Hoofstuk 19—’n Profeet van Vrede *Hierdie hoofstuk is op 2 Konings 4 gebaseer.
Die werk van Elisa as ‘n profeet was in sekere opsigte baie verskillend van die van Elia. Aan Elia is boodskappe van veroordeling toevertrou; sy stem was een van vreeslose teregwysing wat beide koning en volk vermaan het om van hul bose weë weg te draai. Elisa s’n was ‘n meer vreedsame sending; sy taak was om die werk wat Elia begin het, op te bou en te versterk; om die volk die weg van die HERE te leer. Inspirasie beeld hom uit as een wat in persoonlike kontak met die mense was, omring met die seuns van die profete en deur wonderwerke en sy bediening, genesing en vreugde verskaf het.DVvPEk 180.1
Elisa was ‘n man met ‘n matige en vriendelike geaardheid; maar dat hy ook streng kon optree, word getoon in sy optrede toe hy, onderweg na Bet-El, deur goddelose jeugdiges wat uit die stad gekom het, bespot is. Hierdie jeugdiges het van Elia se Hemelvaart gehoor en het van hierdie plegtige ervaring ‘n voorwerp van bespotting gemaak deur aan Elisa te sê: “Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!” By die aanhoor van hierdie spottende woorde, het hy omgedraai en onder inspirasie van die Almagtige, ‘n vloek oor hulle uitgespreek. Die verskriklike oordeel wat hierop gevolg het, was van God. “En twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee-en-veertig kinders verskeur.” (2 Kon 2:23,24)DVvPEk 180.2
Indien Elisa toegelaat het dat die spottery ongemerk verbygaan, sou hy voortdurend deur die gepeupel belaglik gemaak en uitgeskel gewees het en sy sending om in ‘n tyd van ernstige nasionale gevaar te onderrig en te red, kon dalk tot niet gegaan het. Hierdie enkele insident van ernstige strengheid, was genoeg om vir die res van sy lewe respek af te dwing. Vir vyftig jaar het hy heen en weer deur die poort van Bet-El en die land, van stad tot stad en tussen skares van leeglêers, onbeskofte en losbandige jeugdiges deurbeweeg; maar niemand het hom weer bespot of sy kwalifikasies as die profeet van die Allerhoogste ligtelik opgeneem nie.DVvPEk 180.3
Selfs goedhartigheid het sy perke. Outoriteit moet deur ferm strengheid gehandhaaf word, anders sal baie dit met ‘n gespot en minagting bejeën. Die sogenaamde sagmoedigheid, gepamperlang en toegeeflikheid van ouers en voogde teenoor die jeug, is een van die ergste euwels wat oor hulle kan kom. In elke gesin is fermheid, beslistheid en positiewe vereistes noodsaaklik.DVvPEk 181.1
Eerbied, waaraan die spottende jeugdiges wat Elisa bespot het so tekortgeskiet het, is ‘n grasie wat meet versigtigheid gekoester moet word. Elke kind moet geleer word om ware eerbied teenoor God te toon. Sy naam mag nooit ligtelik of onnadenkend geuiter word nie. Engele bedek hul aangesig wanneer hulle dit uiter. Met watter eerbied behoort ons, wat gevalle en sondig is, nie Sy Naam op ons lippe te neem nie!DVvPEk 181.2
Eerbied behoort aan God se verteenwoordigers — predikante, onderwysers en ouers, wat geroep is om namens Hom te praat en op te tree getoon te word. Deur die respek wat aan hulle getoon word, word God geëer.DVvPEk 181.3
Hoflikheid is ook een van die genadegawes van die Gees en behoort deur almal gekultiveer te word. Dit het krag om die geaardheid te versag, waarsonder dit hard en grof sal wees. Diegene wat voorgee om volgelinge van Christus te wees, wat terselfdertyd grof, onvriendelik en onbeskof is, het nie by Jesus geleer nie. Hulle opregtheid mag dalk nie betwyfel word nie, hulle onkreukbaarheid nie bevraagteken word nie; maar opregtheid en onkreukbaarheid sal nie vergoed vir ‘n gebrek aan vriendelikheid en hoflikheid nie.DVvPEk 181.4
Die vriendelike geaardheid wat Elisa in staat gestel het om ‘n sterk invloed op die lewens van baie mense in Israel uit te oefen, word geopenbaar in die verhaal van sy vriendelike verhouding met ‘n gesin wat in Sunem gewoon het. Tydens sy reise heen en weer deur die koninkryk, “...het Elisa verbygegaan na Sunem; en daar was ‘n vermoënde vrou wat by hom aangehou het dat hy brood sou eet. En so dikwels as hy verbygaan, het hy daarheen weggedraai om brood te eet”. Die vrou van die huis het opgemerk dat hulle “...’n heilige man van God...” huisves en het aan haar man voorgestel: “...laat ons tog ‘n klein ommuurde bo-kamer maak en laat ons daar vir hom ‘n bed en ‘n tafel en ‘n stoel en ‘n lamp neersit; wanneer hy dan by ons kom, kan hy daar intrek.” (2 Kon 4:8-10) Elisa het dikwels van hulle gasvryheid gebruik gemaak, dankbaar vir die rustige vreedsaamheid. God was ook nie onbewus van hierdie vrou se vriendelikheid nie. Haar huis was kinderloos; en nou het die HERE haar gasvryheid beloon met die geskenk van ‘n seun.DVvPEk 182.1
Jare het verloop. Die kind was oud genoeg om in die veld saam met die maaiers te wees. Op ‘n dag is hy deur die hitte oorweldig “...en het vir sy vader gesê: My kop, my kop! Dié sê toe vir ‘n dienaar: Dra hom na sy moeder. En hy het hom gedra en by sy moeder gebring. En hy het op haar knieë gesit tot die middag en gesterwe. En sy het opgeklim en hom op die bed van die man van God neergelê en agter hom toegesluit en uitgegaan.” (Verse 19-21)DVvPEk 182.2
In haar nood was die Sunamitiese vrou vasbeslote om na Elisa vir hulp te gaan. Die profeet was op daardie stadium by die berg Karmel en die vrou het onmiddellik, vergesel van ‘n dienaar, soontoe vertrek. “Sodra die man van God haar op ‘n afstand sien, sê hy aan sy dienaar Gehási: Kyk, daar is dié Sunamitiese vrou! Loop haar nou tog tegemoet en sê vir haar: Gaan dit goed met u? Gaan dit goed met u man? Gaan dit goed met u kind?” Die dienaar het gemaak soos hy beveel is, maar nie voordat sy Elisa bereik het, het die geteisterde moeder die oorsaak van haar hartseer onthul nie. Toe Elisa van haar verlies hoor, het hy Gehási gebied: “Gord jou heupe en neem my staf in jou hand en gaan heen; as jy iemand teëkom, groet hom nie; en as iemand jou groet, antwoord hom nie; en lê my staf op die gesig van die seun.”DVvPEk 182.3
Maar die moeder was nie tevrede gestel totdat Elisa self saam met haar gekom het nie. “So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie!” het sy verklaar. “En hy het opgestaan en agter haar aan geloop. En Gehási het voor hulle uit gegaan en die staf op die gesig van die seun gelê; maar daar was geen stem en geen opmerksaamheid nie. Daarop gaan hy terug hom tegemoet en bring hom die berig en sê: Die seun het nie wakker geword nie.”DVvPEk 183.1
Toe hulle die huis bereik, het Elisa na die vertrek gegaan waar die kind wat gesterf het gelê het, “...die deur agter hulle twee toegesluit en tot die HERE gebid. Daarna klim hy op en gaan lê op die kind en sit sy mond op dié se mond en sy oë op dié se oë en sy hande op dié se hande en buig oor hom neer; en die vlees van die kind het warm geword. Daarop het hy teruggekom en in die huis een keer heen en weer geloop, om dan opnuut op te klim en oor hom neer te buig; en die seun het sewe maal genies; en die seun het sy oë oopgemaak.”DVvPEk 183.2
Elisa het Gehasi geroep en hom gebied om die moeder na hom te stuur. Toe “...sy by hom gekom het, sê hy: Tel jou seun op. En sy het ingekom en voor sy voete geval en na die aarde gebuig; en sy het haar seun opgetel en uitgegaan.” (Verse 26¬37)DVvPEk 183.3
So is die geloof van hierdie vrou beloon. Christus, die groot Lewegewer, het haar seun aan haar terugbesorg. Net so sal Sy getroue volgelinge beloon word wanneer, met Sy wederkoms, die dood sy angel verloor en die graf van sy beweerde oorwinning beroof word. Dan sal Hy aan Sy diensknegte die kinders wat hulle aan die dood afgestaan het, teruggee. “So sê die HERE: ‘n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie. So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, ... en hulle sal uit die land van die vyand terugkom. Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die HERE; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied.” (Jer 31:15-17)DVvPEk 183.4
Jesus troos ons in ons hartseer oor die dood met ‘n boodskap van oneindige hoop: “Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf?” (Hosea 13:14) “Ek is die eerste en die laaste en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.” (Op 1:17,18) “Want die HERE self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die HERE tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die HERE wees.” (1 Thes 4:16,17)DVvPEk 184.1
Soos die Verlosser van die mensdom, waarvan hy ‘n tipe was, het Elisa sy bediening tussen mense, die werk van genesing met onderrig gekombineer. Getrou, onvermoeid, regdeur sy lang en effektiewe arbeid, het Elisa gepoog om die belangrike opvoedkundige werk wat by die skole van die profete gedoen is, te bevorder. Deur die voorsienigheid van God, is sy woorde van onderrig aan die ernstige groepe jong manne wat bymekaargekom het, deur die werkinge van die Heilige Gees bevestig en soms deur ander onmiskenbare bewyse van sy gesag as ‘n dienskneg van Jehova.DVvPEk 184.2
Dit was op ‘n geleentheid by een van sy besoeke aan die skool wat by Gilgal gestig is, dat hy die giftige sop gesuiwer het: “Weer het Elísa in Gilgal gekom en daar was hongersnood in die land; en terwyl die profete-seuns voor hom sit, sê hy aan sy dienaar: Sit die groot pot op en maak ‘n kooksel klaar vir die profete-seuns. Toe gaan een uit in die veld om groente te versamel; en hy het wilde ranke gekry en daarvan sy kleed vol karkoere gepluk en gekom en dit in die kookpot stukkend gesny; want hulle het dit nie geken nie. Daarna het hulle vir die manne opgeskep om te eet; maar net toe hulle van die kooksel eet, skreeu hulle en roep: Man van God, die dood is in die pot! En hulle kon dit nie eet nie. Maar hy sê: Gaan haal dan meel. En hy gooi dit in die pot en sê: Skep uit vir die mense, dat hulle eet. En daar was niks verkeerds in die pot nie.” (1 Kon 4:38-41)DVvPEk 184.3
Ook by Gilgal, terwyl daar steeds hongersnood in die land was, het Elisa eenhonderd manne gevoed, met ‘n geskenk wat na hom gebring is deur “...’n man van Baal-Salisa”... “eerstelingsbrode, twintig garsbrode en vars graan in sy mandjie gebring.” Daar was sommige saam met hom wat ‘n ernstige tekort aan voedsel gehad het. Toe die offer na hom gebring is, het hy aan sy dienskneg gesê: “Gee vir die mense, dat hulle eet. En sy dienaar antwoord: Hoe kan ek dit aan honderd man voorsit? Maar hy sê: Gee vir die mense, dat hulle eet, want so spreek die HERE: Hulle sal eet en oorhou. En hy sit dit hulle voor en hulle het geëet en oorgehou volgens die woord van die HERE.” (Verse 42,43)DVvPEk 185.1
Hoe toegeeflik was Christus om deur sy boodskapper hierdie wonderwerk, om honger te bevredig, te bewerkstellig! Sedertdien het die HERE Jesus telkens, hoewel dit nie altyd so opmerklik en waarneembaar was nie, in die menslike behoeftes voorsien. Indien ons oor ‘n meer duidelike geestelike onderskeidingsvermoë beskik het, sou ons meer geredelik as wat ons doen, God se deernisvolle omgang met die mensekinders kon herken.DVvPEk 185.2
Dit is die genade van God in die klein porsies wat dit voldoende maak. Die hand van God kan dit honderdvoudig vermeerder. Uit Sy hulpbronne kan God ‘n tafel in die woestyn dek. Met die aanraking van Sy hand kan Hy die karige voorraad vermeerder sodat daar genoeg vir almal is. Dit was Sy mag wat die brode en die koring in die hande van die profete-seuns vermenigvuldig het.DVvPEk 185.3
In die dae van Christus se aardse bediening, toe Hy ‘n soortgelyke wonderwerk om die skare te voed uitgevoer het, is dieselfde ongeloof, soos getoon deur diegene wat met die profeet van ouds geassosieer was, gemanifesteer. “Hoe kan ek dit aan ‘n honderd man voorsit?” het Elisa se dienskneg geprotesteer. En toe Jesus vir sy dissipels versoek het om die skare kos te gee, was hul antwoord: “Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel gaan koop vir al hierdie mense.” (Luk 9:13) Wat is dit vir so baie mense?DVvPEk 186.1
Hierdie les geld vir God se kinders deur al die eeue. Wanneer God ‘n sekere taak gee om uit te voer, moet mense nie eers die redelikheid van die bevel bevraagteken of wonder oor die moontlike eindresultaat van hul pogings om te gehoorsaam nie. Die voorraad ophande, mag gebrekkig voorkom, maar in die hande van die HERE, sal dit meer as genoeg wees. Die dienaar het “...dit hulle voor[gesit] en hulle het geëet en oorgehou volgens die woord van die HERE.”DVvPEk 186.2
Die groot behoefte in vandag se kerk is ‘n beter begrip van God se verhouding met diegene wat Hy deur die gawe van Sy Seun losgekoop het en ‘n groter geloof in die vooruitgang van Sy saak op aarde. Laat niemand tyd verspil deur hul sigbare gebrekkige bronne te betwyfel nie. Die uiterlike mag gebrekkig voorkom, maar energie en vertroue in God sal hierdie hulpbronne ontwikkel. Die geskenk wat aan Hom met danksegging en seënbede gebring word, sal Hy vermenigvuldig soos die voedsel wat destyds aan die profete-seuns en aan die moeë skare voorgesit was.DVvPEk 186.3