Loading...
Larger font
Smaller font
Copy
Print
Contents
Die Gelykenisse van Christus - Contents
  • Results
  • Related
  • Featured
No results found for: "".
  • Weighted Relevancy
  • Content Sequence
  • Relevancy
  • Earliest First
  • Latest First
    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents

    Tussen Dorings

    “En by wie in die dorings gesaai is - dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.”DGC 21.4

    Die evangeliesaad val dikwels tussen dorings en skadelike onkruid, en tensy daar ‘n wesenlike verandering in die mensehart plaasvind, as ou gewoontes en dade en die vorige lewe van sonde nie agtergelaat word nie, as die kenmerke van die Satan nie uit die siel verban word nie, sal die koringoes verstik word. Die dorings sal dan die oes wees en hulle sal die koring dooddruk.DGC 21.5

    Genade kan alleenlik in die hart bloei wat voortdurend vir die kosbare saad van waarheid voorberei word. Die dorings van sonde sal in enige soort grond groei; hulle het geen bewerking nodig nie; maar genade moet versigtig gekweek word. Die distels en dorings is altyd gereed om op te kom, en die reinigingswerk moet gedurig verder gaan. As die hart nie voortdurend deur God beheers word nie, as die Heilige Gees nie onverpoos voortwerk om die karakter te reinig en te veredel nie, sal die ou gewoontes weer in die lewe opduik. Mense kan bely dat hulle die evangelie glo, maar tensy hulle deur die evangelie geheilig word, baat hulle belydenis niks. As hulle nie die oorwinning oor die sonde behaal nie, dan behaal die sonde die oorwinning oor hulle. Die dorings wat afgesny is, maar wat nie ontwortel is nie, groei saam totdat hulle die siel toerank.DGC 21.6

    Christus noem die dinge wat gevaarlik is vir die siel. Soos Markus dit aangee, noem Hy die sorge van hierdie wêreld, die verleiding van die rykdom en die begeerlikheid in verband met die ander dinge. Lukas noem die sorge, rykdom en genietinge van hierdie lewe. Dit is hierdie dinge wat die woord, die groeiende geestelike saad, verstik.DGC 22.1

    Die siel put nie meer voedsel van Christus nie en geestelikheid sterf in die hart uit.DGC 22.2

    “Die sorge van hierdie wêreld.” Geen klas spring die versoeking van aardse sorge vry nie. Arbeid en verlies en vrees vir gebrek bring vir die armes verslaenheid en laste. Tot die rykes kom daar die vrees vir verlies en menigvuldige sorge. Baie van Christus se volgelinge vergeet die les wat Hy ons uit die blomme van die veld wil leer. Hulle vertrou nie op Sy voortdurende sorg nie. Christus kan hulle laste nie dra nie, want hulle werp dit nie op Hom nie. Daarom word hulle deur die sorge van die lewe wat hulle na die Saligmaker behoort te stuur om hulp te soek, van Hom geskei.DGC 22.3

    Vele wat in die diens van God vrugbaar kon gewees het, lê hulle daarop toe om rykdom te verwerf. Al hulle kragte word vir sakeondernemings ingespan, en hulle voel hulle verplig om geestelike dinge af te skeep. Op hierdie wyse skei hulle hulle van God af. Ons word in die Skrifte aangesê om “nie traag in die ywer” te wees nie (Rom. 12:11) Ons moet arbei sodat ons iets het om aan behoeftiges te gee. Christene moet werk. Hulle moet sake doen, en hulle kan dit doen sonder om te sondig. Maar baie raak so in hulle besigheid verdiep dat hulle geen tyd vir gebed of Bybelstudie het nie - geen tyd om God te soek en te dien nie. Soms gaan die verlangens van die siel uit na heiligheid en die hemel, maar daar is geen tyd om van die wêreld se lawaai weg te breek om na majestueuse en gesaghebbende uitinge van die Gees van God te luister nie. Die ewige dinge word ondergeskik gestel aan die dinge van die wêreld. Dit is onmoontlik vir die saad van die woord om vrugte voort te bring, want die lewe van die siel word gegee om die dorings van wêreldsgesindheid te voed.DGC 22.4

    En baie wat met‘n heel ander doel voor oë werk, begaan dieselfde fout. Hulle werk om die welsyn van andere; hulle pligte is dringend, hulle verantwoordelikhede is baie, en hulle laat toe dat hulle arbeid hulle godsdiens verdring. Gemeenskap met God deur die gebed en die bestudering van Sy Woord word verwaarloos. Hulle vergeet dat Christus gesê het, “Sonder My kan julle niks doen nie.” (Joh. 15:5) Hulle wandel afsonderlik van Christus, hulle lewe word nie van Sy genade deurtrek nie, en die kenmerke van die ek is duidelik sigbaar. Hulle diens word bederf deur‘n verlange na heerskappy en deur die growwe, lelike kenmerke van ‘n onbeteuelde hart. Hier lê een van die vernaamste geheime agter mislukking in Christelike werk. Daarom is sy gevolge dikwels so skraal.DGC 23.1

    “Die verleiding van die rykdom.” Die liefde vir rykdom het ‘n versotmakende, verleidende krag. Te dikwels vergeet diegene wat wêreldse skatte besit dat dit God is wat aan hulle die mag gee om rykdom te verwerf. Hulle sê: “My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie rykdom verwerwe.” (Deut. 8:17) Pleks dat hulle rykdom hulle dankbaar maak teenoor God, gee dit aanleiding tot selfverheffing. Hulle vergeet dat hulle van God afhanklik is en‘n verpligting teenoor hulle medemense het. Pleks dat hulle rykdom as ‘n talent beskou wat gebruik moet word vir die verheerliking van God en vir die opheffing van die mensdom, sien hulle dit as iets waardeur hulle hulself kan dien. Pleks dat dit in mense die kenmerke van God ontwikkel, ontwikkel rykdom wat op hierdie wyse gebruik word, die kenmerke van die Satan. Die saad van die woord verstik in die dorings.DGC 23.2

    “En die genietinge van die lewe.” Daar is gevaar in vermaaklikheid wat net om selfbevrediging gesoek word.DGC 23.3

    Alle toegeeflike gewoontes wat die liggaamskragte verswak, die verstand benewel, of geestelike waarnemings verdof, is “vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel.” (1 Pet. 2:11)DGC 23.4

    “En die begeerlikhede in verband met die ander dinge.” Hierdie dinge is nie noodwendig vanself sondig nie, maar hulle kry voorkeur bo die koninkryk van God. Alles wat die gedagtes van God aftrek, alles wat die liefde vir Christus vervreem, is ‘n vyand van die siel.DGC 23.5

    _______________

    Wanneer die verstand nog jeugdig, lewenslustig en vir vinnige ontwikkeling ontvanklik is, is die versoeking groot om eie ambisie en die self te dien. As wêreldse planne slaag, is daar‘n neiging om in‘n rigting te volhard wat die gewete smoor en verhoed dat ‘n ware begrip gevorm word van die egte betekenis van ‘n uitnemende karakter. Wanneer omstandighede gunstig is vir hierdie soort ontwikkeling, sal mense in ‘n rigting volhard wat deur Gods Woord verbied word.DGC 24.1

    In hierdie vormingsjare van hulle kinders se lewens, is die verantwoordelikheid van die ouers baie groot. Hulle moet hulle daarop toelê om hulle kinders met die regte invloede te omring, invloede wat hulle die korrekte insigte in die lewe en in die betekenis van ware sukses sal gee. Hoeveel ouers maak dit inteendeel nie hulle primêre doel om wêreldse voorspoed vir hulle kinders te verkry nie. Hulle hele vriendekring word met hierdie doel voor oë gekies. Baie ouers vestig hulle in die een of ander groot stad, en hulle kinders word deel van die deftige kringe. Hulle omring hulle met invloede wat wêreldsgesindheid en hoogmoed aanwakker. In so‘n atmosfeer word verstand en siel verdwerg. Die hoë en eerbare doelstellings van die lewe word uit die oog verloor. Die voorreg om seuns van God, erfgename van ewige heil te wees, word vir aardse gewin verkwansel.DGC 24.2

    Baie ouers probeer om hulle kinders gelukkig te maak deur aan hulle liefde vir vermaaklikheid te voldoen. Hulle laat toe dat hulle aan sport deelneem en partytjies bywoon en gee aan hulle volop geld om gebruik te word vir vertoon en eie-bevrediging. Hoe meer daar aan die verlange na plesier voldoen word, hoe sterker word die verlange. Hierdie jongmense se belangstelling in vermaak neem toe totdat hulle dit as die groot doel van die lewe beskou. Hulle maak hulle aan luiheid en selfverwenning gewoond sodat dit vir hulle bykans onmoontlik is om ooit standvastige Christene te word.DGC 24.3

    Selfs die kerk, wat die pilaar en grondslag van die waarheid behoort te wees, moedig die selfsugtige liefde vir vermaak aan. As geld vir godsdienstige doeleindes ingesamel moet word, hoe gaan baie kerke te werk? Hulle hou basaars, bankette, kermisse, selfs loterye en soortgelyke funksies. Dikwels word die plek wat vir godsdiens bedoel is, ontheilig deur eet en drink, koop en verkoop en jolyt. Ontsag vir die huis van God en eerbied vir die godsdiens neem in die gedagtes van die jeug af. Die skanse van selfbeheersing word verswak.‘n Beroep word gedoen op selfsug, eetlus, die liefde vir vertoon, wat sterker word namate daaraan toegegee word.DGC 24.4

    Die stede is die middelpunt van plesier. Baie ouers wat verkies om met hulle kinders in die stad te woon omdat hulle meen dit sal vir hulle voordeliger wees, word teleurgestel, en berou oor hulle vreeslike fout kom te laat. Hedendaagse stede word vinnig soos Sodom en Gomorra. Die baie vakansiedae moedig ledigheid aan. Die opwindende prêt - die skouburg, perdewedrenne, dobbel, drink en fees-vier-prikkel al die drange geweldig. Die jeug word deur die populêre stroom meegesleur. Diegene wat leer om vermaak lief te hê, net ter wille van die vermaaklikheid self, maak die deur oop vir ‘n vloedgolf van versoekings. Hulle gee hulle oor aan pret en onbedagsame vrolikheid en hulle aanraking met liefhebbers van vermaak het‘n bedwelmende uitwerking op die verstand. Hulle word van een vorm van losbandigheid na die ander gelei totdat hulle beide die verlange en die bekwaamheid vir‘n lewe van diensbaarheid verloor. Hulle godsdienstige strewes verflou; hulle geestelike lewe word verdonker. Al die edele vermoëns van die siel, alles wat die mens met die geestelike inskakel, word verlaag.DGC 25.1

    Dit is waar dat sommige hulle dwaasheid kan insien en hulle kan bekeer. God kan hulle vergewe. Maar hulle het hulle eie siele verwond en hulle lewenslank in gevaar gestel. Die onderskeidingsvermoë wat altyd skerp en gevoelig bewaar behoort te word sodat daar tussen reg en verkeerd onderskei kan word, word in ‘n groot mate vernietig. Hulle kan nie maklik die stem van die Heilige Gees herken of die planne van die Satan agterkom nie. In tye van gevaar swig hulle alte dikwels voor versoekings en word hulle van God af weggelei. Die einde van hulle genotsugtige lewe is dat hulle vir sowel die huidige as die toekomstige wêreld ongeskik is.DGC 25.2

    Die Satan gebruik sorge, rykdom, vermaaklikheid, almal in die spel wat hy teen die menslike siel speel. Die waarskuwing lui: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” 1 Joh. 2:15, 16. Hy wat die menseharte soos’n oop boek kan lees, sê: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie.” (Lukas 21:34) En die apostel Paulus skryf onder ingewing van die Heilige Gees: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” 1 Tim. 6:9, 10.DGC 25.3

    Larger font
    Smaller font
    Copy
    Print
    Contents