Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Groot Stryd - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 32—Die Strikke van Satan

    DIE groot stryd tussen Christus en Satan wat vir byna ses duisend jaar al voortduur, sal binnekort afgesluit word; daarom verdubbel die bose sy pogings om die werk van Christus ten behoewe van die mens te verydel en om siele in sy strikke te vang. Om die mense in duisternis en onboetvaardigheid te hou totdat die Heiland se middelaarswerk beëindig is en daar geen versoening meer is vir die sonde nie — dit is sy doel.GS 589.1

    Wanneer daar nie spesiale pogings aangewend word om hom te weerstaan nie, en wanneer daar onverskilligheid heers in die kerk en in die wêreld, bekommer Satan hom nie; want daar bestaan geen gevaar dat hy diegene sal verloor wat volgens sy wil gevange gehou word nie. Maar wanneer die aandag van mense gevestig word op die ewige dinge, en siele begin vra, “Wat moet ek doen om gered te word?” dan tree hy handelend op, hy stel sy mag teenoor die mag van Christus, en hy werk die invloed van die Heilige Gees teen.GS 589.2

    Die Skrifte verklaar dat toe die engele van God by een geleentheid gekom het om hulle voor die Here te stel (Job 1:6), Satan ook onder hulle was, nie om voor die Evvige Koning neer te buig nie, maar om sy eie kwaadwillige planne teen die regverdiges te bevorder. Dit is met daardie selfde doel dat hy ook teenwoordig is waar mense saamkom om God te aanbid. Hoewel hy onsigbaar is, werk hy met die grootste ywer om die harte van die aanbidders te beheers. Soos ‘n slim generaal maak hy sy planne vooraf. As hy sien dat die boodskapper van God die Skrifte •ondersoek, maak hy ‘n aantekening van die onderwerp wat aan die mense voorgestel sal word. Daarna gebruik hy al sy wysheid en listigheid om toestande so te reel dat die boodskap nie sal ingang vind tot diegene wat hy juis op daardie punt bedrieg nie. Die persoon wat die waarskuwing die meeste nodig het, sal beweeg word om sy aandag aan die een of ander wêreldse :saak te bestee, of hy sal op ‘n ander manier verhinder word om die woorde te hoor wat vir hom ‘n reuk van die lewe tot die lewe kan wees.GS 590.1

    En dan weer sien Satan hoedat die diensknegte van die Here hulle bekommer oor die duisternis wat die mense omhul. Hy hoor hoedat hulle bid om goddelike genade en krag om die onverskilligheid, die sorgloosheid, en die lusteloosheid te verbreek. Dit is dan wanneer hy sy lis met nog groter ywer gebruik. Hy lei mense tot die botviering van hulle aptyt of tot die een of ander vorm van selfbevrediging, en sodoende verdof hy hulle gevoelens, sodat hulle nie in staat is om die dinge te hoor waaraan hulle so groot behoefte het nie.GS 590.2

    Satan weet goed dat alle mense wat hy kan beweeg om gebed en die ondersoek van die Skrifte te verwaarloos, sal beswyk voor sy aanvalle. Daarom dink hy allerhande moontlike dinge uit om die verstand in beslag te neem. Daar is altyd mense met ‘n skyn van godsvrug, wat, pleks om die waarheid na te jaag, dit ‘n deel van hulle godsdiens maak om foute te soek in die karakter of geloof van diegene met wie hulle nie saamstem nie. Sulke mense is soos die regterhand van Satan. Beskuldigers van die broeders is daar baie en hulle is altyd bedrywig wanneer God werk en wanneer Sy diensknegte ware hulde aan Hom betoon. Hulle sal ‘n valse uitleg gee aan woorde en dade van diegene wat die waarheid liefhet en gehoorsaam. Hulle sal diensknegte van Christus wat ernstig, ywerig, en selfopofferend is, voorstel as bedrieërs en as diegene wat bedrieg is. Dit is hulle werk om die motiewe agter elke ware en edele daad vals voor te stel; hulle versprei gerugte en verwek agterdog by diegene wat min ondervinding het. Op elke moontlike manier trag hulle om wat rein en reg is voor te stel as sleg en bedrieglik.GS 590.3

    Maar niemand hoef bedrieg te word aangaande hulle nie. Dit kan sommer maklik gesien word wie se kinders hulle is, wie se voorbeeld hulle navolg, en wie se werk hulle doen. “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Matt. 7: 16. Hulle werk stem ooreen met die van Satan, die giftige kwaadspreker, “die aanklaer van ons broeders.” Openb. 12: 10.GS 591.1

    Die groot bedrieër het baie handlangers wat steeds gereed is om enige en alle soorte dwaalleer te verkondig om siele te verstrik — dwalings volgens die verskillende smake en vermoëns van diegene wat hy ten gronde wil bring. Dit is sy plan om onopregte, onwedergebore siele in die kerk te bring, wat twyfel en ongeloof sal aanmoedig, en wat diegene sal hinder wat Gods werk wil bevorder en ook self vordering wil maak. Baie wat self geen geloof in God en Sy woord het nie, neem sommige van die beginsels van waarheid aan, en hulle word beskou as Christene; op hierdie manier word hulle in staat gestel om hulle dwaalleer te verkondig as skiftuurlike leerstellings.GS 591.2

    Die stelling dat dit nie eindelik saak maak wat mens glo nie, is een van Satan se suksesvolste vorms van bedrog. Hy weet goed dat die waarheid, aangeneem uit liefde, die siel heilig van diegene wat dit aanneem; daarom is hy gedurig daarop uit om valse teorieë, fabels, en ‘n ander evangelie in die plek daarvan te stel. Van die begin af moes die diensknegte van God stry teen valse leraars, nie alleen omdat hulle bose mense is nie, maar omdat hulle valshede verkondig wat noodlottig vir die siel is. Elia, Jeremia, en Paulus, het onwrikbaar en onverskrokke opgetree teen diegene wat mense van die woord van God weggelei het. Daardie soort grootmoedigheid wat ‘n regte geloof voorstel as onbelangrik, het geen genade gevind by hierdie heilige verdedigers van die waarheid nie.GS 591.3

    Die vae en sonderlinge skrifverklarings, en baie van die botsende teorieë in verband met die geloof wat ons in die Christenwêreld aantref, is die werk van ons groot teenstander om die verstand van mense te verwar sodat hulle nie die waarheid kan sien nie. En die tweedrag en verdeeldheid onder die verskillende Christelike genootskappe is in ‘n groot mate toe te skryf aan die gewoonte om die Skrifte uit verband te ruk om ‘n geliefkoosde teorie te staaf. Pleks om Gods woord met ‘n nederige hart te ondersoek ten einde Sy wil te verstaan, soek baie mense na iets sonderlings en oorspronkliks.GS 592.1

    Met die doel om verkeerde leerstellings en onchristelike gebruike te handhaaf, sal sommige van hulle Skrifgedeeltes uit die verband ruk en miskien net die helfte van ‘n teks aanhaal om hulle stelling te bewys, wanneer die res van die teks presies die teenoorgestelde bewys. Met die listigheid van die slang sal hulle skuil agter Skrifgedeeltes wat uit die verband geneem is en uitgelê word ooreenkomstig hulle vleeslike begeertes. Op hierdie manier verdraai baie die woord van God. Weer ander, wat ‘n ryk verbeeldingskrag het, neem van die sinnebeelde van die Heilige Skrif en verklaar hulle volgens hulle eie idees, sonder om in die minste die getuienis van die Skrifte in ag te neem wat self die verklaring gee; en dan stel hulle hulle sonderlinge menings voor as die leer van die Bybel.GS 592.2

    As die Skrifte ondersoek word sonder ‘n biddende, ootmoedige, en geseglike gees, sal die eenvoudigste en duidelikste sowel as die moeilikste Skrifgedeeltes uit hulle verband geruk word. Die pouslike leiers neem daardie Skrifgedeeltes wat die beste in hulle kraam pas, hulle verklaar dit volgens hulle eie mening, en dan stel hulle dit aan die volk voor, terwyl hulle aan die volk die voorreg ontsê om self die Bybel te ondersoek en die heilige waarhede te verstaan. Die hele Bybel moet aan die volk gegee word net soos hy geskryf is. Dit sou vir hulle beter wees om glad geen Bybelse onderrig te ontvang nie as om ‘n verdraaide begrip van die Skrifte te hê.GS 592.3

    Die Bybel is bestem as ‘n gids vir almal wat graag die wil van hulle Maker wil leer. God het aan die mens die vaste profetiese woord gegee; engele, en selfs Christus, het na die aarde gekom om aan Daniel en Johannes die dinge te openbaar wat binnekort sou gebeur. Daardie belankrike saak wat ons saligheid raak, is nie in verborgenheid gehul nie. Hulle is nie geopenbaar op ‘n manier wat die eerlike soeker na waarheid sal verbyster of mislei nie. Aan die profeet Habakuk het die Here gesê, “Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle al lopende dit kan lees.” Hab. 2: 2. Die woord van God is duidelik vir almal wat dit ondersoek met ‘n biddende hart. Elke opregte siel sal tot ‘n kennis van die waarheid kom. “Die lig is vir die regverdige gesaai.” Ps. 97: 11. En geen kerk kan voortgaan tot heiligheid tensy sy lede ernstig na die waarheid soek soos na verborge skatte nie.GS 592.4

    Deur die kreet “Grootgeestigheid” word mense verblind vir die liste van hulle teenstander, terwyl hy al die tyd besig is om ongemerk sy doel te bereik. Namate hy daarin slaag om die Bybel te vervang deur menslike gissings, word die wet van God tersyde gestel, en die kerke verkeer in slawerny terwyl hulle daarop aanspraak maak dat hulle vry is.GS 593.1

    Vir vele het wetenskaplike ondersoek ‘r. vloek geword. God het toegelaat dat daar ‘n vloed van lig skyn op die wêreld deur die wetenskaplike ontdekkings en kuns; maar selfs die grootste verstande, as hulle nie deur Gods woord gelei word in hulle navorsing nie, sal verbyster word in hulle pogings om die verhouding van die wetenskap tot die openbaring te ondersoek.GS 593.2

    Menslike kennis van beide die stoflike en geestelike bestaan maar net ten dele en dit is onvolmaak; daarom is daar baie wat nie hulle menings oor die wetenskap in ooreenstemming met die Skrifte kan bring nie. Baie neem blote teorieë en gissings aan as wetenskaplike feite, en hulle meen dat Gods woord getoets moet word aan die bevindings van “die valslik sogenaamde kennis.” 1 Tim. 6: 20. Die Skepper en Sy werke is bokant hulle verstand; en omdat hulle hierdie dinge nie deur natuurlike wette kan verklaar nie, word die geskiedenis van die Bybel as onbetroubaar beskou. Diegene wat twyfel aan die betroubaarheid van die Ou en Nuwe Testamente, gaan dikwels ‘n stap verder, en hulle betwyfel die bestaan van God en skryf goddelike krag toe aan die natuur. Omdat hulle hulle anker gelos het, word hulle op die rotse van ongeloof gevoer.GS 593.3

    Daarom dwaal vele af van die geloof, en hulle word deur die duiwel verlei. Mense het getrag om slimmer te wees as hulle Skepper; menslike wetenskap het pogings gemaak om verborgenhede wat nooit geopenbaar sal word nie na te speur en te verklaar. As die mense maar net ondersoek wil instel en wil verstaan wat God wel van Homself en Sy planne geopenbaar het, sou hulle so ‘n insig kry van die heerlikheid, majesteit, en mag van Jehova, dat hulle hulle eie nietigheid sal besef en tevrede sal wees met wat geopenbaar is vir hulle en hulle kinders.GS 594.1

    Dit is een van die meestersette van Satan om mense besig te hou met die ondersoek van dinge wat God nie geopenbaar het nie en wat Hy ook nie wil hê dat ons moet verstaan nie. Dit is op hierdie manier dat Lucifer sy posisie in die hemel verloor het. Hy het ontevrede geword omdat al die verborgenhede van God nie vertroulik aan hom vertel is nie, en hy het die dinge wat geopenbaar is in verband met sy eie werk en die hoë posisie wat hy beklee het, heeltemal veronagsaam. Deur dieselfde ontevredenheid te verwek by die engele wat onder sy bevel was, het hy hulle val veroorsaak. Nou trag hy om mense met dieselfde gees te besiel, en hulle te beweeg om die regstreekse gebooie van God te veronagsaam.GS 595.1

    Diegene wat onwillig is om die duidelike, snydende waarhede van die Bybel aan te neem, soek steeds na strelende fabels wat hulle gewete sal stilmaak. Hoe minder geestelikheid, selfverloëning, en nederigheid die leerstellings vereis wat verkondig word, hoe geredeliker sal hulle aangeneem word. Hierdie mense verlaag hulle verstandelike krag om hulle vleeslike begeertes te dien. Te slim in hulle eie verwaandheid om die Skrifte met ‘n ootmoedige hart, en ernstige gebed om goddelike leiding te ondersoek, het hulle geen beskerming teen bedrog nie. Satan is steeds gereed om te voorsien in die begeertes van die hart, en hy sal sy bedrieglike leerstellings aan hulle afsmeer in die plek van die waarheid. Dit was op hierdie manier dat die pousdom sy mag verkry het oor die verstand van die mense; en deur die waarheid te verwerp omdat dit ‘n kruis meebring, bewandel Protestante dieselfde pad. Almal wat die woord van God verwaarloos vir gemak of ‘n sekere beleid, sodat hulle nie met die wêreld in botsing mag kom nie, loop gevaar om verderflike dwaalleer aan te neem vir goddelike waarheid. Alle moontlike soorte dwalings sal aangeneem word deur diegene wat moedswillig die waarheid verwerp. Die persoon wat die een bedrog met afsku verwerp, sal maklik ‘n ander bedrog in die plek daarvan aanneem. Die apostel Paulus, waar hy praat van diegene wat nie die liefde vir die waarheid aanneem, sodat hulle gered kan word nie, verklaar, “Daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” 2 Thess. 2: 10-12. Met so ‘n waarskuwing is dit ons plig om op ons hoede te wees ten opsigte van die leer-stellings wat ons aanneem.GS 595.2

    Een van die suksesvolste werktuie van die groot bedrieër is die verleidelike leerstellings en leuens van Spiritisme. Vermom in die gedaante van ‘n engel van lig, stel hy sy strikke waar hulle die minste verwag word. As die mense maar die Boek van God biddend sou ondersoek sodat hulle dit kan verstaan, sou hulle nie in duisternis gelaat word om valse leerstellings aan te neem nie. Maar namate hulle die waarheid verwerp, word hulle die slagoffers van bedrog.GS 596.1

    Nog ‘n ander gevaarlike dwaling is die leerstelling wat die godheid van Christus loën en beweer dat hy geen voortydse bestaan gehad het voor Sy koms in hierdie wêreld nie. Hierdie teorie word aanvaar deur ‘n groot klas wat voorgee dat hulle die Bybel glo; en nogtans weerspreek dit die duidelikste verklarings van ons Heiland aangaande Sy verhouding tot die Vader, Sy goddelike karakter, en Sy voorbestaan. So ‘n leerstelling is ‘n moedswillige verdraaiing van die Skrifte. Nie alleen verlaag dit die mens se begrip van die verlossingswerk nie, maar dit ondermyn geloof in die Bybel as die openbaring van God. Terwyl dit baie gevaarlik is, is dit ook moeilik om te weerlê. As mense die getuienis van die Skrifte verwerp aangaande die godheid van Christus, is dit tevergeefs om met hulle te stry oor die punt; want geen argument, hoe afdoende ook, sal hulle oortuig nie. “Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie. Want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie omdat dit geestelik beoordeel word.” 1 Kor. 2: 14. Niemand wat hierdie dwaling toegedaan is, kan ‘n regte begrip hê van die karakter of sending van Christus of van die groot verlossingsplan van God vir die mens nie.GS 596.2

    Nog ‘n ander listige en skadelike dwaling is die vinniguitbreidende geloof dat daar nie ‘n duiwel bestaan as ‘n persoonlike wese nie; en dat die benaming in die Skrifte gebruik word slegs om die mens se bose gedagtes en begeertes voor te stel.GS 596.3

    Die leerstelling wat so wyd en syd verkondig word van die algemene kansels, naamlik dat die tweede koms van Christus Sy koms is na elke persoon by sy dood, is ‘n plan om die mense se aandag af te trek van Sy persoonlike koms op die wolke van die hemel. Vir jare reeds is Satan besig om te verklaar, “Kyk, Hy is in die binnekamer;” en baie siele het verlore gegaan omdat hulle hierdie bedrog aangeneem het. (Matt. 24: 23-26.)GS 597.1

    En weer, wêreldse wysheid leer dat gebed nie nodig is nie. Wetenskaplikes beweer dat daar nie ware antwoord op gebed is nie; dat dit ‘n verkragting van wet sou wees, of ‘n wonderwerk, en dat daar nie so iets is as wonderwerke nie. Die heelal, sê hulle, word regeer deur vaste wette, en self God doen niks in stryd met hierdie wette nie. Hulle stel God voor as iemand wat deur Sy eie wette gebonde is — asof die werking van goddelike wette goddelike vryheid kan uitsluit. Sulke leerstellings is in stryd met die getuienis van die Skrifte. Het Christus en Sy apostels nie wonderwerke verrig nie? Dieselfde ontfermende Heiland leef vandag nog, en Hy is net so gewillig om die gebed van geloof te verhoor as toe Hy in eie persoon hier onder die mense gewandel het. Die natuurlike werk saam met die bonatuurlike. Dit is deel van Gods plan om aan ons, in antwoord op die gebed van geloof, daardie dinge te gee wat Hy nie sou gee as ons nie daarom gevra het nie.GS 597.2

    Daar is talryke verkeerde leerstellings en sonderlinge idees vandag in die Christelike kerke. Dit is onmoontlik om die skade te bereken wat ontstaan as een van die bakens wat deur Gods woord vasgestel is, verwyder word. Diegene wat dit doen, is nie tevrede met die verwerping van slegs een waarheid nie. Die meerderheid van hulle hou aan om die een na die ander van die beginsels van die waarheid te verwerp, totdat hulle heeltemal ongelowig geword het.GS 597.3

    Die teologiese dwalings wat vandag so algemeen is, het meer as een siel wat andersins in die Skrifte sou geglo het, ongelowig gemaak. Dit is onmoontlik vir hom om leerstellings aan te neem wat bots met sy begrip van regverdigheid, genade, en goedheid; en omdat sulke leerstellings voorgehou word as Bybelse leerstellings, weier hy om die Bybel aan te neem as die woord van God.GS 597.4

    En dit is die doel wat Satan nastreef. Daar is niks wat hy meer begeer as om geloof in God en Sy woord te vernietig nie. Satan staan aan die hoof van ‘n groot leër twyfelaars, en hy werk met alle mag om siele te verlei om by sy geledere aan te sluit. Dit is heeltemal in die mode om te twyfel. Daar is ‘n groot menigte wat die woord van God met agterdog beskou om dieselfde rede as wat hulle die Ingewer daarvan wantrou — omdat dit hulle sondes bestraf en veroordeel. Diegene wat onwillig is om die woord te gehoorsaam, probeer om die gesag daarvan te ondermyn. Hulle lees die Bybel, of hulle luister na preke van die kansel, net om fout te soek met die Skrifte of die preek. Baie word ongelowig om hulleself te regverdig of om ‘n verskoning te hê vir hulle pligsversuim. Ander is ongelowig weens hoogmoed en luiheid. Te lief vir gemak om hulleself te onderskei deur iets te presteer wat die moeite werd is, en wat inspanning en verloëning verg, trag hulle om naam te maak as manne van buitegewone wysheid deur die Bybel te kritiseer. Daar is veel wat die beperkte verstand, sonder die lig van goddelike wysheid, nie kan verstaan nie; en daarom word daar tot kritiek oorgegaan. Daar is baie wat meen dat dit ‘n deug is om te staan aan die kant van ongelowiges, twyfelaars, en godloënaars. Maar mens vind dat sulke persone onder die skyn van openhartigheid uit selfvertroue en hoogmoed handel. Baie skep behae daarin om iets in die Skrifte te ontdek wat ander nie kan verklaar nie. Ander weer, kritiseer en stry teen hulle beter wete omdat hulle lief is daarvoor. Hulle besef nie dat hulle hulleself daardeur in die strikke van die bose net begeef nie. Maar as hulle eers hulle ongeloof te kenne gegee het, voel hulle dat hulle daardie posisie moet handhaaf. Op hierdie manier sluit hulle aan by die goddelose, en hulle sluit die poorte van die Paradys teen hulleself.GS 598.1

    God het in Sy woord genoegsame bewys gegee van die goddelike oorsprong daarvan. Die groot waarhede aangaande ons verlossing is duidelik uiteengesit. Met die hulp van die Heilige Gees, wat beloof is aan almal wat in opregtheid daarom vra, kan elkeen die Skrifte vir homself verstaan. God het aan die mens ‘n sterk fondament gegee om sy geloof op te bou.GS 598.2

    Maar nogtans is die beperkte menslike verstand nie in staat om die planne en doel van die Ewige God ten voile te verstaan nie. Wie kan die dieptes van God peil? Ons moenie op aanmatigende wyse probeer om die gordyn weg te trek waarmee God Sy majesteit bedek nie. Die apostel roep uit, “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is Sy oordele en onnaspeurlik Sy weë!” Rom. 11: 33. Ons kan genoeg verstaan van Sy handelinge met ons en die motiewe wat Horn beweeg, sodat ons Sy grenslose liefde en genade en ewige krag kan sien. Ons hemelse Vader laat alles in wysheid en geregtigheid geskied, en ons moet nie ontevrede en ongelowig wees nie, maar ons eerbiedig onderwerp. Hy sal aan ons net soveel openbaar as wat vir ons goed is, en verder as dit moet ons Sy almagtige hand en hart van liefde vertrou.GS 598.3

    Hoewel God voldoende bewyse gegee het vir ons geloof, sal Hy nooit alle ekskuse vir twyfel wegneem nie. Almal wat soek na spykers om hulle vertvvyfelings aan op te hang, sal dit vind. En diegene wat weier om Gods woord aan te neem en te gehoorsaam totdat alle besware uit die weg geruim is, en daar geen grond vir twyfel meer is nie, sal nooit tot die lig kom nie.GS 599.1

    Wantroue van God is ‘n natuurlike gevolg van ‘n onwedergebore hart wat in vyandskap met Horn verkeer. Geloof word deur die Heilige Gees ingegee, en dit sal vermeerder in die mate waarin dit gekoester word. Niemand kan sterk word in die geloof sonder vasberade pogings nie. Ongeloof word sterker namate dit aangemoedig word; en as mense, in stede om te peins oor die bewyse wat God gegee het as grond vir hulle geloof, hulleself toelaat om te twyfel en fout te soek, sal hulle vind dat hulle ongeloof steeds meer en meer bevestig word.GS 599.2

    Diegene wat twyfel aan Gods beloftes, en die versekering van Sy genade wantrou, onteer Horn; en hulle invloed, pleks om ander tot Christus te trek, sal hulle van Horn weghou. Hulle is vrugtelose bome, wat hulle donker takke wyd en syd uitsprei, die sonskyn weghou van ander plante, sodat hulle verwelk en doodgaan onder die kille skaduwee. Die werk van sulke persone sal ‘n ewige getuienis teen hulle wees. Hulle saai saad van ongeloof en twyfel wat ‘n gewisse oes sal oplewer.GS 599.3

    Daar is net een weg om in te slaan vir diegene wat eerlik begeer om van alle twyfel bevry te wees. In stede van twyfel en haarklowery aangaande dinge wat hulle nie verstaan nie, moet hulle liewer agslaan op die lig wat reeds op hulle skyn, en hulle sal meer lig ontvang. Laat hulle elke plig nakom wat vir hulle duidelik is, en dan sal hulle die pligte waarvan hulle nog nie seker is nie verstaan en nakom.GS 599.4

    Satan kan die waarheid so oulik vervals dat dit so presies op die egte lyk dat dit diegene sal bedrieg wat graag bedrieg wil word, en wat terugdeins vir die selfverloëning en opoffering wat deur die waarheid geverg word; maar dit is onmoontlik vir hom om een siel in sy mag te hou wat opreg begerig is, al kos dit ook wat, om die waarheid te ken. Christus is die ware lig en “die lig wat elke mens verlig was aan kom in die wêreld.” Joh. 1: 9. Die Gees van waarheid is in die wêreld uitgestuur om mense tot die waarheid te lei. En op gesag van die Seun van God word daar verklaar, “Soek, en julle sal vind.” “As iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy omtrent die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek.” Matt. 7: 7; Joh. 7: 17.GS 600.1

    Die navolgers van Christus weet min van die komplotte wat Satan en sy leërskare teen hulle smee. Maar Hy wat in die hemel is, sal al hierdie planne verydel om Sy eie verhewe planne uit te voer. Die Here laat toe dat Sy volk die vuurproef van versoeking deurmaak, nie omdat Hy behae skep in lyding en ellende nie, maar omdat hierdie proses onontbeerlik is vir hulle uiteindelike oorwinning. Hy kan nie, sonder om in stryd te wees met sy eie heerlikheid, hulle van versoeking vrywaar nie; want die doel van die beproewing is juis om hulle te berei om die verlokkings van die bose te weerstaan.GS 600.2

    Nog bose mense nóg duiwels kan die werk van God verhinder of Sy teenwoordigheid van Sy volk uitsluit, as hulle met onderworpe en boetvaardige harte hulle sondes bely en versaak, en in geloof Sy beloftes aanneem. Elke versoeking, elke teenstrydige invloed, of dit openlik of heimelik is, kan met sukses weerstaan word, “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur My Gees, sê die Here van die leërskare.” Sag. 4: 6.GS 600.3

    “Want die oë van die Here is op die regverdiges en Sy ore tot hulle gebed. . . . En wie is dit wat julle kwaad sal aandoen as julle navolgers is van die goeie?” 1 Pet. 3: 12, 13. Toe Bileam, verlok deur die belofte van groot beloning, towery teen Israel beoefen het, en getrag het om die vloek van God op Sy volk te laat kom deur offerandes aan Gom te offer, het die Gees van God die kwaad belet wat hy oor die volk wou laat kom, en Bileam moes uitroep: “Hoe sal ek vloek wie God nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die Here nie verwens nie?” “Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!” Nadat hy die offer geoffer het, het die goddelose profeet uitgeroep: “Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie. ‘n Mens aanskou geen onheil in Jakob en sien geen ellende in Israel nie. Die Here sy God is met hom, en die gejubel vir die Koning is by hom.” “Want daar is geen towery in Jakob of waarsêery in Israel nie. Nou sal van Jakob en van Israel gesê word, wat God gedoen het.” Vir ‘n derde maal is daar altare opgerig, en nog eens het Bileam probeer om ‘n vloek te verkry; maar met die onwillige lippe van die profeet het die Gees van God voorspoed oor Sy uitverkorenes uitgespreek, en die dwaasheid en kwaadwilligheid van hulle vyande bestraf. “Geseën is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek.” Num. 23: 8, 10, 20, 21, 23; 24: 9.GS 600.4

    Tydens hierdie voorval was die volk van Israel getrou aan God; en solank as hulle Sy wet gehoorsaam het, kon geen mag op aarde of in die hel teen hulle seëvier nie. Maar die vloek wat Bileam nie teen die volk van God kon verkry nie, het hy eindelik verkry deur hulle tot die sonde te verlei. Toe hulle Gods gebooie oortree het, het hulle hulleself afgeskei van Hom, en toe was hulle alleen gelaat om die mag van die verwoester te voel.GS 601.1

    Satan weet maar te goed dat die swakste siel wat in Christus bly, opgewasse is teen die leërskare van die duisternis, en dat hy, as hy homself openlik sou openbaar, weerstaan sou word. Daarom trag hy om die kruisgesante uit hulle sterk vesting te lok, terwyl hy met sy magte wegkruip, gereed om almal te vernietig wat hulle op sy grond bevind. Alleen deur nederige vertroue op God, en gehoorsaamheid aan al Sy gebooie, is ons veilig.GS 601.2

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents