Hoofstuk 40— Nebukadnesar se Droom *Hierdie hoofstuk is op Daniël 2 gebaseer.
Kort nadat Daniël en sy metgeselle tot die diens van die koning van Babilon toegetree het, het dinge gebeur wat aan ‘n afgodiese nasie die mag en getrouheid van die God van Israel openbaar het. Nebukadnesar het ‘n merkwaardige droom gehad, wat tot gevolg gehad het dat “...sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was.” Maar, alhoewel die droom ‘n groot indruk op die koning gemaak het, het hy, nadat hy ontwaak het, dit onmoontlik gevind om die besonderhede van die droom te herroep.DVvPEk 382.1
In sy verwardheid, het Nebukadnesar sy wyse manne, “...die besweerders en die towenaars en die Chaldeërs... ” se hulp ingeroep: “Die koning [sê] vir hulle: Ek het ‘n droom gehad en my gees is onrustig om die droom te verstaan.” Met hierdie verklaring van sy verwarring het hy hulle versoek om aan hom dít te openbaar wat verligting aan sy gemoed sou gee.DVvPEk 382.2
Hierop het die wyse manne geantwoord: “Mag die koning vir altyd lewe! Vertel u dienaars die droom en ons sal die uitlegging te kenne gee.”DVvPEk 382.3
Ontevrede met hul ontwykende antwoord en agterdogtig omdat hulle, ondanks hul pretensieuse aansprake om die geheime van mense te openbaar, nietemin onwillig was om aan hom hulp te verleen, het hy sy wyse manne, met beloftes van rykdom en eer aan die een kant en doodsdreigemente aan die ander kant, beveel om nie net die vertolking van die droom bekend te maak nie, maar ook die droom self. “Die saak staan by my vas...” het hy gesê, “...as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word. Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en gawes en groot eer van my ontvang.”DVvPEk 382.4
Die wyse manne het steeds volgehou: “Laat die koning die droom aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee.”DVvPEk 383.1
Nebukadnesar, nou deeglik opgewerk en woedend oor die oënskynlike verraad van diegene op wie hy vertrou het, het verklaar: “Ek weet verseker dat julle tyd wil win, omdat julle sien dat die saak by my vasstaan; want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en dieselfde; julle het naamlik afgespreek om ‘n leuenagtige en bedrieglike woord voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee.”DVvPEk 383.2
Gevul met vrees vir die gevolge van hul onvermoë, het die towenaars gepoog om aan die koning te toon dat sy versoek onredelik was en dat sy toets bo enigiets was wat nog ooit van enige mens gevra was. “Daar is geen mens op die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie...” het hulle geprotesteer, “...daarom het dan ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder of Chaldeër verlang nie. Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar en daar is niemand anders wat dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie by die vlees is nie.”DVvPEk 383.3
“Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en 493 bevel gegee om al die wyse manne van Babel om te bring.”DVvPEk 383.4
Daniël en sy vriende was onder diegene wat deur die amptenare gesoek was om die koninklike dekreet uit te voer. Toe aan hulle meegedeel is dat hulle ook volgens die dekreet moes sterf, het Daniël “...’n slim en verstandige antwoord...” aan Ariog, die kaptein van die koning se wag, gegee: “Waarom is die bevel van die kant van die koning so streng?” Ariog het die storie van die koning se verwarring vanweë sy merkwaardige droom aan hom meegedeel en hoe hy onsuksesvol was om hulp te verkry van diegene in wie hy tot dusver sy volste vertroue geplaas het. Toe hy dit verneem, het Daniël sy lewe in sy hande geplaas en hom in die teenwoordigheid van die koning gewaag en versoek dat tyd aan hom verleen word, sodat hy sy God kon versoek om aan hom die droom asook die uitleg daarvan te openbaar.DVvPEk 383.5
Die koning het aan hierdie versoek voldoen. “Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Misael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend.” Saam het hulle na wysheid by die Bron van lig en kennis gesoek. Hulle geloof was sterk in die wete dat God hulle geplaas het waar hulle was, dat hulle Sy werk doen en aan die eise van hulle plig voldoen. In tye van verwarring en gevaar, het hulle hul altyd tot Hom gewend vir leiding en beskerming en Hy was nog altyd vir hulle ‘n alomteenwoordige Hulp. Met wroeging van hart het hulle hulself opnuut aan die Regter van die aarde onderwerp en gepleit dat Hy aan hulle uitkoms sal gee in hierdie tyd van spesiale nood. En hulle het nie tevergeefs gepleit nie. Die God wat hulle geëer het, het hulle nou vereer. Die Gees van die HERE het op hulle gerus en in ‘n naggesig is die koning se droom en die uitleg daarvan aan Daniël geopenbaar.DVvPEk 384.1
Daniël se eerste daad was om God te dank vir die openbaring wat aan hom gegee is: “Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid...” het hy uitgeroep, “...want die wysheid en die krag is Syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is en die lig woon by Hom. U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.”DVvPEk 384.2
Daniël het dadelik na Ariog, aan wie die koning bevel gegee het om die wyse manne om die lewe te bring, gegaan en het aan hom gesê: “Moenie die wyse manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die koning die uitlegging te kenne gee.” Die amptenaar het Daniël vinnig voor die koning gebring, met die volgende woorde: “Ek het ‘n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging bekend sal maak.”DVvPEk 385.1
Aanskou die Joodse gevangene, kalm en selfbeheers, in die teenwoordigheid van die monarg van die wêreld se magtigste ryk. Met sy eerste woorde ontken hy enige eer vir homself en verhef God as die Bron van alle wysheid. Op die angstige vraag van die koning: “Is jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het en sy uitlegging bekend te maak?” het hy geantwoord: “Die geheim waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie. Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.”DVvPEk 385.2
“U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit: Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur ‘n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.”DVvPEk 385.3
“U, o koning, het ‘n gesig gehad — kyk, daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.”DVvPEk 385.4
“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.”DVvPEk 386.1
“Dit is die droom...” het Daniël vol vertroue verklaar. Die koning wat aandagtig na elke besonderheid geluister het, het besef dat dit die droom was waaroor hy so ontsteld was. So is sy gedagtes voorberei om die vertolking gunstig te ontvang. Die Koning van die konings was op die punt om ‘n groot waarheid aan die Babiloniese monarg bekend te maak. God sou aan hom openbaar dat Hy mag het oor die koninkryke van die wêreld, mag om konings op die troon te plaas en te onttroon. Nebukadnesar sou, indien moontlik, bewus gemaak word van sy verantwoordelikheid teenoor die Hemel. Die gebeure van die toekoms wat tot aan die einde van tyd sou strek, sou aan hom openbaar word.DVvPEk 386.2
“U, o koning, koning van die konings...” het Daniël vervolg, “...aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het — ú is die hoof van goud.”DVvPEk 386.3
“En ná u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ‘n ander, ‘n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers.”DVvPEk 386.4
“En die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis.”DVvPEk 387.1
“En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was — dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is — ‘n gedeelte van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het — hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.”DVvPEk 387.2
“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”DVvPEk 387.3
Die koning was oortuig van die waarheid van die vertolking en het in nederigheid en met ontsag “...op sy aangesig geval en Daniël aanbid...” en gesê: “Waarlik, julle God is die God van die gode en die HERE van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.”DVvPEk 387.4
Nebukadnesar het die dekreet vir die dood van die wyse manne herroep. Hulle lewens is as gevolg van Daniel se verbintenis met die Openbaarder van geheime gespaar. “Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoof-owerste oor al die wyse manne van Babel. En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die koning.”DVvPEk 387.5
In die annale van die menslike geskiedenis wil dit voorkom asof die groei van nasies en die opkoms en val van ryke afhanklik is van die wil en bekwaamheid van die mens; die verloop van gebeure lyk of dit tot ‘n groot mate deur sy eie mag, ambisie of giere bepaal word. Maar in die woord van God word die sluier gelig en ons aanskou dat, bo en behalwe die afspeel en teëwerking van menslike belange, mag en hartstogte, die agentskappe van die Alom-genadige Een Sy wil, stilweg en geduldig uitvoer.DVvPEk 388.1
In woorde van ongekende skoonheid en deernis, het die apostel Paulus die Goddelike doel met die skepping en verspreiding van rasse en nasies, aan die wyses van Atene voorgehou: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat HERE van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die HERE kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind.” (Hand 17:24-27)DVvPEk 388.2
God het dit duidelik gemaak dat elkeen wat wil, mag kom “...in die band van die verbond.” (Eseg 20:37) Met die skepping was dit Sy doel dat die aarde deur wesens bewoon sou word, wie se bestaan ‘n seën vir hulleself, vir mekaar en tot eer van hul Skepper sal wees. Almal wat wil, kan hulself met hierdie doel identifiseer. Van hulle word daar gesê: “Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.” (Jes 43:21)DVvPEk 388.3
In Sy wet het God die beginsels van die grondslag van alle ware welvaart, van nasies sowel as van individue, bekend gemaak. Aan die Israeliete het Moses aangaande hierdie wet verklaar: “Dit is julle wysheid en julle verstand.” “Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe.” (Deut 4:6;32:47). Die seëninge wat dus aan Israel verseker was, word op dieselfde voorwaardes en in dieselfde mate aan elke nasie en elke individu onder die wye hemel verseker.DVvPEk 388.4
Honderde jare voordat sekere nasies op die toneel verskyn het, het die Alwetende Een deur die eeue heen gekyk en die opkoms en val van universele koninkryke voorspel. God het aan Nebukadnesar bekend gemaak dat die koninkryk van Babilon sou val en dat ‘n tweede koninkryk, wat ook ‘n periode van beproewing sou ondergaan, sou ontstaan. Indien hulle nie die ware God sou verhef nie, sou sy glorie ook vervaag en ‘n derde koninkryk sou sy plek inneem. Dit sou ook verbygaan; en ‘n vierde, sterk soos yster, sou die nasies van die wêreld onderwerp.DVvPEk 389.1
Indien die heersers van Babilon — die rykste van alle aardse koninkryke — altyd die vrees van Jehova voor hulle gehou het, sou hulle wysheid en mag ontvang het wat hulle aan Hom sou bind en hulle sterk gehou het. Maar hulle het God slegs hulle toevlug gemaak wanneer hulle geteister en verward was. Op sulke tye, sonder dat hulle hulp van hul bekwame manne ontvang, het hulle manne soos Daniel gesoek — manne wat hulle geweet het die lewende God eer en deur Hom vereer word. Hulle het ‘n beroep op hierdie manne gedoen om die geheime van die Voorsienigheid te ontrafel; want hoewel die owerstes van trotse Babilon, mans van die hoogste intellek was, het hulle hulself deur oortreding so ver van God geskei, dat hulle nie die openbarings en waarskuwings wat aan hulle aangaande die toekoms gegee is, begryp het nie.DVvPEk 389.2
In die geskiedenis van nasies kan die student van die woord van God, die letterlike vervulling van Goddelike profesieë aanskou. Babilon, uiteindelik verbrokkel en afgebreek, het vergaan omdat sy heersers in tye van voorspoed hulself as onafhanklik van God beskou het en die glorie van hul koninkryk aan menslike prestasie toegeskryf het. Die toorn van die Hemel het oor die Medo-Persiese ryk gekom omdat die wet van God daarin vertrap is. Die vrees van die HERE het geen plek in die harte van die oorgrote meerderheid van die mense, gevind nie. Kwaadwilligheid, godslastering en korrupsie het geheers. Die koninkryke wat gevolg het, was nog meer immoreel en korrup; en het laer en nog laer op die skaal van morele waardes gedaal.DVvPEk 389.3
Die mag wat deur elke heerser op aarde uitgeoefen word, is van die Hemel afkomstig; en van sy gebruik van die aldus toegekende mag, hang sy sukses af. Aan elkeen is die woord van die Goddelike Wagter: “Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie.” (Jes 45:5) En die les vir die lewe vir elkeen is die woorde wat aan Nebukadnesar van ouds gesê is: “Breek met u sondes deur geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as daar verlenging van u rus moet wees.” (Dan 4:27)DVvPEk 390.1
Ten einde hierdie dinge te verstaan, om te begryp “...geregtigheid verhoog ‘n volk... ” dat “...deur geregtigheid word die troon bevestig...” en “...deur liefde stut hy sy troon...”; om die uitwerking van hierdie beginsels in die manifestasie van Sy krag te besef, dat “...Hy sit konings af en stel konings aan...” is om die filosofie van die geskiedenis te verstaan. (Spr 14:34; 16:12;20:28;Dan 2:21)DVvPEk 390.2
Dit word slegs in die woord van God duidelik uiteengesit. Hier word aangetoon dat die krag van nasies, sowel as individue, nie gevind word in die geleenthede of fasiliteite wat onoorwinbaar blyk te wees nie; dit word ook nie in hul grootheid gevind nie. Dit word aan die getrouheid waarmee hulle God se doel vervul gemeet.DVvPEk 390.3