Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Koning Van Die Eeue - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    “God Met Ons”

    “HULLE sal Hom Emmanuel noem, . . . God met ons.” “Die verligting . . . van die kennis van die heerlikheid van God,” word gesien “in die aangesig van Jesus Christus”. Die Here Jesus was een met die Vader van die voortyd af; Hy was “in die beeld van God,” die beeld van Sy grootheid en majesteit, “die afskynsel van Sy heerlikheid.” Dit was om hierdie heerlikheid te openbaar dat Hy na ons wêreld gekom het. Na hierdie aarde, deur die sonde verduister, het Hy gekom om die lig van Gods liefde te openbaar — om “God met ons” te wees. Daarom is daar van Hom geprofeteer, “Hulle sal Hom Emmanuel noem.”KE 13.1

    Deur Sy koms om by ons te kom woon, sou Jesus God openbaar aan beide mense en engele. Hy was die Woord van God — Gods gedagtes hoorbaar uitgedruk. In Sy gebed vir Sy dissipels het Hy gesê, “Ek het U Naam geopenbaar aan die mense,” “'n barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou,” “sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” Maar hierdie openbaring is nie gegee alleen vir Sy aardse kinders nie. Ons ou wêreldjie is die lesboek vir die heelal. Gods wonderplan van genade, die verborgenheid van verlossende liefde, is die tema “waar die engele begerig is om in te sien,” en deur die ewigheid heen sal hulle 'n studie daarvan maak. Beide die verlostes en die wesens wat nie in die sonde geval het nie sal in die kruis van Christus hulle wetenskap en hulle lied vind. Daar sal gesien word dat die heerlikheid wat skyn in die aangesig van Jesus die heerlikheid van selfopofferende liefde is. In die lig van Golgota sal daar gesien word dat die wet van selfopofferende liefde die wet van die lewe is op aarde en in die hemel; dat die liefde wat “nie sy eie belang soek nie” sy bron het in die hart van God; en dat die karakter van Hom wat in die ontoeganklike lig woon, geopenbaar is in die sagmoedige en nederige Een.KE 13.2

    In die begin het God Homself geopenbaar in die ganse skepping. Dit was Christus wat die hemelgewelf gespan het en wat die grondveste van die aarde gelê het. Dit was Sy hand wat die wêrelde in die lugruim gehang het, en wat die blomrne van die veld geformeer het. Dis Hy wat die berge grondves deur Sy krag. Aan Hom behoort die see wat Hyself gemaak het. (Ps. 65: 7; 95: 5.) Dit is Hy wat die aarde met skoonheid vervul het, en die lug met sang. Op alles op die aarde en in die lug het Hy die boodskap van die Vader se liefde geskryf.KE 14.1

    Nou het die sonde Gods volmaakte werk bederf, dog die handskrif blystaan. Selfs vandag verkondig alle geskape dinge die heerlikheid van Sy voortreflikheid. Daar is niks, behalwe die selfsugtige hart van die mens, wat vir homself lewe nie. Geen voël wat in die lug vlieg, geen dier wat op die aarde beweeg, of almal dien 'n ander lewe. Geen blad van die woud, geen grashalmpie nie, of hulle het hulle diens. Van elke boom en struik en blaar vloei daar- die lewenselement waarsonder mens en dier nie sou kon bestaan nie; en mens en dier op hulle beurt bearbei weer boom en struik en blad. Die blomme versprei 'n soete geur en sprei hulle skoonheid tentoon in seën vir die wêreld. Die son gee sy lig om 'n duisend wêrelde te verbly. Die oseaan, self die bron van al ons fonteine, ontvang strome uit elke land, maar hy neem om te gee. Die mis wat van hom opstyg, val weer as reent om die aarde te benat sodat dit wasdom kan gee.KE 14.2

    Die engele van heerlikheid vind hulle vreugde daarin om te gee — hulle gee liefde, en hulle waak oor die siele van die gevallenes en onheiliges. Hemelse wesens trek die harte van mense; hulle bring na hierdie donker wêreld lig van die hemelse howe; deur sagmoedige en geduldige diens beweeg hulle die menslike gees om die verlorenes weer in 'n gemeenskap te bring met Christus, wat nouer is as wat hulle self ken.KE 15.1

    Maar benewens al hierdie mindere voorstellings, sien ons God in Christus. Waar ons Jesus aanskou, sien ons dat dit die heerlikheid van onse God is om te gee. “Uit Myself doen Ek niks nie,” het Jesus gesê; die lewende Vader het My gestuur, en Ek lewe deur die Vader. “Ek soek nie My eer nie,” maar die eer van Hom wat My gestuur het. (Joh. 8: 28; 6: 57; 8: 50; 7: 18.) In hierdie woorde word die groot beginsel verkondig wat die wet van lewe vir die heelal is. Christus het alle dinge van God ontvang, maar Hy het geneem om te gee. En dus, in die hemelse howe, in Sy diens vir alle geskape wesens, vloei die Vader se liefde deur die geliefde Seun tot almal; deur die Seun keer dit terug in lof en blymoedige diens, in 'n vloedgolf van liefde, na die Hoofbron van alles. Die kringloop van seën is dus volkome deur Christus wat die karakter van die groot Gewer voorstel, die wet van liefde.KE 15.2

    In die hemel self is hierdie wet verbreek. Die sonde het sy ontstaan in selfsug gehad. Lucifer, die gerub wat beskut, het begeer om eerste te wees in die hemel. Hy het getrag om kontrole te verkry oor die hemelse wesens, om hulle af te trek van hulle Skepper, en hulle hulde vir homself te win. Daarom het hy God vals voorgestel en Hom beskuldig van self-verheffing. Hy het sy eie bose karaktertrekke aan die liefdevolle Skepper toegedig. So het hy die engele bedrieg, en so ook die mense. Hy het hulle beweeg om te twyfel aan die Woord van God, en om Sy goedheid te wantrou. Omdat God 'n God is van geregtigheid en verskriklike majesteit, het die Satan hulle oorgehaal om Hom te beskou as hard en onvergewensgesind. So het hy die mense beweeg om saam met hom teen God te rebelleer, en toe het die donker nag van eilende op die aarde toegesak.KE 15.3

    Die aarde was donker deur die wanbegrip van God. Sodat die donker skaduwees verlig, en dat die wêreld teruggebring kon word, moes die krag van die Satan se bedrog gebreek word. Dit kon nie deur geweld geskied nie. Die gebruik van geweld is teenstrydig met die beginsels van Gods regering; Hy verlang alleen die diens van liefde, en liefde kan nie afgedwing word nie; dit kan nie deur gebiedende gesag gewin word nie. Alleen liefde kan liefde verwek. Om God te ken is om Hom lief te hê; Sy karakter moet geopenbaar word in teenstelling met die van die Satan. In die ganse heelal was daar net een Wese wat hierdie werk kon doen. Alleen Hy wat die hoogte en die diepte van die liefde van God geken het, kon dit bekend maak. Oor hierdie wêreld se donker nag moes die Son van Geregtigheid opgaan met “genesing onder Sy vleuels.” Mal. 4: 2.KE 16.1

    Die plan vir ons verlossing was nie 'n nagedagte nie—`n plan wat ná die val van Adam geformuleer is nie. Dit was die openbaring van “die verborgenheid wat eeuelank verswyg is.” Rom. 16: 25. Dit was die ontplooiing van die beginsels wat deur die eeue heen die fondament van Gods troon was. Van die begin af het God en Christus geweet van die afvalligheid van die Satan, en van die val van die mens deur die krag van bedrog van die afvallige. God het dit nie beskik dat daar sonde sou wees nie, maar Hy het die ontstaan daarvan vooruitgesien, en Hy het voorsiening gemaak vir die vreeslike gebeurtenis. So groot was Sy liefde vir die wêreld, dat Hy Homself verbind het om Sy eniggebore Seun te gee, “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Joh. 3: 16.KE 16.2

    Lucifer het gesê: “Ek wil . . . my troon verhef bo die sterre van God. . . . Ek wil . . . my gelykstel met die Allerhoogste!” Jes. 14: 13, 14. Maar Christus, “wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur. die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en in die gelykenis van mense te kom.” Filip. 2:6, 7.KE 16.3

    Dit was 'n vrywillige opoffering. Jesus kon aan Sy Vader se sy gebly het; Hy kon Sy hemelse heerlikheid en die hulde van die engele behou, maar Hy het verkies om die septer aan die Vader terug te gee, af te stap van die troon van die heelal, sodat Hy lig mag bring aan diegene wat in duisternis is, en lewe aan die sterwendes.KE 17.1

    Byna tweeduisend jaar gelede is 'n stem wat verborgenheid gespreek het van die troon van God in die hemel gehoor, “Kyk, Ek kom.” “Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei. . . . Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskryweom U wil, o God, te doen.” Heb. 10: 5-7. In hierdie woorde is die vervulling aangekondig van die raadsbesluit wat deur die eeue verborge was. Christus het klaar gestaan om ons aarde te besoek, en om die menslike vlees aan te neem. Hy sê, “U het vir My 'n liggaam berei.” As Hy sou gekom het in. die heerlikheid wat syne saam met die Vader s'n was vóór die skepping van hierdie wêreld, sou ons nie die lig van Sy aanskyn kon verduur het nie. Sodat ons dit kon sien sonder om te vergaan, is die openbaring van Sy heerlikheid bedek. Sy godheid is met menslike vlees bedek — die onsigbare heerlikheid in sigbare menslike vorm.KE 17.2

    Die groot plan is voorafgeskadu in tipes en simbole. Die brandende doringbos waarin Christus aan Moses verskyn het, het God geopenbaar. Die simbool wat gekies is om die Godheid voor te stel, was 'n eenvoudige doringbos wat skynbaar onaantreklik was. Daarin het die Ewige God geskuil. Die barmhartige God het Sy heerlikheid bedek in 'n baie eenvoudige tipe, sodat Moses Hom kon aanskou en lewe. So ook in die wolkkolom by dag en die vuurkolom by nag, het God met Israel gemeenskap gehou, Sy wil aan die mense geopenbaar, en Sy genade aan hulle geskenk. Gods heerlikheid was bedek, en ook Sy majesteit, sodat die swak menslike oë dit kon sien. Daarom het Christus gekom in “ons vernederde liggaam” (Filip. 3: 21), “in die gelykenis van mense.” In die oë van die wêreld het Hy “geen voorkomste gehad dat ons Hom sou begeer nie;” en tog was Hy God in menslike vlees, die lig van hemel en aarde. Sy heerlikheid was bedek, Sy grootheid en majesteit verstoke, dat Hy baie naby die ellendige en versoekte mens kon kom. God het deur Moses aan Israel bevel gegee, “Ook moet hulle vir My 'n heiligdom maak, dat Ek onder hulle kan woon” (Exod. 25: 8), en Hy het in die heiligdom gewoon onder Sy volk. In hulle lang omwandeling in die woestyn, was die simbool van Sy teenwoordigheid by hulle. So ook het Christus Sy tentwoning opgeslaan in die menslike kamp. Hy het Sy tent opgeslaan langs die tente van die mense, sodat Hy onder ons kon woon en Sy goddelike karakter en lewe aan ons kon openbaar. “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het Sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van God die Vader kom — vol van genade en waarheid.” Joh. 1: 14.KE 17.3

    Aangesien Jesus by ons kom woon het, weet ons dat die Vader bekend is met ons beproewings, en medelyde het met ons droefhede. Elke seun en dogter van Adam mag verstaan dat ons Skepper die Vriend van sondaars is, want in elke leerstelling van genade, in elke belofte van vreugde, in elke daad van liefde, in elke. goddelike aanloklikheid voorgestel in die Verlosser se lewe op aarde, sien ons “God met ons.”KE 18.1

    Die Satan stel Gods wet van liefde voor as 'n wet van selfsug. Hy verklaar dat dit onmoontlik vir ons is om die voorskrifte daarvan te gehoorsaam. Die val van ons eerste voorouers, met al die eilende wat dit meegebring het, dig hy aan die Skepper toe, en hy lei die mense om God te beskou as die bewerker van die sonde en lyding en die dood. Jesus sou hierdie bedrog aan die kaak stel. Soos een van ons sou Hy die voorbeeld van gehoorsaamheid stel. Om dit te kan doen, het Hy ons natuur aangeneem, en ons ondervindings deurgemaak. “Daarom moes Hy in alle opsigte aan Sy broeders gelyk word.” Heb. 2: 17. As ons iets sou moes dra wat Jesus nie verduur het nie, dan sou die Satan dit voorgestel het asof Gods krag vir ons nie voldoende is nie. Daarom is Jesus in alle opsigte versoek net soos ons. (Heb. 4: 15.) Hy het elke beproewing deurgemaak waaraan ons onderworpe is. En Hy het ten behoewe van Homself geen krag aangewend wat nie ook vryelik vir ons daar is nie. As mens het Hy versoekings weerstaan en oorwin in die krag wat God aan Hom gegee het. Hy het getuig, “Ek het lus, o My God, om U welbehae te doen, en U wet is binne-in my ingewande.” Ps. 40: 9. Waar Hy die land deurgegaan en goed gedoen het, die siekes genees het en almal wat deur die Satan geteister is, het Hy duidelik aan die mense die karakter van.KE 18.2

    Gods wet verklaar en die aard van Sy bediening. Deur Sy lewe het Hy bewys dat dit vir ons moontlik is om ook Gods wet te gehoorsaam.KE 19.1

    Deur Sy mensheid het Christus die mensheid aangeraak; deur Sy godheid was Hy verbind met die troon van God. As die Seun van die mens het Hy ons die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel; as die Seun van God skenk Hy ons krag om te gehoorsaam. Dit was Christus wat uit die brandende bos by Horeb met Moses gepraat engesê het, “EK IS WAT EK IS. . . . So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.” Exod. 3: 14. Dit was die waarborg van Israel se verlossing. Toe Hy dan in die gelykenis van menslike vlees gekom het, het Hy gesê dat Hy die EK IS, is. Die kind van Betlehem, die sagmoedige en nederige Heiland, is God geopenbaar in die vlees. (1 Tim. 3: 16.) Aan ons sê Hy: “EK IS die goeie Herder.” “EK IS die lewende Brood.” “EK IS die Weg en die Waarheid en die Lewe.” “Aan My is gegee alle mag in hemel en op aarde.” Joh. 10: 11; 6: 51; 14: 6; Matt. 28: 18. EK IS die waarborg van elke belofte. EK IS, moenie vrees nie. “God met ons” is die waarborg van ons verlossing van die sonde, die versekering van ons krag om die wet van die hemel te gehoorsaam.KE 19.2

    Deur neer te buig om die menslike vlees aan te neem, het Christus 'n karakter geopenbaar wat die teenoorgestelde van die karakter van die Satan is. Maar Hy het nog laer neergebuig op die pad van vernedering. “En in die gestalte gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja die dood van die kruis.” Filip. 2: 8. Net soos die hoëpriester sy pragtige kleed uitgetrek, en die wit linnekleed van 'n gewone priester aangetrek het, so het Christus ook die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en geoffer, Hy self die priester, en Hy self die slagoffer. “Hy is terwille van ons oortredinge deurboor, terwille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom.” Jes. 53: 5.KE 19.3

    Christus is behandel soos ons verdien het, sodat ons kan behandel word soos Hy verdien het. Hy is veroordeel vir ons sondes waaraan Hy geen deel gehad het nie, sodat ons geregverdig kan word deur Sy geregtigheid waarin ons geen deel gehad het nie. Hy het ons dood gesterf, sodat ons Sy lewe kan ontvang. “Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” KE 19.4

    Deur Sy lewe en Sy dood, het Christus meer verkry as slegs verlossing uit die ellende van die sonde. Dit was die Satan se doel om ewige verwydering te bring tussen God en die mens; maar in Christus is ons nouer verbind met God as wat ons sou gewees het as ons nooit in die sonde geval het nie. Deur ons natuur aan te neem, het die Heiland Hom met die mensheid verbind met 'n band wat nooit verbreek kan word nie. Deur die eeue van die ewigheid is Hy aan ons verbind. “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het.” Joh. 3: 16. Hy het Hom gegee, nie alleen om ons sondes te dra en as ons soenoffer te sterf nie, maar Hy het Hom aan die gevalle mensdom gegee. Om ons te verseker van Sy onveranderlike vredesverbond het God Sy eniggebore Seun gegee om een te word met die menslike geslag, en om vir altyd die menslike natuur te behou. Dit is die waarborg dat God Sy woord sal vervul. “Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op Sy skouer.” In die persoon van Sy Seun het God die menslike natuur aangeneem, en Hy het dit tot in die hoogste hemele geneem. Dit is die “Seun van die mens wat saam met die Vader op die troon van die heelal sit”. Dit is die “Seun van die mens” wat genoem word, “Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.” Jes. 9: 5. Die EK IS, is die Skeidsregter tussen God en mens, want Hy gryp albei aan. Hy wat “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is,” skaam Hom nie om ons broers te noem nie. (Heb. 7: 26; 2: 11.) In Christus is die gesin van die aarde en die gesin van die hemel verbind. Die verheerlikte Christus is ons broer. Die Hemel woon in die mensheid, en die mensheid is opgeneem in die boesem van Ewige Liefde.KE 20.1

    Van Sy volk het God gesê: “Hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor Sy land. Want hoe groot is hulle voortreflikheid, en hoe groot is hulle skoonheid.” Sag. 9: 16, 17. Die verhoging van die verlostes sal 'n ewige getuienis wees van Gods genade. “In die eeue wat kom,” sal Hy “die uitnemende rykdom van Sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus betoon”, “sodat nou . . . bekend kan gemaak word aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here.” Efe. 2:7; 3: 10, 11.KE 20.2

    Deur die verlossingswerk van Christus staan die regering van God geregverdig. Die Almagtige Een word geopenbaar as die God van liefde. Die aantygings van die Satan is geloënstraf, en sy karakter is aan die kaak gestel. Daar kan nooit weer opstand wees nie. Die sonde sal nooit weer die heelal binnedring nie. Deur die ewigheid sal almal gevrywaar wees teen afvalligheid. Deur die opoffering wat deur die liefde gemaak is, word die bewoners van die aarde en die hemel aan hulle Skepper verbind met bande wat onverbreekbaar is.KE 20.3

    Die verlossingswerk sal volkome afgedaan wees. In die plek waar die sonde geheers het, sal Gods genade oorvloediger wees. Die aarde self die plek wat die Satan opeis as syne, sal nie alleen verlos word nie, maar ook verhoog. Ons ou wêreldjie, wat onder die vloek van die sonde die een klad in die skepping van God is, sal vereer word bo al die ander wêrelde in die heelal van God. Hier, waar die Seun van God in menslike vlees gewoon het; hier waar die Koning van heerlikheid gely en gesterf het, sal, wanneer Hy alle dinge nuut sal maak, God by die mense woon, “en Hy sal by hulle woon, en hul e sal Sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” En deur die ewigheid heen sal die verlostes, waar hulle in die lig van die Here wandel, Hom loof vir Sy onuitspreeklike gawe —KE 21.1

    Emmanuel, “God met ons”.

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents