gedien het, is haar meegevoel vir haar meester opgewek; en sy het onthou van die wonderwerke wat Elisa verrig het “...en sy het vir haar meesteres gesê: Ag, was my heer maar net by die profeet wat in Samaría is, dan sou hy sy melaatsheid wegneem.”(Vers 3) Sy het geweet dat die mag van die Hemel met Elisa was en geglo dat deur hierdie mag Naaman genees sou kon word. DVvPEk 187.2

Die gedrag van hierdie slavin en die wyse waarop sy in daardie heidense huis opgetree het, is ‘n sterk getuienis van die krag van vroeë huislike opvoeding. Daar is geen groter vertroue as dit wat aan vaders en moeders opgedra is vir die versorging en opvoeding van hul kinders nie. Ouers het te make met die fondasies van gewoontes en karakter. Die toekoms van hul kinders word grootliks deur hul voorbeeld en opvoeding bepaal. DVvPEk 187.3

Gelukkig is die ouers wie se lewens ‘n ware weerspieëling van die Goddelike is, sodat die beloftes en die gebooie van God dankbaarheid en eerbied in die kind laat ontwaak; die ouers wie se deernis, regverdigheid en lankmoedigheid die liefde en geregtigheid van Jesus aan die kind oordra en wat die kind leer om hulle lief te hê, te vertrou en te gehoorsaam, leer so ‘n kind om sy Vader in die hemel lief te hê, te vertrou en te gehoorsaam. Ouers wat so ‘n geskenk aan die kind gee, begunstig hom of haar met ‘n skat, meer kosbaar as die rykdom van alle eeue, ‘n skat wat tot in ewigheid sal duur. DVvPEk 188.1

Ons weet nie in watter lyn ons kinders opgeroep mag word om te dien nie. Hulle mag hul lewens binne die huiskring die deurbring; hulle mag by die lewe se meer algemene beroepe betrokke raak, of as onderwysers van die evangelie na heidense lande gaan; maar almal word opgeroep as sendelinge vir God, bedienaars van genade aan die wêreld. Hulle moet onderrig ontvang wat hulle sal help om in onbaatsugtige diens aan die kant van Christus te staan. DVvPEk 188.2

Die ouers van hierdie Hebreeuse meisie het nie geweet, terwyl hulle haar van God geleer het nie, wat haar lot sou wees nie. Maar hulle was getrou aan hulle gelofte; en in die huis van die kaptein van die Siriese leër het hulle kind getuig van die God Wie sy geleer het om te vereer. DVvPEk 188.3

Naaman het verneem van die woorde wat die diensmeisie met haar meesteres gespreek het en het met die toestemming van die koning, gegaan om genesing te soek en “...tien talente silwer en sesduisend sikkels goud en tien stel klere saam met hom geneem.” Hy het ook ‘n brief van die koning van Sirië aan die koning van Israel saam met hom geneem, waarin geskryf was: “Saam met hierdie brief aan u stuur ek dan nou my dienaar Naaman na u toe, dat u sy melaatsheid kan wegneem.” Toe die koning van Israel die brief lees, “...skeur hy sy klere en sê: Is ek dan God, om dood en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om van ‘n man sy melaatsheid weg te neem? Erken en sien tog net hoedat hy ‘n geleentheid teen my soek.” DVvPEk 188.4

Tyding van die saak het Elisa bereik en hy het ‘n boodskap aan die koning gestuur: “Waarom skeur u u klere? Laat hom maar na my kom; dan sal hy weet dat daar ‘n profeet in Israel is.” DVvPEk 189.1

“So het Naaman dan gekom met sy perde en met sy waens en voor die deur van Elísa se huis stilgehou. Toe stuur Elísa ‘n boodskapper na hom om te sê: Gaan heen, was jou sewe maal in die Jordaan; dan sal jou vlees terugkeer en jy sal rein wees.” DVvPEk 189.2

Naaman het verwag om een of ander wonderbaarlike manifestasie uit die hemel te sien: “Kyk, ek het gedink: Hy sal sekerlik na my uitkom en staan en die Naam van die HERE sy God aanroep en sy hand oor die plek heen en weer beweeg en die melaatsheid wegneem. Is Abána en Farpar, die riviere van Damaskus, nie beter as al die waters van Israel nie? Kon ek my nie daarin was en rein word nie? En hy het omgedraai en vererg weggery.” DVvPEk 189.3

Die trotse gees van Naaman het teen die opdragte van Elisa in opstand gekom. Die riviere waarna die Siriese kaptein verwys het was versier met omliggende bosse en baie het na die oewers van hierdie aangename strome gekom om hul afgode te aanbid. Dit sou vir Naaman geen vernedering gewees het om in een van die strome in te gaan nie. Maar dit was slegs deur die spesifieke opdragte van die profeet te volg, wat hy genesing sou ontvang. Alleenlik gewillige gehoorsaamheid sou die gewenste uitwerking hê. DVvPEk 189.4

Naaman se diensknegte het hom gesmeek om die profeet se opdragte te gehoorsaam: “My vader, as die profeet u ‘n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou en jy sal rein word?” Naaman se geloof is getoets terwyl sy trots om die oorhand gestrewe het. Maar geloof het oorwin en die hoogmoedige Siriër het sy trots laat vaar en in oorgawe gebuig om hom aan die geopenbaarde wil van Jehova te onderwerp. Sewe maal het hy homself in die Jordaan onderdompel “...volgens die woord van die man van God.” Sy geloof is vereer “...en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ‘n jong seun en hy het rein geword.” DVvPEk 189.5

“Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel.” DVvPEk 190.1

Volgens die gebruik van daardie tyd, het Naaman Elisa versoek om ‘n kosbare geskenk te aanvaar. Maar die profeet het geweier. Hy was nie geneë om betaling vir ‘n seën wat God uit genade geskenk het, te aanvaar nie. “Maar [Elisa] sê: So waar as die HERE leef voor Wie se aangesig ek staan, ek sal dit nie aanneem nie!” Die Siriër “...het by hom aangehou om dit aan te neem, maar hy het geweier.” DVvPEk 190.2

“En Naaman het gesê: So nie, laat dan tog aan u dienaar ‘n vrag grond gegee word, soveel as ‘n paar muile kan dra; want u dienaar sal nie meer brandoffer of slagoffer aan ander gode bring nie as net aan die HERE. Mag die HERE in hierdie saak u dienaar vergewe: as my heer in die huis van Rimmon ingaan om hom daar neer te buig, terwyl hy op my hand leun, sodat ek my ook in die huis van Rimmon neerbuig — as ek my neerbuig in die huis van Rimmon, mag die HERE dan tog in hierdie saak u dienaar vergewe.” DVvPEk 190.3

“En hy sê vir hom: Gaan in vrede! Nadat hy ‘n ent pad van hom weggetrek het.” DVvPEk 190.4

Gehasi, Elisa se dienskneg, het deur die jare die geleentheid gehad om die gees van selfverloëning wat sy meester se lewenswerk gekenmerk het te ontwikkel. Hy was bevoorreg om ‘n edele vaandeldraer in die leër van die HERE te word. Die beste gawes van die Hemel was vir ‘n lang tydperk tot sy beskikking, maar tog het hy hiervan weggedraai en eerder die lae standaard van wêreldse rykdom begeer. En nou het die verborge begeertes van sy gierige gees hom gelei om toe te gee aan ‘n oorweldigende versoeking. “Kyk...” het Gehasi by homself geredeneer, “...my heer het hierdie Arameër Naaman verskoon deur nie uit sy hand aan te neem wat hy gebring het nie... Sekerlik sal ek agter hom aan loop en iets van hom aanneem. So het Gehási dan Naaman haastig gevolg.” DVvPEk 190.5

“En toe Naaman een agter hom aan sien hardloop, het hy van die wa afgespring hom tegemoet en gesê: Gaan dit goed? En hy antwoord: Dit gaan goed.” Toe vertel hy ‘n doelbewuste leuen. “My heer stuur my om te sê: Kyk, daar het nou net twee jongmanne, profete-seuns, van die gebergte van Efraim af, na my gekom. Gee aan hulle tog ‘n talent silwer en twee stelle klere.” Naaman het met graagte aan die versoek voldoen en by Gehasi aangedring om twee talente silwer in stede van een te neem “...saam met twee stelle klere... ” en aan sy dienaars gegee, “...wat dit voor hom uit gedra het.” DVvPEk 191.1

Toe Gehasi Elisa se huis nader, het hy die dienaars ontslaan en die silwer en klere weggesteek. Nadat dit afgehandel was, het hy “...in[ge]kom en by sy heer [ge]staan...” en, om homself teen sensuur te beskerm het hy ‘n tweede leuen geuiter. Daarop vra Elisa vir hom: “Vanwaar, Gehási?” In antwoord op die profeet se vraag het Gehasi gesê: “U dienaar het nêrens heengegaan nie.” DVvPEk 191.2

Toe volg die streng veroordeling wat getoon het dat Elisa alles geweet het: “Het my hart nie saamgegaan toe ‘n man van sy wa af omgedraai het jou tegemoet nie? Is dit tyd om die silwer te neem en om klere te neem en olyfbome en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne? Daarom sal die melaatsheid van Naaman jou en jou nageslag vir ewig aanklewe.” Die straf het spoedig gevolg, want “...hy het van hom uitgegaan melaats, soos sneeu.” (2 Kon 5:1-27) DVvPEk 191.3

Plegtig is die lesse wat hierdie voorval leer van een wat hoë en heilige voorregte ontvang het. Die optrede van Gehasi was sodanig dat hy ‘n struikelblok in die pad van Naaman geplaas het, in wie se gedagtes ‘n wonderlike lig deurgebreek het en wat gunstig ingestel was tot diens van die lewende God. Vir die misleiding wat Gehasi uitgeoefen het, kon geen verskoning bepleit word nie. Tot die dag van sy dood het hy melaats gebly, vervloek deur God en deur sy medemens vermy. DVvPEk 191.4

“’n Valse getuie bly nie ongestraf nie en hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie.” (Spr 19:5) Mense mag dink om hul bose dade vir die menslike oog te verberg, maar hulle kan God nie bedrieg nie. “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Heb 4:13) Gehasi het gedink hy bedrieg vir Elisa, maar God het die woorde wat Gehasi teenoor Naaman geuiter het aan sy profeet openbaar, asook elke besonderheid van die toneel tussen die twee manne. DVvPEk 192.1

Waarheid is van God. Misleiding, in al sy mistieke vorms, kom van Satan en enigeen wat van die reguit lyn van waarheid afwyk, verloën homself in die mag van die bose. Diegene wat van Christus geleer het, sal “...nie gemeenskap [hou] met die onvrugbare werke van die duisternis nie.” (Ef 5:11) In spraak, soos in die lewe, sal hulle eenvoudig, reguit en in waarheid wandel, want hulle berei hulle voor vir gemeenskap met daardie heiliges in wie se mond geen bedrog te vinde is nie. (Sien Openbaring 14:5). DVvPEk 192.2

Eeue nadat Naaman na sy Siriese huis teruggekeer het, genees in liggaam en tot bekering gekom het, is daar na sy wonderlike geloof deur die Verlosser verwys as ‘n les vir almal wat beweer dat hulle God dien. “En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naaman, die Síriër.” (Luk 4:27) God het by baie melaatses in Israel verby beweeg, omdat hul ongeloof die deur vir die goeie vir hulle gesluit het. ‘n Heidense edelman wat getrou was aan sy oortuigings vir wat reg was en wat sy behoefte aan hulp besef het, was in die oë van God meer waardig om Sy seën te ontvang as die ellendiges van Israel wat hulle Godgegewe voorregte geminag het. God werk vir diegene wat sy gunste waardeer en reageer op die lig wat uit die hemel aan hulle gegee is. DVvPEk 192.3

In elke land is daar vandag diegene wat eerlik van hart is en op wie die hemelse lig skyn. Indien hulle getrou volhard in dit wat hulle as hul plig beskou, sal hulle meer lig ontvang, totdat hulle soos Naaman van ouds gedring word om te erken: “Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie...” behalwe die lewende God, die Skepper. DVvPEk 193.1

Aan elke siel “...wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie...” word die volgende uitnodiging gegee: “Laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God!” “Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het ‘n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U. U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op U weë.” (Jes 50:10;64:4,5) DVvPEk 193.2