Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Groot Stryd - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Hoofstuk 37—Die Skrifte ‘n Bron van Veiliglieid

    “NA die wet en na die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie!” Jes. 8: 20. Die volk van God word na die Skrifte verwys as hulle bron van veiligheid teen die invloed van valse leraars en die verleidelike krag van die geeste van duisternis. Satan gebruik alle planne om mense te belet om ‘n kennis van die Bybel te verkry; want die duidelike verklarings van die Bybel openbaar sy bedrog. By elke opwekking in Gods werk word die vors van boosheid opgewek tot groter bedrywigheid; tans wend hy alle pogings aan in ‘n finale stryd teen Christus en Sy navolgers. Die laaste groot bedrog sal ons eerlank sien. Die antichris sal sy wonderwerke voor ons oë verrig. So baie sal die vervalsing op die ware lyk, dat dit onmoontlik sal wees om die verskil te sien behalwe met behulp van die Heilige Skrifte. Elke verklaring en elke wonderwerk moet aan die getuienis van die Bybel getoets word.GS 669.1

    Diegene wat trag om al die gebooie van God te gehoorsaam sal weerstaan en uitgelag word. Hulle kan alleen in God staande bly. Om die beproewing wat voor hulle is te kan verduur, moet hulle Gods wil verstaan soos in Sy woord geopenbaar; hulle kan Hom eer alleen namate hulle ‘n regte begrip het van Sy karakter, regering, en doel, en as hulle daarvolgens handel. Alleen diegene wat hulle verstand versterk het met Bybelse waarhede sal staande bly in die groot stryd. Elke siel sal voor die vraag te staan kom: Sal ek God gehoorsaam liewer as die mens? Die beslissende uur het reeds aangebreek. Staan ons voete op die rots van Gods onveranderlike woord? Is ons gereed om onwrikbaar te staan in die verdediging van Gods gebooie en die geloof van Jesus?GS 670.1

    Voor Sy kruisiging het die Heiland aan Sy dissipels verduidelik dat Hy gedood sou word en uit die graf sou opstaan; en daar was engele teenwoordig om Sy woorde op die verstand en harte van Sy dissipels te druk; maar hulle het uitgesien na die verlossing van die Romeinse juk in ‘n tydelike sin, en hulle kon nie die gedagte verdra dat Hy op wie al hulle hoop was, ‘n skanddood sou sterf nie. Die woorde wat hulle moes onthou, is uit hulle gedagtes verban; en toe die tyd van beproewing kom was hulle onvoorberei daarvoor. Die dood van Jesus het hulle hoop so volkome vernietig asof Hy hulle nooit vooraf gewaarsku het nie. So word die toekoms ook aan ons geopenbaar in die profesieë, net so duidelik as wat dit aan die dissipels geopenbaar is deur die woorde van Christus. Die gebeurtenisse in verband met die sluiting van die genadetyd en die voorbereiding vir die tyd van benoudheid, word duidelik geopenbaar. Maar daar is menigtes wat so min begrip van hierdie belangrike waarhede het asof hulle nooit geopenbaar was nie. Satan lê op die loer om elke indruk uit te wis wat mense wys kan maak tot die saligheid, en die tyd van benoudheid sal hulle onvoorberei vind.GS 670.2

    Wanneer God aan mense waarskuwings stuur wat so belangrik is dat hulle voorgestel word deur engele wat in die middel van die lug vlieg, verwag Hy dat elke persoon wat kan dink, ag sal slaan op die boodskappe. Die vreeslike oordele wat uitgespreek is teen die aanbidding van die dier en sy beeld (Openb. 14: 9-11), behoort almal te lei tot ‘n ywerige ondersoek van die profesieë, om te leer wat die merk van die dier is, en hoe hulle dit kan vermy. Maar die massas wend hulle ore af van die waarheid, en luister na fabels. Van ons dae het die apostel Paulus verklaar, “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie.” 2 Tim. 4: 3. Daardie tyd het reeds ten voile aangebreek. Die meerderheid wil nie Bybelse waarheid hê nie, omdat dit bots met die begeertes van ‘n sondige, wêreldsgesinde hart; en Satan voorsien die bedrog wat hulle begeer.GS 670.3

    Maar God sal ‘n volk op die aarde hê wat sal staan op die Bybel, en die Bybel alleen as die maatstaf van alle leerstellings en die grondslag van alle hervormings. Die menings van geleerde manne, die bevindings van die wetenskap, die leerreëls en besluite van kerklike konsilies, net so talryk en verskillend as die baie kerke wat hulle verteenwoordig, die stem van die meerderheid — nie een van hierdie dinge, of almal tesame, moet aangeneem word as bewys teen of van enige geloofspunt nie. Voordat ons enige leerstelling of gebod aanneem, moet ons ‘n “So sê die Here” as bewys daarvoor eis.GS 671.1

    Satan trag steeds om die aandag van mense op die mens te vestig in plaas van op God. Hy lei mense om op te sien tot biskoppe, predikante, teologiese professore, as hulle gidse, in stede om die Skrifte te ondersoek ten einde hulle pligte vir hulle self te leer. En dan, deur die verstand van hierdie leiers te beheers, kan hy die massas beïnvloed volgens sy wil.GS 671.2

    Toe Christus die woorde van die lewe gespreek het, het die gewone mense met blydskap na Hom geluister; en baie van hulle, selfs van die priesters en owerstes, het in Hom geglo. Maar die owerpriesters en die owerstes van die volk was vasbeslote om sy leerstellings te weerlê en te ontken. Hoewel al hulle pogings misluk het om beskuldigings teen Hom in te bring, en alhoewel hulle nie kon help om die invloed en goddelike krag en wysheid van Sy woorde te voel nie, het hulle nogtans in hulle dop van vooroordeel ingekruip; hulle het die duidelikste bewyse van Sy Messiaskap verwerp, sodat hulle nie miskien Sy dissipels sou word nie. Hierdie teenstanders van Jesus was manne wat die volk van kindsbeen af geleer is om te eer, en wie se gesag hulle onvoorvvaardelik aangeneem het. “Hoe is dit,” het hulle gevra, “dat ons owerstes en geleerde skrifgeleerdes nie in Jesus glo nie? Sou hierdie vrome manne Hom nie aanneem as Hy die Christus was nie.” Dit was die invloed van sulke leraars wat die Joodse volk beweeg het om hulle Verlosser te verwerp.GS 671.3

    Die gees wat hierdie priesters en owerstes besiel het, word vandag nog geopenbaar deur vele wat aanspraak maak op groot vroomheid. Hulle weier om die getuienis van die Skrifte te ondersoek aangaande die spesiale waarhede vir hierdie tyd. Hulle wys na hulle getalle, rykdom, en populariteit, en hulle kyk met veragting op die voorstanders van die waarheid as min in getal, armoedig, en onpopulêr, en met ‘n geloof wat hulle afskei van die wêreld.GS 672.1

    Christus het vooruit gesien dat die oordrewe aanmatiging van gesag waarop die skrifgeleerdes en Fariseërs aanspraak gemaak het, nie met die verstrooiing van die Jode sou eindig nie. Hy het in ‘n profetiese gesig gesien hoedat menslike gesag sou verhef word om die gewete te beheers — iets wat ‘n vreeslike vloek was vir die kerk in alle eeue. En sy vreeslike veroordeling van die skrifgeleerdes en Fariseërs, en Sy waarskuwings aan die volk om nie hierdie blinde leiers te volg nie, is teboekgestel as waarskuwing aan toekomstige geslagte.GS 672.2

    Die Roomse Kerk behou aan die geestelikes die reg voor om die Skrifte te verklaar. Omdat die geestelikes alleen bevoeg beskou word om Gods woord te verklaar, word dit aan die gewone mense onthou. Ofskoon die Hervorming die Skrifte aan almal beskikbaar gestel het, is dit nogtans dieselfde beginsel wat deur Rome gehandhaaf is wat menigtes in die Protestantse kerke verhinder om die Bybel vir hulleself te ondersoek. Hulle word geleer om die leerstellings van die Bybel aan te neem soos deur die kerk verklaar; en daar is duisende wat geen ander leerstelling durf aanneem, hoe duidelik dit ook in die Skrifte geopenbaar is, as dit teenstrydig is met hulle kerkleer.GS 672.3

    Ofskoon die Bybel baie waarskuwings bevat teen valse leraars, is daar vele wat hulle siele toevertrou aan die geestelikes. Daar is vandag duisende belyers van die godsdiens wat geen ander rede vir hulle geloof kan gee nie as dat hulle so geleer is deur hulle geestelike leiers. Die dinge wat die Heiland geleer het, gaan hulle verby sonder om daarop te let, en hulle het die grootste vertroue in die woord van hulle predikante. Maar is predikante onfeilbaar? Hoe kan ons ons siele aan hulle leiding toevertrou tensy ons uit Gods woord weet dat hulle ligdraers is? Gebrek aan sedelike moed om af te wyk van die pad wat die wêreld gebaan het, lei vele om geleerde mense na te volg; en deur hulle onwilligheid om dinge vir hulleself te ondersoek, word hulle hopeloos gebind met die kettings van dwaalleer. Hulle sien dat die waarheid vir hierdie tyd duidelik in die Bybel geopenbaar is, hulle voel die krag van die Heilige Gees wat met die verkondiging daarvan gepaard gaan, maar nogtans laat hulle toe dat die weerstand van die geestelikes hulle weghou van die lig. Ofskoon hulle verstand en gewete oortuig is, durf hierdie misleide siele nie anders dink as hulle predikant nie, en hulle persoonlike oordeel en ewige belange word opgeoffer aan die ongeloof, die hoogmoed en vooroordeel van ‘n ander.GS 672.4

    Satan werk op baie maniere deur menslike invloed om sy gevangenes te bind. Hy trek menigtes na hom toe deur hulle met die band van liefde te verbind aan diegene wat vyande is van die kruis van Christus. Wat hierdie koorde ookal mag wees, hetsy ouerlike liefde, kinderliefde, huweliksof maatskaplike betrekkings, die uitwerking is dieselfde; die teenstanders van die waarheid gebruik hulle mag om die gewete te beheers, en die siele wat onder hulle mag is, het nie genoeg moed of is nie onafhanklik genoeg om volgens hulle eie oortuigings te handel nie.GS 673.1

    Die waarheid en die heerlikheid van God is onafskeidelik; met die Bybel binne ons bereik is dit onmoontlik vir ons om God te eer terwyl ons dwalings aanhang. Daar is vele wat beweer dat dit nie eintlik saak maak wat mens glo nie solank jou lewe maar reg is. Maar jou lewe word gevorm deur wat jy glo. As lig en waarheid binne ons bereik is en ons ons voorreg om dit te hoor en sien, verwaarloos, verwerp ons dit feitlik; ons is besig om duisternis te kies liewer as die lig.GS 674.1

    “Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die end daarvan is weë van die dood.” Spr. 16: 25. Onkunde is geen verskoning vir dwaalleer of sonde wanneer daar alle geleentheid is om die wil van God te ken nie. Veronderstel dat ‘n man op reis is en ‘n plek bereik waar daar baie uitdraaipaaie is, met ‘n behoorlike padwyser wat aantoon waarheen elke pad gaan. As hy die padwyser veronagsaam en sommer die pad kies wat hy dink wat reg is, sal hy heel moontlik vind, hoe opreg hy ookal mag gewees het, dat hy die verkeerde pad gekies het.GS 674.2

    God het ons Sy woord gegee sodat ons vertroud kan raak met Sy leerstellings, en vir onsself kan weet wat Hy van ons verlang. Toe die wetgeleerde aan Jesus die vraag gestel het, “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” het die Heiland hom na die Skrifte verwys en gesê, “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” Onkunde sal nog jonk nog oud verskoon of vrystel van die straf op die oortreding van Gods wet; want daar is in hulle hande ‘n getroue voorstelling van daardie wet, sy beginsels en sy aansprake. Dit is nie genoeg om goeie voornemens te hê nie; dit is nie genoeg vir ‘n man om te doen wat hy dink wat reg is nie, of wat die predikant aan hom voorhou as reg nie. Die saligheid van sy siel is op die spel, en hy behoort die Skrifte vir homself te ondersoek. Hoe sterk sy oortuigings ook mag wees, hoe seker hy ook daarvan mag wees dat sy predikant die waarheid ken, is dit geen veiligheid vir hom nie. Hy het ‘n kaart wat vir hom al die bakens aanwys op sy reis na die hemel, en hy behoort oor niks te raai nie.GS 674.3

    Dit is die eerste en die hoogste plig van elke redelike wese om uit die Skrifte te leer wat waarheid is, om daarna in die lig te wandel en ook ander aan te moedig om sy voorbeeld te volg. Ons behoort die Bybel elke dag te ondersoek, elke gedagte te oorweeg, en teks met teks te vergelyk. Met goddelike hulp behoort ons ons eie opinies te vorm, want ons sal self moet rekenskap gee aan God.GS 675.1

    Die duidelikste waarhede in die Bybel word deur geleerde manne in twyfel getrek en in duisternis gehul—manne wat deur groot wysheid te veins, leer dat die Skrifte ‘n mistiese, geheime, en geestelike betekenis het wat nie duidelik uitkom in die taal waarin dit geskryf is nie. Sulke manne is valse leraars. Dit was aan hierdie klas wat Jesus gesê het, ,Julle dwaal deurdat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie.” Markus 12: 24. Die taal van die Bybel behoort vertaal te word volgens die voor die hand liggende betekenis, tensy daar ‘n simbool of figuur gebruik word. Christus het die belofte gegee dat, “as iemand gewillig is om Sy wil te doen, sal hy omtrent die leer weet.” Joh. 7:17. As mense die Bybel maar sou neem soos dit geskryf is, as daar nie valse leraars was om hulle te mislei en te verwar nie, sou daar ‘n werk gedoen word wat die engele sal blymaak en wat duisende en duisende wat nou dwaal in die kraal van Christus sal bring.GS 675.2

    Ons behoort al ons verstandelike kragte in te span by die ondersoek van die Skrifte, en ons behoort ons te beywer om, sover as sterwelinge dit kan doen, die diep dinge van God te verstaan; maar nogtans moet ons nie vergeet dat die geseglikheid en onderwerping van ‘n kind die ware gees van die ondersoeker moet wees. Skriftuurlike probleme kan nooit opgelos word deur dieselfde metodes waarmee filosofiese vraagstukke opgelos word nie. Ons behoort nie ‘n ondersoek van die Bybel aan te pak met daardie selfvertroue waarmee so baie die wetenskap ondersoek nie; maar dit moet geskied met ‘n biddende afhanklikheid van God, en ‘n opregte begeerte om Sy wil te ken. Ons moet met ‘n nederige en geseglike gees kom om kennis te verkry van die groot EK IS. As ons dit nie doen nie, sal bose engele ons verstand so verblind en ons harte so verhard dat die waarheid geen indruk op ons sal maak nie.GS 675.3

    Baie Skrifgedeeltes wat mense as verborgenhede beskou, of wat hulle verbygaan as onbelangrik, bevat veel troos en onderrig aan die een wat in die skool van Christus geleer het. Een van die redes waarom baie teoloë nie ‘n duideliker begrip van Gods woord het nie, is omdat hulle hulle oë sluit vir waarhede wat hulle nie wil gehoorsaam nie. ‘n Begrip van Bybelse waarheid hang nie so seer af van verstandelike krag nie, as van doelbewustheid en ‘n ernstige verlange na geregtigheid.GS 676.1

    Die Bybel moet nooit sonder gebed ondersoek word nie. Die Heilige Gees alleen kan ons daartoe bring om die belangrikheid te voel van daardie dinge wat so maklik is om te verstaan. en Hy kan ons vrywaar van ‘n verdraaiing van die waarhede wat moeilik is om te verstaan. Dit is die werk van hemelse engele om die hart te berei om Gods woord so te verstaan, sodat ons bekoor sal word deur sy skoonheid, gewaarsku deur sy waarskuwings, en besiel en versterk sal word deur sy beloftes. Ons behoort saam met die psalmis te bid, “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit U wet.” Ps. 119: 18. Versoekings skyn dikwels onweerstaanbaar omdat die een wat versoek is, weens verwaarlosing van gebed en die ondersoek van Gods woord. nie geredelik Gods beloftes kan onthou en Satan kan weerstaan met skriftuurlike wapens nie. Maar daar is engele rondom diegene wat gewillig is om onderrig te word in goddelike dinge; en in die tyd van groot nood sal hulle juis daardie waarhede in herinnering bring waaraan hulle die grootste behoefte het.GS 676.2

    Jesus het Sy dissipels belowe, “Maar die Trooster, die Heilige Gees wat die Vader in My Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Joh. 14: 26. Maar, ten einde die Gees van God in staat te stel om ons te herinner aan die beloftes in tye van nood, moet die leerstellings van Christus vantevore reeds in ons hart opgeneem wees. “Ek het U Woord in my hart gebêre,” het Dawid gesê, “dat ek teen U nie sal sondig nie.” Ps. 119: 11.GS 676.3

    Almal wat hulle ewige belange waardeer, behoort op hulle hoede te wees teen die aanvalle van skeptisisme. Selfs die groot pilare van die waarheid sal aangeval word. Ons is almal blootgestel aan die sarkasme, drogredes, en die listige, verpestelike leerstellings van die moderne ongeloof. Satan pas sy versoekings aan by alle klasse. Hy val die ongeleerdes aan met ‘n skerts en spotlag, terwyl hy die geleerdes ontmoet met wetenskaplike besware en filosofiese argumente — alles dinge wat wantroue in, en veragting van, die Skrifte laat ontstaan. Selfs jongmense met min ondervinding magtig hulle aan om twyfel te verwek in die grondbeginsels van die Christelike geloof; en sulke ongeloof by jongmense, hoe oppervlakkig dit ook mag wees, het ‘n nadelige invloed. Op hierdie manier word vele daartoe gebring om die spot te dryf met die geloof van hulle vaders, en hulle smaad ‘die Gees van genade. (Hebr. 10: 29.) Menige lewe wat beloof het om ‘n eer vir God en ‘n seen vir die wêreld te wees, is verskroei deur die verpestelike asem van ongeioof. Almal wat vertroue stel in die grootse bevindings van die menslike verstand en wat hulle verbeel dat hulle die goddelike verborgenhede kan verklaar, en wat die waarheid wil verstaan sonder die wysheid van God, word gevang in die strikke van Satan.GS 678.1

    Ons lewe in die ernstigste tyd van die wêreld se geskiedenis. Die ewige lot van die aarde se miljoene sal eerlank beslis wees. Ons eie toekomstige welsyn, asook die saligheid van ander siele, hang af van die weg wat ons tans bewandel. Ons moet deur die Gees van waarheid gelei word. Elke navolger van Christus behoort ernstig te vra, “Here, wat wil U hê, moet ek doen?” Ons behoort ons te verootmoedig voor die Here, met vas en gebed, en baie oor Sy woord te peins, veral die tonele van die oordeel. Ons behoort nou te soek om ons geestelike lewe te verdiep in die dinge van God. Ons het geen tyd om te verkwis nie. Gebeurtenisse van die allergrootste belang vind rondom ons plaas; ons is op Satan se betowerde grond. Moenie slaap nie, julle wagters van God; die vyand skuil in die nabyheid, gereed om enige oomblik te spring as u miskien verslap of sluimer, om u sy prooi te maak.GS 678.2

    Baie is bedrieg aangaande hulle ware toestand voor God. Hulle wens hulle self geluk omdat hulle nie verkeerde dinge doen nie, maar hulle vergeet om te dink aan die goeie en edele dade wat God wel van hulle verwag, maar wat hulle nagelaat het. Dit is nie genoeg dat hulle bome in die tuin van God is nie; hulle moet Sy verwagting verwesenlik deur vrugte te dra. Hy hou hulle verantwoordelik vir hulle nalating van al die goeie dade wat hulle kon gedoen het deur die genade wat Hy aan hulle gegee het. In die boeke van die hemel staan hulle aangeteken as diegene wat die grond nutteloos beslaan. Maar selfs hulle is nie heeltemal hopeloos nie. Met diegene wat Gods genade versmaai en Sy goedheid misbruik het, pleit die lankmoedige hart van Liefde steeds. “Daarom sê hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. Pas dan op dat julle nougeset wandel, . . . en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Efe. 5: 14-16.GS 678.3

    Wanneer die toetstyd kom, sal diegene wat Gods woord hulle lewensreël gemaak het, geopenbaar word. In die somer is daar nie eintlik ‘n merkwaardige verskil tussen die altydgroen-bome en die ander nie; maar as die winter daar is, bly die altydgroenbome onveranderd terwyl die ander bome kaal is. So ook kan die valse belyer nie nou onderskei word van die ware Christen nie, maar die tyd is voor die deur wanneer die verskil opmerklik sal wees. Laat teenstand, dweepsug, en onverdraagsaamheid maar weer hulle koppe uitsteek, laat die vuur van vervolging weer aangesteek word, en die halfhartige huigelaars sal wankel en hulle geloof versaak; maar die opregte Christen sal so onwrikbaar staan soos ‘n rots. Sy geloof sal sterker en sy hoop heerliker wees as in die dae van voorspoed.GS 679.1

    Die psalmis sê: “U getuienisse is my bepeinsing.” “Uit U bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad.” Ps. 119: 99, 104.GS 679.2

    “Gelukkig die mens wat wysheid vind.” “Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.” Spr. 3: 13; Jer. 17: 8.GS 679.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents