Hoofstuk 3: Bekering
- Voorwoord
- Hoofstuk 1: Gods Liefde vir die Mens
- Hoofstuk 2: Die Sondaar se Behoefte Aan Christus
- Hoofstuk 3: Bekering
- Hoofstuk 4: Belydenis van Sonde
- Hoofstuk 5: Toewyding
- Hoofstuk 6: Geloof en Aanneming
- Hoofstuk 7: Die Toets van Dissipelskap
- Hoofstuk 8: Opwassing in Christus
- Hoofstuk 9: Die Werk en die Lewe
- Hoofstuk 10: 'n Kennis van God
- Hoofstuk 11: Die Voorreg van Gebed
- Hoofstuk 12: Wat om met Twyfel te Doen
- Hoofstuk 13: Vreugde in die Here
Search Results
- Results
- Related
- Featured
- Weighted Relevancy
- Content Sequence
- Relevancy
- Earliest First
- Latest First
- Exact Match First, Root Words Second
- Exact word match
- Root word match
- EGW Collections
- All collections
- Lifetime Works (1845-1917)
- Compilations (1918-present)
- Adventist Pioneer Library
- My Bible
- Dictionary
- Reference
- Short
- Long
- Paragraph
No results.
EGW Extras
Directory
Hoofstuk 3: Bekering
HOE kan 'n mens regverdig wees voor God? Hoe kan 'n sondaar geregverdig word? Dit is deur Christus alleen dat ons in harmonie met God gebring en heilig kan word; maar hoe moet ons tot Christus kom? Baie stel dieselfde vraag as die skare op Pinksterdag, toe hulle, oortuig van sonde, uitgeroep het, “Wat moet ons doen?” Die eerste woorde wat oor Petrus se lippe gekom het in antwoord op hulle vraag, was “Bekeer julle.” By 'n ander geleentheid, kort daarna, het hy gesê: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word.” Hand. 2: 38; 3: 19.LVB 20.1
Bekering sluit in berou oor die sonde, asook 'n versaking daarvan. Ons sal die sonde nooit versaak tensy ons die sondigheid daarvan besef nie; en aleer ons 'n afkeer daarvan in ons hart kry, sal daar nie 'n ware verandering in die lewe kom nie.LVB 20.2
Daar is baie wat nie reg verstaan wat ware bekering is nie. Daar is baie wat jammer is omdat hulle gesondig het, en daar kom slegs uiterlike hervorming omdat hulle bang is dat hulle sonde hulle in die ellende sal dompel. Maar dit is nie bekering in die Bybelse sin nie. Hulle is jammer vir hulleself pleks van bedroef te wees oor die feit dat hulle gesondig het. Sulke droefheid het Esau ook gehad toe hy besef het dat hy sy geboortereg vir ewig verkwansel het. Bileam, bang vir die engel wat in sy weg gestaan het met 'n swaard, het sy skuld erken om sy lewe te behou; maar daar was geen ware berou oor die sonde nie — geen bekering en geen afsku van die daad nie. Na Judas Iskariot sy Here verraai het, het hy uitgeroep: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.” Matt. 27: 4.LVB 21.1
Hierdie belydenis is van hom afgepers deur die vrees vir die oordeel wat hom gewag het. Die gevolge van sy daad het hom met vrees vervul, maar daar was nie 'n diepgaande, hartverskeurende berou in sy siel omdat hy die vleklose Seun van God verraai en die heilige van Israel verwerp het nie. Toe die plae van God Farao getref het, het hy sy sonde bely, dog net om verdere straf te vermy, want net sodra die plae opgehou het, het hy weer sy uitdagende houding teenoor die hemel aangeneem. Hulle almal het die gevolge van die sonde betreur, maar daar was geen berou oor die sonde self nie.LVB 21.2
Maar as die hart hom egter oorgee aan die werking van die Gees van God, sal die gewete wakkergemaak word en die sondaar sal 'n besef kry van die heiligheid van Gods wet wat die grondslag is van Sy regering in hemel en op aarde. “Die waaragtige Lig wat elke mens verlig” (Joh. 1: 9), verlig die verborge skuilhoeke van die hart en die duistere dinge word dan geopenbaar. Die hart word oortuig van sonde. Die sondaar kry 'n besef van die geregtigheid van God en is verskrik deur die gedagte dat hy in sy sonde en onreinheid voor die Kenner van harte sal moet verskyn. Hy kry 'n blik op die liefde van God, en die sieraad van heiligheid; daar ontstaan by hom 'n verlange na reinheid en gemeenskap met die hemel.LVB 21.3
Die gebed van Dawid ná sy val, gee ons 'n goeie voorbeeld van wat opregte berou is. Sy berou was diepgaande en opreg. Hy het geen poging gemaak om sy sonde goed te praat en ook wou hy nie die regverdige vergelding ontvlug nie. Dawid het sy ontsettende sonde ingesien; hy het besef hoe dit sy siel besoedel het; hy het dit verafsku. Hy het nie alleen om vergifnis gebid nie, maar ook om 'n rein hart. Hy het verlang na die vreugde van heiligheid — om herstel te word in sy gemeenskap met God. Hy het sy hart aldus uitgestort voor God:LVB 22.1
“Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.
Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken
nie en in wie se gees geen bedrog is nie.” Ps. 32:1, 2.LVB 22.2
“Wees my genadig, o God, na U goedertierenheid;
Delg my oortredinge uit na die grootheid van U barmhartighede. . . .
Want ék ken my oortredinge, en ray sonde is altyddeur voor my. . . .
Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter
kan wees as sneeu. . . .
Skep vir my 'n rein hart, o God,
En gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.
Verwerp my nie van U aangesig nie en neem U Heilige Gees nie van my
weg nie.
Gee my weer die vreugde van U heil,
En ondcrsteun my deur 'n gees van vrymoedigheid. . .
Red my van bloedskuld, o God ! God van my heil!
Laat my tong U geregtigheid uitjubel.” Ps. 51: 1-16.LVB 22.3
'n Bekering soos hierdie kan nooit uit ons eie krag voortkom nie; dit kom alleen van Christus wat opgevaar het en gawes aan die mense gegee het.LVB 22.4
Net hier maak baie 'n fout en daarom slaag hulle nie daarin om die hulp te verkry wat Christus hulle graag wil skenk nie. Hulle meen dat hulle nie na Christus mag kom aleer hulle tot bekering gekom het nie, en dat bekering die weg berei vir die vergewing van hulle sondes. Dit is waar dat bekering die vergifnis van sondes moet voorafgaan, want dit is slegs die gebroke en boetvaardige hart wat sy behoefte aan 'n Verlosser sal besef. Maar moet die sondaar wag totdat hy eers tot bekering gekom het voordat hy na Jesus mag kom? Moet bekering dan die hinderpaal gemaak word tussen die sondaar en die Verlosser?LVB 22.5
Die Bybel leer nie dat die sondaar eers tot bekering moet kom voordat hy die uitnodiging van Christus, “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee,” kan aanneem nie. (Matt. 11: 28.) Dit is 'n krag wat van Christus uitgaan wat tot ware bekering lei. Petrus maak hierdie punt baie duidelik waar hy sê: “Hom het God as Leidsman en Verlosser deur Sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sonde te skenk.” Hand. S: 31. Ons kan net so min tot bekering kom sonder die Gees van Christus wat eers ons gewete moet wakker maak, as wat ons sonder Hom vergifnis kan verkry.LVB 23.1
Christus is die bron van alle goeie ingewings en voornemens. Hy alleen kan in die hart 'n afkeer van die sonde verwek. Elke verlange na waarheid en reinheid, elke oortuiging van ons eie sondigheid, is 'n bewys dat Sy gees in ons hart werk.LVB 23.2
Jesus het gesê: “En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Joh. 12: 32. Christus moet aan die sondaar geopenbaar word as die Een wat vir die sondes van die wêreld gesterf het; en namate ons die Lam van God aan die kruis van Golgota aanskou, sal die verborgenheid van die verlossing vir ons begin duidelik word en die goedheid van God sal ons tot bekering lei. Deur vir sondaars te sterf, het Christus 'n onuitspreeklike liefde geopenbaar; en namate die sondaar hierdie liefde besef, versag dit sy hart en verwek dit berou in sy siel.LVB 23.3
Dit is waar dat mense soms skaam word oor hulle sondige weë, en sommige van hulle slegte gewoontes versaak voordat hulle besef dat hulle tot Christus getrek word. Maar wanneer hulle 'n poging aanwend om te hervorm as gevolg van 'n opregte begeerte om te doen wat reg is, is dit die krag van Christus wat hulle trek. Hulle word beinvloed deur 'n krag waarvan hulle onbewus is; hulle gewete word wakker en hulle lewe verbeter. Namate Christus hulle trek na die kruis om Hom daar te aanskou — die Een wat vir hulle sondes deurboor is — begin hulle dink aan die wet. Hulle sondige lewe en die sonde in hulle hart word aan hulle geopenbaar. Hulle begin dan 'n floue besef te kry van die geregtigheid van Christus en hulle roep uit: “0, is die sonde tog nie aaklig dat dit so 'n slagoffer moes eis om ons te verlos nie? Is al hierdie liefde, al hierdie lyding en al die vernedering nodig sodat ons nie hoef te sterf en sodat ons die ewige lewe kan hê?”LVB 24.1
Die sondaar mag hierdie liefde weerstaan; hy mag weier om tot Christus te kom; maar as hy nie weier nie sal hy tot Christus getrek word; 'n besef van die verlossingsplan sal hom in diepe berou oor sy sondes na die kruis bring — die sondes waarvoor die geliefde Seun van God so moes ly.LVB 24.2
Dieselfde goddelike Gees wat in die natuur daar buite werk, werk ook in die harte van mense en verwek in hulle binneste 'n onuitspreeklike verlange na iets wat hulle nie het nie. Die dinge van die wêreld bevredig hulle nie. Die Gees van God smeek hulle om daardie dinge te soek wat alleen die vreugde en rus kan bring, naamlik die genade van Christus, die vreugde van heiligheid. Deur sigbare en onsigbare invloede werk die Heiland gedurig om die harte van mense af te trek van die genot van die sonde wat nie bevredig nie, na die oneindige seëninge wat hulle in Hom sal vind. Tot al hierdie siele wat trag om hulle dors te les by die gebarste reënbakke van hierdie wêreld, kom die boodskap: “Laat hom wat dors het, kom. En laat hom wat wil, die water van die lewe neem verniet.” Openb. 22: 17.LVB 24.3
U wat in u hart verlang na iets beter as wat hierdie wêreld kan gee, hoor in hierdie verlange die stem van God wat tot u siel spreek. Vra Hom om u tot bekering te bring, om Christus aan u te openbaar in Sy groot liefde en in Sy volkome reinheid. Christus het die beginsels van Gods wet; naamlik liefde tot God en die mens, uitgeleef. Goedheid, onbaatsugtige liefde, was die asem van Sy siel. Namate ons Hom aanskou en die lig van die Heiland ons bestraal, sal ons die sondigheid van ons eie hart besef.LVB 25.1
Ons mag onsself vlei soos Nikodemus dat ons 'n goeie lewe gelei het, dat ons karakter onbesproke is en dat ons geen behoefte het om onsself voor die aangesig van God te verootmoedig soos 'n gewone sondaar nie; maar wanneer die lig van Christus in ons harte skyn, sal ons sien hoe onrein dat ons is; ons sal ons selfsug sien en die vyandskap teenoor God wat ons hele lewe besoedel het. Dan sal ons besef dat ons eie geregtigheid soos 'n wegwerplike kleed is, dat die bloed van Christus alleen ons kan reinig van die besoedeling van die sonde en ons harte na Sy ewebeeld kan vernuwe.LVB 25.2
Een straal van die heerlikheid van God, een greintjie van die reinheid van Christus sal elke vlek van die sonde in die hart blootstel en die gebreke en mismaaktheid van die menslike karakter aan die lig bring. Dit sal die onheilige begeertes, die ontrouheid van die hart en die onreinheid van die lippe openbaar. Die sondaar se oortreding van Gods wet word aan hom getoon en sy gees is verslae onder die deurtastende invloed van die Gees van God. Hy verafsku homself waar hy 'n blik kry op die reine, vleklose karakter van Christus.LVB 25.3
Toe Daniël die heerlikheid gesien het wat die hemelse boods tapper omring het wat na hom gestuur is, was hy oorweldig deur die besef van sy eie swakheid en onvolmaaktheid. In 'n beskrywing van daardie wonderlike toneel sê hy: “Geen krag het in my oorgebly nie; want my gesonde kleur het in my verander, en verdwyn, en ek het geen krag oorgehou nie.” Dan. 10: 8. Die siel wat so getref is, sal sy selfsug haat en sy eieliefde verafsku, en hy sal deur die geregtigheid van Christus verlang na 'n rein hart wat in ooreenstemming is met die wet van God en die karakter van Christus.LVB 26.1
Paulus sê dat hy “wat die geregtigheid in die wet betref,” d.w.s. wat sy uiterlike dade betref, “onberispelik” was. Filip. 3: 6. Maar toe hy egter besef het dat die wet geestelik is, het hy sy sondigheid ingesien. Geoordeel volgens die letter van die wet soos mense dit gewoonlik op die uiterlike lewe toepas, was hy onskuldig; maar toe hy die diepere betekenis van daardie heilige voorskrifte begin besef en homself gesien het soos God hom sien, het hy in ootmoed neergebuig en sy skuld bely. Hy sê: “Sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe, en ek. het gesterwe.” Rom. 7: 9. Toe hy die geestelike aard van die wet ingesien het, het hy ook die ware afskuwelikheid van die sonde ingesien en al sy eiedunk was weg.LVB 26.2
Die Here beskou nie alle sondes as ewe groot nie; by Hom is daar, net soos ook by die mens, grade van skuld; maar hoe nietig hierdie of daardie daad ook vir die mens mag skyn, is geen sonde gering in die oog van God nie. Die mens se oordeel is partydig en onvolmaak; maar die Here sien alles in die ware lig. Die dronkaard word byvoorbeeld verag, en aan hom word gesê dat sy sonde hom uit die hemel sal uitsluit; terwyl hoogmoed, selfsug en hebsug dikwels onbestraf gelaat word. Maar dit is sondes hierdie wat God veral haat, want hulle is teenstrydig met Sy karakter — daardie onselfsugtige liefde wat die ganse hemel deurstraal. Diegene wat hulleself aan die growwe sondes skuldig maak, mag hulle skande en armoede besef, asook hulle behoefte aan die genade van Christus; maar hoogmoed voel geen behoefte nie en sluit sy hart teen Christus en die oneindige seëninge wat Hy kan gee.LVB 26.3
Die boetvaardige tollenaar wat gebid het: “O God, wees my sondaar genadig,” Lukas 18: 13, het homself as baie sondig beskou, en ander het hom ook so beskou; maar hy het sy behoefte ingesien, en onder 'n diepe besef van sy sonde en skande het hy God om genade gesmeek. Sy hart was oop vir die Gees om Sy werk te doen en hom vry te maak van die mag van die sonde. Die Fariseër se vermetele, eiegeregtige gebed het getoon dat sy hart gesluit is vir die invloed van die Heilige Gees. Omdat hy so ver van God afgedwaal het, kon hy geen besef vorm van sy eie onreinheid in teenstelling met die goddelike heiligheid nie. Hy het geen behoefte gevoel nie, en het dus ook niks ontvang nie.LVB 27.1
As u u sondigheid insien, moet dan nie wag om uself eers te verbeter nie. Hoe baie is daar nie wat dink dat hulle nie goed genoeg is om na Christus te kom nie. Dink u dat u uself kan verbeter deur u eie pogings? “Kan 'n Kusiet sy vel verander, of 'n luiperd sy vlekke? Dan sal julle ook in staat wees om goed te doen, julle wat gewend is om kwaad te doen.” Jer. 13: 23. Vir ons is daar alleen by God hulp. Ons moet nie wag op sterker oortuigings, op beter geleenthede, op reiner harte nie, want van onsself kan ons niks doen nie. Ons moet na Christus kom net soos ons is.LVB 27.2
Maar laat niemand homself bedrieg met die gedagte dat God in Sy groot liefde en ontferming uiteindelik selfs diegene sal red wat Sy genade verwerp nie. Die vreeslike sondigheid van die sonde kan alleen in die lig van die kruis reg besef word. Wanneer mense die argument aanvoer dat God te goed is om die sondaar te verwerp, laat hulle dan 'n blik op Golgota werp. Dit was omdat daar geen ander manier was om die mens te red nie; omdat die mens sonder hierdie soenoffer onmoontlik kon verlos word uit die mag van die sonde en herstel word in sy gemeenskap met heilige wesens, en ook omdat dit onmoontlik vir hom was om die geestelike lewe deelagtig te word, dat Christus die skuld van die sondaar op Hom geneem en in sy plek gesterf het. Die liefde en lyding en dood van die Seun van God, getuig van die ontsettende grootheid van die sonde, en verklaar dat daar slegs een manier is om van die mag van die sonde verlos te word en 'n beter lewe te lei, en dit is die oorgawe van die hart aan Christus.LVB 27.3
Die onboetvaardiges verontskuldig hulleself soms deur te wys op die naam-Christene en te sê: “Ek is net so goed as hulle. Hulle is nie onbaatsugtiger, matiger, en versigtiger as ek nie. Hulle het plesier en self net so lief as ek.” Op hierdie manier wil hulle die foute van ander gebruik om hulle eie pligsversuim te regverdig. Maar die sonde en gebreke van ander sal niemand verontskuldig nie; want die Here het nie aan ons 'n sondige, menslike voorbeeld gestel nie. Die vleklose Seun van God is gegee as ons voorbeeld, en diegene wat kla oor die slegte voorbeeld van die naam-Christene is juis hulle wat edeler lewens behoort te voer en beter voorbeelde behoort te stel. As hulle dan so goed weet hoe 'n Christen hom behoort te gedra, is hulle sonde dan nie des te groter nie? Hulle weet wat reg is en tog weier hulle om reg te doen.LVB 28.1
Pas op vir uitstel. Moenie uitstel om u sonde te versaak en u hart deur Christus te laat reinig nie. Dis juis in hierdie verband waar duisende al 'n fout begaan het tot hul ewige verdriet. Ek sal nie hier vvys op die kortstondigheid van die lewe nie; maar daar is groot gevaar — ’n gevaar wat nie reg besef word nie—om na te laat om na die smeekstem van die Heilige Gees te luister en voort te leef in die sonde; want dit is tog wat afstel beteken. Sonde, hoe gering ons dit ook mag ag, stel ons altyd aan die grootste gevaar bloot — die gevaar dat ons vir ewig mag verlore gaan. Die sonde wat ons nie oorwin nie, sal ons oorwin en ons uiteindelike vernietiging veroorsaak.LVB 28.2
Adam en Eva het hulleself wysgemaak dat die eet van die vrug van 'n boom tog nie sulke verskriklike gevolge kan hê as wat God verklaar het nie. Maar hierin het hulle juis Gods onveranderlike en heilige wet oortree, en dit het skeiding gebring tussen die mens en God, en die sluise geopen wat ongekende ellende en die dood in die wereld gebring het. Eeu na eeu is die stem van rouklag op die aarde gehoor, en die ganse skepping sug tesame in barensnood as gevolg van die mense se oortreding. Selfs die hemel is aangetas deur die rebellie teen God. Golgota staan as die ewige gedenkteken van die onuitspreeklike offer wat daar nodig was om versoening te doen vir die oortreding van die goddelike wet. Laat ons nooit die sonde gering skat nie.LVB 29.1
Elke oortreding, elke veragting of verwerping van die genade van Christus, werk terug op uself; dit verhard die hart, verswak die wilskrag, verstomp die verstand en maak jou nie alleen minder geneig om jouself oor te gee nie, maar ook magteloser om gehoor te gee aan die sagte smeekstem van Gods Heilige Gees.LVB 29.2
Baie trag om 'n lastige gewete stil te maak met die gedagte dat hulle, as hulle maar net wil, 'n ander weg kan inslaan, en dat hulle, hoewel hulle die roepstem van genade versmaai, later weer geleentheid sal kry om te gehoorsaam. Hulle dink dat hulle, nadat hulle telkens die Heilige Gees bedroef het en hulle aan die kant van Satan geskaar het, in 'n tyd van nood tot inkeer sal kom en sal kan verander; maar dit geskied nie so maklik nie. Die ondervinding en opleiding van 'n leeftyd oefen so 'n magtige invloed op die hart uit dat maar min dan begerig is om die beeld van Christus te ontvang.LVB 29.3
Selfs een verkeerde karaktertrek, een sondige begeerte, as daarin volhard word, sal uiteindelik die invloed van die evangelie op die hart kragteloos maak. Elke sondige daad laat die siel verder afdwaal van God. Die man wat ongeloof openbaar of onverskillig is teenoor goddelike waarheid, samel maar net die oes in van wat hy vroeër gesaai het. In die hele Bybel is daar nie 'n ernstiger waarskuwing teen die sonde as dié van Salomo nie, “Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou.” Spreuke 5: 22.LVB 30.1
Christus is altyd gereed om ons van die sonde te verlos, maar Hy dwing niemand nie; as ons dan deur volharding in die sonde so verslaaf is daaraan dat ons geen begeerte het om daarvan verlos te word nie, as ons Sy genade nie wil aanneem nie, wat kan Hy dan nog meer doen? Ons het onsself vernietig omdat ons Sy liefde steeds verwerp het. “Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is dit die dag van verlossing.” 2 Kor. 6: 2. “Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie.” Heb. 3:7, 8.LVB 30.2
“Die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” 1 Sam. 16: 7. Hy sien die vreugde en smart en die afdwalings van die menslike hart waar soveel onreinheid en bedrog in skuil. Hy is bekend met al ons beweegredes en planne. Gaan maar na Hom toe met u hart so vol sonde as dit is. Maak u hart voor God oop soos die psalmdigter, en bid die volgende gebed: “Deurgrond my, o, God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes en kyk of daar by my 'n weg is van smart en lei my op die ewige weg.” Ps. 139: 23, 24.LVB 30.3
Baie het 'n bloot verstandelike godsdiens, 'n vorm van godsaligheid, sonder dat die hart gereinig is. Maar ons moet bid: “Skep vir my 'n rein hart, o, God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.” Ps. 51: 12. Wees eerlik met uself. Wees net so emstig en volhardend as u sou wees as u lewe op die spel was. Dit is 'n saak wat u alleen met God moet uitmaak — vir die ewigheid moet uitmaak. As u slegs hoop, en niks meer nie, sal dit u ewige ondergang bewerkstellig.LVB 31.1
Ondersoek Gods Woord biddend. In die Woord en die wet van God en in die lewe van Christus, het u die ewige beginsels van heiligheid “waarsonder niemand die Here sal sien nie.” Heb. 12: 14. Dit sal u oortuig van sonde en die weg van saligheid duidelik aanwys. Luister daarna asof dit die stem van God is wat tot u spreek.LVB 31.2
As u sien hoe groot die sonde is, en as u uself sien soos u waarlik is, dan moet u nie moedeloos word nie. Christus het gekom om sondaars te red. Dis nie nodig vir ons om God met ons te versoen nie, maar — o, wonderbaarlike liefde! — God het in Christus “die wêreld met Homself versoen.” 2 Kor. 5: 19. Deur Sy tere liefde trek Hy die hart van Sy afvallige kinders tot Hom. Geen aardse ouer kan ooit so geduldig wees met die foute en misstappe van sy kinders as God is teenoor diegene wat Hy graag wil red nie. Niemand kan ooit ernstiger pleit met die oortreder as Hy nie. Geen mens het nog ooit met groter teerheid die afgedwaaldes gesmeek om terug te keer as Hy nie. Al Sy beloftes, al Sy waarskuwings is slegs uitings van Sy onuitspreeklike liefde.LVB 31.3
As Satan kom om u te vertel hoe 'n groot sondaar dat u is, vestig dan u oë op u Verlosser en noem Sy verdienstes. Dit sal u help om u oë op Sy lig te hou. Bely u sonde, maar sê aan die vyand dat “Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red” ( 1 Tim. 1: 15), en dat u ook deur Sy liefde gered kan word. Jesus het aan Simon 'n vraag gestel omtrent twee skuldenaars. Die een het aan sy heer 'n klein bedraggie geskuld, terwyl die ander 'n groot som geskuld het; maar hy het albei se skuld kwytgeskel, en Christus het aan Simon gevra watter van die twee sy heer die meeste sou liefhê. Simon het geantwoord, “Die een aan wie die heer die meeste geskenk het.” Lukas 7: 43. Ons was ook groot sondaars, maar Christus het gesterf sodat ons vergifnis kan ontvang. Die verdienste van Sy soendood ten behoewe van ons is genoeg om die Vader tevrede te stel. Diegene wat Hy die meeste vergewe het, sal Hom ook die meeste liefhê en sal ook die naaste aan Sy troon staan om Hom lof toe te bring vir Sy groot liefde en oneindige offerande. Hoe meer ons die liefde van God besef, hoe meer sal ons die sondigheid van die sonde besef. Wanneer ons die lengte van die ketting sien wat neergelaat is om ons te red, as ons enigsins die oneindige opoffering besef wat Christus vir ons gemaak het, sal dit ons harte verbrysel en sag maak.LVB 31.4