Hoofstuk 59—“Die Huis van Israel”
Deur die waarhede van die ewige evangelie aan elke nasie, geslag, taal en mense te verkondig, vervul God se kerk op aarde vandag die antieke profesie: “Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.” (Jes 27:6) Die volgelinge van Jesus, in samewerking met hemelse intelligensies, is vinnig besig om die afvalplekke van die aarde te beset; en as gevolg van hul arbeid, is ‘n ryke oes van kosbare siele besig om te ontwikkel. Vandag, soos nog nooit tevore nie, bring die verspreiding van Bybelse waarheid, deur middel van ‘n toegewyde kerk, die voordele wat eeue gelede voorspel is in die belofte aan Abraham en die hele Israel en in elke eeue aan God se kerk op aarde, na die mensekinders: “Ek sal ... jou seën en ... jy ‘n seën sal wees.” (Gen 12:2)DVvPEk 554.1
Hierdie belofte van seën moes tot ‘n groot mate gedurende die eeue ná die terugkeer van die Israeliete uit hul ballingskap, vervul gewees het. Dit was God se plan dat die hele aarde op die eerste koms van Christus voorbereid sou wees, net soos die weg vandag voorberei word vir Sy wederkoms. Aan die einde van die jare van vernederende ballingskap, het God genadiglik aan sy volk Israel, deur Sagaria, die versekering gegee: “Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou en die berg van die HERE van die leërskare: Die heilige berg.” Van sy volk het Hy gesê: “Kyk, ... Ék sal vir hulle ‘n God wees, in trou en geregtigheid.” (Sag 8:3,7,8)DVvPEk 554.2
Hierdie beloftes was onderhewig aan gehoorsaamheid. Die sondes wat die Israeliete voor die ballingskap gekenmerk het, moes nie herhaal word nie. “Spreek ‘n eerlike vonnis uit...” was die HERE se vermaning aan diegene wat betrokke was by die werk om te herbou “...en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander. En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie.” “Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ‘n regspraak van vrede in julle poorte!” (Sag 7:9,10;8:16)DVvPEk 554.3
Ryke belonings, beide tydelik en geestelik, was aan diegene beloof wat hierdie beginsels in die praktyk toepas: “Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee en die aarde sy opbrings lewer en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe. En soos julle ‘n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Juda en huis van Israel, so sal Ek julle verlos, dat julle ‘n seën kan wees.” (Sag 8:12,13)DVvPEk 555.1
Deur die Babiloniese ballingskap is die Israeliete effektief van die aanbidding van gesnede beelde genees. Na hul terugkeer het hulle baie aandag aan godsdiensonderrig geskenk, asook die bestudering van dit wat in die boek van die wet en die profete aangaande die aanbidding van die ware God geskryf is. Die restourasie van die tempel het hulle in staat gestel om die rituele dienste van die heiligdom volkome uit te voer. Onder leiding van Serubbábel, Esra en Nehemia het hulle hul herhaaldelik verbind om die wette en insettinge van Jehova te onderhou. Die tye van voorspoed wat gevolg het, het voldoende bewys gelewer van God se bereidwilligheid om aan te neem en te vergewe en tog het hulle met noodlottige kortsigtigheid hulle keer op keer van hul glorieryke bestemming weggedraai en op selfsugtige wyse het hulle dit wat genesing en geestelike lewe aan ontelbare menigtes moes gee, vir hulleself toegeëien.DVvPEk 555.2
Hierdie mislukking om die Goddelike doel te vervul was baie duidelik in Maleagi se dae. Die HERE se boodskapper het streng opgetree teen die euwels wat Israel van tydelike voordeel en geestelike krag beroof het. In sy teregwysing teen die oortreders het die profeet nie die priesters, of mense gespaar nie. “Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleagi... ” was dat die lesse van die verlede nie vergeet moes word nie en dat die verbond wat Jehova met die huis van Israel gesluit het, getrou nagekom moes word. Slegs deur diepe berou kon die seën van God verwesenlik word. “Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees!” (Mal 1:1,9)DVvPEk 555.3
Die plan van die eeue vir die verlossing van die mensdom sou nie deur enige tydelike mislukking van Israel gefrustreer word nie. Diegene met wie die profeet gepraat het, het moontlik nie gehoor gegee aan die boodskap wat gegee is nie, maar die voornemens van Jehova sou nietemin bestendig voortgaan tot volle vervulling. “Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is My Naam groot onder die heidene; en in elke plek word tot eer van My Naam reukwerk gebring en ‘n rein offer; want My Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die leërskare.” (Maleagi 1:11)DVvPEk 556.1
Die verbond van “...die lewe en die vrede...” wat God met die seuns van Levi gesluit het — die verbond wat, indien dit onderhou was, ongekende seëninge sou meebring — het die HERE nou aangebied om met diegene wat geestelike leiers was te hernu, maar wat, vanweë hul ongehoorsaamheid “...veragtelik en gering by die hele volk...” geword het. (Mal 2:5,9)DVvPEk 556.2
Die boosdoeners is plegtig gewaarsku aangaande die dag van oordeel wat kom en van Jehova se voorneme om elke oortreder met vinnige vernietiging te besoek. Niemand was egter sonder hoop gelaat nie; Maleagi se profesieë van oordeel het gepaard gegaan met uitnodigings aan die onboetvaardiges om vrede met God te maak. “Keer terug na My...” het die HERE aangedring “...en Ek wil na julle terugkeer.” (Mal 3:7)DVvPEk 556.3
Dit sou wou voorkom asof elke hart op so ‘n uitnodiging moet reageer. Die God van die Hemel pleit by Sy dwalende kinders om na Hom terug te keer, sodat hulle weer met Hom kan saamwerk om Sy werk op aarde voort te sit. Die HERE reik Sy hand uit om die hand van Israel te neem en om hulle op die nou pad van selfverloëning en selfopoffering te help en om die erfenis, as kinders van God, met Hom te deel. Sal hulle gehoor gee? Sal hulle hul enigste hoop kan onderskei?DVvPEk 556.4
Hoe tragies was die rekord, dat die Israeliete in Maleagi se dae gehuiwer het om hul trotse harte oor te gee in daadwerklike en liefdevolle gehoorsaamheid en hartlike samewerking! Selfregverdiging was duidelik in hul antwoord: “Waarin moet ons terugkeer?”DVvPEk 557.1
Die HERE openbaar aan Sy volk een van hul spesifieke sondes: “Mag ‘n mens God beroof?” vra Hy. “Want julle beroof My.” Steeds onoortuig van sonde vra hulle: “Waarin het ons U beroof?”DVvPEk 557.2
Duidelik beslis was die HERE se antwoord: “In die tiendes en die offergawe. Met die vloek is julle belaai en tog beroof julle My, julle, die hele nasie! Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare. En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae sal wees, sê die HERE van die leërskare.” (Verse 7-12)DVvPEk 557.3
God seën die werk van mensehande sodat hulle Sy deel aan Hom kan teruggee. Hy gee hulle die sonskyn en die reën; Hy laat die plante welig groei; Hy skenk gesondheid en die vermoë om middele te bekom. Elke seëning kom uit Sy oorvloedige hand en Hy wil hê dat manne en vroue hul dankbaarheid aan Hom moet betoon, deur ‘n gedeelte aan Hom terug te gee by wyse van tiendes en offergawes — in dankoffers, vrywillige offergawes en skuldoffers. Hulle moet hul middele vir Sy diens aanwend, sodat Sy wingerd nie ‘n dorre woesteny bly nie. Hulle moet vasstel wat die HERE sou doen as Hy in hulle plek was. Hulle moet alle ingewikkelde sake in gebed na Hom te neem. Hulle moet ‘n onselfsugtig belangstelling in die opbou van Sy werk in alle dele van die wêreld toon.DVvPEk 557.4
Deur middel van boodskappe soos dié wat Maleagi, die laaste van die Ou Testamentiese profete oorgedra is, asook deur die onderdrukking deur heidense vyande, het die Israeliete uiteindelik die les geleer dat ware voorspoed afhanklik van gehoorsaamheid aan God se wet was. Maar by baie mense was gehoorsaamheid nie die uitvloeisel van geloof en liefde nie. Hulle motiewe was selfsugtig. Uiterlike diens is verrig as ‘n wyse om nasionale grootsheid te bereik. Die uitverkore volk het nie die lig van die wêreld geword nie, maar het hulself van die wêreld afgesluit as beskerming teen verleiding tot afgodediens. Die beperkings wat God ingestel het om ondertrouery tussen Sy volk en die heidene te verbied en Israel te verbied om by die afgodiese praktyke van omliggende nasies aan te sluit, was so verdraai dat dit ‘n muur van skeiding tussen die Israeliete en al die ander volke opgebou het en sodoende, die seëninge wat God Israel beveel het om aan die wêreld deur te gee, van ander ontneem het.DVvPEk 558.1
Terselfdertyd het die Jode hulleself deur hul sondes van God geskei. Hulle kon nie die diep geestelike betekenis van hul simboliese dienste onderskei nie. In hul selfregverdiging het hulle op hul eie werke, die offers en die ordonnansies self staatgemaak, in stede daarvan om op die verdienste van Hom waarna hierdie dinge gewys het, te vertrou. So het “...hulle eie geregtigheid probeer oprig...” (Rom 10:3) en hulle het hulself in selfgenoegsame formalisme toegebou. Omdat hulle die Gees en genade van God begeer het, het hulle vir die gebrek daaraan probeer opmaak deur die streng onderhouding van godsdienstige seremonies en rituele. Hulle was nie tevrede met die voorskrifte wat God self ingestel het nie, maar het die Goddelike opdragte met oneindige vereistes van hul eie ontwerp belas. Hoe verder hulle van God verwyder was, hoe strenger was hulle in die nakoming van hierdie vormgodsdiens.DVvPEk 558.2
Met al hierdie geringe en swaar vereistes, was dit vir die volk prakties onmoontlik om die wet te onderhou. Die groot beginsels van geregtigheid soos in die Dekaloog uiteengesit en die glorieryke waarhede waarvan die simboliese diens ‘n skaduwee was, was onder ‘n massa menslike tradisies en vertoon verdoesel. Diegene wat God graag wou dien en wat probeer het om die hele wet soos deur die priesters en heersers vereis te onderhou, het onder ‘n swaar las gebuk gegaan.DVvPEk 559.1
As ‘n nasie was die volk van Israel, terwyl hulle die koms van die Messias begeer het, in hulle harte en lewens so ver van God verwyder dat hulle geen ware begrip van die karakter of die missie van die beloofde Verlosser gehad het nie. In plaas daarvan om verlossing van sonde en die heerlikheid en vrede van heiligheid te begeer, was hulle harte op die bevryding van hul nasionale vyande en herstel na wêreldse mag gevestig. Hulle het uitgesien na die Messias wat as oorwinnaar sou kom, om elke juk te verbreek en Israel tot heerskappy oor alle nasies te verhef. So het Satan daarin geslaag om die harte van die volk voor te berei om die Verlosser, wanneer Hy sou verskyn, te verwerp. Hulle eie trots van hart en hul valse opvattings oor Sy karakter en sending, sou hulle verhinder om die bewyse van Sy Messiasskap eerlik te oorweeg.DVvPEk 559.2
Die Joodse volk het vir meer as ‘n duisend jaar gewag op die koms van die beloofde Verlosser. Hulle grootste hoop het op hierdie gebeurtenis berus. ‘n Duisend jaar lank, in sang en profesie, in tempel rituele en huishoudelike gebed, was Sy naam vasgelê; en tog, toe Hy kom, het hulle Hom nie as die Messias op Wie hulle so lank gewag het herken nie. “Hy het na Sy eiendom gekom en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” (Joh 1:11) Vir hul wêreldgesinde harte was die Geliefde uit die hemel “...soos ‘n wortel uit droë grond.” In hulle oë het Hy “...geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.” (Jes 53:2)DVvPEk 559.3
Die hele lewe van Jesus van Nasaret onder die Joodse volk, was ‘n teregwysing van hul selfsug, soos blyk uit hul onwilligheid om die regverdige aansprake van die Eienaar van die wingerd onder Wie hulle as landbouers geplaas is was te erken. Hulle het Sy voorbeeld van waarheid en vroomheid gehaat; en toe die finale toets gekom het, die toets van gehoorsaamheid tot die ewige lewe of ongehoorsaamheid tot die ewige dood, het hulle die Heilige Een van Israel verwerp en verantwoordelik geword vir Sy kruisiging op Golgota.DVvPEk 560.1
In die gelykenis van die wingerd het Christus, naby die einde van sy aardse bediening, die aandag van die Joodse leraars gevestig op die ryke seëninge wat oor Israel uitgestort was en hierin God se aanspraak op hulle gehoorsaamheid getoon. Hy het duidelik die heerlikheid van God se doel aan hulle voorgehou wat hulle deur gehoorsaamheid sou kon vervul. Deur die sluier van die toekoms weg te skuif, het Hy getoon hoe die hele nasie Sy seëninge verbeur het en ondergang oor hulle gebring het deur nie Sy doel te vervul nie.DVvPEk 560.2
“Daar was ‘n sekere huisheer...” het Christus gesê, “...wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.” (Matt 21:33)DVvPEk 560.3
So het die Verlosser na “...die wingerd van die HERE van die leërskare...” verwys wat die profeet Jesaja eeue tevore as “...die huis van Israel...” verklaar het (Jes 5:7)DVvPEk 560.4
“En toe die vrugtetyd nader kom...” het Christus vervolg, “...stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.”DVvPEk 560.5
Nadat Christus hul bekroningsdade van goddeloosheid aan die priesters voorgehou het, het Hy ‘n vraag aan hulle gestel: “Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?” Die priesters het met groot belangstelling die gelykenis gevolg; en sonder om die verwysing na hulself in die verhaal te besef, het hulle saam met die omstanders geantwoord: “Hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.”DVvPEk 561.1
Onwetend het hulle hul eie verdoemenis uitgespreek. Jesus het na hulle gekyk en onder Sy ondersoekende blik het hulle geweet dat Hy die geheime in hulle harte kon lees. Sy Goddelikheid het met onmiskenbare krag voor hulle geflits. In die “landbouers” het hulle ‘n uitbeelding van hulself gesien en onwillekeurig uitgeroep: “God behoed!”DVvPEk 561.2
Plegtig en betreurenswaardig het Christus gevra: “Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die Steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n Hoeksteen geword. Hy het van die HERE gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie Hy val, dié sal Hy vermorsel.” (Matt 21:34-44)DVvPEk 561.3
Christus sou die ondergang van die Joodse nasie afgeweer het indien die volk Hom aangeneem het. Maar afguns en jaloesie het hulle onverbiddelik gemaak. Hulle het besluit dat hulle Jesus van Nasaret nie as die Messias sou aanneem nie. Hulle het die Lig van die wêreld verwerp en voortaan sou hulle lewens met duisternis soos die donkerte van middernag omring wees. Die voorspelde ondergang het oor die Joodse nasie gekom. Hulle eie vurige en onbeheerde passies, het hulle ondergang bewerkstellig. In hul blinde woede het hulle mekaar vernietig. Hulle opstandige hardkoppige trots het die toorn van hul Romeinse oorwinnaars oor hulle gebring. Jerusalem is vernietig, die tempel is in puin gelê en die grond waarop dit gestaan het, soos ‘n geploegde veld. Die kinders van Juda het die aakligste vorms van dood gesterf. Miljoene is verkoop om as slawe in heidense lande te dien.DVvPEk 561.4
Dit wat God van plan was om vir die wêreld deur Israel, die uitverkore volk, te doen, sal Hy uiteindelik deur Sy kerk van vandag op aarde bereik. Hy het “...die wingerd verhuur aan ander landbouers...”, die verbondsvolk, wat getrou aan “...Hom die vrugte op die regte tyd sal gee.” Die HERE was nog nooit sonder ware verteenwoordigers wat Sy belange hul eie gemaak het op hierdie aarde nie. Hierdie getuies vir God word onder die geestelike Israel getel en aan hulle sal al die beloftes van die verbond wat Jehova met Sy eertydse volk gesluit het, vervul word.DVvPEk 562.1
Dit staan die kerk van God vandag vry om die Goddelike plan vir die verlossing van ‘n verlore ras tot vervulling voort te dra. God se volk het vir baie eeue onder ‘n beperking van hul vryheid gely. Die verkondiging van die suiwer evangelie was verbode en die swaarste strawwe is op diegene wat die mandaat van mens durf verontagsaam het, gelê. As gevolg hiervan was die groot morele wingerd van die HERE byna heeltemal verlate. Die volk was van die lig van God se woord ontneem. Die duisternis van dwaling en bygeloof het gedreig om die kennis van ware godsdiens uit te wis. God se kerk op aarde was gedurende hierdie lang tydperk van meedoënlose vervolging net so in ballingskap soos wat die kinders van Israel gedurende die ballingskap in Babilon gevange hou is.DVvPEk 562.2
Maar dank God, sy kerk is nie meer in slawerny nie. Die geestelike Israel is herstel tot die voorregte wat aan God se volk na hul vrylating uit Babilon verleen is. In alle dele van die wêreld reageer manne en vroue op die hemelse boodskap wat Johannes die openbaarder voorspel het voor die wederkoms van Christus verkondig sou word: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.” (Op 14:7)DVvPEk 562.3
Die leërskare van die bose magte beskik nie meer oor die mag om die kerk gevange te hou nie, want “...Geval, geval het Babilon, die groot stad...” wat “...al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery... ” en aan geestelike Israel word die boodskap gegee: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.” (Verse 8; 18:4) Soos wat die gevangenes in ballingskap gehoor aan die boodskap gegee het:DVvPEk 563.1
“Vlug uit Babel uit...” (Jer 51:6) en weer in die Land van Belofte herstel is, so sal diegene vandag wat God vrees, ag slaan op die boodskap om hulle aan geestelike Babilon te onttrek en binnekort sal hulle soos trofeë van Goddelike genade op die nuwe aarde, die hemelse Kanaän, staan.DVvPEk 563.2
In Maleagi se dag was die bespotting van die onboetvaardige: “Waar is anders die weg van die reg?” plegtig beantwoord met: “[Die HERE] sal skielik na Sy tempel kom die HERE na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond ... Maar wie kan die dag van Sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ‘n Smelter en Reiniger van silwer en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring. Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd.” (Mal 2:17;3:1-4)DVvPEk 563.3
Toe die beloofde Messias sou verskyn, was die boodskap van die voorloper van Christus: “Bekeer julle, [tollenaars en sondaars, Fariseërs en Sadduseërs] want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Matt 3:2)DVvPEk 563.4
Vandag, in die gees en krag van Elia en Johannes die Doper, vestig boodskappers wat deur God aangestel is, die aandag van ‘n veroordeelde wêreld op die plegtige gebeure wat binnekort met die sluitingsure van genade en die koms van Christus Jesus as Koning van die konings en HERE van die here, gaan plaasvind. Binnekort gaan elke mens volgens die dade wat in die liggaam gedoen is, geoordeel word. Die uur van God se oordeel het aangebreek en die plegtige verantwoordelikheid rus op die lede van sy kerk op aarde om diegene, wat as’t ware op die afgrond van ewige ondergang staan, te waarsku. Aan elke mens in die wye wêreld wat gehoor gee, moet die beginsels van die groot stryd wat gevoer word, duidelik uiteengesit word, die beginsels waarop die lot van die hele mensdom hang.DVvPEk 564.1
In hierdie finale ure van die proeftydperk vir die mensdom, wanneer die lot van elke siel vir ewig beslis sal word, verwag die HERE van die hemel en die aarde dat Sy kerk, soos nooit tevore nie, tot optrede aangevuur sal word. Diegene wat deur die kennis van die kosbare waarheid in Christus vrygemaak is, word deur die HERE Jesus beskou as sy uitverkorenes, bo alle ander mense op die aardbol begunstig; en Hy vertrou op hulle om aan Hom wat hulle uit die duisternis na die wonderbare lig geroep het, lof te betoon. Die seëninge wat so mildelik uitgestort word, moet na ander deurgegee word. Die goeie nuus van verlossing moet na elke nasie, geslag, taal en volk geneem word.DVvPEk 564.2
In die visioene van die profete van ouds was die Here van heerlikheid uitgebeeld as ‘n spesiale Lig aan Sy kerk in die dae van duisternis en ongeloof wat Sy wederkoms voorafgaan. As die Son van Geregtigheid, sal Hy in Sy kerk verrys met “...genesing onder sy vleuels.” (Mal 4:2) En van elke ware dissipel sal daar ‘n invloed vir lewe, moed, hulpvaardigheid en ware genesing versprei word.DVvPEk 564.3
Die wederkoms van Christus sal in die donkerste tydperk van hierdie aarde se geskiedenis plaasvind. Die dae van Noag en Lot beeld die toestand van die wêreld net voor die koms van die Seun van die mens uit. Die Skrif wat vooruit wys na hierdie tyd, verklaar dat Satan met alle mag sal werk “...en met allerhande verleiding van ongeregtigheid...” (2 Thes 2:9,10) Sy werke is duidelik sigbaar in die snel-toenemende duisternis, die veelvuldige dwalings, kettery en bedrog van die laaste dae. Nie alleen lei Satan die wêreld gevange nie, maar sy misleidings deursuur die belydende kerke van ons HERE Jesus Christus. Die groot afvalligheid sal tot ‘n duisternis so donker soos die donkerste middernag ontwikkel. Vir God se volk sal dit ‘n nag van beproewing, ‘n nag van geween, ‘n nag van vervolging ter wille van die waarheid wees. Maar uit hierdie nag van duisternis sal God se lig skyn.DVvPEk 564.4
Hy veroorsaak “...dat daar uit duisternis lig moet skyn.” (2 Kor 4:6) Wanneer “...die aarde ... woes en leeg en duisternis was op die wêreldvloed [was] ... [het] die Gees van God ... gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig” (Gen 1:2,3) So sal God se woord in die nag van geestelike duisternis, voortgaan: “Laat daar lig wees.” Vir Sy volk sê Hy: “Staan op, word verlig; want jou lig kom en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op” (Jes 60:1)DVvPEk 565.1
“Want kyk...” sê die Skrif, “...die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan en Sy heerlikheid sal oor jou gesien word.” (Vers 2) Christus, die uitbeelding van die Vader se heerlikheid, het na die wêreld as Sy lig gekom. Hy het gekom om God voor die mense te verteenwoordig en daar staan geskrywe dat Hy gesalf is “...met die Heilige Gees en met krag.” En “Hy het die land deurgegaan, goed gedoen.” (Hand 10:38) In die sinagoge by Nasaret het Hy gesê: “Die Gees van die HERE is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die HERE aan te kondig.” (Luk 4:18,19) Dit was die werk wat Hy aan Sy dissipels opgedra het: “Julle is die lig van die wêreld.” “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Matt 5:14, 16)DVvPEk 565.2
Dit is die werk wat die profeet Jesaja beskryf het as hy sê: “Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees” (Jes 58:7,8)DVvPEk 566.1
So sal God se heerlikheid in die nag van geestelike duisternis deur Sy kerk skyn, deur die neergeboë op te hef en die wat treur, te vertroos.DVvPEk 566.2
Oral om ons word die geween van die wêreld se leed gehoor. Aan elke kant is daar behoeftiges en ellendiges. Dit is vir ons om te help om die ontberinge en ellende van die lewe te verlig en te versag. Die begeertes van die siel kan slegs deur Christus se liefde bevredig word. As Christus in ons bly, sal ons harte vol Goddelike meegevoel wees. Die verseëlde fonteine van opregte, Christelike liefde sal geopen word.DVvPEk 566.3
Daar is baie wat hoop opgegee het. Bring die sonskyn aan hulle terug. Baie het moed verloor. Spreek woorde van bemoediging en bid vir hulle. Daar is diegene wat behoefte het aan die brood van die lewe. Lees vir hulle uit die woord van God. Baie ly aan ‘n sielsiekte wat geen aardse balsem kan bereik of genees of geneesheer kan genees nie. Bid vir hierdie siele. Bring hulle na Jesus. Vertel vir hulle dat daar balsem in Gilead en ‘n Geneesheer is.DVvPEk 566.4
Lig is ‘n seën, ‘n universele seën, wat sy skatte op ‘n ondankbare, onheilige, ontmoedigde wêreld uitstort. So is dit ook met die lig van die Son van Geregtigheid. Die hele aarde, gehul in die duisternis van sonde, leed en pyn soos dit is, moet met die kennis van God se liefde verlig word. Die lig wat van die hemelse troon skyn mag van geen sekte, rang of klas mense weerhou word nie.DVvPEk 566.5
Die boodskap van hoop en genade moet na die uithoeke van die aarde geneem word. Elkeen wat wil, mag uitreik en God se krag aangryp en vrede met Hom maak. Die heidene mag nie langer met middernagtelike duisternis omvou word nie. Die somberheid moet voor die helder strale van die Son van Geregtigheid verdwyn.DVvPEk 567.1
Christus het elke voorsiening vir Sy kerk gemaak om ‘n getransformeerde liggaam te wees, verlig met die Lig van die wêreld wat die glorie van Immanuel besit. Dit is Sy doel dat elke Christen omring sal wees met ‘n geestelike atmosfeer van lig en vrede. Hy begeer dat ons Sy vreugde in ons lewens sal openbaar.DVvPEk 567.2
“Staan op, word verlig; want jou lig kom en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op.” (Jes 60:1) Christus gaan met mag en groot heerlikheid terugkeer. Hy kom met Sy eie heerlikheid en met die heerlikheid van die Vader. En die heilige engele sal Hom op Sy pad begelei. Terwyl die hele wêreld in duisternis gehul sal wees, sal daar lig in elke woning van die heiliges skyn. Hulle sal die eerste lig van Sy wederkoms waarneem. Die onbesoedelde lig sal uit sy heerlikheid voortskyn en Christus die Verlosser sal deur almal wat Hom gedien het bewonder word. Terwyl die goddelose vlug, sal die volgelinge van Christus hulle in Sy teenwoordigheid verheug.DVvPEk 567.3
Dit is dan wanneer die verlostes onder die mense hul beloofde erfenis sal ontvang. So sal God se doel vir Israel letterlik vervul word. Dit wat God beoog, is die mens nie by magte om te ontbind nie. Selfs te midde van die werking van die bose, het God se voornemens stelselmatig voortgegaan om tot vervulling te gaan. So was dit tydens die ganse geskiedenis van die verdeelde koninkryk van Israel; net so is dit met geestelike Israel vandag.DVvPEk 567.4
Die siener van Patmos, wat deur die eeue heen gekyk het na die herstel van Israel op aarde, het getuig: “En kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit en aan die Lam!”DVvPEk 568.1
“En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid en gesê: Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.”DVvPEk 568.2
“En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die HERE God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee.” “Hy is die HERE van die here en die Koning van die konings en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.” (Op 7:9-12;19:6;17:14)DVvPEk 568.3