Hoofstuk 23—Die Assiriese Ballingskap
Die laaste jare van die rampspoedige koninkryk van Israel is deur geweld en bloedvergieting, soos daar nooit voorheen gedurende die ergste tye van stryd en onrus onder Agab se bewind was nie, gekenmerk. Die heersers van die tien stamme het vir meer as twee eeue wind gesaai; nou het hulle ‘n stormwind gemaai. Een koning na die ander is vermoor om plek te maak vir meer ambisieuse opvolgers. “Húlle het konings aangestel...” het die HERE aangaande hierdie goddelose indringers verklaar, “...maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete.” (Hos 8:4) Elke beginsel van geregtigheid is tersyde gestel; diegene wat voor die nasies van die aarde as die bewaarders van Goddelike genade moes staan, het “...troueloos gehandel teen die HERE...” en ook teenoor mekaar. (Hos 5:7)DVvPEk 215.1
Deur die strengste bestraffings, het God gepoog om die onboetvaardige nasie tot ‘n besef van die dreigende gevaar van totale verwoesting op te wek. Deur Hosea en Amos het Hy een boodskap na die ander aan die tien stamme gestuur, waarin Hy by hulle aangedring om hulle ten volle te bekeer en met rampe wat op voortgesette oortreding sou volg gedreig het: “Julle het goddeloosheid ingeploeë, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde. Daarom sal daar oorlogsrumoer onder jou volke ontstaan en al jou vestings verwoes word ... in die môre vroeg is dit gedaan, gedaan met die koning van Israel.” (Hos 10:13-15)DVvPEk 215.2
Van Efraim het die profeet getuig: “Vreemdes verteer sy krag en hy bemerk dit nie; ook is grysheid oor hom uitgesprei en hy weet dit nie.” [Die profeet Hosea het dikwels na Efraim, ‘n leier van afvalligheid tussen die tien stamme, as ‘n simbool van die afvallige nasie verwys.] “Israel het die goeie verwerp.” “Verbreek deur die oordeel...” en gevolglik nie in staat om die rampspoedige uiteinde van hul bose weë te onderskei nie, sou die tien stamme spoedig “...rondswerwe onder die nasies.” (Hos 7:9;8:3;5:11;9:17)DVvPEk 215.3
Sommige van die leiers van Israel het hul verlies aan aansien besef en gehunker om dit te herwin. Maar in stede daarvan om weg te draai van die praktyke wat die koninkryk verswak het, het hulle voortgegaan met ongeregtigheid en hulself gevlei dat wanneer die geleentheid hom voordoen, hulle die politieke mag wat hulle begeer sal bekom deur hulself met die heidene te verbind. “Toe Efraim sy krankheid sien en Juda sy sweer, het Efraim na Assur [Assirië] gegaan.” “So het Efraim dan geword soos ‘n onnosele duif sonder verstand; hulle roep na Egipte, hulle gaan na Assur.” “Hulle sluit ‘n verbond met Assur.” (Hos 5:13;7:11;12:1)DVvPEk 216.1
Deur die man van God wat voor die altaar by Bet-El verskyn het, deur Elia en Elisa en deur Amos en Hosea, het die HERE herhaaldelik die euwels van ongehoorsaamheid aan die tien stamme voorgehou. Maar, nieteenstaande berisping en dringende versoeke, het Israel steeds laer in afvalligheid weggesink. “Israel is wederstrewig soos ‘n wederstrewige koei...” het die HERE gesê; “Want my volk dwing om van My afvallig te word.” (Hos 4:16;11:7)DVvPEk 216.2
Daar was tye wat die Hemel se oordele swaar op die afvallige volk neergekom het. “Daarom het Ek hulle neergekap deur die profete...” het die HERE verklaar, “...hulle gedood deur die woorde van My mond en die oordele oor jou kom te voorskyn soos ‘n ligstraal. Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie en in kennis van God meer as in brandoffers. Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel.” (Hos 6:5-7)DVvPEk 216.3
“Hoor die woord van die HERE, o kinders van Israel...” was die finale boodskap wat aan hulle gegee is. “Omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet. Hoe meer hulle vermenigvuldig het, des te meer het hulle teen My gesondig. Ek sal hulle heerlikheid in skande verander ... Ek sal by hom besoeking doen oor sy weë en hom vergeld na sy dade.” (Hos 4:1,6-9)DVvPEk 216.4
Die ongeregtigheid in Israel gedurende die laaste helfte van die eeu voor die Assiriese ballingskap, was soortgelyk aan die dae van Noag en elke ander tyd waarin die mens God verwerp en hulself geheel en al aan goddeloosheid oorgegee het. Die verheffing van die natuur bo die God van die natuur, die aanbidding van die skepsel in plaas van die Skepper, het nog altyd tot die gruwelikste euwels gelei. Dus, toe die volk van Israel, deur hul aanbidding van Baal en Astarte, hulde aan die natuurkragte gebring het, het hulle hul verbintenis met alles wat opheffend en veredelend was verbreek en ‘n maklike prooi vir versoeking geword. Met die skanse van die siel afgebreek, het die misleide aanbidders geen beskerming teen sonde gehad nie en het hulself aan die bose hartstogte van die mens oorgegee.DVvPEk 217.1
Die profete het hulle stemme teen die duidelike verdrukking, die blatante onreg, die ongeëwenaarde luuksheid en buitensporigheid, die onbeskaamde feesmaal en dronkenskap, die growwe losbandigheid en verval van hul tyd verhef; maar hulle betogings en veroordeling van sonde was tevergeefs. “Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf en hulle het ‘n afsku van hom wat in opregtheid spreek.” “Julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die behoeftiges wegstoot in die poort.” (Amos 5:10,12)DVvPEk 217.2
Dit was enkele van die gevolge van die oprigting van twee goue kalwers deur Jerobeam. Die eerste afwyking van gevestigde vorms van aanbidding het gelei tot die bekendstelling van groter vorms van afgodediens, totdat byna al die inwoners van die land hulself aan die aanloklike praktyke van natuuraanbidding oorgegee het. Deur hulle Maker te vergeet, het Israel “...baie, baie verkeerd gehandel.” (Hos 9:9)DVvPEk 217.3
Die profete het volgehou om teen hierdie euwels te protesteer en gepleit vir geregtigheid. “Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde...” het Hosea gepleit; “...braak vir julle ‘n braakland, want dit is tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën.” “En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg en hoop gedurigdeur op jou God.” “Bekeer jou, Israel, tot die HERE jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid ... sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid en neem aan wat goed is.” (Hos 10:12;12:7;14:2,3)DVvPEk 218.1
Die oortreders het baie geleenthede gehad om berou te toon. In hulle uur van diepste afvalligheid en grootste nood, was God se boodskap aan hulle een van vergifnis en hoop. “Dit is jou verderf, o Israel, dat jy teen My, jou helper, is. Waar is nou jou koning, dat hy jou kan verlos?” (Hos 13:9,10)DVvPEk 218.2
“Kom en laat ons terugkeer tot die HERE...” het die profeet gesoebat, “...want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor Sy aangesig kan lewe. En laat ons ken — laat ons dit najaag om die HERE te ken; Sy opgang is so seker soos die dagbreek en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei.”(Hos 6:1-3)DVvPEk 218.3
Aan diegene wat die plan van die eeue vir die bevryding van sondaars wat deur die mag van Satan verstrengel is, uit die oog verloor het, het die HERE herstel en vrede aangebied. “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want My toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon. Sy lote sal uitsprei en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Líbanon. Die wat onder sy skaduwee sit, sal weer koring laat groei; en hulle self sal bloei soos die wingerdstok; die roem daarvan sal wees soos die wyn van die Líbanon. Efraim, wat het Ek nog met die afgode te doen? Ek het hom verhoor en hou my oog oor hom. Ek is soos ‘n groen sipres; uit My word jou vrug gevind.”DVvPEk 218.4
Wie wys is, laat hom op hierdie dinge let!
Wie verstandig is, laat hom dit erken!
Want die weë van die HERE is reg;
En die regverdiges sal daarop wandel,
Maar die oortreders daarop struikel!”DVvPEk 219.1
(Hosea 14:5-10)DVvPEk 219.2
Die voordele verbonde aan die soeke na God is sterk aanbeveel: “Soek My, dan sal julle lewe...” was die HERE se uitnodiging. “Maar soek Bet-El nie en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie. Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan en Bet-El sal tot niks word nie.”DVvPEk 219.3
“Soek wat goed is en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê. Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is en handhaaf die reg in die poort — miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die oorblyfsel van Josef.” (Amos 5:4,5,14,15)DVvPEk 219.4
Verreweg die meeste mense wat hierdie uitnodigings gehoor het, het geweier om daarby te baat. Die woorde van die boodskappers van God was so teenstrydig met die bose begeertes van die onboetvaardiges, dat die afgodiese priester in Bet-El na die owerste in Israel gestuur en gesê het: “Amos het ‘n sameswering gesmee teen u midde-in die huis van Israel; die land sal dit onder al sy woorde nie kan uithou nie.” (Amos 7:10)DVvPEk 219.5
Deur Hosea het die HERE verklaar: “Terwyl Ek Israel genees, word die ongeregtigheid van Efraim openbaar en die booshede van Samaria.” “Ja, die trotsheid van Israel getuig openlik teen hom; en tog bekeer hulle hul nie tot die HERE hulle God nie en ondanks dit alles soek hulle Hom nie.” (Hos 7:1,10)DVvPEk 219.6
Van geslag tot geslag het die HERE Sy eiesinnige kinders verdra en selfs in die aangesig van uitdagende opstand, het Hy steeds verlang om Homself as bereidwillig om te red, aan hulle te openbaar. “Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda aangesien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn?” (Hos 6:4)DVvPEk 219.7
Die euwels wat deur die land versprei het, het ongeneeslik geword; en oor Israel is die gevreesde vonnis uitgespreek: “Efraim is gekoppel aan die afgode: laat hom staan!” “Die dae van besoeking het gekom, die dae van vergelding het gekom; Israel sal dit ervaar!” (Hos 4:17;9:7)DVvPEk 220.1
Die tien stamme van Israel sou nou die vrugte pluk van die afvalligheid wat in die vorm van die vreemde altare in Bet-El en Dan opgerig is. God se boodskap aan hulle was: “Jou kalf, o Samaria, is afskuwelik; My toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees? Want dit is ook uit Israel: ‘n smid het dit gemaak en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word — die kalf van Samaria.” “Oor die kalf van Bet-Awen sal die inwoners van Samaría besorg wees; want sy volk sal oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom sidder ...Hy sal ook self na Assur weggevoer word as ‘n geskenk aan koning Jareb.” (Sanherib, die koning van Assirië). (Hos 8:5,6;10:5,6)DVvPEk 220.2
“Kyk, die oë van die Here HERE is gerig teen die sondige koninkryk en Ek sal dit van die aardbodem verdelg; maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal verdelg nie, spreek die HERE. Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos in ‘n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie. Al die sondaars van my volk sal deur die swaard sterwe, die wat sê: Die onheil sal ons nie bereik en ons nie ontmoet nie.”DVvPEk 220.3
“Die huise van ivoor sal te gronde gaan en baie huise sal verdwyn, spreek die HERE.” “Ja, dit is die Here HERE van die leërskare wat die aarde aanraak, sodat dit bewe en almal treur wat daarop woon.” “Jou seuns sowel as jou dogters sal deur die swaard val en jou grond met die meetsnoer verdeel word en jy self sal in ‘n onrein land sterwe en Israel sekerlik in ballingskap uit sy land gaan.” “Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel — maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!” (Amos 9:8-10;3:15;9:5;7:17;4:12)DVvPEk 220.4
Hierdie oordele wat voorspel was, is vir ‘n tyd lank weerhou en gedurende die lang bewind van Jerobeam II, het die leër van Israel belangrike oorwinnings behaal; maar hierdie tye van oënskynlike voorspoed het geen verandering in die harte van die onverskilliges teweeggebring nie en uiteindelik is dit bepaal dat: “Jeróbeam sal deur die swaard sterwe en Israel sal sekerlik uit sy land in ballingskap gaan.” (Amos 7:11)DVvPEk 221.1
Die koning en volk het so ver in onboetvaardigheid verval, dat hierdie duidelike uitspraak op hulle verlore gegaan het. Amasia, ‘n leier onder die afgodspriesters in Bet-El, aangehits deur die duidelike woorde wat die profeet teen die volk en hul koning uitgespreek het, het vir Amos gesê: “Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar! Maar in Bet-El mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is ‘n koninklike heiligdom en ‘n tempel van die ryk.” (Verse 12,13)DVvPEk 221.2
Hierop het die profeet ferm geantwoord: “So sê die HERE: ... Israel [sal] sekerlik in ballingskap uit sy land gaan.” (Vers 17)DVvPEk 221.3
Die woorde wat teen die afvallige stamme uitgespreek is, is letterlik vervul; maar die vernietiging van die koninkryk het geleidelik plaasgevind. In die oordeel het die HERE onthou om barmhartig te wees en aanvanklik, toe “...Pul, die koning van Assirië, ... die land oorval...” is Menahem, destyds koning van Israel, nie gevange geneem nie, maar is toegelaat om op die troon te bly as ‘n onderdaan van die Assiriese koninkryk. “Menáhem het aan Pul duisend talente silwer gegee, dat sy hande met hom sou wees om die koningskap in sy hand te versterk. En Menáhem het oor Israel, al die persone van vermoë, die geld verdeel om dit aan die koning van Assirië te gee: vyftig sikkels silwer vir elke man.” (2 Kon 15:19,20) Die Assiriërs het, nadat hulle die tien stamme onderwerp het, vir ‘n tyd lank na hul eie land teruggekeer.DVvPEk 221.4
Menahem het, ver van berou oor die boosheid wat sy koninkryk verwoes het, voortgegaan en “...hy het al sy dae nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.” Sy opvolgers, Pekahia en Peka, het ook “...gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE.” (Verse 18, 24). “In die dae van Peka...” wat twintig jaar regeer het, “...het Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gekom...” Israel ingeval en ‘n menigte gevangenes uit Galilea en oos van die Jordaan “...in ballingskap weggevoer na Assirië toe.” “Die Rubeniete en die Gadiete en die halwe stam van Manasse...” saam met die inwoners van “...Gilead en Galiléa, die hele land Náftali...” was onder die heidene versprei in lande wat ver van Palestina verwyder was. (2 Kon 15:29;1 Kron 5:26)DVvPEk 222.1
Die noordelike koninkryk het nooit van hierdie haglike terugslag herstel nie. Die swak oorblyfsel het voortgegaan met ‘n vorm van regering, hoewel hulle oor geen mag beskik het nie. Slegs nog een heerser, Hosea, sou Peka opvolg. Kort voor lank sou die koninkryk vir ewig uitgewis word. Maar in hierdie tyd van droefheid en benoudheid, was God steeds barmhartig en het aan die volk ‘n geleentheid gebied om hulle van afgodediens te bekeer. In die derde jaar van die regering van Hosea, het die goeie koning Hiskia in Juda begin regeer en onmiddellik belangrike hervormings in die tempeldiens in Jerusalem ingestel. ‘n Pasgafees is gereël en, behalwe die stamme van Juda en Benjamin oor wie Hiskia as koning aangestel is, is die noordelike stamme ook uitgenooi om die verrigtinge by te woon. ‘n Aankondiging is gemaak “...deur die hele Israel, van Berséba tot Dan, te laat gaan dat hulle moes kom om die Pasga tot eer van die HERE, die God van Israel, in Jerusalem te hou; want hulle het dit nie as ‘n menigte gehou soos voorgeskrywe was nie.”DVvPEk 222.2
“Die hardlopers gaan toe met die briewe uit die hand van die koning en sy owerstes deur die hele Israel en Juda en volgens die gebod van die koning, om te sê: Kinders van Israel, bekeer julle tot die HERE, die God van Abraham, Isak en Israel, dat Hy Hom mag wend tot die vrygeraaktes wat vir julle oorgebly het uit die hand van die konings van Assirië ... Verhard nou nie julle nek soos julle vaders nie, gee aan die HERE die hand en kom na sy heiligdom wat Hy vir ewig geheilig het en dien die HERE julle God, dat sy toorngloed van julle afgewend kan word. Want as julle jul tot die HERE bekeer, sal julle broers en julle kinders barmhartigheid vind voor die wat hulle as gevangenes weggevoer het, sodat hulle na hierdie land kan terugkom; want die HERE julle God is genadig en barmhartig en Hy sal die aangesig van julle nie afwend nie as julle jul tot Hom bekeer.” (2 Kron 30:5-9)DVvPEk 223.1
“Die hardlopers [het] van stad tot stad die land Efraim en Manasse deurgaan tot by Sébulon...” met Hiskia se boodskap. Israel moes die uitnodiging as ‘n oproep tot berou en om terug te keer na God erken het. Maar die oorblyfsel van die tien stamme wat steeds in die gebied van die eens voorspoedige noordelike koninkryk gewoon het, het die koninklike boodskappers uit Juda met onverskilligheid en selfs met minagting behandel. “Hulle [het] hul uitgelag en met hul gespot.” Daar was egter ‘n paar wat met blydskap reageer het. “Manne uit Aser en Manasse en Sébulon het hulle verootmoedig en na Jerusalem gekom ... om die fees van die ongesuurde brode in die tweede maand te hou.” (Verse 10-13)DVvPEk 223.2
Ongeveer twee jaar later is Samaria deur die leër van Assirië, onder bevel van Salmaneser beleër; en in die beleg wat gevolg het, het menigtes in ellende van honger en siekte, sowel as die swaard omgekom. Beide die stad en die nasie het geval en die gebroke oorblyfsel van die tien stamme is in ballingskap weggevoer en in die provinsies van die Assiriese gebied versprei.DVvPEk 223.3
Die vernietiging van die noordelike koninkryk was ‘n direkte oordeel vanuit die Hemel. Die Assiriërs was bloot die instrumente wat God gebruik het om Sy doel te bereik. Deur Jesaja, wat kort voor die val van Samaria begin profeteer het, het die HERE na die Assiriese leërskare verwys as: “Die roede van my toorn en ‘n stok is hy — in hulle hand is my grimmigheid!” (Jesaja 10:5)DVvPEk 224.1
Die kinders van Israel het ernstig “...gesondig teen die HERE hulle God ... en verkeerde dinge gedoen.” “Maar hulle het nie geluister nie en ... Sy insettinge en Sy verbond verwerp wat Hy met hulle vaders gesluit het en sy getuienisse waarmee Hy hulle gewaarsku het en agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword en agter die nasies aan wat rondom hulle was, van wie die HERE hulle beveel het om nie soos hulle te maak nie.” Dit was omdat hulle “...al die gebooie van die HERE hulle God verlaat en vir hulle gegote beelde, twee kalwers, gemaak, ja, ‘n heilige boomstam gemaak en gebuig voor die hele leër van die hemel en Baal gedien...” het en volstrek geweier het om berou te hê, dat die HERE hulle “...verwerp [het] en hulle verneder en hulle in die hand van rowers oorgegee totdat Hy hulle van Sy aangesig weggewerp het...” in ooreenstemming met die duidelike waarskuwings wat Hy aan hulle gestuur het.DVvPEk 224.2
“En die koning van Assirië het Israel in ballingskap weggevoer na Assirië... ” “...omdat hulle nie gehoorsaam was aan die stem van die HERE hulle God nie, maar sy verbond oortree het — alles wat Moses, die kneg van die HERE, beveel het.” (2 Kon 17:7,11,14-16,20,23;18:11,12)DVvPEk 224.3
Met die verskriklike oordele wat oor die tien stamme gebring is, het die HERE ‘n wyse en genadige doel gehad. Dit wat Hy nie langer deur hulle in die land van hulle voorvaders kon vermag nie, sou Hy poog om deur hulle onder die heidene te versprei. Sy plan van verlossing vir almal wat kies om van die kwytskelding deur die Verlosser van die menslike geslag gebruik te maak, moes nog in vervulling gaan; en deur die oordele wat oor Israel gebring is, het Hy die weg voorberei om Sy heerlikheid aan die nasies van die aarde te openbaar. Nie almal wat in ballingskap weggevoer is, was onboetvaardig nie. Onder hulle was sommige wat aan God getrou gebly het en ander wat hulself voor Hom verootmoedig het. Deur hierdie “...kinders van die lewende God...” (Hosea 1:10) sou groot menigtes in die Assiriese koninkryk kennis opdoen oor die eienskappe van Sy karakter en die weldadigheid van Sy wet.DVvPEk 224.4